Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Hyundai Wagon


Die Hyundai is aansienlik groter as enige Kombi wat nog die strate van Hartenbos, Bela-Bela, Margate en Stilbaai ingevaar het.
zoommore

Die Hyundai is aansienlik groter as enige Kombi wat nog die strate van Hartenbos, Bela-Bela, Margate en Stilbaai ingevaar het.

Prysgewys stof Hyundai se negesitplekbussie, die H1  Wagon, al sy mededingers uit.
Maar hoe vaar hy op die pad?


Eens op ’n tyd het omtrent elke Suid-Afrikaanse gesin van meer as vier ’n Volkswagen Kombi besit.
Dit het sin gemaak, want die ding was groot – nee, dêm groot. Jy kon lag-lag tien lede van ’n geheime broederskap in hom laai én dan nog ’n halwe skaap, ’n sak meel, twee kiste nartjies, ’n koelboks, ’n opvoubraaier en drie sakke hout agterin stop. (Ek het selfs een slag gesien hoe so
een ’n klavier sluk.)

En hy was goedkoop. En veelsydig – jy kon in hom slaap – én dan was hy nie juis dors nie. Boonop was dit taamlik maklik om die ou lugverkoelde enjintjies in stand te hou. Sedert die verdwyning van dié ou staatmaker in die laat jare negentig het daar nog geen waardige troonopvolger na vore getree nie. Aan die goedkoop kant is die Toyota Avanza maar ’n ou stukkie blik, en aan die duur kant is die Mercedes-Benz Vito net welaf suikerbaronne beskore. Van Hyundai se kant af lyk dinge egter belowend. Die nuwe H1 Wagon lyk na ’n outydse Kombi: Eenvoudig, betroubaar en nie te duur nie.
Kom ons gaan ry ’n entjie…

Hyundai Wagon 101
Enjin
Viersilinder, 2 359 cc (126 kW; 224 Nm)

Ratkas
Vyfgang, handrat

Brandstofverbruik
10,2 liter/100 km, stad en ooppad (volgens Hyundai)

Topspoed
182 km/h

Hoe verskil Hyundai se groot wa van die goeie ou VW Kombi?


Die Hyundai is aansienlik groter as enige Kombi wat nog die strate van Hartenbos, Bela-Bela, Margate en Stilbaai ingevaar het. Hy is ’n  ellelange 5,1 m lank en binne is hy só groot jy kan jou bene uitstrek, selfs op die agtersitplekke.

In die ou VW Kombi’s was die enjin agter met die bagasieplek bo-op dit. In die Hyundai sit die enjin voor. Dus is daar ’n  enorme spasie agter die laaste ry sitplekke – van die vloer tot die dak is oop vir bagasie, proviand en speelgoed.
Die Hyundai het ook syskuifdeure weerskante, anders as die Kombi wat een skuifdeur gehad het, wat die in- en uitklimmery (en bagasielaaiery) heelwat vinniger en makliker maak.
 


Is hy darem iets vir die oog?


Nes die latere vierkantige Kombi’s (en anders as die ronde soort voor húlle) lyk die Koreaanse bussie nie liederlik nie, maar eerder funksioneel. Die agterkant probeer hard om nie soos ’n skoendoos te lyk nie, maar sonder welslae. Voor het die Koreane ’n bietjie meer moeite gedoen, maar dit lyk soos ’n effens duurder skoendoos.

Die neus is net ’n knertsie skerpgemaak sodat hy darem nie trompop in die wind vasry nie.
Vra maar enige binnenshuise versierder met wit skoene en ’n  swierige kuif hoe jy ’n vervelige kamer in ’n kits kan opdollie en hy sal vir jou sê: nuwe strooikussinkies. Dis dieselfde met karre en wieldoppe: ’n  Saai kar met mooi wieldoppe lyk net daai aks beter. Maar Hyundai het nog nie daai lessie geleer nie en ons sit nou hier met ’n paar kwalik vermomde staalvellings.

Een luukse is darem die leersitplekke. Dis nou wel daai kameelkleur wat jou laat terugdink aan die Gomma-Gomma-sitkamerstelle van die jare sewentig, maar jy hoef darem nie ’n  donkerbril te dra nie. Leer is ieder geval die beste verweer teen ’n melkskommel wat kantel of ’n taai suigstokkie wat val. Daar is lugreëling voor en agter, en die agterste mense kan self hulle temperatuur aanpas met ’n  knoppie teen die dak.

Oulik. Maar dan is net die voorste vensters elektries terwyl die middelstes met ’n ongemaklike knip oop en toe skuif, en die agterstes kan jy net op ’n skrefie oopswaai. Jy kan ook nie die radio se volume en stasies op die stuurwiel beheer of die meters stel om byvoorbeeld te kyk wat jou gemiddelde brandstofverbruik is nie.

Nietemin speel die radio se ses luidsprekers luid en helder, die instrumentepaneel is eenvoudig en netjies, en die dubbele paneelkissie sluk maklik ’n groot handsak en ’n sespak Coke.


Daar is nege sitplekke – is daar plek vir nege mense?

 
Nee. Hoogstens agt grootmense en Bolla Conradie.

Voor is een sitplek vir die bestuurder en dan ’n dubbele sitplek vir die passasier en ’n  kind in die middel. Dit sal ’n  klein kind (of Bolla) moet wees, want daar is byna geen beenruimte tussen dié sitplekkie en die middelkonsole nie. Om die waarheid te sê, as die bank vorentoe geskuif is, kan jy nie eens die bekerhouertjie in die middelkonsole uittrek nie.

Maar die ander agt mense het genoeg plek vir strek. Die heel agterste ry is een bankie soos in die ou Kombi’s, hoewel die stoffering darem só gestik is dat dit soos drie sitplekke lyk. Die middelste bank bestaan uit ’n  dubbelbank en ’n enkelstoel


Pakplek?


Genade, ja, dié bussie se bagasieruim het ’n hele 851  liter spasie – omtrent so groot soos twee groot kisvrieskaste (van daardie soort wat ’n bees en ’n  half kan vat). Die Mercedes Vito het 730 liter. Jy kan maklik op ’n selfsorgvakansie gaan met twee of drie kinders en alles pas netjies agter-in sonder dat jy die Venter hoef te haak.


Die nadeel van agt- en tien-sitplekbussies is dat jy nie sitplekke kan platslaan soos in ’n  snoetbus nie, maar die pakplek is in elk geval so groot dat jy dit nie nodig het nie. As jy die dag twee hangkaste moet vervoer, kan jy net die banke uithaal.
 


'n Paar ouens kla die enjin is effens pap – is dit waar?


Dit is ongelukkig nie ’n ouvroustorie nie. Die 2,4 liter-petrolenjintjie kan kwalik as ’n hoëverrigtingsenjin beskryf word. Met ses of sewe mense en ’n  hoop bagasie aan boord gaan jy in die dun lug van die Hoëveld sukkel om ’n steenkoollorrie verby te steek.

Op die Longtompas herinner hy ’n mens aan ’n Bedford-skoolbussie vol Landsdienskinders wat ’n bult uitkruie. Jy gear af totdat daar nie meer gears is nie en dan hou jy maar in die linkerbaan. As jy hom eers lekker aan ’t wiel het op ’n gelyk pad, draf hy egter heel gemaklik rondom die wettige spoedgrens.
 


Hoe bestuur hy?


Dis verbasend hoe goed dié wa in die dorp hanteer. Goed, parkering kan lol, maar andersins is dit amper so maklik soos om een van daai stampkarretjies by die Paasskou te bestuur.

Sy stuurwiel is lig, die koppelaar hanteer maklik, die draaisirkel is klein en die truspieëltjies groot.
Op die langpad voel hy uiteraard soos ’n klein bus eerder as ’n groot kar, en op ’n sinkplaatgrondpad spring die kleinerige wieletjies ’n bietjie rond. (As jy die banddruk effens verlaag, loop hy mooi.)
 


En veiligheid?


Dis peperduur om sulke groot busse so veilig soos ’n  goeie sedan te maak
.
Maar hy het darem lugsakke voor, sluitweerremme en elektroniese remkragverspreiding.


Hoeveel kilo's op 'n tenk?


Teen 10-11 liter/100 km kan jy darem reken om meer as 700 km te kry met die tenk van 75 liter. Maar as daar baie bulte is, gaan hy beslis dorser wees.

 



Die eienaardige sitplekkie in die middel voor wat geen beenruimte laat nie, die flouerige enjin en die onverklaarbare breë swart stroke om die kleinerige agtervensters, wat dit nóg kleiner laat lyk.
 

Maak toe


Dis ’n doodeerlike ryding. Die paar dingetjies wat pla, kan jy maklik vergeet as jy na die prys kyk. Goed, nie baie van ons loop met R296  000 in die agtersak rond nie, maar as jy dit vergelyk met die goedkoopste Mercedes Vito (R361 000) en die goedkoopste Volkswagen Kombi (R390 000), het jy ’n wenner.

Die Nissan Primastar met sy wakker turbodiesel is teen R329 000 die sterkste mededinger. Maar ’n lekker sterk turbodieselenjin, soos die 2,2 liter van sy kleinboet die Santa Fe, kan die H1 die beste in sy klas maak.

Een van die beste redes hoekom jy die H1 Wagon kan oorweeg, is die waarborg van 5  jaar/150 000 km en die diensplan van 5  jaar/100 000 km.

Maak toe

Kommentaar

Gelewer op 12 Januarie 2011 | 13:48:17

Daar is nou 'n 2.5 diesel beskikbaar. Miskien moet julle vir ons daaroor kommentaar gee. Sy prys - R373 000-00

Gelewer op 2 Junie 2010 | 11:31:51

n Pap dinges was nog nooit lekker nie. Koop vir jou n Chrysler Voyager CRDiesel. Baie krag,baie plek, baie vinnig, 8.8lt per 100km op oop pad en 10.5liter per 100km in stad en kersie bo-op hy is automaties met auto-cruise. Ry van die Kaap tot in Windhoek (in a-cruise) gemiddeld van 130km per uur met diesel verbruik van 8,8 liter per km. Sitplekke vou in vloer weg om 3beeste mark toe te ry. Nee ek verkoop nie een nie ek ry een. Diens by Bosch-diesel kos my R1800.

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Equipmentarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek