Bielie van ’n bosstort
ALVA-KAMPSTORT
Ons het sommer van meet af aan van Alva se kampstort gehou omdat dit regtig maklik is om te gebruik: Jy hoef nie met vuurhoutjies te sukkel of kabels by jou voertuig in te prop nie. Jy kry eenvoudig die 12 V-pomp gereed, koppel die gas, druk die aan-af-knoppie om die water aan die vloei te kry en druk dan die aansteker om die brander aan te steek.
En ná ’n paar dae se gebruik weet ons daar’s nóg ’n paar redes waarom dit ’n wenner is: Die water is lekker warm: Alva belowe dit sal 60 ºC haal. Toe ons dit getoets het, moes ons die temperatuur laer stel om nie daai kreef-in-warm-water-gevoel te kry nie.
En les bes, dis maklik om in te pak: Al die kabels, pype, stortkop en pomp pas in die brander se tassie (so groot soos ’n klein reistassie) en weeg skaars 7,5 kg. Die stort kan saam met Alva se 3 kg- en 4,5 kg-gassilinder gebruik word, asook enige ander klein huishoudelike silinder soos Cadac se no. 7- en 10-bottel.
Die gaspyp en -reguleerder word ook verskaf, maar dit pas nie in die tas nie. Onthou, alle gastoestelle moet altyd gebruik word in plekke met goeie ventilasie.
Prys: R1 695 by kampeerwinkels soos Outdoor Warehouse en Campworld.
Kontak: Stingray 021 442 1540; www.stingray.co.za
Weg sê: Die Alva is ook veilig. As die water opraak, skakel die brander outomaties af om te keer dat dit oorverhit.
Gelewer op 23 Augustus 2010 | 10:57:34
As dit nie by die motor in prop nie waar kry die "12v pomp" krag vandaan.




















Kommentaar