AVALANCHE AX 175. Dié fiets is goedkoop, maar lekker taai. Net reg vir 'n beginner.
SILVERBACK ALPINE. 'n Fietsin hierdie prysklas behoort voorvering te hê, soos dié Alpine.
Aha, jy wil ’n bergfiets koop! Mooi, man – dis ’n lekker manier om die omgewing te verken, die lewe te geniet en boonop fiks te bly! Mark Johnston bekyk die ABC van fietskoop.
Vra dié vrae voor jy koop 1. Waar moet ek koop?
Jou fietshandelaar is soos jou tandarts: Jy soek ’n langtermynverhouding en min pyn. ’n Bergfiets is ’n temperamentele stukkie toerusting – dit moet gereeld gediens word en onderdele moet vervang word. Boonop wil ’n mens jou fiets opgradeer namate jy vorder.
Koop dus jou fiets by ’n professionele fietshandelaar waar jy dit kan laat diens, eerder as ’n kettingwinkel.
2. Wat is die regte grootte? Jou knieë, rug en nek kan lelik aftjop as jy ’n fiets ry wat te groot of klein is. Vra ’n fietshandelaar om te help. Onthou net, elkeen se lyf, arms en bene het ander proporsies. Lance Armstrong gaan nie dieselfde fiets as, sê maar, Casper de Vries koop nie. Hier is twee riglyne: Knieë. Vra iemand om die fiets regop te hou terwyl jy op die saal sit en die handvatsels vashou. Jou knieë moet effens gebuig wees wanneer jou voet op die laagste punt is (met die boog van jou voet op die pedaal). Arms. Jy moet die handvatsels maklik kan bykom met effens geboë arms. Die meeste vroue hou glo daarvan om effens meer regop te sit.
3. Wat van die skokbrekers? Amper alle bergfietse word deesdae met voorvering – twee skokbrekers op die voorvurk – verkoop sodat jy nie jou polse seermaak of jou tande se stopsels verloor op ’n slegte grondpad nie. Onthou, voorvering is nie net daar vir gemak nie, dit verbeter jou fiets se padhouvermoë beduidend.
Is ’n skokbreker agter nodig? Wel, jy ry baie gemaklik, maar dit is duur. Moenie vir klein Manus uit sy Model C-skool te haal om ’n agter-skokbreker te koop nie.
Hou ook in gedagte dat ’n agterskokbreker jou fiets laat “rek” en “krimp” wanneer jy bult-op trap, en dié gewieg mors jou energie. Om dít uit te skakel moet jy skokbrekers kry wat kan sluit (sg. “lock-out shocks”).
4. Wat van vasklikpedale?
Ernstige bergfietsryers dra skoene met splete op die sool wat aan die pedaal vasklik. Die voordeel is dat jy teen stywe opdraandes met albei voete die pedale se sake kan werk – met die voorste voet trap jy af en met die agterste voet trek jy boontoe.
Die meeste beginners verkies plat pedale, want jy’t nogal selfvertroue nodig om fiets te ry met jou voete vasgeklem aan die pedale. (Dit vat omtrent ’n sekonde om los te klik, maar net ’n halfsekonde om jou waardigheid weg te val by die dorp se besigste verkeerslig).
As jy vasklikpedale én plat pedale gelyktydig wil hê, kan jy Shimano-plastiekplatforms koop wat aan die aanklikpedaal vasklik. Die een kant van die pedaal is dan soos ’n gewone fietspedaal (vir wanneer rustig wil gaan melk koop), terwyl jou vasklikskoene op die ander kant sal werk.
5. V- of skyfremme?
V-remme is daardie outydse soort wat die velling vasknyp (of nié, as die velling nat is). Baie bergfietse word deesdae met skyfremme verkoop – dit werk beter, maar is duurder en moeiliker om reg te maak. Jy kry wel goedkoop skyfremme, maar bly eerder weg van goedkoop ratte, remme, bande en vering.
6. Met of sonder binneband?
As ’n binnebandlose band met ’n seëlmiddel (soos Sludge) gevul is, is die kans veel kleiner dat dit sal pap word as dit ’n gaatjie kry. Dié soort band word van dikker rubber gemaak, dus kan jy dit op ’n rowwe pad effens afblaas – jy ry dan sagter en die bande trap beter vas – sonder om jou te bekommer dat die band sal deurstamp en ’n “slangbyt”-lekplek kry.
’n Binnebandlose band is ongelukkig ook swaarder as ’n “gewone” een en jy moet ’n spesiale velling daarvoor hê. Koop dalk eers die gewone soort en skakel later om. ’n Omskakelingstel kos omtrent R710 vir al twee wiele (Stan’s Kit werk glo goed).
7. Hoeveel moet ek betaal?
Gaaf, nou die Groot Vraag.
Kyk, jy kan ’n “bergfiets” vir ’n paar honderd rand koop, maar dan moet jy nie verras wees as Shaleen Surtie-Richards op ’n poskantoorfiets jou verbysteek nie. Jason Lind van Olympic Cycles gee dié riglyne:
Minder as R2 000
Basiese fiets, gawe prys. ’n Fiets in dié prysklas is piekfyn as jy net rustig om die blok wil ry om die skaaphond te laat bene rek, of wil afsuiker Costa’s Café toe vir ’n liter Coke en ’n witbrood – maar jy kan ook ’n grondpad met vrymoedigheid takel.
R2 000-R4 000
Vat die langpad. As jy oor naweke ernstiger grondpaaie wil aandurf, is dit gemakliker en veiliger om ’n fiets met voorvering aan te skaf.
Jy behoort ’n goeie vyf jaar se prettrap uit ’n fiets in hierdie prysklas te kry, mits jy óm die groot klippe ry en nie bo-oor nie.
R4 000 - R7 000
Die dier word wakker. Terwyl jy een oggend nog so rustig op ’n bosboupad trap, pak ’n wilde entoesiasme jou: Jy wil die klipperige voetpaadjie afjaag wat hier links teen die berghang afdraai.
Jy’t nou ’n fiets nodig wat jy kan straf. ’n Fiets in dié prysklas het min of meer dieselfde onderdele as ’n goedkoper fiets, maar elke komponent is van sterker en duurder materiale gemaak. ’n Bergfiets, anders as ’n padfiets, word nogal mishandel, en vir ’n tawwe fiets moet jy noodwendig ’n paar rand ekstra betaal.
Daar’s een nuwigheid wat jy bo R5 000 kan verwag: hidrouliese skyfremme. Dit werk beter as die gebruiklike V-remme of goedkoop skyfremme wat met kabeltjies werk.
R7 000 en meer
Dinge raak ernstig. Twee aande gelede droom jy jy breek die lint op die laaste dag van die Cape Epic-bergfietsresies. Ertjies Bezuidenhout kom vra jou handtekening…
Jy’s duidelik reg vir ’n fiets met ’n supersterk, dog veerligte raam, en ’n stel ratte waarmee jy regtig steil kan klim. As jy R10 000 het, kan jy begin dink aan ’n ordentlike dubbelveringfiets (met skokbrekers voor en agter – ’n “soft tail”). As jy oor ernstige bergfietswedrenne droom, gaan jy nie sommer op dreef kom sonder ’n fiets van R10 000 nie.
Oorweeg een van dié vier fietse
AVALANCHE AX 175
Basiese bulletjie
Die Avalanche is ’n “basiese” fiets, maar darem ’n trappie beter as jou BSA-skoolfiets van destyds. Dit het gewone V-remme, die bande het binnebande soos van ouds en daar is geen skokbrekers nie, maar die raam is van staal en die wielvellings van aluminium – ’n sterk fiets, maar darem nie te swaar nie. Prys: Sowat R1 375 Kontak: Pretoria 012 653 2245; Johannesburg 011 782 7313; Durban 031 312 2559; Kaapstad 021 425 6830; www.dragons.co.za Weg sê: Soos ’n Wilson-toffie: goedkoop, maar taai. Net reg vir ’n beginner.
SILVERBACK ALPINE
Bergbok
Silverback is ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat puik fietse bou met ingevoerde onderdele. Hulle pryse is billik en die gehalte goed.
Die Alpine, ’n intreemodel, het byvoorbeeld basiese V-remme en “gewone” bande (met binnebande), maar dit word aangevul met komponente wat ’n mens op duurder fietse verwag, soos goeie voorste skokbrekers (Suntour XCM, met “lockout”) en ratte (Shimano Deore 27-spoed). Prys: Sowat R3 000 Kontak: Johannesburg 011 888 2381; Port Elizabeth 041 581 7441; Kaapstad 021 671 5008; Durban 031 312 0573 Bloemfontein 051 433 4968; www.silverbacklab.com Weg sê: Jy kan nie ’n fout maak met ’n Silverback nie. Jy kry gehalte teen ’n amperse intree-prys.
GT 1.0
Dis nou ’n yster!
Hoekom kos hierdie perd R4 000 meer as die Alpine? Wel, omtrent elke onderdeeltjie is sterker en van ’n beter gehalte, en hy’t boonop ’n ligte aluminiumraam.
Jy sal dalk nie dadelik die verskil agterkom nie, maar op die lang duur sal dié fiets minder lol. Prys: Sowat R7 000 Kontak: Omnico 021 691 0110 (Hulle sal jou kan help met die kontaknommer van jou naaste handelaar.); www.omnico.co.za Weg sê: ’n Goeie fiets vir iemand wat begin ernstig raak oor fietsry en bereid is om meer te betaal vir ’n stewiger draadkameel.
GIANT HALO 1
Sag soos bababoudjies
Sien jy daai suieragtige ding net bo die agterste ratte? Dis die agterskokbreker, die komponent wat sorg vir daardie vredige, Camry-agtige fietsrit.
Die Halo bied jou egter meer as gemak. Dié fiets is gebou van die beste onderdele wat ’n gewone salaristrekker kan bekostig, soos uiters doeltreffende hidrouliese Shimano-skyfremme. Prys: Sowat R12 400 Kontak: Pretoria 012 653 2245; Johannesburg 011 782 7313; Durban 031 312 2559; Kaapstad 021 425 6830; www.dragons.co.za Weg sê: ’n Goeie keuse as jy ’n fiets met volle vering soek wat minder as ’n tweedehandse Citi Golf kos.
Maak toe
Hoe klink tweedehands…
Jy kan ’n ablusieblok vol geld spaar as jy ’n tweedehandse fiets koop. Avron Cirin van Cycle Traders wys jou waarvoor om op die uitkyk te wees.
’n Naam vir die raam. Soek ’n fietsraam van ’n erkende vervaardiger soos Cannondale, Giant, Trek en Specialized. Maak seker daar’s nêrens duike en krakies op die raam nie. (Hulle verskyn gewoonlik eerste op die saalstut, daardie vertikale pyp waarin die saal se pyp pas.)
Laat die wiele tol. Lê plat terwyl iemand die fiets oplig. Is die voor- en agterwiel mooi in lyn? Tol elke wiel en kyk of dit bak trek. Luister fyn vir goed wat raas.
Hoe oud is jy? Fietstegnologie verbeter vinnig. As jy ’n fiets koop wat ouer as, sê maar, vyf jaar is, kan jy sukkel om onderdele te kry. Jonger is beter.
Regte ratte en remme? Shimano of Sram is die groot kokkedore as dit kom by ratte, remme en nawe. Maar onthou, net omdat dit Shimano is, beteken nie noodwendig dis die heel beste nie. Shimano het tien produkvlakke, van basies tot die heel beste. Shimano Acera koop jy om die buurt plat te ry en die Alivio is een kerf beter. Die Deore-reeks is vir mense wat begin ernstig raak oor die sport (die meeste topryers in die Cape Epic gebruik Deore XTR-onderdele).
Sram is makliker om te verstaan, want die reeks word genommer: 9 is die goedkoopste, 7, 5 en 4 raak beter en 0 is die topklas.
Bekyk al die komponente. ’n Fiets kan baie meer werd wees as wat dit op die oog af lyk. ’n Stel binnebandlose bande kan R1 400 kos en ’n stel goeie hidrouliese skyfremme tussen R3 000 en R4 000.
Soek in die Snuffels. Daar’s gewoonlik winskopies ná ’n groot fietsresies. Party mense wat halsoorkop ingeskryf het, besluit fietsry is te moeilik, en dié wat werklik begeester geraak het, wil almal ’n beter fiets koop.
Hou die geklassifiseerde advertensies dop in dagblaaie en op webwerwe soos Gumtree (* gumtree.co.za) en CapeAds. Cycle Traders is ’n koerierdiens wat fietse reg oor die land aflewer – hulle deel ook raad uit. * 021 448 0812; * casirin@mweb.co.za.
Vra ’n 2de mening. Voor jy ’n tweedehandse fiets privaat koop, laat iemand by ’n goeie fietswinkel dit deurkyk. Hulle sal help, want hulle wil hê jy moet later jou fiets by hulle laat diens. Hulle sal weet of die prys billik is en sal jou kan sê wat dit gaan kos om die fiets weer reisvaardig te kry. Hulle kan ook kyk of die grootte reg is vir jou.
Weg sê: Onthou, pap bande kan ’n goeie teken wees. Die eienaar het waarskynlik belangstelling verloor en wil die fiets net uit die garage kry. – William Barker
Maak toe
Ai, daai ekstras
Naas vlieghengel en vleisbraai, is fietsry en waarskynlik die sportsoort met die meeste toebehore. Staal jouself, jy gaan dosyn ander dingetjies ook moet koop.
1. Valmhelm. Nie-onderhandelbaar. Kry ’n goeie valhelm wat ordentlik op jou kop pas. (Sowat R400) 2. Flikkerliggies. Flikkerende batteryliggies (voor op jou handvatsels en agter onder jou saal) op ’n openbare pad help dat motorbestuurders jou betyds sien. (Tussen R60 en R100 elk) 3. Handskoene. Vir gemak én veiligheid. Goeie handskoene (dié wat met gel opgestop is) verbeter jou greep op die handvatsel sonder om jou bloedsirkulasie te belemmer. Dit gaan ook keer dat jy ’n roastie op jou palm kry as jy val. (Sowat R200) 4. Glimklere. ’n Glimgordel, soos dié wat jy destyds in die padpatrollie gedra het, maak jou sigbaar. (Sowat R189) 5. Waterbottel met klamp. Drink gereeld water, al gaan ry jy net 10 km. (Sowat R50) ’n Waterrugsakkie (bv. Camelbak of Deuter) werk goed as jy ver trap. (Vanaf R260). 6. Fietsrybroek. Dis opgestop op strategiese plekke. Oorweeg ’n broek met ooprits-ventilasiegleufies en kitsdroogmateriaal. Indola is ’n goeie vervaardiger. (Sowat R310) 7. Windjekker. Jy kry gou koud op ’n fiets. Probeer ’n baadjie kry wat “asemhaal” en sweet laat verdamp. In temperature onder 10º C gaan jy bars sonder ’n baadjie. (Sowat R350) 8. Herstel-stelletjie. Jy kort ’n nood-binneband, bandligters (om die band van die velling af te kry) en goeie ou patch en solution. Bêre dit in ’n klein saalsakkie. (R70-R100 vir als) 9. Handpomp. Al het jy ’n bandherstel-stelletjie, sonder ’n fietspomp is jy stapper. ’n Aanknippomp is lig, klein en knip aan die raam vas. (Sowat R110) 10. Fietsryskoene. Dit klik aan die pedale vas sodat jy met mening kan trap sonder om van die pedale af te gly. (Vanaf R1 000 vir pedale én skoene) 11. Ritrekenaar. Jy wil darem weet hoe ver en hoe vinnig jy trap. (R100) 12. Fietsry-donkerbril. Jy kan jou gewone een gebruik, maar ’n goeie fietsry-bril wasem nie toe as jy hyg en sweet nie. (Vanaf R1 000) 13. Fietsrak. Vat jou fiets saam op vakansie. Dis die ideale manier om ’n nuwe plek te verken. Die meeste fietsrakke pas op ’n sleephaak. Thule, Holdfast, Caddy en Trapezium is gevestigde reekse. (Vanaf R900) Wenk: Onderhandel met die verkoopsman. Hy behoort ’n paar van dié dinge by die koopprys in te sluit. - Daneel Knoetze
Maak toe
Klink soos ’n kenner
Fietsryers het hulle eie taal. As jy dié woorde ken, behoort jy te verstaan wat die verkoopsman sê.
‘Crank’-stel. Die groot voorste ratte en pedale. Meeste bergfietse het drie ratte voor. ‘Cluster’ of ‘sprocket’. Die bondeltjie ratte op die agterwiel. Daar’s gewoonlik sewe, of nege. Derailleur. Die kettingskuiwer – die armpie wat die ketting tussen die ratte skuif. ‘Hard tail’ of ‘soft tail’. ’n ‘Hard tail’-fiets het geen vering op die agterwiel nie en ’n ‘soft tail’ het wel. ‘Hydraulics’. Skyfremme wat met remvloeistof werk, soos ’n motor s’n. Geometrie. Die ontwerp van die fietsraam. ’n Kompakte fiets is stewiger, dus daal die meeste fietsrame se boonste pyp na agter, om die wiele nader aan mekaar te bring. Ouma-rat. Die laagste rat op ’n fiets, die een waarmee jy die maklikste trap en waarmee selfs ’n ouma teen ’n bult sal kan uitkom. Brein. ’n Rekenaartjie op jou handvatsel. Dit meet jou spoed, gemiddelde snelheid en afstand gery. Dit het gewoonlik ook ’n horlosie en stophorlosie. Anatomiese saal. ’n Saal vir mans, met ’n spleet of kussinkie in die middel om sake bietjie lug te gee. As jy nie een het nie, word jy dalk ook eersdaags Ertjies genoem. Vrouesaal. Dié sale is ontwerp met die gewigdraende punte bietjie verder uitmekaar. Breinbakkie. ’n Valhelm. - William Barker
Maak toe
Gepubliseer op 13 Maart 2009
Kommentaar
Gelewer op 2 November 2011 | 15:41:43
fietsry bril: kry 'n veiligheidsbril by die hardeware of gassweis verskaffers. 'n helder "glas" vir skemer (dit keer die goggas) of 'n donkerbril vir in die dag - kostes tussen R30 en R60 - en dit lyk "cool"!!
Kommentaar