Kalender - Gebeure dié maand

Previous Next

Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Die nuwe 'Datsun'-bakkie


Die Nissan NP200 is in die plek van die legendariese 1400-bakkie bekend gestel... Dit lyk darem asof hy 'n waardige opvolger gaan wees.
zoommore

Die Nissan NP200 is in die plek van die legendariese 1400-bakkie bekend gestel... Dit lyk darem asof hy 'n waardige opvolger gaan wees.

Dis ongelooflik: Tussen 1971 en 2008 is sowat 275 000 Nissan 1400-halftonbakkies in Suid-Afrika gebou. Voor 1993 is dit Datsun genoem, en voordat dit die 1400 geword het, was dit ’n 1200. En as jy nóg verder terugdink, sal jy dalk ook die Datsun 1000 onthou.
    In dié 37 jaar het het ons hom leer ken as ’n bakkie met ’n  enjin wat net aanhou en aanhou, al het die bakwerk later begin afval van die roes. Oor die jare het weinig aan dié bakkie verander, en Suid-Afrikaners het so baie van dié klein werkesel gehou dat as ons ooit ’n referendum oor ’n nasionale motor sou hou, die Nissan-bakkie die Citi Golf en Tazz sou klop.
    Daarom is dit nogal hartseer dat die nuwe NP200-bakkie nie eens vaagweg soos sy voorganger lyk nie. Tog is dit glad nie ’n  onaantreklike bakkie nie – al lyk hy effe anoniem, is hy rats genoeg vir die daaglikse stadsverkeer.
    Dié Nissan is ook goedkoper as sy mededingers, die Corsa Utility en Ford Bantam. Ek het my kampgoed op die 1,6 liter-S-model gelaai en die pad gevat na die suide van Namibië...


Omdat navorsing en ontwikkeling so duur is, is nuwe motors deesdae dikwels die produk van samewerking tussen verskillende vervaardigers. Die NP200 het sy eerste lewenslig aanskou as ’n sedan met die naam Logan, gesamentlik gebou deur Renault en die Roemeense motormaatskappy Dacia. 
Nissan gaan toe heen en maak van die Logan ’n bakkie, en dis die einste bakkie wat nou by die Rosslyn-aanleg buite Pretoria aan mekaar gesit word.


Met die eerste oogopslag lyk die NP200 glad nie soos die ou Nissan Champ nie. Die kajuit is ruim en die sitplekke knus en gemaklik.
Op die instrumentepaneel is ’n elektroniese skermpie wat vir jou die brandstofvlak, die kilometers en die enjintemperatuur wys. Daar is selfs ’n toereteller.

 


Die eerste en tweede rat is nogal kort – dis ontwerp vir maksimum wringkrag wanneer die bakkie ’n vrag dra – maar sodra jy daaraan gewoond raak om die ratkierie in derde en vierde te hou, is dié bakkie rats.

 


Die 1,6 liter-enjin gee genoeg krag sodat jy heelpad Durban toe kan ry teen 120 km/h. Én hy het ekstra woema sodat jy ’n Tata-bakkie maklik kan verbysteek.
Nissan sê hy gebruik 8 liter/ 100 km, maar met die lugreëling aangeskakel was dit nader aan
10 liter/100 km – dus kon hy met een vol tenk van 50 liter 500 km draf.


Die bakkie het lekker hanteer op Namibië se grondpaaie. Hy’s wel effe lig in die agterstewe en jy moet maar versigtig wees dat jy hom nie skuins gooi in die pad nie. Hoe swaarder jou vrag op die bak, hoe kleiner raak dié probleem.

 


Die ruimte. Die laaibak is besonder groot en kan ’n vrag van tot 800 kg dra... branderplanke, bergfietse, al jou kampeertoerusting, tuinvullis, selfs boerboele...
Die spasie agter die sitplekke is groot en dus ideaal vir waardevolle items wat jy binne-in die voertuig wil bêre.

En die prys is billik. Die S-model waarmee ek gery het, kos R132 000, en daarvoor kry jy ’n lewendige enjin, lugreëling, kragstuur, elektriese vensters, sentrale sluitstelsel, immobiliseerder en ’n radio-CD-speler. ’n Ford Bantam met soortgelyke luukshede kos R143 500 en die naaste Corsa-bakkie R133 000, maar dan is dit ’n 1,4 liter.
As jy ’n basiese werkesel soek, sal die goedkoopste 1,6 liter-model NP200 jou R103 000 kos.
Nissan het onlangs ’n dieselmodel, die 1,5dCi, bekend gestel. Die basiese model kos R143 000 en die fênsie ene R174 000.
 


Die flikkerlig maak ’n irriterende biepgeluid pleks van die gewone sagte klik. Die standaard-Barumbande is ook nie waffers nie.
Maar die grootste klagte is dat die versneller stokkerig gevoel het. Dit het selfs een of twee keer vasgehaak terwyl ek ratte oorskakel. Die bakkie het nog net 8 000 km afgelê en dit is nie ’n probleem wat jy by so ’n nuwe ryding verwag nie.


Met die NP200 kry jy waarvoor jy betaal – ’n praktiese bakkie wat jy vir naweke se selfdoenprojekte én ’n kamprit kan inspan. Maar as jy ’n gesin het of eintlik iets vir veldry soek, moet jy eerder ’n tweedehandse dubbelkajuitbakkie teen dieselfde prys oorweeg.


Diefwering.
Voor jy die wielmoere kan bykom, moet jy eers ’n veiligheidsproppie met ’n stuk gereedskap losdraai. G’n mens kan jou wiele steel nie, maar pas daai tool-tjie mooi op.

Basies.
Nissan was kwistig met die silwer plastiek op die middelkonsole, maar wie gaan nou kla as jy lugreëling, elektriese vensters en ’n CD-speler het?

Stofstrik.
Ná 50 km se grondpad met die standaard-seiltjie op gaan jy nie jou vrag onder die stoflaag herken nie. Belê liewer in ’n behoorlike kappie (sowat R7 000).


Enjin
Viersilinder, 1 598 cc met brandstof-inspuiting (77 kW, 148 Nm)

Ratkas
Vyfspoed-handrat

Laaibak
1,8 x 1,03 m (met ’n diepte van 0,54 m)

Prys
R132 000

Terug na wiele | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Soek Wielargiewe

Motortoerusting

Kry jou motor gou weer aan die gang.

Lees meer


Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek