Toyota Hilux
Mense sê nie verniet Toyota is betroubaar nie. Ek het groot-geword met Toyota: My ma het nog altyd ’n Corolla gery en my pa sy Hilux.
Die enigste kere wat ek kan onthou dat ons gaan staan het toe ek ’n kind was, was toe ons nie in een van die twee gery het nie! Daarom het ek twee Hilux’e – een vir werk en dié ene vir plesier: vakansies en naweke in die bos. Die Hilux is nie om dowe neute die topverkoper in Suid-Afrika nie, én hy het ’n uitstekende herverkoopwaarde.
Het jy sy brandstofverbruik bekyk voordat jy gekoop het?
Ja, ek het van ’n toets gelees waarin hulle al die beskikbare dubbelkajuit-4x4’s se brandstofverbruik getoets het oor ’n afstand van 1 000 km, en die Toyota het tweede gekom... ná die Ssangyong Actyon!
Ons het ook ’n drieliter-Isuzu-bakkie in die maatskappy wat bekend is vir sy goeie brandstofverbruik, veral die legendariese 2,5 liter-diesel, maar die skakelaar waarmee jy moet oorskakel na 4x4 pla my nogal.
Hoeveel kilo’s het hy op die klok?
Ek het hom in Oktober 2007 gekoop met 70 000 km, en tans staan hy op 98 000 km.
Waarvan hou jy in die bakkie?
Hy ry ongeloolik gerieflik op die langpad, en veral agterpaaie. Soos die meeste ander nuwer bakkies ry hy meer soos ’n motor as ’n bakkie, selfs in die veld.
Hy het al die standaardgeriewe soos lugreëling en elektriese vensters. Hy het eintlik niks fênsie luukshede nie, wat maar goed is, want dan is daar minder goed wat kan skeef loop.
Die bakkie het ook lekker krag. Jy steek moeitevry verby op die snelweg en die ding het tonne wringkrag sodat jy nie sukkel teen die opdraandes nie. Die drieliter-enjin is een van die sterkstes op die pad en dit maak die rit gerieflik, want jy kan hom bestendig op 120 km/h hou – opdraande en afdraande. En jy hoef nie na ’n laer rat toe terug te skakel as jy wil versnel nie.
My vrou, Zelda, is net so tevrede met die bakkie soos ek. Sy soek baiekeer ’n verskoning om met hom rond te ry.
Waarheen het hy al geloop?
Ons eerste toer was Kalahari toe. Behalwe vir ’n pap wiel het ons geen teëspoed gehad nie. Ons is ook al deur die Baviaanskloof en het al die roetes gaan ry in die Karoo- nasionale park en in die Gamkaskloof. Ons pak binnekort die Namakwaekoroete vir vyf dae.
Hoe gedra hy hom op gruis?
Die bakkie kan nogal ’n bietjie los wees op die grondpad, maar sodra jy die 4x4 aanskakel, trap hy vas.
En op sand, modder en klippe?
Die wringkrag (343 Nm) kom baie handig te pas in die sand – hy het eindelose krag. Ek vermy maar modder en water sover moontlik, maar op die klippe het die bakkie hom goed van sy taak gekwyt.
Is daar genoeg pakplek?
Oorgenoeg vir my, maar ek is seker daar is baie mense wat nooit genoeg pakplek sal hê nie, maak nie saak wat hulle ry nie.
Het jy hom aangepas vir die toerdery?
Ek het eers ’n ekstra dieseltenk laat insit en toe ook ’n aluminiumkappie gekoop. Daarna het ’n daktent en dubbelbatterystelsel (vir die vrieskas) aan die beurt gekom. Die mees onlangse toevoeging was die Old Man Emuvering.
Is hy toe so suinig soos die toets gesê het?
Dis heeltemal aanvaarbaar. Die slegste wat ek gekry het, was met papper bande terwyl hy swaar gelaai was én ’n daktent bo-op gehad het – 11,7 liter/100 km teen 130 km/h. Die bakkie se gemiddeld is 9,5 liter/100 km en sy beste 8,7 liter/100 km.
Wat sou jy aan die voertuig wou verander?
Ek sal nie omgee om in die nuwe model ’n klimaat-beheerstelsel te hê nie. Met gewone lugreëling raak die lug net koeler en koeler totdat jy dit later vir ’n ruk moet afskakel. Met klimaatbeheer bly die temperatuur heeltyd konstant.
Die Syfers
Enjin
3,0 liter-inlynviersilinder, drukbuis-turbodiesel – 120 kW
Grondvryhoogte
227 mm
Petroltenk
80 liter + ekstra 70 liter


















Kommentaar