Volkswagen Polo
Volkswagen se Polo is baie jare al omtrent gewilder as ’n koue bier op Hotazel, maar hoe gaan die nuwe 1,6 liter-turbodiesel ontvang word?
Toe die eerste Volkswagen Polo’s in 1996 in Suid-Afrika aankom, was mense beïndruk deur sy goeie hantering en vars voorkoms. Maar dit was die tweede geslag, die een wat in 2002 sy buiging gemaak het, wat dié klein Volkswagentjie diep in Suid-Afrikaners se harte laat inkruip het.
Dit was ’n relatiewe klein motortjie, maar een wat gevoel het soos ’n groot gesinsmotor, een waarin jy lag-lag van Port Elizabeth af Pretoria toe kon ry sonder om moeg te word. Nou het die derde geslag sy verskyning gemaak. En nie net is hy reeds die topverkoper hier by ons nie, maar hy is ook aangewys as Wêreldmotor van die Jaar – ’n tweekuns vir Volkswagen, wat laasjaar met die Golf VI die titel gewen het.
Ons het die langpad met die reeks se duurste model, die 1.6 TDI, gaan aandurf.
Wat kry jy vir jou geld?
Teen net minder as R210 000 het die 1.6 TDI omtrent al die luukshede wat jy verwag van ’n motor in hierdie klas – daar is outomatiese lugreëling (die sogenaamde klimaatbeheer), elektriese vensters en syspieëls, kragstuur en ’n radio-CD-speler waaraan jy ook jou iPod kan koppel.
Hoe lyk hy binne?
Die nuwe Polo is ontwerp deur Walter de’ Silva, wat nie net agter Audi se voorkoms sit nie, maar ook ’n paar Lamborghini’s op sy kerfstok het.
De’ Silva glo in die “minder-is-meer”-benadering; dus is die knoppies vir die lugreëling, radio en ander funksies op die paneelbord vereenvoudig.
Alle Polo’s in die nuwe reeks het ’n stuurwiel wat op en af én vorentoe en agtertoe kan verstel, en as jy die flikkerlighefboom liggies tik, dan flikker die ligte net drie keer – gerieflik wanneer jy iemand verbysteek, want dan hoef jy dit nie weer af te skakel nie.
Al die Comfortline-modelle (hulle is luukser as die Trendline) het smukspieëltjies met liggies in die sonskerms en ’n verkoelde paneelkissie wat omtrent drie Cream Sodas kan koud hou. En jy kan jou 1,5 liter-bottel Stoney in die deur bêre.
Van drinkgoed gepraat: Volks-wagen het daai fieterjasierige bekerhouer weggedoen wat uit die paneelbord spring soos iets uit Star Wars. Dié Polo se bekerhouers is eenvoudig in die plastiek voor die rathefboom gegiet.
Hoeveel plek het hy?
Volkswagen sê die nuwe Polo het meer knieruimte as sy voorganger, en mits jy nie vir Frik du Preez op die voorsitplekke sit nie, sal twee volwassenes gemaklik agter kan sit.
Die bagasiebak is diep en kan 280 liter vat – dis meer as drie groot, volgepakte staprugsakke. En as jy die agtersitplekke vorentoe vou, het jy nóg meer plek.
Hoe toer hy?
Net soos sy voorganger voel die nuwe Polo soos ’n “groot kar”. Die klankdemping is goed en jy hoor min padgeraas.
Die rathefboom het steeds die effens veerbelaaide en noukeurige aksie wat dit so lekker maak om ’n Volkswagen se stok te roer.
As jy wegtrek, moet jy dié dieseltjie se brandstofpedaal effens harder trap, want voor 1 500 r.p.m. het hy min krag en kan jy hom maklik laat doodruk. Gelukkig is dit nie ’n probleem as jy eers aan die gang is nie.
Hoe dors is hy?
Teen minder as 5 liter/100 km is sy brandstofverbruik werklik merkwaardig. Selfs wanneer ek met ’n swaar voet in stadsverkeer gery het, het die ritrekenaar gewys die gemiddelde verbruik is 5,8 liter/100 km.
Veiligheidskenmerke?
Al die nuwe Polo’s het voorste en sylugsakke vir die voorste passassier, maar vir gordynlugsakke, wat ook die agterste passasiers beskerm, moet jy ekstra betaal.
Die TDI is die enigste Polo in die reeks met ’n elektroniese stabiliteitsprogram as standaardtoerusting. Om jou in staat te stel om te rem en stuur is daar sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding.
Wat van die Polo Vivo?
Volkswagen verkoop nog enkele modelle van die “ou” Polo as die Polo Vivo, wat tot R43 000 minder kos as die goedkoopste nuweling.
Maar as jy ’n diesel soek vir die lae brandstofverbruik en goeie wringkrag, moet jy daai R210 000 vir die nuwe 1.6 TDI hoes, want die Polo Vivo is nie met ’n diesel-enjin beskikbaar nie.
In 'n neutedop
Ons hou van... Die beskaafde rit en die gevoel van gehalte – ander motors in sy klas kan nie kers vashou nie.
Maar hiervan nie... Hierdie is die vlagskipmodel, maar gordynlugsakke is nie standaardtoerusting nie – jy moet R2 650 ekstra betaal daarvoor. Dieselfde geld vir ’n diens- of onderhoudsplan – hiervoor moet jy nog iets tussen R7 500 en R24 000 uithaal (afhangende van hoe omvattend dit is en oor hoeveel maande dit strek).
Enjin
1,6 liter-turbodieselenjin met ’n vyfspoed-handratkas
Krag en Wringkrag
77 KW en 250 Nm
Brandstoftenk
45 liter
Brandstofverbruik
4,2 liter/100 km (VW se syfer)
Reikafstand
Sowat 1 100 km
Prys
R210 000




















Kommentaar