Koop plaaslik en rek jou rand


VENTER-SLEEPWAENS. Venter maak enigiets van perdesleepwaens tot eenton-platdekwaentjies.
zoommore

VENTER-SLEEPWAENS. Venter maak enigiets van perdesleepwaens tot eenton-platdekwaentjies.

Jy ken daai braaipraatjies: “Suid-Afrika se produkte gesels saam met die beste in die wêreld, die béste: Creepy Crawly, Pratley Putty, die G5-kanon, selfoonmaste wat soos palmbome lyk, die Rooivalk-helikopter, Niekie van den Berg…” Hier by Weg stem ons saam – en ons wys jou ’n paar Suid-Afrikaanse buiteleweprodukte wat net so goed, of beter, is as enigiets wat jy oorsee kry.


Raakvatter
Gaan kyk in enige kampeer- of ysterwarewinkel in Suid-Afrika en kyk wie’s die grootmeneer onder braaibykomstighede: Jip, LK’s!
    As jy ’n draai gaan gooi by Lourens Kriel (ja, dis waar LK’s vandaan kom) en sy seun Johan se fabriek in Kaapstad, sal jy verstaan hoekom. Hier staan g’n siel rond en wag vir beter dae nie. En, sê Lourens, dit gaan al van 1987 af so, toe hy sy eie produkte begin ontwikkel het: Braaiers, roosters, rookmasjiene, marinade-kwaste, staalborsels, braaipanne, driepote vir roosters…
    “Dit was juis rondom ’n braai dat ek en Johan eendag besluit het om braaigereedskap te maak. Ons koop toe ’n vyf meter lange stuk aluminium en spring aan die werk in die garage. Die eerste ding wat ons uitgedink en gemaak het was die gewilde konsertina-braaitang. Ons het daai tang ontwerp!
    “Ek het die eerste tang aan ’n ou verkoop wat dadelik nog 20 bestel het. Dit was nie te lank nie toe werk agt van ons in ’n dubbelgarage oor naweke. Ons het 4 000 tange op ’n Saterdag gemaak!
    “Deesdae werk 110 mense hier en ons het 400 produkte.”
    Ander buitelewemaatskappye voer Chinese produkte in – nie Lourens en Johan nie; die kans is groter dat die Chinese LK se produkte begin invoer…
Die topproduk: Die rooi-en-silwer konsertina-braaitang is onverbeterlik. Dit stel selfs ’n onbeholpe braaier in staat om ’n rol boerewors behendig om te draai. Met een hand.
Prys: R50-R70
Kontak: LK’s * 021 905 0640 vir die adres van jou naaste verskaffer; www.lks.co.za
Weg sê: Daar’s baie maatskappye wat LK’s intussen nageaap het. Die oorspronklike LK-tang bly maar die beste. Ondersteun die mense wat eerste daaraan gedink het..

 

Maak toe


Vuur en vlam
Baie mense dink Cadac se blou gassilindertjies is nes Kellogg’s se Rice Crispies – ’n internasionale handelsmerk wat Suid-Afrika ook uiteindelik bereik het. Maar eintlik is Cadac meer soos Bokomo se graankos: ’n ware Suid-Afrikaner!
    Die Commercial and Domestic Appliance Company (Cadac), wat 60 jaar gelede in Johannesburg tuinsproeiers begin vervaardig het, het later gastoestelle gemaak vir boere wat nie krag gehad het nie.
    Elena Forno-Nash, die bemarkingsbestuurder by Cadac, sê die inspirasie vir die skottelbraai het inderdaad van ’n skottelploegskaar gekom. Deesdae verkoop Cadac skottelbraaie, silinders en gaslampe tot in die VSA, Europa, die Midde-Ooste, Australië en natuurlik die res van Afrika, maar Cadac bly ’n ou Johannesburger.
Cadac se die topproduk: Al kan jy deesdae ’n klomp spoggerige Cadac-produkte koop, soos patiobraais en draagbare gasstowe met arms waarop jy ’n lig kan monteer, bly die geliefde ou bloubottel, die No. 7 silinder, die staatmaker. Cadac het al 10 miljoen gassilindertjies verkoop!
Prys: Vanaf R440
Kontak: Cadac 0860 22 3220; www.cadac.co.za
Weg sê: Onthou, die nommers op Cadac-silinders (7, 10, 15) verwys na die pondgewig van die gas, nie die kilogramme nie. Cadac reken dis hoe die mense dit ken, dis hoe hulle hom gaan hou.

 

Maak toe


Die buitelewe-supermark
Cape Union Mart se eerste winkel wat in 1933 in Kaapstad oopgemaak het was ’n weermag- en vlootwinkel. Martine Vogelman, die agterkleindogter van die stigter, Philip Krawitz, sê jy kon enigiets op die hoek van Corporation- en Mostertstraat in Kaapstad koop, “van ’n tandestokkie tot ’n skeepsanker!”
    Deesdae is daar 75 takke landwyd en dieselfde familie, die Krawitz’e, besit dit steeds. Om die waarheid te sê, die huidige uitvoerende hoof, Philip, is ou Philip se kleinseun.
Die familienaam sit ook agter Cape Union Mart se gewilde K-Way-handelsmerk (dit staan vir die “Krawitz way”)! 
Die topproduk: As ons een uit die honderde puik produkte moet uitsonder, is dit die K-Way Kilimanjaro II 30 liter-rugsak, wat ontwerp is vir Afrika se hoogste bergpiek.
    Op Kili móét jy die regte klere en toerusting by jou hê om enige toestande die hoof te bied, van erge hitte tot ’n sneeustorm. Die Kilimanjaro II is groot genoeg en dit het maklik bereikbare sakke vir goed soos jou kamera en reënjas.
    Die rugsak sit gemaklik en is van goeie materiale gemaak en deeglik aanmekaargesit. Dit het ook ’n ingeboude reënskerm wat jy in ’n oogwink oor die sak kan pluk, en ’n magdom kompartemente wat jy kan toerits – daar’s plek vir ’n GPS, Provita’s, kaaswiggies, Rennies…
Prys: R500
Kontak: Cape Union Mart; 0860 034 000; www.capeunionmart.co.za
Weg sê: Dié rugsakkie werk ook lekker vir ’n dagstap. Met stroppe kan jy selfs ’n kleinerige tent of slaapsak aan die onderkant vasmaak.

 

Maak toe


Sleep Sarel, sleep
Wie’t ’n groot ou Chev-stasiewa nodig om Durban toe te piekel as jy ’n Corolla met ’n Ventertjie kan gebruik? Met al die bagasie in die waentjie kan jy ouma Sarie ook inlaai vir haar jaarlikse swem in die eerste brandertjies.
    Meer as 40 jaar gelede het ’n grofsmid van Naboomspruit, Maarten Venter, die eerste Venter-waentjie vir ’n boer gebou, en toe nog een vir nog ’n boer, en nog een… en so het die besigheid gegroei.
    Meer en meer gesinne het deur die jare een van dié ligte, bekostigbare sleepwaentjies aangeskaf en deesdae is daar 400 000 Venter-eienaars wêreldwyd.
Die topproduk: Venter maak enigiets van perdesleepwaens tot eenton-platdekwaentjies. Ons ons egter een moet kies, is dit die GTE 6, wat eintlik glad nie spoggerig is nie. Dis die gewone bagasiewaentjie met die bekende rooi en oranje strepe langs die kant en hy’s net korter as 2 m. As jy hom oppas hou hy vir altyd.
Prys: R7 600
Kontak: Venter Trailers; * 0861 836 837; * www.ventertrailers.co.za
Weg sê: Jy kan hom in enige kleur kry, solank dit wit is.

 

Maak toe


Koelkop in die Kalahari
Talle ingevoerde buitelewegoetertjies loop hulle rieme styf hier in wilde, warm Afrika. Kamp-yskaste is die pieperigste van die lot. Jy het ’n besonderse yskas nodig om jou lamstjoppies gevries te hou in hoogsomer in Botswana.
    National Luna se storie is een van daai wonderlike entrepreneursverhale wat jy wens in jou familie gebeur het! Die maatskappy het eers in 1991 vrieskassies begin maak toe hulle ’n kontrak gekry het om spesiale medisyne-yskassies vir afgeleë klinieke te bou. Dit moes aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se standaarde voldoen: die vrieskas moet -18º C in tropiese hitte (43ºC) kon handhaaf.
    Hulle deurbraak het in 1995 gekom toe Mosambiek, Botswana en Zambië meer toeganklik vir Suid-Afrikaners geword het. Peter Slement, die grootbaas, sê: “Ons was in die volmaakte posisie om ’n 12 volt-4x4-vrieskassie van hoë gehalte te ontwikkel en verkoop omdat ons reeds die tegnologie gehad het. Van toe af het dinge nét mooi geloop!”
Die topproduk: National Luna se jongste produk is die 50 liter-Weekender met ’n aparte yskas- en vrieskaskompartement, sodat jy jou vleis en ys aan die een kant gevries kan hou en jou Melrose-kasies en Windhoeks net lekker yskoud in die ander kompartement.
Prys: R7 800 vir aluminium en R8 800 vir vlekvrye staal.
Kontak: National Luna 011 452 5438; www.nationalluna.com
Weg sê: Die 50 liter Weekender is groter en duurder as die standaard- 40 liter vrieskas, maar jy kan maar weet jy gaan nie met gevriesde tamaties sit wanneer jy jou befaamde braaibroodjies by die kampeerplek wil maak nie...

 

Maak toe


Slegteweersvriend
Jy sien Capestorm se buiteleweklere deesdae dikwels in die berge, op strande en in die bos – enigiets van waterdigte baadjies tot vinnigdrooghemde en selfs ’n nuwe reeks hupse fietsryklere.
    Die grootbaas, Andy Baxter, sê as ’n arm student kon hy nie duur ingevoerde toerusting bekostig nie, en toe begin maak hy sommer sy eie: “Ek het ’n hopie dons op ’n veiling gekoop en dit in ’n slaapsak gestop en toegewerk, sommer in my garage.”
    Hy sê in die vroeë jare het hy dit probeer stilhou dat Cape Storm ’n Suid-Afrikaanse handelsmerk is, want mense het destyds geglo Suid-Afrikaanse buiteleweklere en -toerusting was swak: “Dit het gelukkig heeltemal verander. Ons was die Trots Suid-Afrikaans Maatskappy van die Jaar in 2005-‘06.”
    Deesdae sien jy Cape Storm op Everest.
Die topproduk: Capestorm was een van die eerste plaaslike maatskappye wat “sagteskilklere” ontwikkel het – liggewigbaadjies wat jou warm hou, maar dieselfde windbeskerming bied as ’n reënjas. Hulle verkoop deesdae ’n klomp verskillende sagteskilhemde en -broeke, maar ons gunsteling bly Cape Storm se topverkoper Spitfire-sagteskilbaadjie. Die snit sit soos ’n handskoen en werk soos ’n bom.
Prys: R1 400
Kontak: Capestorm * 021 761 2021; * www.capestorm.co.za
Weg sê: Onthou, sagteskilklere is nie ’n plaasvervanger vir ’n reënjas nie, maar in yskoue winde en ligte reën kan dit jou lewe red.

Maak toe


Die speekkoning
In 2004, Toe Deon Retief Silverback begin het, het hy 2500 fietse verkoop. Verlede jaar het hy reeds 20 000 verkoop. Silverback het die plaaslike fietsrytoneel op horings geneem.
Soos Deon sê: “As jy ’n idee het, moet jy dit uitvoer. Moenie net daaroor praat nie. Kry die geld. Doen dit. Dit gaan oor liefde teenoor vrees – die vrees om ’n fout te maak.”
    Die onderdele word van oorsee ingevoer, maar die fietse word in Suid-Afrika aanmekaar gesit – só sorg hulle vir topgehalte en billike pryse.
Deesdae kry jy selfs Silverback-skaatsplanke, -BMX-fietse en selfs Silverback-klere.
Die topproduk: As jy ’n fiets vir vakansies en naweke soek, kry vir jou die Silverback Reno vir net meer as R3 000. Hy’t ’n lekker ligte aliminiumraam (ligter as staal), 24 ratte en voorste skokbrekers wat jy kan sluit as jy opdraande of op teer ry sodat jy nie te veel rondhop nie.
Prys: R3 030
Kontak: Silverback; * 021 386 7777; * www.silverbacklab.com
Weg sê: Vroue hoef nie met mansfietse te sukkel wat ongemaklik is nie. Silverback maak ook ’n reeks fietse wat vir vroue ontwerp is.

 

Maak toe


Noag se keuse
As jy al ’n roei-uitstappie op ’n opblaasboot op enige rivier in Suider-Afrika (veral die Oranje of die Zambesi) gedoen het, is die kans goed dat jy al op ’n ARK (African Rivier Kraft) geroei het – waarskynlik die Crocodile-model (die welbekende “Croc”).
    Die baas van Ark, Billy Edwards, sê dit het alles op die Oranjerivier begin: “Ek het in 1986 ’n roeimaatskappy saam met ’n paar vriende begin: River Rafters. Ons het sommer ou rubber ducks gebruik. Ons het dié bote mettertyd aangepas en met nuwe ontwerpe gespeel, tot ons 1989 die Croc gehad het.
    “Aanvanklik het ons net een of twee bote ’n maand gemaak, sommer so uit die agterplaas uit, maar toe kry ons die kontrak om al die bote te verskaf vir die Camel Trophy in die middel van die jare negentig. Toe die Trophy uiteindelik afgeskaf is, besluit ons om die 30 bote te verkoop. Al 30 is binne drie dae verkoop!”
    ARK se produkte word op riviere in Europe, Australië, Chili en selfs die wilde stroomversnellings in die Himalajas in Nepal gebruik.
Die topproduk: Die Crocodile CL.2 is die bekendste ARK, maar hulle topverkoper is eintlik die veelsydige ARK Fishduc FD.2. Jy kan ’n klein enjin (tot 8 Pk.) daarop monteer en vir visvang gebruik of sommer net rondry. Sonder die enjin werk hy ook lekker as ’n witwaterkano.
Prys: Vanaf R7 700
Kontak: ARK Inflatables; * 021 783 1672; * www.ark.co.za
Weg sê: Wat goed genoeg is vir die ouens wat witwaterroei-ekspedisies aanbied, is goed genoeg vir ons.
 

Maak toe

Kommentaar

Gelewer op 15 Februarie 2011 | 10:53:41

Wie kan my help om n Venter sleepwa-omtrent uit die 70s teen n bekostigbare prys te restoureer?

Gelewer op 6 Februarie 2010 | 23:56:53

Sleep vir die afgelope 40jaar die 70ste gemaakte 4vt Ventertjie 1970, destyds in Naboomspruit by fabriek gaan haal, (R145.00) nou verlede jaar met waentjie tot in die Hel (Gamkaskloof) gewees. 'n Biejie restourasie gedoen en nuwe bande opgesit, sal hom/haar? nie vir iets anders verruil nie. (Moes waentjie destyds koop kar se bagasieruim kon nie doeksakke en pram hanteer nie!!!!!) Soek julle dalk 'n foto van ons reismiertjie? Fred & Fan Snyman Bethlehem.

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Equipmentarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek