LA SPORTIVA TIBET. Dié bergklimstewels is net vir mense wat 'n ernstige uitdaging soos die Himalajas wil aanpak.
HI-TEC V-LITE FASTHIKE. Goedkoop, gemaklik en taai.
Ja, jy kan jou paar North Stars uit jou skooldae gaan uitgrawe vir die Otter, maar as jy daai twee trappers van jou wil wys hoeveel jy vir hulle omgee, moet jy die régte stapstewels koop. Mark Johnston gee raad.
HI-TEC V-LITE FASTHIKE
Billik en buigsaam Die Fasthike is laag gesny en van pluisboleer (“nubuck”, leer wat soos fluweel geborsel is) gemaak. Jan en Martie Alleman ken Hi-Tec as bekostigbare skoene wat gemaklik en redelik duursaam is, maar deesdae mik die maatskappy met sy duurder modelle vir die ernstige voetslaanmark. Die V-Lite is glo waterdig en dis inderdaad van duursamer materiale gemaak as die Hi-Tec’s waaraan ons gewoond geraak het.
Die skoen is natuurlik vir die veld bedoel, maar dis darem ook mooi genoeg vir Saterdagoggend se kerkbasaar. Hi-Tec se tegniese mense maak ook groot gewag van die “ruggraat” van die skoen, of die sogenaamde Stabila-flex-steunstuk wat tussen die sool en die sagte binnesool is. Hulle sê dis rigied genoeg om jou voet stabiel te hou oor die klippers, maar ook buigsaam genoeg om gemaklik te wees. Prys: R650 by Cape Union Mart Kontak: 0860 034 000; www.capeunionmart.co.za Weg sê: Lekker vir ’n dagstap of as jou rugsak lig is en jy net een aand gaan oorslaap.
5.10 CAMP FOUR
'n Sool vir klouter
Die grootste voordeel is die Stealth-sole wat van dieselfde rubber gemaak is as dié wat vir rotsklimstewels gebruik word – dit klou behoorlik. Die pakket word afgerond met duursame boleer en ’n spesiale ekstrastabiele “haakvorm”, wat volgens 5.10 dieselfde ondersteuning bied as skoene wat hoër gesny is. Prys: R795 by Mountain Mail Order Kontak: 021 790 6026; www.mountainmailorder.co.za Weg sê: ’n Goeie keuse vir dagstappe en ander maklike roetes.
K-WAY DIABO
Vir 'n beginnerklimmer
Die Diablo is wel ’n intreevlak-stewel, maar dit het ’n paar voetvriendelike eienskappe soos pluisleer en ’n waterdigte membraan. Dis beslis waarde vir geld. Prys: R499 by Cape Union Mart Kontak: 0860 034 000; www.capeunionmart.co.za Weg sê: Die mediumstywe sole is goed vir korter, maklike staproetes, maar as jy baie ver gaan loop op uitdagende paadjies, kry vir jou stewels met meer rigiede sole.
AKU LHASA GTX
Vir 'n dapper stapper
Hierdie Italiaanse stapstewels is verbasend bekostigbaar, al het dit uitstekende Vibram-sole, boleer en Gore-Tex-voering (die meeste stewels wat aan dié vereistes voldoen, sal jou maklik R1 000 of meer uit die sak jaag). Dis lekker sag en lig en jy kan dit op staproetes dra wat oor ’n hele paar dae strek. Prys: R825 by The Cairn Kontak: 021 671 4385; www.thecairn.co.za Weg sê: Die ideale keuse vir plaaslike staptoere, veral in natter en koeler weer.
LA SPORTIVA TIBET
'n Skoen uit een stuk
Nate is op enige stewel die swakplek – dis hoekom La Sportiva sy Tibet-stewels uit ’n enkele stuk taai 2,6 mm-dik pluisleer sny. Die Vibram-sole sal klou en sorg dat jy nie sommer gly nie, terwyl die Gore-Tex-voering jou tone droog en warm sal hou in goor weer. Prys: Sowat R1 900 by uitgesoekte buitelewewinkels Kontak: Outward Ventures 021 683 3638; www.outward.co.za Weg sê: Hierdie bergklimstewels is net vir mense wat ernstige uitdagings soos Kilimandjaro of die Himalajas wil aanpak – dis beslis te warm en swaar vir plaaslike
staptogte.
Vra dié 5 vrae voor jy koop
1. Leer of sinteties?
Vroeër jare was alle stapstewels van leer, maar deesdae is sintetiese materiale gewilder. Die rede? Die sintetiese soort is goedkoper, ligter, sagter en haal makliker asem as leer – én dis makliker om “in te loop”.
Maar daar is een groot nadeel: Dit hou nie naastenby so lank soos leer nie. Jy sal sien – baie gesoute voetslaners haal nog steeds ’n ekstra klompie blare uit vir ’n paar goeie ou koeivelstewels wat gebou is om te hou.
2. Hoog of laag gesny?
As daar nou ’n sakie is wat tot bittere stryd in die normaalweg vredeliewende voetslaangemeenskap kan lei, is dit hierdie ene: Stywe boordjie of oopnek? Hooggesnyde stewels of oop enkels?
Hooggesnyde tradisionele stapstewels is veronderstel om jou enkels én voete behoorlik te ondersteun. Maar baie stappers voel sulke stewels se onbuigsaamheid beperk hulle beweging.
Laaggesnyde stewels het deesdae baie gewilder geword omdat dit soos ’n gewone skoen aan jou voet voel.
Watter een kies jy dus? Dit hang natuurlik af op watse soort pad jy gaan stap: Laaggesnyde stapskoene vir maklike, gelyke paadjies en behoorlike enkelstewels vir ’n moeilike, rowwe paadjies, veral as jy ’n swaar rugsak gaan dra.
3. Sagte of harde sool?
As jy ’n nuwe paar stapskoene koop, buig en draai altyd die sool om te kyk hoe hard dit is. ’n Sagter, buigsamer sool is baie gemakliker, maar ondersteun ook jou voete minder. Dis piekfyn as jy die Walvisroete gaan stap, maar vir rowwer paaie beveel ons ’n harder sool aan.
4. Wat van Gore-Tex?
Gore-Tex is ’n waterdigte materiaal wat lug deurlaat. Dit word meestal vir reënjasse gebruik, maar deesdae ook as voering in stapstewels. Dit maak jou skoene heeltemal waterdig, maar as jy in die somer gaan stap, kan dit ook jou voete warm en sweterig maak en jou mooi, positiewe ingesteldheid verongeluk. Boonop jaag dit die prys op.
Dis ’n blink gedagte as jy Kilimandjaro gaan uitklim, maar onnodig vir die meeste plaaslike staproetes.
5. En vir vroue?
Daar’s gelukkig deesdae geen rede vir vroue om met ongemaklike stewels te sukkel nie. Vervaardigers konsentreer al hoe meer om stewels spesifiek vir vroue se voete, wat oorwegend smaller is, te ontwerp.
Maak toe
Kyk ook na die volgende
Toonbeskerming: As lomp jou tweede naam is of as jy ’n rowwe roete aanpak, kan jy ter wille van ekstra beskerming ’n stewel koop met ’n groter rubberrand om die toongedeelte.
Stikwerk: Wees versigtig vir te veel stikwerk en nate – garing verweer met tyd. Dis ook die plek waar water die maklikste kan deurkom.
Die tong: Koop ’n stewel met ’n ingestikte, geïntegreerde tong of flap. Dit sal help om water, klippies en ander jakkalsies uit te hou.
Die sool: Jy voel dalk soos die kat se snor in moderne stewels met ingeboude sole, maar die nadeel is dat jy dit nie kan hersool as die rubber afgeloop is nie.
Maak toe
Watse skoene verkies ander stappers?
“Ek glo in my Beck-leerstewels. Hulle sole is al ’n bietjie klaar, maar jy kan dit weer versool. Die enigste nadeel van leerskoene is dat jy dit moet oppas, poets en skoon hou. Smeer NixWax aan om dit waterdig te maak. Moenie byewas gebruik nie, die skoene kan dan nie so lekker asenhaal nie.”- Jan Spies
“Ek verkies gewoonlik tekkies. My paar North Face-tekkies met Gore-Tex is gemaklik, lig en haal ook asem. Maar in die winter kies ek my Montrail Torre GTX-stewels. Hulle ondersteun my enkel beter en is waterdig. Moenie sommer die eerste beste stewel koop nie. Handelsmerke se ontwerpe verskil. Die meeste Amerikaanse handelsmerke werk goed vir ’n breë voet. Die Kanadese Salomon gaan weer vir ’n meer smaller voet. So ook Adidas en meeste van die Italiaanse skoene.
“Wees versigtig vir Dubbin. Dit het my stapstewels se leer te sag gemaak. Die skoen het net aanhou rek, van effens knap na te groot. Die stewel het al sy ondersteuning verloor.” - Leon Kriel
“Ek het ’n paar keer met hooggesnyde leerstapstewels gestap en blase so groot soos ou 50c-munte gekry. Sedertdien dra ek gewone tekkies. My Women’s Chameleon Arc Stretch Merrell’s het puik gewerk tot die fyn sand van die Visriviercanyon binne- in die materiaal saamgepak het. Deesdae stap ek met Columbia-tekkies. Die veters torring gou los, maar behalwe daarvoor het ek al die Strandloper, Drakensberge, Jonkershoek, Oorlogskloof en Tafelberg kafgedraf, sonder enige enkelbeserings.” - Esma le Roux
“Ek het lang groottone en sukkel om skoene te kry wat gemaklik pas, maar my La Sportiva Halite GTX sit handskoen-style om my voete.” - Dirk Oberholzer
“Crispi is die enigste stapstewel wat my langer as ’n jaar gehou het. Die enkelondersteuning is uitstekend en die Vibram-sole puik.” - Dawie Verwey
“Maak seker voor jy stewels koop of jy dit kan hersool. My Karrimor KSB-stewels is ongelooflike skoene wat ek al 13 jaar lank dra. Ek het drie keer nuwe sole opgesit.” - Jaco Janse van Rensburg
Kommentaar