Nissan X-Trail
Een van Weg se lesers, Berno Punt, is na die motorhandelaar toe om ’n bakkie te koop, maar toe sien hy ’n ander stel wiele...
Hoekom het jy die X-Trail gekoop?
Ek het ’n groter voertuig met meer pakplek nodig gehad. Voor die X-Trail het ek ’n outomatiese Mercedes-Benz C240 gery. Die Merc was ’n absolute plesier, maar sy dienste by die agente het ons ’n bietjie onverhoeds betrap.
Ons is ’n gesin van drie – ek, my vrou, Liezel, en Adriaan, ons baba van 20 maande.
Vir dié mannetjie het ons altyd baie plek nodig aangesien sy stootwaentjie, skopfietsie en al sy speelgoed saamgaan. Al dié goed plus my en Liezel se bagasie pas maklik in die bagasieruim. Ek het nog nooit gevoel ek moet ’n waentjie haak omdat die pakplek beperk is nie.
Het jy ander motors oorweeg?
Ek het nooit eens na die X-Trail gekyk nie, want ek het gedink hy is buite my prysklas. Ek en my vrou het by ’n handelaar na ’n dubbelkajuitbakkie gaan kyk. My vrou was nie baie in haar skik met die bakkie nie. Ek ook nie, al is ek ’n bakkie-ou.
Ons kon skaars Adriaan se babastoeltjie op die agtersitplek inpas – die meeste dubbelkajuite het min plek vir die agterste passasiers. Die X-Trail staan toe net langs die bakkie en sommer uit nuuskierigheid vra ek wat hy kos.
Ons was verbaas oor die prys en het toe dadelik gevra om hom te toetsbestuur.
Liezel het ook ’n beurt gekry en baie van “haar” kar gehou. Toe ons wegry, sê sy: “Ek gee nie om hoe ons hom betaal nie, maar vir hom wil ek hê.” Drie dae later is ons met die X-Trail met vakansie.
Hoeveel kilometer het hy agter die blad?
Hy het so 157 500 km op die klok gehad en ek het intussen 7 000 km bygesit.
Waarvan hou jy?
Die ruimte – vir mense én bagasie. Die 2,5 liter-enjin het lekker baie krag en ons sleep ons swaar ou woonwa sonder probleme. Hy het ook die 4x4-opsie en genoeg grondvryhoogte as ons van die teerpad af wil swerf. En, belangrik, hy het lugsakke.
Sou jy sê dis ’n lekker toermotor?
Ja, hy toer ongelooflik lekker. Die sitplekke is gemaklik en hy raas nie op die pad nie. Hy sal ook beter wees vir wildkyk as die Mercedes omdat ’n mens hoër sit.
Hoe hanteer hy grondpaaie?
Ons het Namibië se grondpaaie met vyf grootmense en ’n sleepwaentjie aangedurf en ek was beïndruk. Ek het so te sê grootgeword op grondpaaie, maar het nog min ’n voertuig gery wat só stabiel is.
Hy het een of twee keer agterlyf weggegooi op die erge sinkplaat, maar dit was wanneer ek te vinnig gery het. Ek het hom toe in “Auto” gesit sodat hy self kan kies wanneer hy met al vier wiele moet aandryf.
Het jy al 4x4 in die veld gery?
Ek het al baie snaakse paadjies gery om sy 4x4-vaardigheid te beproef, maar sonder welslae – die paaie was almal in ’n te goeie toestand! Ek kan dit nie oor my hart kry om hom in takke in te stuur nie.
Hoe dors is hy?
’n Bietjie te dors! Hy gee gemiddeld so 8,5 km/liter (11,8 liter/100 km).
Enige onaangename verrassings?
Ja, ek het die motor gekry twee dae voordat ons met ons jaarlikse vakansie sou gaan. In die tweede week het sy kragstuur se pomp begin lek. Gelukkig was daar ’n handelaar naby wat hom gou reggemaak het.
Wat het jou die meeste beïndruk?
Alles. Daar is nie veel wat my pla nie; ek is regtig in my skik.
Die syfers
Enjin
Reguit-viersilinder, 2 488 cc (132 kW; 245 Nm)
Grondvryhoogte
200 mm
Petroltenk
60 liter
Tenkafstand
Tussen 550 km en 600 km
Gelewer op 31 Januarie 2012 | 10:22:22
Ek het 'n 2004 2.2 diesel. Hy het nou al 220 000km op. Dit is wat sover verkeerd geloop het: Die intercooler het 'n klein lek ontwikkel......dis dit. Dit is een van die voertuie wat my die meeste beindruk het. Ek ry karre ni lank nie, 1-2 jaar, maar die een is voorwaar 'n werksesel!
Gelewer op 20 Oktober 2011 | 07:53:23
Ek het ook die 2.5 outo 4x4 en het hom so paar maande terug gekoop op 100000 km. Intussen het ek so 30 000 opgesit en stem saam…die kar ry lekker, gerieflik en stil. Ek en Hester ry maandeliks baie kilos die hele land vol. Ek het ook nog nie sy 4x4 vernuf getoets nie en sal graag wil weet hoe hy vaar. Ek wil bv graag die Sani-pas aanpak en paar dae deur Lesotho ry. Teen die prys wat die motors te kry is is daar nie te vergelyk nie! Jy moet net jou kontantvloei dophou sodat jy geld oorhet vir brandstof.
Gelewer op 30 Junie 2011 | 12:45:12
Fantastiese voertiug.Het die 2.2 diesel en het baie meer spoed en krag as die 3.0 tdi dubbelkajuit wat ek eers gery het.Daars hope ruimte en kry tot 18kil op n liter in die ou taal en ek ry nie stadig nie.



















Kommentaar