Toyota Hilux
Mense sê nie verniet Toyota is betroubaar nie. Ek het groot-geword met Toyota: My ma het nog altyd ’n Corolla gery en my pa sy Hilux.
Die enigste kere wat ek kan onthou dat ons gaan staan het toe ek ’n kind was, was toe ons nie in een van die twee gery het nie! Daarom het ek twee Hilux’e – een vir werk en dié ene vir plesier: vakansies en naweke in die bos. Die Hilux is nie om dowe neute die topverkoper in Suid-Afrika nie, én hy het ’n uitstekende herverkoopwaarde.
Het jy sy brandstofverbruik bekyk voordat jy gekoop het?
Ja, ek het van ’n toets gelees waarin hulle al die beskikbare dubbelkajuit-4x4’s se brandstofverbruik getoets het oor ’n afstand van 1 000 km, en die Toyota het tweede gekom... ná die Ssangyong Actyon!
Ons het ook ’n drieliter-Isuzu-bakkie in die maatskappy wat bekend is vir sy goeie brandstofverbruik, veral die legendariese 2,5 liter-diesel, maar die skakelaar waarmee jy moet oorskakel na 4x4 pla my nogal.
Hoeveel kilo’s het hy op die klok?
Ek het hom in Oktober 2007 gekoop met 70 000 km, en tans staan hy op 98 000 km.
Waarvan hou jy in die bakkie?
Hy ry ongeloolik gerieflik op die langpad, en veral agterpaaie. Soos die meeste ander nuwer bakkies ry hy meer soos ’n motor as ’n bakkie, selfs in die veld.
Hy het al die standaardgeriewe soos lugreëling en elektriese vensters. Hy het eintlik niks fênsie luukshede nie, wat maar goed is, want dan is daar minder goed wat kan skeef loop.
Die bakkie het ook lekker krag. Jy steek moeitevry verby op die snelweg en die ding het tonne wringkrag sodat jy nie sukkel teen die opdraandes nie. Die drieliter-enjin is een van die sterkstes op die pad en dit maak die rit gerieflik, want jy kan hom bestendig op 120 km/h hou – opdraande en afdraande. En jy hoef nie na ’n laer rat toe terug te skakel as jy wil versnel nie.
My vrou, Zelda, is net so tevrede met die bakkie soos ek. Sy soek baiekeer ’n verskoning om met hom rond te ry.
Waarheen het hy al geloop?
Ons eerste toer was Kalahari toe. Behalwe vir ’n pap wiel het ons geen teëspoed gehad nie. Ons is ook al deur die Baviaanskloof en het al die roetes gaan ry in die Karoo- nasionale park en in die Gamkaskloof. Ons pak binnekort die Namakwaekoroete vir vyf dae.
Hoe gedra hy hom op gruis?
Die bakkie kan nogal ’n bietjie los wees op die grondpad, maar sodra jy die 4x4 aanskakel, trap hy vas.
En op sand, modder en klippe?
Die wringkrag (343 Nm) kom baie handig te pas in die sand – hy het eindelose krag. Ek vermy maar modder en water sover moontlik, maar op die klippe het die bakkie hom goed van sy taak gekwyt.
Is daar genoeg pakplek?
Oorgenoeg vir my, maar ek is seker daar is baie mense wat nooit genoeg pakplek sal hê nie, maak nie saak wat hulle ry nie.
Het jy hom aangepas vir die toerdery?
Ek het eers ’n ekstra dieseltenk laat insit en toe ook ’n aluminiumkappie gekoop. Daarna het ’n daktent en dubbelbatterystelsel (vir die vrieskas) aan die beurt gekom. Die mees onlangse toevoeging was die Old Man Emuvering.
Is hy toe so suinig soos die toets gesê het?
Dis heeltemal aanvaarbaar. Die slegste wat ek gekry het, was met papper bande terwyl hy swaar gelaai was én ’n daktent bo-op gehad het – 11,7 liter/100 km teen 130 km/h. Die bakkie se gemiddeld is 9,5 liter/100 km en sy beste 8,7 liter/100 km.
Wat sou jy aan die voertuig wou verander?
Ek sal nie omgee om in die nuwe model ’n klimaat-beheerstelsel te hê nie. Met gewone lugreëling raak die lug net koeler en koeler totdat jy dit later vir ’n ruk moet afskakel. Met klimaatbeheer bly die temperatuur heeltyd konstant.
Die Syfers
Enjin
3,0 liter-inlynviersilinder, drukbuis-turbodiesel – 120 kW
Grondvryhoogte
227 mm
Petroltenk
80 liter + ekstra 70 liter
Gelewer op 27 Maart 2011 | 23:25:36
Wel al wat ek kan se is dat ek nou my tweede Double cab Toyota Hilux bakkie besit en ek sal geen ander bakkie vertrou nie.Ek ry n Toyota 2.7 VVTI D/C 2006 en ek moet se dat Toyota die maklikste verkoop van all voertuie. Ek het 1x maal vir n Toyota agentskap geskakel om uit te vind hoeveel hul my sal aanbied vir my Bakkie. Hulle was so erg geintreseerd dat hulle my vir drie dae lank geskakel het om te hoor of ek hom nie wil verkoop nie.Voor my Toyota bakkie het ek n BMW 1.8 gery en ek het soveel probleme gehad dat ek amper bankrot was met herstel werke. Ek het toe besluit dat dinge kan nie so aan gaan nie en besluit op n 3.0D Toyota Double Cab Hilux 1999 model.Die bakkie was baie stadig maar ek was tevrede want vir die eerste keer in my lewe het ek n voertuig gehad wat ek kon vertrou en ook nie hoef te bekommerd te wees oor verdere herstel werke nie.Ek het hom vir 3.5 Jaar gery en later weer verkoop met 250 000 km op die klok, en niks fout met hom nie. Die rede hoekom ek hom verkoop het was dat hy baie stadig was en ek n bietjie meer woema gesoek het. Nou met my Hilux 2006 2.7 VVTi het ek alles wat ek soek in n voertuig. Ek gaan nou vir my n 2011 Fortuner 3.0 2x4 D4D koop en my Hilux sal ek nie inruil nie. Hy bly!!!!!! So as jy n betroubare voertuig soek maak nie saak watter jaar model nie Toyota D/C is die antwoord. As jy wil voorkom in die lewe(Finansieel) en nie al jou hard verdiende geld op n herstelwerke wil spandeer nie is Toyota jou antwoord.
Gelewer op 16 Desember 2010 | 10:11:54
Ek kan getuig dat daar eenvoudig geen ander 4x4 is wat by Toyota kan kers vashou nie. My pa het in 1990 seker die eerste 4x4 2.4l diesel gekoopsonder turbo aanjaer ens. Hierdie voertuig het al oor die 720,000km gedoen. Hy boer op die plase Kaalpan, Kareepan en Dauthś Rust. Meestal is die bak vol ysters, ploegskare, sakke kunsmus, gereedskap en dan sommer nog ń verlore stukkie hondekos wat saamgebring is en vergete is. Die bak agterop is al vervang a.g.v. die slegte pad. Die voertuig is nog nie eens oorgedoen nie. Slegs die tydhou beld word elke 150,000 vervang en dan natuurlik skokbrekers en bande by dosyne. Sinkplaatpad is nag maar nie vir Hilux nie.
Gelewer op 29 September 2010 | 12:09:45
Toyota Hilux is maar die beste.As jy in die bos ver van alles wil gaan ry moet dit n Hilux wees.Al die ander sal jou ook baie ver vat in die bos maar of hulle jou gaan terug bring weet ek nie.Ek het twee,2.4 D/C 1997 en 2.2 S/C 1990 met 210000km en 305000km puik toestand.Het al oral in Namibia,Botswana en Lesotho gery meet geen probleme nie.Ek is so tevrede met Toyota dat ek niks ander as Toyota wil ry nie,maak nie saak van brandstof verbruik nie.Alles loop reg altyd reg Toyota.
Nog resultate: Bladsy | 1 | 2




















Kommentaar