Kykgenot-paaie
1.Die R43 tussen Villiersdorp en Caledon (Wes-Kaap)
Jy moet dié pad verkieslik van Villliersdorp na Caledon ry. Hierdie een is nou, vol kronkels en op en af, so al op die rug van rante langs. Die pad val weerskante toe weg, en die heuwels lê soos ’n gefrommelde kombers rondom jou. Dit voel of jy in die lug ry. Daar is ’n rykdom van kleure, soos die koringlande se groen. En daar is fassinerende patrone, soos die strepe van die lande wat gestroop is. Daar is ronde bale, wit geskeerde skapies, statige kraanvoëls en vele meer. Dis net ’n onbeskryflike mooi landskap, ’n fees vir die oog. En as jy uit die binneland aankom, kry jy jou eerste blik op die see daar doer voor.
2.Die R44 van Gordonsbaai om na Bettiesbaai (Wes-Kaap)
Dis nog ’n gunsteling, maar moenie die pad op ’n vakansiedag op ander besige ry nie, want dit is ’n gewilde pad. Daar is lekker draaie om goed in te lê, en dan is daar ook weer sulke reguit stukke waar jy die lepel kan plattrap. Regs van jou lê Valsbaai, die kleur van die deinende see is altyd besonders. Maar onthou ook om links en voor jou te kyk na die berge en fynbos.
3.Die N10 van Colchester na Cradock (Oos-Kaap)
Hierdie een kan jy eintlik in beide rigtings ry. Dit is nou een van ons nasionale paaie wat ’n uitsondering is. Die pad klim op en af oor berge, met lekker draaie, en tussendeur kry jy hierdie uitgestrekte vlaktes of valleie. Die kyk hier is effe anders, dis ver en wyd en leeg en groots, minder detail, maar met ongelooflike skakerings van kleur oor die vlaktes en berge heen, met die hemelkoepel oor dit alles gespan.
4.Die R541 af na Badplaas van die N17 na Oshoek (Mpumalanga)
Dié pad is dalk minder bekend. Dis ’n pad wat van die Hoëveld af val na ’n valleikom doer onder. Ry heelpad afdraand en jy moet jou ry ken, maar dis lekker. Maar onthou om te kyk – die uitsig op die berge om die kom en die kom self is iets om te sien. Dis amper soos die Oliviershoek-pas af na Natal, maar hy ry baie lekkerder.
5.Die R539 Schoemanskloof-pad van die N4 naby Machododorp af na Nelspruit se kant toe
Soos jy in die vallei afsak na die Laeveld toe, is daar berge weerskante van jou. Jy kan hierdie pad ietwat vinniger ry, maar wees versigtig om die draaie.


















Kommentaar