Dinge waarsonder ’n man nie op reis kan gaan nie
1. ’n Leatherman-mesmoertang
Dit bly maar ’n feit dat as MacGyver vandag geleef het, hy sy rooi Switserse-kaasmessie vir ’n Leatherman sou ingeruil het.Geen taak is te groot of te klein of te moeilik vir ’n man as hy daai stuk gereedskap in sy broeksak het nie. Die respekvolle stilte wat neerdaal oor jou vrou en vriende as jy met ’n flambojante armbeweging hom te voorskyn bring om die dag te red is prysloos! Nes die vervaardiger sê: “Nou’s jy gereed.”
2. ’n Maglite
Ek weet daar is baie goeie flitse op die mark, maar as jy daai stewige swaar Maglite in jou hand hou, voel dit darem net of die afstand vanaf die tent na die toilet toe korter is as met enige ander flits. Vanaf ernstige takies soos om lig te maak as jy iets in die nag hoor tot lekker takies soos om te kyk of die vleis al reg is... Hierdie is ’n man se flits. Net jammer hy is effens te swaar om in ’n koplig te verander....
3. Kabelstroppe of eerder “cable ties”
Een van my vriende se pa’s glo die “cable tie” is die perfekte voorbeeld van hoe ’n mens die volgende stap in evolusie voltooi het. As jy daai lekker grrrrrrrrr-klank hoor as jy aan hom trek, voel dit of daar niks is wat jy nie kan regmaak nie. Sy gebruike is legio, maar my gunsteling bly om nuuskierige lughawepersoneel uit my tas te hou! Sonder hom kan jy geen ernstige reis aanpak nie. Daar was immers eers vuur, toe die wiel en toe die “cable tie!”
4. Blitz-vuuraanstekers
My vrou stry dat vuurhoutjies belangriker is om vuur mee te maak as vuuraanstekers. Alhoewel ek haar punt insien sal ek eerder twee takkies teen mekaar vryf om vuur te maak, mits ek vuuraanstekers het om my by te staan. Selfs ’n hoop klam houtjies moet sy knie voor daai parafienblokkies buig. Dit verander selfs die mees onbeholpene onder ons in ’n bobaas vuurmaker.
5. ’n Reisgenoot
Daar is darem geen bestemming wat nie verbeter word deur goeie geselskap nie. Die langpad deur die Karoo verloor sy eentonigheid en ’n lekkende tentseil wys sy komiese kant mits jy dit met die regte persoon deel. Elke reis bied ’n geleentheid om nader aan mekaar te kom en nuwe herinneringe te koester. Daarom reis ek nêrens heen sonder my vrou nie...
Gelewer op 1 Februarie 2010 | 17:51:48
Ek gebruik die laaste paar mande van die groen gel wat jy in 1 lt bottels kry (daar is 'n stoof wat werk met die goed) gooi so 50 ml in 'n eier houer (van papier) en gebruik dit dan om die hout aan te steek. die voordele: 1 - geen parafien reuk nie, 2 - brand baie maklik , 3 - brand warm, 4 - goed koop. 'n liter bottel kos so R 10 en teen 50 ml per vuur kan jy so 20 vure aansteek met 'n liter. die bottel bere ook maklik en mors nie. Gerhard Beukes
Gelewer op 26 Julie 2009 | 15:55:03
My vrou stry ook oor alles - (meestal is sy reg.) Terwyl sy stry, hou ek my vuurhoutjies en parafienaanstekers in 'n groterige "tupperware" kosblik. Dit bly altyd vars, klam weer pla nie en die vuurhoutjies is altyd daar. En die parafienreuk oorheers nie die gestryery in die kar nie. Moet nou nog net onthou om dit weer in te pak na ek dit hervul het.

















Kommentaar