Tevo Vacbag-reisstel
Jy gebruik Tevo se VacBag om klere en beddegoed te vakuumverpak sodat dit minder plek vat. Dit is basies ’n groot (40 x 60 cm) plastieksak met ’n spesiale klep waarmee jy dan die lug met ’n stofsuier uit suig. Jy kan natuurlik ook elektroniese toerusting en boeke verpak om dit te beskerm teen nattigheid en stof.
Tevo se mense het besef dié sakke kan ook vir reisigers werk – maar hoe gemaak as jy nie ’n Electrolux in die kattebak het nie? Toe maak hulle die VacBag Travel Pack. Dit werk op dieselfde beginsel, maar pleks van uitsuig, forseer jy die lug uit deur die sak te rol of te druk. ’n Eenrigtingklep sorg dat dit nie weer inkom nie. Só verpak jy jou klere netjies en kompak, net reg vir jou tas of bagasiebak.
Prys: R100 vir ’n pak met ses by Game, Makro, Pick ’n Pay en Checkers
(Nota: Prys akkuraat in Maart 2009)
Kontak: Tevo 0861 77 88 88; www.tevo.co.za
Weg sê: Met dié plastieksak hoef jy jou ook nie te bekommer oor nattigheid, stof of daai sjampoebottel met die los proppie nie.





















Kommentaar