Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Kamp soos 'n koning, die eerste keer


Het jy onlangs ’n tent gekoop wat jy vir ander mense wil aanbeveel? Laat weet vir ons daarvan deur die volgende vrae te beantwoord en stuur vir ons ’n foto.
zoommore

Het jy onlangs ’n tent gekoop wat jy vir ander mense wil aanbeveel? Laat weet vir ons daarvan deur die volgende vrae te beantwoord en stuur vir ons ’n foto.

LEISURE QUIP-RUBBERBLOKHAMER. Dié blokhamer is goedkoop en klein genoeg om in jou tentsak te pas.
zoommore

LEISURE QUIP-RUBBERBLOKHAMER. Dié blokhamer is goedkoop en klein genoeg om in jou tentsak te pas.

Is jy ’n kampgroentjie? Hier is die tien basiese stukke toerusting wat jy moet aanskaf as jy en jou gesin die plesiere van ’n tentvakansie wil leer ken.

Jou huis op reis
Dit gaan jou grootste uitgawe wees, maar jy hoef nie ’n fortuin op ’n seilpaleis uit te gee nie.
Ons raad. Begin met ’n basiese nylonkoepeltent, want dis goedkoper en ligter as ’n seiltent en heeltemal opgewasse vir “gewone” kampeer. ’n Viermantent gaan jou minstens R1 000 kos en ’n skaflike tweemantent R450.
Hoe groot? Koop altyd ’n tent wat gemaak is vir een mens meer as wat julle nodig het: As julle drie is, koop eerder ’n viermantent – dan lê julle nie soos sardientjies ingeryg nie én daar is plek vir julle bagasie.
PROBEER DIÉ EEN: Howling Moon Vista-viermankoepeltent
Dié tent is ’n bietjie knap vir vier mense, maar dit slaan maklik oop en is hoog genoeg sodat jy kan regop staan as jy in jou Speedo wil inwikkel. Jy kan ook ’n ekstra aanlas-vertrek koop wat ’n kombuis of spaarkamer kan wees.
Prys: Sowat R1 400 by Campworld
Kontak: 012 797 7300; www.campworld.co.za
Weg sê: Begin goedkoop – as jy later ’n luukser een wil koop, kan jy dié een as ’n spaartent gebruik of dit eenkant opslaan sodat die kinders hulle eie ding kan doen.

Maak toe

Slaap snoesig
Jy kan maklik jou dertiende tjek op ’n slaapsak blaas. Los eerder die duur gansdonssoort vir die hardebaarde, want sintetiese vulstof is meer as genoeg as jy op ’n plek kamp waar dit nie te koud word nie.
’n Mens kry twee vorms slaapsakke: die reghoekige koevertstyl-sakke en die nouer Egiptiese mummie-soort.
’n Mummiesak is knusser, maar party mense raak benoud daarin. ’n Groter koevert-slaapsak is veral handig omdat jy twee slaapsakke aanmekaar kan rits, sodat jy én Kylie kan inpas.
PROBEER DIÉ EEN: Howling Moon Moremi
Ons het hierdie slaapsak self getoets: Dis 2 m lank en die 6 ?C-temperatuurgradering is gewoonlik voldoende vir Suid-Afrika se weer.
Prys: R269 by Campworld
Kontak: 012 797 7300; www.campworld.co.za
Weg sê: As jy op ’n koue plek gaan kamp, het jy nie noodwendig ’n nuwe, duurder slaapsak nodig nie. Vat net ’n pluisstofkombersie saam.

Maak toe

Slaap sag
Glo my, as daai spannetjie van jou hard en ongemaklik slaap, gaan jy sommer ná die eerste aand vir verblyf in die naaste driester hotel betaal (en jou kamptoerusting aanstons by Cash Converters uitgestal word).
    Moet dus nie suinig raak wanneer dit by matrasse kom nie en koop daai lekker dik skuimrubber-oprolmatrasse (2 cm), al vat dit nogal plek in die Uno. Ons hou veral van die ingeboude gespes waarmee jy dié matrasse kan vasmaak.
    Jy kan ook daai dun, blou slaapmatjies kies – hulle is lig en kompak maar gee jou nie juis daai Sealy-gevoel nie.
As jy bereid is om nog ’n R20 of wat in te gooi kan jy ’n opblaasmatras koop, maar dan moet jy nog ’n pomp ook iewers kry.
PROBEER DIÉ EEN: Natural Instincts 2 cm-skuimrubbermatras
Prys: R130 by Outdoor Warehouse vir die skuimrubbermatras en R149 vir ’n enkelbed-opblaasmatras. Vir ’n handpomp gaan jy R89 moet uithaal.
Kontak: 0800 003 051; www.outdoorwarehouse.co.za
Weg sê: As jy die opblaas-opsie vat, onthou tog net om patch en solution saam te karwei. Dit kan dalk jou huwelik red.

Maak toe

O, boeretroos
Dis amper ’n skande om te gaan kamp sonder om te braai of ’n potjie te maak, maar ’n mens het ook ’n stofie nodig as jy pap of rys wil kook, of vir daardie beker koffie soggens. Gas is beslis die gerieflikste – jy kan dit maklik saamdra en hoef nie op Eskom staat te maak nie.
    Cadac-stofies is dekades al gewild onder kampeerders. Die nuwe gassilinders is ook nie te sleg nie – dit het deesdae met ’n ingeboude kraantjie, sodat jy nie met daai sleuteltjie hoef te sukkel nie. PROBEER DIÉ EEN: Cadac-stoofplaat en nr. 7-gassilinder
Prys: R120 (vir die stoofplaat) en R300 (vir die silinder) by Makro
Kontak: 0860 300 999; www.makro.co.za
Weg sê: As jy by ’n plek gaan kampeer waar jy ’n kragpunt het, kan jy sommer daai tweeplaatstofie uit jou technikon-dae afstof.

Maak toe

Plastiek, asseblief
Eetgerei kan jy nog van die huis af saambring, maar los die keramiekborde en -bekers tuis as jy gaan kamp. Dit gaan flenters skud sodra jy die eerste grondpad vat.
Koop eerder borde en bekers wat jy net gebruik wanneer julle gaan kamp. Melamiem is besonder sterk.
PROBEER DIÉ EEN: Melamien-breekwarestel
Prys: R20 (bord), R16 (papbakkie) en R18 (beker) by Map and Trail. Jy kan ook baie goedkoper plastiekware by Game, Makro of Plastic Warehouse koop.
Kontak: 021 982 2300; www.maptrail.co.za
Weg sê: As jy kampeer help dit nie jy trek jou neus op vir plastiek wynglase nie. Daai R11-nommers by Map & Trail lyk in elk geval nes die ware Jakob – en ná die tweede glas Tassies kom jy eintlik nie meer die verskil agter nie.

Maak toe

Nou maar waar is die karsleutels?
’n Flits werk goed as jy in die nag ablusieblok toe moet stap, maar as jy wil ligmaak in jou kampplek, het jy iets nodig wat jy in ’n boomtak of in die tent kan ophang. ’n Mens kry dosyne kampligte – van paraffienlanterns tot gaslampe – maar vir gerief en veiligheid is dié 12 V-fluoorligstawe die beste keuse.
PROBEER DIÉ EEN: National Luna-lig
Hierdie ligstaaf het ’n helder 15W-buis en is gebou om te hou. Jy gebruik die krokodilklampe om dit aan jou kar se battery te koppel en die 6,2 m-kabel is lank genoeg sodat jy nie die kar in die tent hoef te parkeer nie.
Prys: R345 by Safari Centre
Kontak: 021 595 3910; www.safaricentre.co.za
Weg sê: As jy bang is jou karbattery word pap (hy sal, as jy dit vir langer as twee dae gebruik) oorweeg ’n gaslamp vir R190 by Outdoor Warehouse.

Maak toe

Sit diep
Dit klink dalk lekker om op ’n boomstomp of rots te sit – jy kry kortstondig daardie Camel Man-gevoel – maar ná ’n rukkie begin jou agterstewe kla. ’n Groot opvoukampstoel is is deesdae amper so goedkoop soos daardie klein driepootstoeltjies. Kry dus een met ’n rugleuning, armleunings én ’n sakkie vir jou yskoue bier.
PROBEER DIÉ EEN: Natural Instincts- oorgroot leunstoel
Prys: R120 by Outdoor Warehouse
Kontak: 0800 003 051; www.outdoorwarehouse.co.za
Weg sê: Loop lig, daar is deesdae talle goedkoop stoele wat nie juis sterk is nie. As jy dus in 1985 vir die dorpspan as voorry uitgedraf het en sedertdien nie juis fluks padwerk gedoen het nie, soek ’n stewige staal-en-seilstoel.

Maak toe

 Plek vir dit en dat
’n Tafel is dalk nie op almal se paklys nie. Jy kan immers op jou skoot eet of die agterflap van jou bakkie gebruik. ’n Tafel is egter meer as net ’n plat blad met pote: saam met die kampvuur is dit die middelpunt van die kampplek. 
    Die platslaansoort met aluminiumlatte is lekker lig en maklik om in te pak, maar ook taamlik lig in die broek. Koop eerder een met opvoubene en ’n soliede blad.
PROBEER DIÉ EEN: Camp Quip-nutstafel
Dis dalk nie die grootste tafel nie – 76 x 50 cm (skaars groter as ’n skinkbord) – maar die blad is lekker sterk vir kosmaak of skottelgoed was. Die pote vou netjies in sodat jy dit plat in jou bagasiebak kan lê.
Prys: Sowat R250 by Campworld
Kontak: 012 797 7300; www.campworld.co.za
Weg sê: Oorweeg ook een of twee van daai staan-skinkborde wat in die sewentigerjare saam met TV-etes uitgekom het. Hulle is soos Brent Russell: veelsydig dog lig.

Maak toe

Moet net nie sukkel nie
Volgens die kampeerwet van gemiddeldes sal jy meestal jou tent probeer opslaan op ’n grasperk wat eintlik ’n mengsel van klip en harde grond is. Moenie hyg en swets en sweet nie – kry ’n blokhamer waarmee jy die tentpenne kan wys wie’s baas. Dié blokhamer van Leisure Quip is goedkoop en klein genoeg om in jou tentsak te pas.
PROBEER DIÉ EEN: Leisure Quip-rubberblokhamer
Prys: R20 by Map and Trail
Kontak: 021 982 2300; www.maptrail.co.za
Weg sê: Min dinge sal jou vinniger jou humeur laat verloor as pieperige, krom tentpennetjies op ’n winderige dag. As jou tent net van daai bloudraadpennetjies uitkom, kry ’n paar stewige staalpenne by ’n buitelewewinkel.

Maak toe

Koel komkommer
Almal brag deesdae met hulle duur 12 V-kampyskassies, maar vir ’n kort kampeernaweek is ’n gewone koelboks heeltemal voldoende, veral as jy dit slim gebruik: Vries die belangrikste goed voor die tyd en sorg dat die res koud is; hou die koelboks in die skadu (en gooi dit sommer toe met ’n handdoek of kombers) en moenie die deksel onnodig oopmaak of laat oopstaan nie.
PROBEER DIÉ EEN: Coleman-60 liter-koelboks
Daar is talle goedkoper modelle, maar Coleman het ’n goeie naam. Dis stewig gebou en deeglik geïsoleer.
Prys: R700 by Makro
Kontak: 0860 300 999; www.makro.co.za
Weg sê: Vra jou slagter om die vleis lugdig te verpak om langer te hou.

Maak toe

Kommentaar

Gelewer op 14 April 2009 | 14:19:57

Daai hammertjie gaan nie die ding doen nie. Pak maar 'n regte groot hammer in waarmee mens 'n **** in 'n muur kan slaan en natuurlik penne wat die gekap kan vat.

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Equipmentarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek