Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Subaru Outback


Die Subaru Outback is ideaal vir "n naweek in die Groot-Karoo. Hier kuier ons op Calvinia.
zoommore

Die Subaru Outback is ideaal vir 'n naweek in die Groot-Karoo. Hier kuier ons op Calvinia.

Die nuwe Subaru Outback 3.6R Premium is nie net ’n kragtige vierwielaangedrewe kalant nie, maar ook ’n superveilige gesinsmotor.

Onthou jy nog vir Kitt? Michael Knight se kletsende swart vuurwa in Knight Rider? As The Hoff nie heeltemal hond haaraf kon maak nie, het Kitt partykeer met ’n blikstem ’n  stuiwer in die armbeurs gegooi.
Die nuwe vierwielaangedrewe Subaru Outback 3.6R Premium (dis al die vierde weergawe van die Outback) is ’n bietjie soos Kitt: Hy’t ’n lang rits veiligheidskenmerke, kan rytoestande self beoordeel en is glad nie op die bek geval as jy nie maak soos hy sê nie.

As jy op ’n grondpad gly, sal die kar byvoorbeeld self planne maak sodat julle nie die pad byster raak nie, en as jy deur ’n modderpoel jaag, gaan die ruitveërs vanself aan. Die ratkas is outomaties, maar as jy ’n bietjie ekstra woema soek, draai jy net ’n knoppie en voel hoe Meneer vetgee en na sy sportmodus oorskakel.
As jy die spoedkontrole aanskakel, kan jy vergeet van die spietkops… Onthou tog net om jou sitplekgordel vas te maak, anders gaan ’n irriterende alarm jou van jou trollie af maak.
Ons het die nuwe Subaru op ’n  draffie Noord-Kaap toe gevat...

Eerste indrukke?


Die nuwe Outback is groter as die oue – hy lyk meer imposant op die pad en die passasierskajuit is groter.

Die grondvryhoogte is verbeter tot 213 mm, wat meer as genoeg is vir ’n gewone middelmannetjie – ’n  ernstige 4x4, soos ’n Toyota Prado, staan 220 mm hoog.
Ons het iets wat klink soos die kleur van ’n  skitterende Hollywood-glimlag – ’n “satin white pearl”-model – gekry om te toetsbestuur.  Die binneruim met sy gemaklike leersitplekke voel soos dié van ’n luukse gesinsedan.

Die bestuurdersitplek kan baie maklik boontoe, vorentoe en agtertoe verstel word vir ekstra gerief, maar ’n mens sit nie heeltemal so hoog soos wanneer jy agter die stuur van ’n volwaardige veldwa inskuif nie. Dit voel ook asof die motor vir mense in die Noordelike Halfrond ontwerp is met groot vensters en ’n sondak – iets wat blykbaar gesog is in sneeubedekte landskappe, maar op ’n snikhete plek soos Upington is dit nie noodwendig ’n bate nie.
 


 
Subaru loop nogal te koop met sy fokus op veiligheid, en in die geval van die Outback het die ouens daar inderdaad baie om mee te spog. Die voertuig het ’n vyfsterveiligheidsgradering van die EuroNCAP-graderingsprogram én die ekwivalent daarvan in Australasië, ANCAP… beter as dit kry jy nie.

Die Subaru se volledige reeks veiligheidskenmerke sluit in ’n  versterkte raam, stabiliteitsbeheer (oftewel Vehicle Dynamic Control, wat help keer dat die voertuig gly), sewe lugsakke (waarvan een die knieë van die bestuurder beskerm) en driepuntveiligheidsgordels en kopstutte vir al die passasiers.

Die slim agtervering sorg dat die voertuig se agterent nooit op die grond sleep nie, ongeag die grootte van die vrag wat jy laai. Ook die feit dat die motor te alle tye deur al vier wiele aangedryf word, sorg vir ekstra stabiliteit, veral op ’n grondpad.

Maak toe
En as jy agter die stuur inskuif?

 
Daar’s ’n paar dinge waaraan jy gewoond moet raak. Die Outback werk nie met ’n sleutel nie: Om die enjin aan te skakel druk jy ’n knoppie wat net werk as die afstandbeheer naby is.

En die handrem is elektronies. Jy druk bloot ’n klein hefboompie regs van die stuurwiel (en trek dit liggies uit wanneer jy weer wil ry). Die vervaardiger waarsku dat dié stelsel met radiogolwe werk wat moontlik die werking van ’n pasaangeër kan beïnvloed…
 


Hoe ruim is dit?

 
Die drie sitplekke agter het oorgenoeg beenruimte en daar is ’n armleuning wat in die middel uitgetrek kan word wanneer net twee mense agter sit. Die agtersitplekke se rugleunings vou plat met ’n 60-40-verdeling. En as dit platgevou is, kan die bagasieruim agter ’n koelboks so groot soos ’n skaap, ’n paar oornagsakke en padkos vir ’n week sluk – ’n volle 1 690 liter bagasie!


As daar passasiers agter sit, sal jy dalk die vollengte dakrak moet inspan of ’n waentjie saamsleep, want dan krimp die bagasieruim tot 490 liter.

Die middelkonsole tussen die bestuurder en voorste passasier het plek vir ’n koppie koffie omdat daar nie ’n handrem in die pad is nie. Daar is selfs ’n diep kompartement in die armleuning waarin ’n mens ’n stewige voorraad biltong kan bêre.
Bo jou kop is ook bêreplek vir ’n donkerbril en die deure het diep kompartemente waar jy met gemak ’n padatlas, voëlgids en jou digitale kamera kan hou.
 


Hoe ry die voertuig?


Die Outback het drie “rymodusse” waaruit jy kan kies deur ’n knop links van die bestuurdersitplek te draai of in te druk: Intelligent Drive (I), Sports (S) en Sports Sharp (S#).

I is vir dorpspaaie of oppervlakke wat glibberiger is; S vir “algemene rytoestande” en S# is wat jy nodig het vir paaie wat ’n  Uno Mia in trane sal laat uitbars (of wanneer jy wil vetgee).
Vir my het die kar die gemaklikste gevoel in die gewone sportmodus, maar S# was nogal nuttig om verby daai groot lorrie te skiet wat almal op die pad tussen Clanwilliam en Citrusdal ophou.
 


Kom hy die mas op in rowwer toestande?

 
Volgens die handleiding moet ’n mens die Outback hanteer soos ’n sedanmotor.
Tog skrik hy nie vir rowwer paaie nie.
 


Watter luukses is die moeite werd?

 
Die Outback het ’n sogenaamde klimaatbeheerfunksie, wat die lugreëling in staat stel om verskillende temperature rondom die bestuurder en die voorste passasier te skep, volgens elkeen se behoeftes.

Die metertjies op die paneelbord is sag op die oog en die ligintensiteit kan verstel word. Die voorsitplek kan ook die ideale sitposisie van twee verskillende bestuurders “onthou”.
 


Is hy nie verskriklik swaar op petrol nie?


Die Outback het goed gepresteer: 10,2 liter/100 km. Dit is glad nie sleg vir so ’n knewel nie, veral as ’n mens die uiteenlopende toestande in ag neem – van swaar verkeer tot ooppad, en teer- tot grondpad.

Op ’n ooppad van omtrent 100 km was dit nóg beter toe die gemiddelde verbruik gedaal het tot net 7,8 km/100 km – dit was toe ons die spoedkontrole gebruik het om by die spoedgrens te hou.
Met die “ekometer” op die paneelbord kan jy selfs jou petrolverbruik monitor terwyl jy bestuur en jy kan ook sien hoe ver jy nog kan ry voordat jy by die volgende BP-garage moet indraai.



Die Outback kom op die ooppad, wanneer jy die spoedbeheer kan stel en agteroorsit en ontspan, werklik tot sy reg.

Die LED-hoofligte het my ook beïndruk: Dit gooi ’n enorme ligstraal weerskante van die pad sodat jy daardie wildsbokkie sal sien lank voordat hy voor jou insny. ’n Mens mag nie met ’n  witbrood onder die arm kla nie, maar daar is tog ’n paar dingetjies wat op jou senuwees werk.

As jy byvoorbeeld teen 10 km/h wild kyk, wil ’n mens soms jou sitplekgordel losmaak, maar dan gaan jy 108 sekondes moet wag voordat die alarm ophou skreeu.
Die leerbedekte stuurwiel het nogal taai geraak in die Noord-Kaapse hitte en die houtgreinafwerking in die kajuit voel uitspattig. Maar dis kleinighede...

Maak toe
Watter vervaardigers moet wakker slaap?

 
As ’n kruising tussen ’n stasiewa en ’n veldwa is die Outback in sy eie klas, maar Subaru meen sy vernaamste mededingers is die Audi A4 Avant (vanaf R341 000), die Volvo XC 70 (R485 000), die BMW X3 (R493 500) en die Volkswagen Touran (R343 500).


Die syfers


Enjin
Sessilinder-bokserenjin, vyfspoed- outomatiese ratkas, slegs petrolmodel

Krag
191 kW en 350  Nm

Petroltenk
65 liter

Brandstofverbruik

10,2  liter/100 km gemiddeld

Hoe ver ry jy met een tenk?

660 km

Prys

Vanaf R459 000


In 'n neutedop


Draai en lig. Danksy knoppies onder by die bestuurder- en passasiersitplek kan die sitplekhoogte verstel word.

Altyd reg. As jy gemaklik sit, kan jy jou spesifieke ver-stelling (1 of 2) in die kar se brein “bêre”.

Plek vir Afrika.
As jy die agtersitplekke platvou, is daar genoeg plek vir ’n koelboks wat ’n  week se vleis (en dop) kan hou.

Veiligheid eerste.
Subaru se klem op veiligheid is te sien in die lywige handleiding in die paneelkissie.



Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Verwante foto's

Sien meer

Search Equipmentarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek