Kalender - Gebeure dié maand

Previous Next

Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Volkswagen Tiguan


Die Tiguan 1.4 liter-petrolmodel het Volkswagen se 4Motion, maar dit maak nie van hom 'n geharde veldryer nie.
zoommore

Die Tiguan 1.4 liter-petrolmodel het Volkswagen se 4Motion, maar dit maak nie van hom 'n geharde veldryer nie.

’n Mens voel lus om aan die sug te gaan as jy hoor van nóg ’n “sportnutsvoertuig” wat losgelaat word, veral as jy nie mooi weet wat die punt van dié soort ryding nou eintlik is nie.

En kyk, elke liewe motorvervaardiger is nou al op dié bandwagon, selfs Mini het onlangs op die Paryse motorskou sy 4x4-weergawe gewys. (Hy lyk ’n bietjie soos ’n bulldog wat ’n worshond-tefie geruik het. Maar dink jouself in…’n Mini in Kaokoland. Nee, werklik, mense.)

Dié gesinswaens op stelte is petrolvrate, kweekhuisgasblasers, dikwels nie alte mooi nie – en gereeld met ’n jaagduiwel agter die stuur.

 Ek was dus uit die staanspoor ietwat skepties oor Volkswagen se nuwe Tiguan, veral omdat VW reeds die (duur) Touareg in die mark het. Maar, het ek gedink, dis ’n Volkswagen, en Volkswagen maak goeie karre. En hier is boonop iets vir die arme drommels wat nie ’n halfmiljoen onder die kooi hou wat net wag om geblaas te word nie.
 

Daai enjintjie...


Dalk is dit ’n ding wat ons van die Yanks gekry het, maar Suid-Afrikaners hou van ’n groot enjin in ’n groot kar; ’n 1400-stofpoepertjie duld jy net in ’n Chico of ’n Tazz of so iets. Ek hóór sommer daai Noord-Kaapse boer wat uitkyk vir ’n ryding om dorp toe te ry en elke jaar by Hermanus te kom: “Wat!? Soveel geld vir ’n veertienhonderd?”
Dit gaan interessant wees om te sien watter Suid-Afrikaners uiteindelik hierdie kar gaan koop.

Hoe ry die kar?


Soos ’n groot kar, sag en stewig op die pad. (Dit is eintlik te wagte, want dit ís ’n groot kar.) En hy bewéég.
Kyk, daai enjintjie is dalk klein, maar die spannetjie aanjaers doen hulle ding. Volgens Volkswagen versnel hy van 0-100 km/h binne 9,6 sek., terwyl sy gô eers hier by 190 km/h uitraak as jy die paplepel trap. Hy skrik ook nie vir ’n opdraande nie, en as tant Miempie van die plaas voor jou aankruie terwyl sy vir die afdraaipad 28 km verder uitkyk, het jy geen probleem om ’n verbysteekgaatjie te kry nie.
Dit was wel vir my ’n effense gesukkel om die kar lekker glad te laat loop. As jy hom in rat sit (veral eerste tot derde), moet jy jou storie ken om die ding nié te laat bokspring nie.

Hoe lyk hy binnelangs?


Mooi, stewig, goeie afwerking, gerieflik. Soos dit ’n Volkswagen betaam.

En die pakplek?


Dis dalk die grootste rede waarom ek nog net nooit kon vatplek kry aan sportnutsvoertuie nie. Ja, hy sal ’n gesin van vier se bagasie lag-lag sluk, maar ek is oortuig jy sal selfs meer inkry in daardie spelonk agterin ’n Jetta of Passat. En jy gaan veel verder kom met ’n tenk petrol.

Is hy dan dors?


Wel, dis nou nie asof hy ’n afskaffer is nie, maar hy steek darem nie te sleg af teen mededingers soos die Nissan Quashqai en Mitsubishi Outlander nie.
Dis seker die prys wat ’n mens moet betaal vir al die krag wat die turbo- en superaanjaer uit daardie enjintjie delf. Volgens die ritrekenaar het ek 327 km met die toetsmodel afgelê (waarvan 230 km langpad was, teen 120 km/h) en die gemiddelde verbruik was 10,5 liter per 100 km.

Veiligheidskenmerke?


Het ek al genoem dat hierdie ’n Volksie is? Jy kry die gebruiklike dinge – sluitweerremme, elektroniese remkragverspreiding, ’n elektroniese stabiliteitsprogram, remhulp, afdraandebeheer. Daar’s ook voor- en sylugsakke vir die voorste insittendes plus nog gordynlugsakke vir die voorste én agterste insittendes. (En as jy of jou passasier nie julle sitplekgordel aansit nie, hou daardie alarmpie nie óp skreeu nie.)

Waarvan hou ons?


Die voorkoms – die familietrekke is duidelik te sien in die oë – en die afwerking. Dis ’n stewige kar wat jou jare behoort te hou, mits jy nou nie te veel gaan bergklim met hom nie.
 As jy ’n bietjie skepties is oor daai enjintjie, ontspan: Jy kry dieselfde waarborg van 3 jaar of 120 000 km en ’n Automotion-onderhoudsplan van 5 jaar of 60 000 km, nes met Volkswagen se ander produkte.

Wat pla?


Hy’s nogal duur. Die Track & Field-model wat ons gehad het, kos R291 100, en die “Trend & Fun” (waar op aarde kom hulle aan dié naam?) R283 100. En dan praat ons nie eens van die ekstras nie …
Vat byvoorbeeld die voertuig waarin ons rondgerits het: met sy metaalverf (R1 820), misligte voor (R1 640), leersitplekke (R10 300), spoedbeheer (R2 630), trukamera (R4 660 en nie te watwonders nie), multifunksie-stuurwiel (R2 080) en satellietnavigasie (R25 650) gaan jy ’n tjek vir knap onder R340 000 moet uitskryf. Nie kleingeld nie.

Terug na wiele | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Soek Wielargiewe

Motortoerusting

Kry jou motor gou weer aan die gang.

Lees meer


Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek