Die SIGMA 18-200 mm SLR-LENS vir jou kamera
Wat sê die vervaardiger: “Hierdie hoëratio-zoemlens gebruik Sigma se OS-funksie (optiese stabiliseerder) en is spesifiek vir digitale SLR-kameras ontwerp. Dis ideaal in lae lig en as telefotolens.”
Wat beteken dit? ’n SLR-lens is een wat jy gebruik op ’n kamera wat lense kan verwissel, en “hoëratio” beteken dis ’n twee-in-een lens: Jy kan effense wyehoekfoto’s daarmee neem (bv. die padpatrollie se groepfoto) én jy kan inzoem daarmee op dinge wat ’n ent weg is. Die meeste “gewone” zoemlense kan nie so ver inzoem soos dié een nie.
Optiese beeldstabiliseerders is een van die opwindendste fotografie-verwikkelinge van die afgelope vyf jaar. Dit beteken die binnekant van die lens bewe presies met die teenoorgestelde beweging as jou hande sodat jou bewerasies grootliks uitgeskakel word. Jy kan dus teen ’n stadiger sluiterspoed as gebruiklik ’n foto uit die hand neem, byvoorbeeld in swak lig. Die resultaat: Jou foto’s is skerper.
En hoe werk dit? Ek het dié lens onlangs saamgevat Switserland toe. Die Alpe se wit pieke en dorpies wat lyk of dit op ’n sjokoladeboks of legkaart moet pryk, was net die regte plek om die Sigma-lens op my Nikon D70 te toets.
Die lekkerste eienskap van die lens is sy veelsydigheid. Ek kon omtrent enige soort foto daarmee neem sonder om in my kamerasak hoef te grawe om lense te ruil. Dit maak die fotonemery aansienlik makliker. Die een oomblik kan jy die Alpe in al sy wye glorie afneem en die volgende kan jy inzoem op ’n paar bergbokke ’n entjie teen die hange op – als met dieselfde lens.
Beroepsfotograwe waarsku teen wye-omvangzoemlense soos dié. Hulle sê dis moeilik om ’n werklik voortreflike lens te maak wat so veeldoelig is. Maar ek is beïndruk met die Sigma: My foto’s is skerp.
Prys: R5 225
Kontak: Tudor Photographic 021 424 2978
Mark sê: Al het die lens ’n beeldstabiliseerder, behoort jy jou kamera steeds op ’n driepoot te monteer wanneer die sluiterspoed stadiger as 1/60ste van ’n sekonde is.
Gelewer op 9 Maart 2011 | 17:38:00
Ek kan nie meer met die skrywer saamstem nie. As amateur het die SIGMA 18-200, op my Canon 450 D, my ontsettend gehelp om "daai" foto te neem waaroor daar baie aande lang stories gewissel word.


















Kommentaar