Quechua-tweesekondetent
Steek jy lyf weg as die tyd aanbreek vir tentopslaan? Joe Möhle het ook, tot hy ’n Quechua-opslaantent (jy spreek dit “ketsjwa” uit) vir ’n rugsakvakansie gekry het.
Waarvan hou jy?
“Die gemak waarmee dit opslaan. Dis regtig indrukwekkend en vat letterlik net ’n paar sekondes. Op mooi-weersdae het ek nie eens die moeite gedoen om die hoeke te anker nie. Ek het sommer
net my rugsak in die tent gegooi en ingekruip.
“Ek was ook nogal beïndruk met hoe goed die tent bestand is teen gure weer. Dit het saam met die wind gewieg eerder as om plat te waai. Ek het in kort reënbuie droog gebly, maar die tent het wel liggies begin lek wanneer dit vir langer tye swaar gereën het.”
Is dit maklik om dit weer op te vou?
“Dit vat ’n tydjie om die regte opvoumetode onder die knie te kry, maar as jy eers die slag het,
is dit maklik. Quechua sê dit vat 15 sekondes – en hulle jok nie.”
Waarvan hou jy nie? “Die groot skyfvormige sak (65 cm in deursnee) maak dit effens onprakties om saam te dra as jy stap, maar as jy met ’n kar gaan kampeer, vat dit min plek in die bagasiebak.
“Op koue nagte was die kondensasie aan die binnekant van die tent lastig. Dis nie lekker as water op jou drup nie, maar dis al waaroor ek kan kla.
“Ek hou regtig baie van hierdie tent.”
Hoeveel kos dit? Tussen R1 000 en R1 300 by buitelewewinkels
Kontak: Easton Outdoor Equipment
Mark sê: Quechua vervaardig ook kitsopslaantente vir een, drie en vier mense en daar’s blykbaar een op pad wat groot genoeg is vir tien.



















Kommentaar