Instagram: slimfoon of Instamatic?

Vat 'n kans

TEKS EN FOTO’S JON MINSTER

Nadat hulle die nuwe slimfoonkamera-tegnologie onder hande gehad het, draai die meeste mense die wyser terug na die dae van kameras met plastieklense en uitgewaste foto’s. Hoekom nie? Die digitale wêreld voel soms koud en onvriendelik, en vakansiekiekies is tog veronderstel om warm te wees. Dink maar net aan daardie foto’s vol sonskyn in die skoenboks in jou ouers se huis.
Goed, maar hoe verander ek my slimfoon in ’n Instamatic? Maklik – laai ’n app af. Daar is heelwat beskikbaar vir allerhande soorte fone en bedryfstelsels, maar Instagram (vir jou iPhone of Android-foon) is verreweg die gewildste.
Dis ’n gratis app wat meer as net retro-effekte bevat. Dis ook ’n magtige platform om foto’s te deel en sosiale netwerke te bou. Facebook het dit gou besef en die maatskappy in 2012 vir R9 miljard gekoop!
Só verander Instagram jou lewe…

  1. Jy voel soos ’n pro Daar is niks soos sagtewaretruuks om ’n fotograaf se ego te streel nie, en met Instagram se 20 verskillende filters lyk selfs ’n foto van jou marmot baie professioneel.
    Hierdie app stel jou in staat om die oorspronklike foto te bêre, wat beteken jy kan na hartelus rondspeel totdat jy die perfekte foto het. Kies ’n raam, kikker die kleur op en stel voorwerpe op ’n kreatiewe manier uit fokus.
  2. Bespaar tyd Die sorteer, bêre, uitvee, redigering en ontwikkeling van digitale foto’s is ’n pyn. Maar met Instagram redigeer jy onmiddellik die foto’s en bêre dit in ’n spesifieke lêer op jou foon.
    As jy dit wil ontwikkel, laai jy bloot die lêer op ’n geheuestokkie en gaan mall toe. Maar hoekom rondry? Stuur jou gunstelingfoto’s sommer van jou foon af na www.250gram.co.za.
    Jou gedrukte foto’s is ’n paar dae later in jou posbus.
  3. Dis propvol inspirasie Instagram het glo meer as 100 miljoen gebruikers, en jy kan ander gebruikers volg en hulle vir jou en julle kan eiertjies lê oor mekaar se foto’s.
    Is jou vriende nie op Instagram nie? Geen probleem nie; laai jou foto’s op Facebook en Twitter.
    As jy nie weet waar om te begin nie, volg @everydayafrica – ’n versameling foto’s wat gekies word deur die Amerikaanse joernaliste Peter DiCampo en Austin Merrill. Dié selfoonfoto’s van ons wonderlike vasteland wys jou wat ’n selfoonkamera alles kan doen.
    Wees gewaarsku: Die swerflus gaan jou beetpak. Beplan solank maar jou vakansie…
  4. Hou jou lyf joernalis Toe Orkaan Sandy die ooste van Amerika tref, het Timetydskrif ’n slim ding gedoen: Hy het ’n klomp professionele fotograwe gevra om met hulle iPhone foto’s te neem en op Time se Instagram-profiel (@time) te laai.
    Reg oor die wêreld kon mense die storm amper regstreeks dophou deur na uitstekende foto’s te kyk.
    Maar selfs al werk jy nie vir Rapport nie, kan jy steeds ’n bydrae lewer. Gestel jy’s op die regte tyd op die regte plek – soos met die vloede in die Kruger – kan jy hope foto’s neem en dit met die hele wêreld deel.

Laat Instagram só vir jou werk

Bly kalm
Bly kalm
Moenie die kleur opkikker of dinge uit fokus neem bloot omdat jy kan nie. Hou dinge eenvoudig.
Maak gebruik van ’n filter wat ooreenstem met hoe jy die toneel beleef het. Ek hou van hoe die wildkykvoertuig se rolstaaf dié renosters in die Waterberg raam en hoe die laatson hulle belig.

Vierkantfeite
Vierkantfeite
Instagram sny outomaties jou foto’s in ’n vierkant (1:1 in fotografietaal) sodat dit soos ’n outydse Polaroid- en Instamaticfoto lyk. Die reël van derdes is dus minder belangrik. Partykeer werk dit om jou voorwerp in die middel te plaas, soos dié bidsprinkaan wat op ’n rooi muur aanstap.

Moenie lui wees nie
Moenie lui wees nie
Jy kan nie inzoem met die Instagram-app nie; dus moet jy wérk vir jou foto’s.
Speel met komposisie en perspektief, soos hier. Ek het op die grasperk voor die Arniston-hotel op Waenhuiskrans gelê en die bier op die voorgrond geplaas sodat dit lyk asof die glas en die vrou ewe groot is. Dit lyk amper asof sy gaan inspring!

Vat ’n kans
Vat 'n kans
Moenie huiwer nie – neem ’n rits foto’s, selfs al is die lig swak of jy moet dit deur ’n nat voorruit in die donker neem, soos op hierdie mistroostige, reënerige dag in Kaapstad.
Dit gaan alles oor die gevoel en die herinnering, en ’n hupstootjie of twee van jou sagteware af.