Peugeot 3008


Peugeot betree uiteindelik die mark vir motors wat iewers tussen ’n veldwa, ’n grondpadkar en Mams-se-taxi lê.

Afrikaanse motorjoernaliste krap voortdurend kop om nuwe woorde uit te dink vir nuwe ontwikkelinge. Dink maar aan snoetbus, viertrekvoertuig en palwisseltransmissie. Maar niemand het al ’n woord vir ’n “crossover vehicle” uitgedink nie. Kruisvoertuig? Bastervoertuig? Uhm, liefs nie.
Maar ’n uitdrukking sal gevind moet word, want die era van die “crossovers” is met ons.

“Crossovers” vorm glo die groeiende deel van die mark, al is dit ’n klein deel van die mark.
’n “Crossover” is iewers tussen Mams-se-taxi en Pappa-se-bielievan-’ n-brandstofsuiende-boswa.
Mense in ryk lande wil glo wegbeweeg van dié stereotipes. Dis ’n kar wat gemaklik in die stad ry,
maar ’n paar duim in sy tekkies staan sodat hy nie op die eerste middelmannetjie gaan vassit nie.

Jy kry twee soorte: Die Mamsse- taxi-wat-mieliepap geëet het − soos die Nissan Qashqai en VW
Tiguan − of die boswaentjie-watpak- en-das-dra, soos die Daihatsu Terios of die Suzuki Vitara.Peugeot se eerste poging om ’n basterkarretjie te bou, die 3008, val in die eerste klas.
Die 3008 kom hier aan met ’n “pedigree”. Hy’s omtrent ’n jaar gelede in Europa bekend gestel
en het reeds toekennings soos die gesogte What Car-Motor van die Jaar-titel in Brittanje losgeslaan.


’n Ruim vyfsitplekmotor met ’n bagasiebak net reg vir ’n gesinsvakansie (512 liter is ’n eenbeesvrieskas). Jy kan een van drie wakker enjins kies – ’n 1,6 liter-petrol, ’n 1,6 liter-turbopetrol asook ’n 2,0 liter-turbodiesel. Dié Pietjoodjie is gemaak vir grondpadry. Hy het ’n spul hulpmiddels, wat jou in die pad hou as jy die kluts kwytraak.


Peugeot maak groot gewag daarvan dat die bestuurder se sitposisie die gevoel naboots van ’n vliegtuig se kajuit – en glo my, dis nie blote bemarkingspraatjies nie.

Jy voel veilig in die bestuurdersitplek, omring deur die vloeiende paneelbord en middelkonsole.
Die middelkonsole loop nie regaf vloer toe voor die rathefboom nie, maar tot onder die bestuurder se linkerarm as ’n bêrekassie. Dié verkoelde kassie is groot genoeg vir ’n sespak Cokes, ’n sespak Fanta Grapes en ’n sak appels. Njannies. Die kajuit voel luuks en duursaam. Die sagte paneelbordplastiek en die stukkies gepoleerde chroom voel nie goedkoop nie.

Die topmodel, die Executive, het luukshede wat jy nie in dié klas motor verwag nie, soos verhitte voorsitplekke, ’n vollengte glasdak en ’n “head-up display” (ruitprojeksie-inligting). Dis een van daai deurskynende toestelletjies waarvandaan George Bush sy stotterende toesprake probeer lees het. Jy kan die spoed lees sonder om jou oë van die pad af te haal en hy waarsku jou as jy te na aan die motor voor jou kom.


Soms is low tech koning. Die groot bagasiebak se deur het twee dele – ’n luik wat boontoe oopslaan en ’n onderste flap, soos ’n bakkie se agterflap. In die groot bagasiebak het jy ’n verdeler (ja, ’n plank) wat soos ’n vals bodem werk. Jy kan hom plat op die grond sit om al die bakruimte te benut; of in ’n lae posisie sodat 25% van die bakruimte versteek is (’n goeie plek om jou kamera en GPS-toestel te versteek as jy inkopies doen); en jy kan hom in ’n hoër posisie inskuif, gelyk met die bopunt van die onderste flap, sodat jy ’n bagasiebak met twee verdiepings het. Die agtersitplekke slaan ook maklik plat sodat die hele agterkant ’n laairuimte word.


Sy is ’n bietjie van ’n lywige antie (om plek te maak vir daai groot bagasiebak en beenruimte agter), maar dis darem ’n antie in ’n elegante broekpak (dalk selfs van Errol Arendz). Peugeot breek weg van die kenmerkende haaineus na ’n rooster wat lyk soos Hannibal Lecter se masker. Nee, dis darem mooier en sal beslis nie slegte diefwering wees nie.


Gesoute motorjoernaliste word nie vreeslik beïndruk deur ’n 1,6 liter-petrolenjin wat jou tot anderkant 200 km/h kan projekteer nie. Vir my bly dit ’n wonderwerk, want my 1,6 liter- Volksie kon destyds net een keer 160 km/h haal op ’n hengse afdraande met die wind van agter, en dit was ook die laaste keer…Die goedkoopste model is die 1,6 Vti, met ’n gewone 1,6 literpetrolenjin (88 kW en 160 Nm).

Dan kry jy die 1,6 THP, wat ’n 1,6 liter-turbo-petrolenjin het (115 kW en 240 Nm) en die 2,0 HDi wat natuurlik ’n 2 liter-turbodiesel (110 kW en 340 Nm) is. Albei die turbo’s – petrol en diesel – is wakker, sterk en ’n plesier om te ry.


Met die 3008 het Peugeot ’n voorwielaangedrewe kar probeer bou wat dieselfde kan doen op rowwe grondpaaie as wat standaard- sagte 4x4’s soos die VW Tiguan kan doen. Teen sowat 60% van die prys.

Vir R2 000 ekstra in die twee topmodelle kan jy vastrapbeheer kry. Dit beteken dat jy self die traksiebeheer (ESP) kan instel op ’n spesifieke terrein. Hy het vyf verstellings: standaard, sneeu, alle terreine, sand en ESP af. Dit werk soos ’n outomatiese ewenaarslot – krag word na al twee wiele gestuur sodra die drywende wiel begin gly. Dit laat ook die wiele toe om meer te gly as sonder ESP sodat die kar momentum behou in die sand. Die resultaat is nie drasties beter as sonder vastrapbeheer nie – jy vorder sowat tien tree dieper die woestyn in voor die kar op sy pens gaan lê.


Jy het ses lugsakke, verskeie frommelsones en impaksones, en twee sitplekke met ISOFIX-monteringspunte vir ’n kinderstoeltjie. Daar is natuurlik sluitweerremme, remkragverspreiding
(wat harder rem op party wiele as dit nodig is om die motor onder beheer te kry) en noodremhulp.
Die traksiebeheer werk uitstekend in ’n noodsituasie. As jy op ’n grondpad die kar se stert
laat uitswaai, trek die remme hom reguit sonder dat jy aan die pedale raak.


Peugeot sê die diesel gebruik 5,7 liter per 100 km (17,5 km per liter) en die petrol 7,1 liter per 100 km (14 km per liter). Ek sou dit egter met ’n knippie sout vat.


Dis ’n heerlike gesinsmotor, veilig en ruim, met ’n lewendige enjin. Die aandag aan detail is tipies Frans. Die liggie in die bagasiebak is byvoorbeeld ’n flits wat uitklik. Die handrem is outomaties, wat beteken dat jy nooit weer aan handrem optrek of losmaak hoef te dink nie.


Nie veel nie. Ek is wel bekommerd oor Peugeot se diens en onderdelekoste in Suid-Afrika. Daar is net te veel aaklige stories van mense wat weke lank wag vir duur onderdele. Peugeot sê die probleme is opgelos. Ons sal maar sien.


Die 1,6 Vti kos R248 500, die 1,6 THP en 2,0 Hdi Premium-model R282 000, en die Executive-modelle, met die glasdak, leersitplekke en sitplekverwarmers R305 400. Die Nissan Qashqai 2,0 Acenta (4x2-model) kos R281 000 en die goedkoopste Volkswagen Tiguan, die 2,0 TDI (diesel), kos R386 900.


Enjin

1598cc-viersilinder-turbopetrol en 1 997cc-turbodiesel

Verigting
115kW / 240Nm en 110kW /340Nm

Co2-Vrystelling
167g CO2/km en 146g CO2/km

Tenkgrootte
60 liter

Verbruik
7,1 liter/100km en5,7 liter/100km

Tenkafstand
840km en 1050km

Prys
Wissel tussen R248500en R325600 (met al die ekstras)

Terug na wiele | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Soek Wielargiewe

Motortoerusting

Stads-GPS. Helder, breë skerm

Lees meer



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek