Volvo se mense herinner jou gereeld daaraan dat hulle karre besonder veilig is, of, soos hulle sê, die heel veiligste is. Heimlik weet hulle jy glo dit reeds.
Maar dié keer gaan hulle verder: Hierdie XC60 4x4-blitsie, sê hulle, is die veiligste Volvo nog. Wel, dan is dit moontlik die veiligste kar ooit. En dié aanspraak is dalk nie so vergesog nie, want Volvo sê hy mik daarna om eendag motors te bou waarin geen bestuurder of passasier sterf nie.
’n Paar jaar op die pad sal bewys of die XC60 werklik so veilig is. Waaroor daar wel min twyfel is, is dat hierdie Volvo besonder mooi is. As jy die eerste keer ’n XC60 sien, wonder jy skielik of jy so haastig moes wees om daai Freelander of BMW X3 te koop.
Die XC60 staan lekker hoog in sy tekkies, nie soos ’n knopknie-tiener nie, eerder soos ’n kat wat regmaak om te spring. (Ek wou “luiperd” sê, maar dis miskien ’n bietjie teatraal.) Kortom, dis ’n elegante kar, wat lus lyk vir aksie.
Maar wat is dit nou eintlik?
Die motorouens noem dit ’n crossover SUV. Iets tussenin dus. Hy lyk sportief en gespierd, maar is ook tuis in Absa se parkeerterrein; hy lyk na ’n gewone sedan, maar hy’s ’n bietjie hoër van die grond af (en in die kajuit) en hy trek met al vier wiele.
Die meeste motors in dié klas – die die BMW X3, Nissan se Murano en Qashqai, Audi se Q5 – sal op die eerste groterige klip bly hang, maar daar is tog ’n paar van hulle wat nie sleg vaar tussen die bossies nie, soos die Honda CR-V en Land Rover Freelander. Maar almal van hulle smaak ’n lekker grondpad, veral as dit reën.
En dié Volvo? Kan hy boomklim en perdry?
Hy is voorwielaangedrewe totdat die voorwiele begin gly, en dan word krag na die agterwiele gestuur. Maar vir die veld is hy effens te na aan die grond. Hy het ook nie die regte bande of ’n laestrekratkas nie.
Die antwoord is dus nee, Angola sal moet wag, maar bespreek solank jou kampplekke in Namibië. Hy ry lekker in die stad ry, is hy fantasties op die langpad en het genoeg krag om jou Ventertjie se wielietjies te laat sing.
Hoe’s hy anders as Volvo se groot 4x4, die XC90?
Met die eerste oogopslag lyk hy nes ’n kleiner weergawe van die lywige XC90, die sewesitplek-veldwa wat lankal op ons paaie ry. Maar die XC60 het net vyf sitplekke en is gebou op dieselfde onderstel as Volvo se stasiewa-op-steroïede, die XC70, en ook die S60-sedan.
Onder die enjinkap?
Jy kan kies tussn twee enjins – ’n wakker nuwe turboaangejaagde drieliterpetrol-sessilinder of die staatmaker vyfsilinder-D5-2,4 liter turbodiesel.
Jy kan nie ’n fout maak met die diesel nie, want hy doen al ’n hele paar jaar diens in ander bekende Volvo-modelle (die S40, S60, V50, XC70 en XC90). Hy’s dalk nie so verfynd en stil soos sy mededingers se nuwer enjins nie, maar dit gee jou tog daai nugget gevoel wanneer jy hom ’n bietjie poeier te gee en met die een oor luister na die enjin se klankbaan terwyl jy die volume van Dire Straits se “Heavy fuel” bietjie oopdraai.
En hoe ry dié Skandinawiër?
Die rit is nogal ferm, maar nie so hard dat jy vir jou gesin sal moet verduidelik van die nuwe motor se ánder fantastiese kenmerke nie. Onthou dat die motor ’n bietjie hoër staan as ’n sedan en dus meer bakrol in draai te wagte moet wees. Die vering is egter ferm genoeg om jou veilig te laat voel in vinnige draaie.
Hoe’s sy drinkgewoontes?
Volgens Volvo suie die diesel XC60 gemiddeld 8,3 liter diesel per 100 km. Dit beteken dat jy 843 km met sy tenk van 70 liter kan ry. Lekker ver.
Hoe lyk hy binne?
Dis lekker om jy agter ’n nuwe Volvo se stuur in te klim, want die bestuursruim het nie soveel intimiderende knoppies en liggies soos sy Duitse mededingers nie. Binne-in is Volvo’s eenvoudig, logies en minimalisties, ’n mens kan selfs sê kalmerend.
Kan ek die opblaasboot inpak?
Ons reken so. Met die sitplekke regop sluk die kattebak 495 liter – amper genoeg vir ’n honderd papsakke as jy op kort kennisgewing iewers ’n opskop moet reël. As jy die agtersitplekke platslaan kry jy 1 455 liter se pakruimte.
Is al die gepratery oor veiligheid waar?
Studies wys glo dat 93% van mense wat agter in ander mense vasry se aandag elders was. Dié Volvo’tjie is die eerste motor in die mark met ’n ding genaamd City Safety. Nee, jy kry nie ’n .38 Special onder die bestuurder se sitplek nie: Die XC60 het ’n laser wat bo die truspieëltjie gemonteer is en 50 strale per sekonde vorentoe uitstuur om te toets of die motor voor jou skielik stilgehou het.
As jy teen 15 km/h of stadiger ry en die motor voor jou stop skielik, sal die Volvo hom vanself tot stilstand bring. Dieselfde gebeur as die verskil in snelheid tussen jou en die motor wat jy volg minder as 15 km/h is. Dié stelsel gaan helaas nie werk met voetgangers wat voor jou inslinger nie, maar Bjorn en span witjasse verdien nietemin ’n klop op die skouer vir hierdie stukkie tegnologie.
En my beursie, is dít veilig?
Mmmm…die verkoopprys is nog nie bekend nie, maar begin gesels solank met die bankbestuurder vir meer as R400 000 se blou blare.
Weg sê:
Volvo’s was nog altyd veilig en sinvolle karre. Deesdae raak hulle al hoe mooier en prettiger.
Kommentaar