Die Griffin Roadtrip vir jou iPod
Wat is dit?
Die RoadTrip is ’n seintoestel waarmee jy die musiek op jou iPod na jou motorradio stuur.
Wat belowe die verpakking?
’n Mondvol: “Eenvoudig om te gebruik”, “kristalhelder klank” en “’n ware vermaakstasie in jou motor”.
En werk dit?
Ek het ’n iTrip, die RoadTrip se voorganger, gehad. Die klank was dikwels power, dit het nie my iPod herlaai nie en jy kon dit dit nie iewers op die paneelbord monteer nie – gevolglik moes ek die iPod in die paneelkissie sit, waar jy dit nie kan bykom as jy jy bestuur nie.
Met die RoadTrip is hierdie probleme uitgestryk. Jy prop die RoadTrip by die sigaretsok in en knip jou iPod vas in ’n bêrestasie (’n “nessie”) met ’n buigsame nek. Jy kan dus jou iPod se gesiggie draai dat dit na jou wys, en jy kan dit maklik bykom, as jy byvoorbeeld drie keer ná mekaar na “Groen Koringlande” wil luister. En dan is daar die bonus: die iPod herlaai in die ry.
Die klankgehalte is ook stukke beter. Van die iTrip se krapperigheid is daar nie sprake nie. Dis boonop kinderspeletjies om die RoadTrip te gebruik: Jy druk die skandeerknop en die toestel soek self vir die drie sterkste frekwensies. Jy kies een, druk “Play” en vat die noot saam met Helmut Lotti.
Op die langpad meng daar nou en dan ’n plaaslike radiostasie in met die RoadTrip, maar dis ’n klein lastigheid. Jy druk net die skandeerknoppie en kies ’n ander frekwensie.
Enige klagtes? Die bêrestasie steek soos ’n seer duim hier onder by die paneelbord uit. Ek het ’n paar keer daarteen gekap as ek ratte verwissel het.
Prys: R800 – duur, soos alle iPod-verwante toerusting
Kontak: KNR Flatrock * 011 493 6486; * www.knrflatrock.co.za
Mark sê: Bêre maar daai klein oorproppies en draai die Blaupunkt se volume oop.





















Kommentaar