Boere 'boars' kom al 'n lang pad...

WIlde varke word glo reeds sedert die 1950s gejag in die omgewing van Tulbagh en Wellington, maar boere is nou raadop oor hierdie vernielsugtige indringers
Wilde varke mag dalk deesdae ’n groter probleem as ooit wees vir boere in die Tulbagh- en Wellington-omgewing, maar dis g’n nuwe ding nie.
Dit blyk uit nuwe navorsing oor die plaas Limietrivier, geleë in die Agter Groenberg-distrik, ongeveer 12km vanaf Wellington. Die foto hiernaas is geneem in die laat 1950s en toon dat daar toe reeds van die soort vernielsugtige probleemdiere wat deesdae so die oeste teiken, op vrye voet was.
“Die wildevark-stories(...)is niks nuut nie,” luidens ’n inskrywing wat onlangs gepubliseer is op die Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika se interaktiewe webwerf, oftewel Wiki.
Die Wikiskrywers beweer van die boere het dus reeds sowat vyf dekades gelede die jaggeweer opgeneem teen wilde varke.
Dit kom na Weg verlede maand onthul het dat CapeNature ’n “totale uitroeiplan” oorweeg om die varkprobleem die hoof te bied.
Basters saai amok
“(Die destydse plaaseienaar Dolf Stemmet) het die eerste wilde vark geskiet," volgens die Wiki-inskrywing wat die plaas en omgewing se verhaal vertel. "In vroeë jare was akkerbome langs die Limietrivier geplant. Gewone plaasvarke is in die hokke langs die rivier ingejaag om die akkers te gaan vreet, en dit is hier, waar die wildevarke en die gewone plaasvark gebaster het,” aldus die Wiki.
Volgens mnr. Jaco van Deventer, programbestuurder: wildbestuur by CapeNature in Porterville is ‘n groep opregte “boars” in die 1930’s deur die departement van bosbou uit Europa ingebring.Die rede was eenvoudig: Die varke moes die dennemotte help bestry wat groot skade in plantasies aangerig het. Die varke grawe die dennemot-papies onder die dennenaalde uit en eet hulle.
Hoe dit ookal sy, die nasate van die Bolandse invoer- en/of wild geworde varke veroorsaak deesdae groot skade vir boere.
Lees die Wiki hier: http://wiki.nuwegeskiedenis.co.za/index.php/Limietrivier_Plaas
Of kyk die WegVideo hieronder:













Kommentaar