Dana se gunsteling paaie
1. Die pad tussen Olifantshoek en Upington
Ek was so vyf, ses jaar oud toe ek dié stuk pad die eerste keer gery het, saam met my pa en oom Gert van der Ryst van Daniëlskuil, in oom Gert se Toyota Corona-bakkie. Dit was toe nog ’n grondpad – ’n verskrikking van ’n grondpad. Daardie dag het ons ’n sprinkaanswerm gekry, só erg was dit dat oom Gert die Corona se ligte moes aanskakel. Of ek verbeel my so iets. Ek het daarna baie ander ervarings op daardie pad gehad: Papwiele, uitlaatpype wat afval, ’n sleepwa se trekstang wat breek. En tog, elke keer kom jy maar weer op Upington of Olifantshoek uit, en dan is als weer mooi en goed.
2. Die pad tussen Hentiesbaai en Uis in Namibië
Sorg dat jy so vyf-, sesuur uit Hentiesbaai uit ry, wes. Die eerste end sal jy niks sien nie – nie bome nie, nie klip nie, net sand wat na niks lyk nie. Dan, ná so 20 km, sal jy so ’n dun blou strepie skuins voor jou op die horison gewaar. Later sal daardie strepie ’n berg word. Soos ’n groot blou skip wat lank-lank gelede daar kom strand het, sal die Brandberg voor jou lê. Draai jou ruit af, trommel liggies met jou vingers op die dak en ry maar net, ry, ry.
3. Die pad Ventersdorp toe
Ek is al ’n middeljarige man, maar dit is steeds lekker om op ’n Vrydagmiddag Ventersdorp te nader – die dorp waar my bejaarde pa woon en my oorle ma begrawe is. My pa se bredie sal op die stoof wees, die hond sal by die hek blaf, en miskien sal Bles Bridges of Jim Reeves oor my pa se ou Technics-klankstel blêr. Ek sal by die kombuistafel gaan sit, en dalk sal my pa sê: “Dis lekker om jou weer by die huis te hê, Seun.” (Ek hoop nie dit klink te sentimenteel nie.)
4. Die pad tussen Kimberley en Hopetown
Ek weet hoekom nie, dis net vir my ’n lekker stuk pad om te ry daardie. Ek het op ’n kol ’n gewoonte gehad: Nes ek by Modderrivier verby is, druk ek David Kramer se “Ek kô huis toe” in die speler. Dis ’n liedjie oor ’n ou wat te lank in die stad was, en nou op pad terug Karoo toe is, na sy mense toe. Ek hou baie van die Karoo. Iewers tussen Kimberley en Hopetown is die grens – of my persoonlike grens – tussen die Noord-Kaap en die Karoo. Hoekom sê ek dit? Ek weet nie, ek voel dit maar net hier in my binneste as ek daar ry.
5. Die pad tussen Oranjevlei en Jacobsbaai
Dit is maar so 4 km, hierdie pad. Tussen Saldanha en Vredenburg draai jy af Jacobsbaai toe. Dis Weskus, dit is Karoo by die see. Daar is renosterbos en vaal gras, en as jy gelukkig is, sien jy ’n skilpad. Dan op linkerkant kry jy die bordjie: Oranjevlei. Ek het nog nie daar afgedraai nie, maar ek vermoed dis ’n plaas. Maar nie ver van daardie bordjie af nie, ry jy oor so ’n knop, dan sien jy die see – wydoop lê dit voor jou. En doer onder is Jacobsbaai se wit huise. Ek het ook onlangs een daar gekoop.


















Kommentaar