Previous Next

Argief - Soek enige artikel uit Weg!

'n Sportiewe gesinswa


Motorhandelaars is nie mal oor stasiewaens nie. Volgens hulle hou kopers nie meer van dié lang karre nie: dit het nie meer sitplekke as ’n gewone sedan nie en jy sit ook nie lekker hoog sodat jy bo-oor die Corollas en Getz’e in die oggendverkeer kan tuur nie. Van veldry kan jy maar vergeet, en as jy groter pakruimte soek, kan jy enige van tien soorte snoetbussies kies.
    En deesdae kry jy ook omtrent net duur stasiewaens. Vandat Opel die Astra SW gestaak het, kry jy net BMW’s, Merc’s, Audi’s en Volvo’s. En, helaas, hulle bly stasiewaens. Selfs die woord stasiewa klink effens onlekker. Wat groot gesinne betref, is ons dus vierkant in die era van die snoetbus en die veldwa.


Eerstens, sy prys: Nuut kos hy R229 500. Goed, dis ’n kruiwa vol geld, maar kyk wat kry jy alles: snelheidsbeheer, ruitveërs en hoofligte wat outomaties aan- en afskakel, ’n paneelkissie wat jou Lemon Twist kan koel hou; lugreëling wat jy onafhanklik vir die linker- en regterkant kan stel, plus ’n radio-CD-speler wat MP3’s lees en van die stuurwiel af beheer kan word (’n onderskatte veilgheidskenmerk, omdat jou oë op die pad bly).
    Die 308 se troefkaart is sy vollengte glasdak. Met die druk van ’n knoppie skuif ’n blinding oop tot verby die agterpassasiers se koppe, en jy kan na hartelus die Karoo-maan en -sterre bewonder of die Hoëveldsonnetjie in jou nek voel bak. Dis amper soos om in ’n afslaankappie te ry – in ’n stasiewa.


Nee, toe nie. Sy pakruimte as jy die agtersitplekke platslaan is 2 149 liter. Dis meer as ’n halwe kisvrieskas groter as die Scenic.
     As jy die voorste passasiersitplek platslaan, kan jy ’n ook 3,1 meter lange bevrore luislang inlaai as dit moet. Die drie agtersitplekke kan ook afsonderlik platslaan, vorentoe en agtertoe skuif, of selfs heeltemal uitgehaal word.
     As jy in die edele tradisie van Peugeot-stasiewaens met jou groot gesin wil gaan sendingwerk doen in Malawi, kan jy hom koop met twee ekstra kindersitplekkies agter die agtersitplekke.


Die Peugeot het die maksimum van vyf sterre gekry in die gesaghebbende Euro-NCAP-botstoetse, wat beteken sy onveiligste kenmerk is waarskynlik die ou agter die stuurwiel.
    Die stasiewa het sluitweerremme met noodremhelp en remkragverspreiding, vier lugsakke, syimpakstawe en ISOFIX-hegpunte vir babasitplekke.


Nie soos ’n bokwa met borrelgom vir wiele nie. Dis nie noodwendig ’n slegte ding dat jy net so laag sit soos in ’n sedan nie, want die Peugeot se swaartepunt is aansienlik laer as dié van ’n snoetbus. Jy kan hom maar ’n bietjie deur die draaie druk as jy die Spar voor toemaaktyd moet haal.
    Die 308, wat die kleiner 307 vervang, word aangedryf deur dieselfde 1,6 liter-enjin (88 kW en 160 Nm) wat BMW in een van die Mini Coopers gebruik. (Ja, Duitse tegnologie in ’n Franse motor!) Dié enjin is heel gewillig as jy vetgee, maar jy gaan dalk ’n paar fyn druppeltjies sweet op jou bolip kry as jy met ’n volgelaaide 308 ’n steenkoollorrie in die Hoëveld probeer verbysteek.


Sy tenk vat 60 liter en Peugeot sê die 308 SW gebruik 7,1 liter per 100 kilometer. Van Johannesburg af behoort jy dus Bloemfontein toe en terug te kan suiker om jou ma op haar verjaardag te verras.


Ja, dis ’n ou laai van Peugeots en Citroëns om jou te laat voel of jy beskuit knie as jy ratte wissel. Die aksie is vaag, traag en rubberig.
    Boonop is die afstand wat jy die rathefboom tussen ratte moet skuif, nog verder as dié in ’n CitGolf. Gestel eerste is in Upington, dan is tweede in Kaapstad, derde in Polokwane, vierde in George en vyfde in die see, ’n paar kilometer oos van Maputo.
    Tog, as jy eers vyfde gehaak het met die toere ’n aks bo 3 500 r.p.m., is alle klagtes vergete. Dan is dit net jy, lekker padmusiek en die horisison doer anderkant.


Ja, die 308 se voorkant lyk soos ’n hokkie-doelwagter se masker. Nie mooi van voor af nie – en ongelukkig ook nie van agter af nie. Maar hy is sag op die oog as jy hom van die kant af kyk…anders, elegant, onmiskenbaar Frans.
    En as jy inklim kry jy onmiddellik ’n gevoel van gehalte. Die instrumentpaneel is sag en duursaam, die meters lekker groot en die ventilasiebeheer logies uitgelê. Dit is amper ’n kulturele ervaring om op ’n Sondagoggend die Rapport en Blitz te gaan optel.


Ja, op een van twee maniere: Nuut koop en hou (want Franse motors se herverkoopwaarde is wankelrig) of tweedehands. Jy sal nie nou al ’n 308 SW onder in Voortrekkerstraat raakloop nie, maar hou jou oë oop, dalk tel jy dalk ’n los gelukkig op. (En hier praat ons nie van Busty op die straathoek nie. – Red.) Jy kan hom tot 30% goedkoper kry as nuut.
Die 308 SW het ’n driejaar/100 000 km-waarborg, met diensintervalle elke 20 000 km.

Stasiewaens is soos skaapafval: nie almal se bord potjiekos nie. Maar die 308 is ’n veilige gesinsmotor en goeie waarde vir geld. Hy is propvol nuttige dinge wat jy eintlik net in luukse motors verwag.

Terug na wiele | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 20 Oktober 2009 | 12:12:25

Fantasties

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Soek Wielargiewe

Motortoerusting

Die Polo 1.6 TDI Comfortline is hier - en hy's 'n gawe outjie.

Lees meer



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek