Ry soontoe met 'n Sorento
WIELE VAN DIE MAAND: Oktober 2009
Nadat die Potgieters hulle vriende se Landie 50 km met hulle Kia Sorento gesleep het, glo Elsie Potgieter in hulle 4x4…
Hoekom het julle ’n Kia Sorento gekies en nie iets soos ’n Fortuner of X-Trail nie?
Hoewel ek al sedert 1980 werk, is dit my eerste nuwe motor. Ons het die Sorento se kleinboet, die Kia Sportage, sowat drie jaar gelede tweedehands gekoop en het hom steeds.
Danksy die Sportage se uitstekende werkverrigting in die Richtersveld het ons weer op ’n Kia besluit omdat die Sorento baie goeie waarde vir geld bied. Die Sorento is ’n luukse 4x4 met ’n laestrekratkas, ’n groot brandstoftenk (80 liter) en beter brandstofverbruik as die kleiner Sportage. Ek ry in die Kaapse spitsverkeer en kry 9-10 liter/100 km.
Hoe voel hy op die ooppad?
Ons het in April verlede jaar ’n maand lank in Namibië getoer in die Sorento, saam met vriende met
’n Land Rover Discovery.
Ons het 9 600 km gery en die Sorento het hom goed van sy taak gekwyt. Ons het geen probleme gehad nie.Hy sit lekker op die grondpad en op teer en dis gerusstellend om te weet jy het sluitweerremme.
En in die veld?
In Namibië het ons oor die berugte Vanzylspas gery, deur rivierlope en oor duine – en oral was die Sorento se werkverrigting uitstekend.
Hy’t nou 36 000 km agter die blad, waarvan seker 45% op 4x4-roetes was.Ons het die Gamkaberg, Bosluiskloof en Tankwa-Karoo platgery. En ons het die Gannagapas en Biedouwvallei gery na Wuppertal én die 4x4-roete na Eselbank en Matjiesrivier in die Sederberg. Ons het heelpad grondpad na Hartswater gery toe die paaie in die Kaap in November verlede jaar verspoel het.
Gewoonlik was die Sorento swaar gelaai met bagasie en ons het nog geen teëspoed gehad nie. Die 2,5 liter-enjin het genoeg krag en jy ry gemaklik in dik sand. Die 4x4 skop outomaties in wanneer jy dit nodig kry.
Hoe lyk die pakplek?
Op ons Namibië-toer het ons die volgende op die dakrak gedra: drie jerrykanne vol diesel, ’n ekstra noodwiel, gazebo, tent, “stretchers”, slaapsakke, matrasse, storttent, stort, grondseile en kussings.
Binne-in het ons dít gehad: ’n 80 liter-yskas, diepsiklusbattery, 4x4-gereedskap, herwinningstoerusting, twee sakke klere, ’n sak beddegoed, ses ammokiste met kruideniersware en ander toerus-ting, ’n skootrekenaar, kamera-toerusting, gasbottel, opvoutafel, stoele, boekesak, koelsak, smuktassie en noodhulpkiste.
Het julle enigiets aan die Sorento verander?
Ons het die voertuig hoër gemaak deur die kronkelvere te laat “rek” – die mense noem dit “reset and temper”. Dit het die grondvryhoogte in die middel met 7,5 cm verhoog.
Ons het nuwe bande opgesit (Goodyear Wrangler) omdat die standaard-Kumbo-bande waarmee ons die voertuig gekoop het, ’n onaangename verrassing was. Dit kon glad nie hond haaraf maak op 4x4-terrein nie.
As jy die kar ontwerp het, wat sou jy anders gemaak het?
’n Nog groter brandstoftenk (groter as die 80 liter). Op die langpad kan jy omtrent 800 km uit die tenk kry – ’n bietjie minder as jy oor moeilike terrein ry.
Ek sou ook verkies dat die noodwiel agterop die luikrug gemonteer word, soos die Sportage s’n.
Hoe het jy die Kia-handelaar se diens ervaar?
Goed. Boonop kry jy ’n waarborg van 10 jaar/150 000 km, ’n onderhoudsplan van 5 jaar/100 000 km en 3 jaar onbeperkte padbystand.
As jy weer ’n 4x4 moet koop?
Weer ’n Sorento. Ons is tevrede met al twee ons Kias: die kleiner Sportage (’n ou model met ’n lae-
strekratkas) en die Sorento, ’n luukse, betroubare werkesel. Ek kan werklik die Sorento as ’n volwaardige 4x4 aanbeveel.
Die Syfers
Enjin
Viersilinder, 2 497 cc (104 kW; 350 Nm)
Grondvryhoogte
Agteras – 20,3 cm
Vooras – 20,8 cm
Petroltenk
80 liter
Tenkafstand
Hoogstens 800 km
4x4-Kenmerke
Permanente 4x4, laestrekratkas, agterste beperkte gly-ewenaar
Topspoed
180 km/h


















Kommentaar