Die Duimgooiersgids tot Suid-Afrika (vol.1)


Beer Adriaanse en sy vriend en mede-avontuursoeker Marc Dey het besluit om dwarsdeur Suid-Afrika duim te ry.
zoommore

Beer Adriaanse en sy vriend en mede-avontuursoeker Marc Dey het besluit om dwarsdeur Suid-Afrika duim te ry.

Sedert die wiel ontdek is was daar nog altyd die probleem dat daar meer mense sonder, as met hulle in die wêreld is.

Om “lifts te bum” is dus een van die oudste maniere om die wêreld te verken. Met BP wat besig is om ons oseane in iets wat soos Bovril lyk te verander, is duimgooiers egter ook die reisigers van die toekoms. Hulle spaar petrol deur bloot hulle duime in te span, en spaar krag deur heeldag eerder die son vir hitte en lig te gebruik. Die belangrikste is egter dat duimgooiers ruimtes, en die mense wat in hulle beweeg, verken wat meeste van ons nie eens oplet as ons met ons iPods in ons ore in motors verby hulle jaag nie. Met die regte ingesteldheid, en 'n paar wenke vir die pad, kan jy die wêreld soos 'n oester oopkraak en die hart uit hom suig. So voor jy jou duim in die lug gooi:


1. Pak lig.
Dit klink dalk vanselfsprekend, maar jy gaan regtig jouself haat as jy teen ‘n opdraend moet uithardloop omdat ‘n kar omtrent 500 meter verby jou gery het en die kitaar wat jy saamgebring het swaai oor jou skouer en slaan jou tussen die bene. Deur tranende oê moet jy dan toekyk hoe die ongeduldige kar wegtrek en soos `n ruiter op `n wit perd die sonsondergang ingallop.


2. Vat voorrade.
Wanneer jy vir drie ure buite Caledon in die reën en die wind staan, en daar geen karre verby kom nie want dis 'n Sondagmiddag en almal is besig om lekker Sondagmiddagkos in hulle huise te eet, sal 'n pak rosyntjies jou deur die drif trek. Hoewel dit niks meer as druiwe-biltong is nie, bevat dit sewe soorte voedingstowwe en kan jy jou amper verbeel dis `n heerlike Sondagmiddag braaiboud op rys.


3. Verf borde.
Meeste mense assossieer geverfde bordjies wat mense langs die pad vashou met vuil bergies wat kleingeld by robotte soek of oorywerige gelowiges wat die einde van die wêreld aankondig. Dis egter maklik om 'n vriendelike en snaakse bord te maak wat karre se aandag kan kry. “Mostly Harmless”, “Friendly Students” en “Need Good Conversation?” is 'n paar suksevolle voorbeelde. Hou dit kort en kreatief. Jy het net een sekonde om 'n potensiële vriend uit 'n vreemdeling, wat teen 130 kilometer per uur verby jou jaag, te maak.


4. Staan naby padblokkades.
Hoewel dit teen die wet is om langs sekere paaie jou duim in die lug te hou, is die verkeerspolisie se aandag gewoonlik op die padvarke in hulle vet BMW’s en taxi’s sonder stuurwiele gefokus. Onskuldige motoriste se natuurlike reaksie is egter om ook stadiger te ry as daar `n blou lig in die verte flikker, en dit gee vir 'n desperate ryloper die geleentheid om oogkontak met die passasiers te maak. Fokus jou aandag op vroue of kinders wat langs die drywer sit en gee vir hulle die hartseersde en sielswroegendste kyk wat jy kan. Die Puss in Boots van Shrek is 'n goeie voorbeeld om in gedagte te hou.


5. Staan naby brûe.
Hoewel brûe meestal vir hulle bo-kante gebou word, is hulle onderkante net so nuttig vir duimgooiers. As die bloedige son jou op 'n stil middag langs die pad neerpen, is 'n brug soos 'n oase in die woestyn. Daar is genoeg skaduwee vir jou én al die boemelaars wat onder die brug bly, en as jy gelukkig is, bied hulle dalk vir jou 'n happie aan. In `n reënstorm bied 'n brug droogte en 'n plek waar jy jou nat klere kan ophang. Selfs Kurt Cobain het baie tyd onder brûe deurgebring.

Terug na wat's nuut


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Soek - Kalenderargiewe



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek