Hyundai Wagon
Prysgewys stof Hyundai se negesitplekbussie, die H1 Wagon, al sy mededingers uit.
Maar hoe vaar hy op die pad?
Eens op ’n tyd het omtrent elke Suid-Afrikaanse gesin van meer as vier ’n Volkswagen Kombi besit.
Dit het sin gemaak, want die ding was groot – nee, dêm groot. Jy kon lag-lag tien lede van ’n geheime broederskap in hom laai én dan nog ’n halwe skaap, ’n sak meel, twee kiste nartjies, ’n koelboks, ’n opvoubraaier en drie sakke hout agterin stop. (Ek het selfs een slag gesien hoe so
een ’n klavier sluk.)
En hy was goedkoop. En veelsydig – jy kon in hom slaap – én dan was hy nie juis dors nie. Boonop was dit taamlik maklik om die ou lugverkoelde enjintjies in stand te hou. Sedert die verdwyning van dié ou staatmaker in die laat jare negentig het daar nog geen waardige troonopvolger na vore getree nie. Aan die goedkoop kant is die Toyota Avanza maar ’n ou stukkie blik, en aan die duur kant is die Mercedes-Benz Vito net welaf suikerbaronne beskore. Van Hyundai se kant af lyk dinge egter belowend. Die nuwe H1 Wagon lyk na ’n outydse Kombi: Eenvoudig, betroubaar en nie te duur nie.
Kom ons gaan ry ’n entjie…
Hyundai Wagon 101
Enjin
Viersilinder, 2 359 cc (126 kW; 224 Nm)
Ratkas
Vyfgang, handrat
Brandstofverbruik
10,2 liter/100 km, stad en ooppad (volgens Hyundai)
Topspoed
182 km/h
Hoe verskil Hyundai se groot wa van die goeie ou VW Kombi?
Die Hyundai is aansienlik groter as enige Kombi wat nog die strate van Hartenbos, Bela-Bela, Margate en Stilbaai ingevaar het. Hy is ’n ellelange 5,1 m lank en binne is hy só groot jy kan jou bene uitstrek, selfs op die agtersitplekke.
In die ou VW Kombi’s was die enjin agter met die bagasieplek bo-op dit. In die Hyundai sit die enjin voor. Dus is daar ’n enorme spasie agter die laaste ry sitplekke – van die vloer tot die dak is oop vir bagasie, proviand en speelgoed.
Die Hyundai het ook syskuifdeure weerskante, anders as die Kombi wat een skuifdeur gehad het, wat die in- en uitklimmery (en bagasielaaiery) heelwat vinniger en makliker maak.
Is hy darem iets vir die oog?
Nes die latere vierkantige Kombi’s (en anders as die ronde soort voor húlle) lyk die Koreaanse bussie nie liederlik nie, maar eerder funksioneel. Die agterkant probeer hard om nie soos ’n skoendoos te lyk nie, maar sonder welslae. Voor het die Koreane ’n bietjie meer moeite gedoen, maar dit lyk soos ’n effens duurder skoendoos.
Die neus is net ’n knertsie skerpgemaak sodat hy darem nie trompop in die wind vasry nie.
Vra maar enige binnenshuise versierder met wit skoene en ’n swierige kuif hoe jy ’n vervelige kamer in ’n kits kan opdollie en hy sal vir jou sê: nuwe strooikussinkies. Dis dieselfde met karre en wieldoppe: ’n Saai kar met mooi wieldoppe lyk net daai aks beter. Maar Hyundai het nog nie daai lessie geleer nie en ons sit nou hier met ’n paar kwalik vermomde staalvellings.
Een luukse is darem die leersitplekke. Dis nou wel daai kameelkleur wat jou laat terugdink aan die Gomma-Gomma-sitkamerstelle van die jare sewentig, maar jy hoef darem nie ’n donkerbril te dra nie. Leer is ieder geval die beste verweer teen ’n melkskommel wat kantel of ’n taai suigstokkie wat val. Daar is lugreëling voor en agter, en die agterste mense kan self hulle temperatuur aanpas met ’n knoppie teen die dak.
Oulik. Maar dan is net die voorste vensters elektries terwyl die middelstes met ’n ongemaklike knip oop en toe skuif, en die agterstes kan jy net op ’n skrefie oopswaai. Jy kan ook nie die radio se volume en stasies op die stuurwiel beheer of die meters stel om byvoorbeeld te kyk wat jou gemiddelde brandstofverbruik is nie.
Nietemin speel die radio se ses luidsprekers luid en helder, die instrumentepaneel is eenvoudig en netjies, en die dubbele paneelkissie sluk maklik ’n groot handsak en ’n sespak Coke.
Daar is nege sitplekke – is daar plek vir nege mense?
Nee. Hoogstens agt grootmense en Bolla Conradie.
Voor is een sitplek vir die bestuurder en dan ’n dubbele sitplek vir die passasier en ’n kind in die middel. Dit sal ’n klein kind (of Bolla) moet wees, want daar is byna geen beenruimte tussen dié sitplekkie en die middelkonsole nie. Om die waarheid te sê, as die bank vorentoe geskuif is, kan jy nie eens die bekerhouertjie in die middelkonsole uittrek nie.
Maar die ander agt mense het genoeg plek vir strek. Die heel agterste ry is een bankie soos in die ou Kombi’s, hoewel die stoffering darem só gestik is dat dit soos drie sitplekke lyk. Die middelste bank bestaan uit ’n dubbelbank en ’n enkelstoel
Pakplek?
Genade, ja, dié bussie se bagasieruim het ’n hele 851 liter spasie – omtrent so groot soos twee groot kisvrieskaste (van daardie soort wat ’n bees en ’n half kan vat). Die Mercedes Vito het 730 liter. Jy kan maklik op ’n selfsorgvakansie gaan met twee of drie kinders en alles pas netjies agter-in sonder dat jy die Venter hoef te haak.
Die nadeel van agt- en tien-sitplekbussies is dat jy nie sitplekke kan platslaan soos in ’n snoetbus nie, maar die pakplek is in elk geval so groot dat jy dit nie nodig het nie. As jy die dag twee hangkaste moet vervoer, kan jy net die banke uithaal.
'n Paar ouens kla die enjin is effens pap – is dit waar?
Dit is ongelukkig nie ’n ouvroustorie nie. Die 2,4 liter-petrolenjintjie kan kwalik as ’n hoëverrigtingsenjin beskryf word. Met ses of sewe mense en ’n hoop bagasie aan boord gaan jy in die dun lug van die Hoëveld sukkel om ’n steenkoollorrie verby te steek.
Op die Longtompas herinner hy ’n mens aan ’n Bedford-skoolbussie vol Landsdienskinders wat ’n bult uitkruie. Jy gear af totdat daar nie meer gears is nie en dan hou jy maar in die linkerbaan. As jy hom eers lekker aan ’t wiel het op ’n gelyk pad, draf hy egter heel gemaklik rondom die wettige spoedgrens.
Hoe bestuur hy?
Dis verbasend hoe goed dié wa in die dorp hanteer. Goed, parkering kan lol, maar andersins is dit amper so maklik soos om een van daai stampkarretjies by die Paasskou te bestuur.
Sy stuurwiel is lig, die koppelaar hanteer maklik, die draaisirkel is klein en die truspieëltjies groot.
Op die langpad voel hy uiteraard soos ’n klein bus eerder as ’n groot kar, en op ’n sinkplaatgrondpad spring die kleinerige wieletjies ’n bietjie rond. (As jy die banddruk effens verlaag, loop hy mooi.)
En veiligheid?
Dis peperduur om sulke groot busse so veilig soos ’n goeie sedan te maak.
Maar hy het darem lugsakke voor, sluitweerremme en elektroniese remkragverspreiding.
Hoeveel kilo's op 'n tenk?
Teen 10-11 liter/100 km kan jy darem reken om meer as 700 km te kry met die tenk van 75 liter. Maar as daar baie bulte is, gaan hy beslis dorser wees.
Dit pla...
Ons hou van...
Gelewer op 25 April 2010 | 18:41:38
Jy kan nie verkeerd gaan met Hyundai nie. Hulle is besig om vir Toyota en Volkswagen ore aan te sit. 'n Motor redakteur het onlangs op ''Ignition'' gesê dat die tyd aangebreek het om voertuie aan die standaarde van Hyundai te meet en nie meer teen Toyota en Volkswagen nie. Die wat oorweeg om een te koop, geniet hom Groetnis Oompie





















Kommentaar