Roei, Jannie, roei!

HONCHO GURU. 'n Branderski is 'n lang, smal soort kajak wat vir die see gemaak is, veral om mee resies te jaag en branders te ry.
Ek gee jou my tweedehandse Datsun 1400 as jy my nog ’n sportsoort kan wys wat so maklik is soos kajak-roei, waarin jy in die natuur kan wees, fiks word én waarmee jy saam met jou pelle kan kampeer en lekker in die water speel. Kies een van die volgende vyf kajakke wat die beste by jou persoonlikheid en omstandighede sal pas.
Gesinspret
FLUID SINERGY
Die Suid-Afrikaanse maatskappy Fluid maak puik kajakke vir gesinne. Hulle helderkleurige bote is sterk en stabiel en maklik om mee te roei. Hulle grootste model, die Sinergy, is veeldoelig. Jy kan ’n enkel- of dubbelsitplek aanskaf en daar is ’n klomp verskillende rytjies voetholtes (die riffies wat in die plastiek voor die sitplek gegiet is) sodat roeiers van enige ouderdom of grootte op dieselfde kajak kan roei.
Jy kan ewe lekker met die Sinergy kerjakker op die Vaaldam, in die see by Bloubergstrand, op die Oranjerivier of op die Knysna-strandmeer.
Prys: Sowat R5 500
Kontak: Fluid Kayaks
056 817 2951; www.fluidkayaks.co.za
Weg sê: Volg klein Japie in Oscar Chalupsky se roeispore? Fluid vervaardig ook ’n kindermodel, die Vaya.
Toer
WILDERNESS SYSTEMS TSUNAMI 145
Toerkajakke – bote vir ekspedisies van ’n paar dae – is gewoonlik langer en slanker (vir spoed) met ’n holte waarbinne jy kan sit (vir beskerming teen die elemente) en baie bêrekompartemente (vir jou toerusting en kos). Die Tsunami 145 is so ene. Dit het selfs ’n verstelbare skuimrubbersitplek om jou rug gemaklik te hou. Ondanks die lengte – 14, 5 voet, (4,4 m) – is die boot besonder stabiel in die water. Dis ook veelsydig en kan in ligte stroomversnellings en selfs kleinerig branders gebruik word.
Prys: Sowat R10 500 (of R13 000 met ’n roer)
Kontak: Canoe and Kayak World
011 807 8111; www.canoekayak.co.za
Weg sê: Nie ’n intreemodel nie. Oorweeg hierdie een as jy reeds darem ’n bietjie roeiervaring het.
Visvang
STEALTH SUPALITE
Visvang van ’n kajak af? Hoekom nie? Jy gaan agter die branders kan visvang en by beter plekkies jou hoek laat sak as wat jy ooit van die oewer af sal kan. Die Supalite X is vir visvang gemaak en het twee groot bêreholtes, een vir jou toerusting en die jongste uitgawe van Stywe Lyne, en een vir die grote wat nié weggekom het nie). Daar is ook twee visstokhouers. Die breë basis sodat jy nie omval wanneer daai grote uiteindelik die hoek vat nie. Die boot is gemaak om vinnig en maklik deur die branders te sny en hy’t ’n roer sodat jy op koers kan bly.
Prys: Sowat R6 650
Kontak: Canoe and Kayak World 011 807 8111; www.canoekayak.co.za
Weg sê: Al wat jy kort, is ’n koelboksie vir jou aas.
Branderski
HONCHO GURU
’n Branderski is ’n lang smal soort kajak wat vir die see gemaak is, veral om mee resies te jaag en branders te ry. Dis nie eintlik vir beginners nie.
Twak, het die mense by Honcho gedink, beginners kan dit ook doen, solank hulle net die regte branderski gebruik, soos die Guru. Nes met ander veselglasbranderski’s sit jy bo-op die Guru, maar dis 7 cm breër as die meeste resiesmodelle. En ja, daai 7 cm help baie dat jy nie omval nie. Honcho reken jy’t geen vorige ondervinding nodig nie – gryp net jou roeispaan en gaan oefen op die strandmeer.
Prys: Sowat R7 750
Kontak: Honcho 021 557 8762; www.honchosurfskis.co.za
Weg sê: Jy behoort nie te sukkel om ’n intreemodel soos hierdie tweedehands te verkoop as jy ’n vinniger bootjie wil aanskaf nie.
Gelewer op 27 Mei 2010 | 13:11:20
Kom die Stealth in eensitplek ook uit en hoeveel kos dit ?





















Kommentaar