Raad met 'n wiel in Namibië
Namibië het 5 450 km teerpad en 37 000 km grondpad… die kans is dus baie goed dat jy iewers ’n pap band gaan kry. Só bly jy uit die moeilikheid.
Belê in bandhersteltoerusting
’n Noodwiel is goed en wel... vir jou eerste pap wiel. Dis die tweede een wat die moeilikheid veroorsaak. Maar jy kan daai tweede pap wiel self regmaak met ’n bandherstelstelletjie (Makro en alle 4x4-winkels het hulle). Dit bestaan uit gom, ’n paar touproppe en twee T-vormige stukke gereedskap, een waarmee jy die gat in die band skoonmaak en die ander waarmee jy die proppe insit.
Doen jou huiswerk. Die geheim is om by die huis op ’n ou band te oefen hoe om ’n touprop in te sit. As jy dit onder die knie het, gee dit jou die selfvertroue om die situasie te beredder as die reisgenote bedruk en die kinders huilerig begin raak.
Bring reserwes. Koop ekstra touproppe, want hulle is goud werd as die naaste dorp 160 km weg is. Onthou, jy kan ’n héle paar touproppe in ’n groot gat druk en só die naaste dorp haal.
Wag ’n bietjie. Nadat jy die gat met ’n touprop (of drie) verseël het, wag sowat 10 minute sodat die gom goed droog word voordat jy die band oppomp.
Hmmm, ek weet nie so mooi nie. Moenie te veel vertroue plaas in goed soos Tyre Weld, daardie jogurtagtige sousie wat jy in ’n pap band spuit nie. Ek moet nog sien hoe dit ’n gat behoorlik verseël.
Pleisters vir jou Pirelli’s
Kry ook ’n paar bandpleisters (gaitors). Dis eintlik maar net ’n groot, dik rubberpleister wat jy met gom aan die binnekant van ’n binnebandlose band vasplak as dit ’n gat of sny het wat te groot is vir touproppe. Jy sal nie self ’n bandpleister kan insit nie, maar julle kan dalk die stukkende band by die naaste dorp daarmee herstel sodat jy steeds ’n bruikbare noodwiel het.
Dalk... 'n ekstra noodwiel
Die probleem in Namibië is nie soseer om ’n plek te kry wat jou band kan omruil nie, maar om die regte band te kry. Die ideaal is dat jy ’n sesde wiel – ’n tweede noodwiel, dus – saamry, maar nie alle voertuie het plek hiervoor nie.
As jy wel ’n groterige kar het, kyk of jy minstens ’n los band (sonder ’n velling) kan inpak. Jy kan dié band dan op die volgende dorp op jou noodvelling sit.
Onthou die kompressor
As jy ’n voetpomp inpak, is jy óf ’n masochis óf jou kompressortjie is in China gemaak en het R39,99 gekos. ’n Goeie een (tussen R250 en R400) maak die lewe makliker.
En maak voor jy op vakansie vertrek seker jou kompressor werk. Ek het my kompressor se voetstuk afgehaal en dit op ’n kleiner plank gesit om plek te spaar.
Handskoene vir gemak
Om ’n wiel om te ruil is gewoonlik ’n morsige affêre. Koop vir jou ’n stel gebreide katoenhandskoene (omtrent R6 by Builders Ware-house) om jou hande skoon te hou en effens te beskerm terwyl jy halflyf onder die kar lê en stoei.
Hoe lyk die ander karre?
As julle deel is van ’n konvooi voertuie, maak voor die tyd seker wie se bande kan ook op ander voertuie gebruik word in ’n noodgeval. Maar sorg dat elke kar basiese gereedskap het sodat die bestuurder sy eie band kan omruil.
Hoe hard is hard?
Op ’n grondpad kan jy jou voertuig se banddruk met tussen 15% en 20% verminder. As die voorgeskrewe banddruk sê maar 2,25 bar is, kan jy dus die bande afblaas tot tussen 2 bar en 1,8 bar. Dit trap dan beter vas, veral om draaie en wanneer jy rem. Die rit is ook sagter.
Hoe swaarder, hoe harder. ’n Gelaaide voertuig se bande word effe harder as gewoonlik gepomp. Dis dié syfer wat jy met 20% moet verminder.
Weer op teer. Pomp die bande wanneer jy op teer is. As jy nie ’n pomp en meter het nie, moenie vinniger as 100km/h ry nie, want die band kan te warm en beskadig word
of selfs disintegreer.
Loop lig vir ’n Marie-biscuit. Party 4x4’s het ’n dun noodwieletjie wat nie ontwerp is vir strawwe toestande nie.
Handhaaf ’n lae profiel. Sommige van die luukse “sagte” veldvoertuie soos die BMW X5 en Audi Q7 se laeprofielbande is nie ontwerp om teen laer druk gebruik te word nie. Ry maar biddend.
Gelewer op 20 Januarie 2012 | 18:20:23
Dit is wat die probleem is,jy het dit by Marko gekoop,jy moet dit eintlik by Makro koop.
Gelewer op 8 Januarie 2012 | 08:58:09
Time to face the music armed with this great infmortaion.
Gelewer op 14 Desember 2011 | 16:07:12
Maak seker jou gom is vars.Die goed verdamp uit 'n toe buisie.Ek het dit ondervind met my spaar stel wat ek by Marko gekoop het. Dit help veel jy het baie stokkie maar geen gom.


















Kommentaar