Swaziland
Al wat jy nodig het vir ’n lekker besoek aan Swaziland, is ’n paspoort, ’n naweek, en ’n paar rand. Vat jou beursie saam na dié vyf plekke.
Ngwenya glaswerke
By Ngwenya Glass se massiewe fabriek en winkel, skaars 5km van die Oshoek-Ngwenyagrenspos af naby Badplaas, kan jy op ’n balkon langs stap en afkyk na die bedrywighede in die fabriek waar produkte uit herwinde glas gemaak word – van wynglase tot dolfyne, seekoeie en renosters.
Later kan jy van dié produkte in die winkel aanskaf, asook ’n verskeidenheid ander Afrikadekoritems. Behalwe nóg handwerkwinkeltjies, is hier ook ’n koffiewinkel, houtwerkwinkel en sjokolade-ateljee.
Jy kan dus omtrent ál jou Kerspresente hier koop.
As die geld skraps is, pak ’n mandjie en kom hou piekniek in die groot inheemse tuin. Maar koop darem ’n kaart vir die res van jou reis deur Swaziland.
Kontak 00 268 2 442 4053; www.ngwenyaglass.co.sz
Summerfield-oord
Af en toe is dit lekker om te ervaar hoe mense uitspan wat nog ’n Kerskaartjie van hulle bankbestuurder kry. By die Summerfield Luxury Resort & Botanical Gardens kan jy kuier met die mense wat die bank besit.
Hier is jy omring deur ’n botaniese tuin, palmbome, watervalle, poele en ’n swembad wat lyk asof dit op Top Billing hoort. Hier is ook vier restaurante, wat enigiets van ontbyt tot aandete en skemerkelkies bedien – selfs high tea.
As jy moeg is vir pasteitjies by padkafees, kom sit aan by die luukse Palm Cascades-restaurant. Jy sal gaande wees oor die seekos, Thaise en Franse geregte, asook die plaaslike wyne. Maar sorg dat jou beursie bolwang staan...
Kontak 00 268 2 518 4693; www.summerfieldresort.com
Malandela
Dis moeilik om Malandela’s, ongeveer 4km van die dorp Malkerns af, te beskryf, want hier is omtrent iets van alles en ’n ding vir almal.
By Baobab Too! kan jy kyk hoe vroue van Baobab Batik vir jou ’n batik-tafeldoek van was en kleursel maak; by Gone Rural is besonderse geweefde grasmatte en -mandjies, en by Zoggs kan jy jou verlustig aan kleurryke houtartikels wat met die kenmerkende “Zoggs dots” versier is.
As jy klaar gekoop het, ontspan onder die restaurant se rietdakstoep, stap in die botaniese tuin, en slaap oor in die B&B.
Kontak 00 268 528 3982; www.malandelas.com
Foresters Arms
Die Foresters Arms-hotel, sowat 50km van die Oshoek-Ngwenyagrenspos, is in een van die grootste aangeplante woude ter wêreld.
Hier kan jy gaan stap, fiets- of perdry in die woud, of vlieghengel of piekniek hou langs ’n waterval.
En vir die gholfspelers is die Usutu-gholfbaan net langsaan.
Elkeen van die 30 kleurryke kamers het ’n uitsig oor die tuin. Selfs al slaap jy nie hier nie, kom klop gerus aan vir ’n koffie en ’n kuier op die stoep, en kyk hoe ’n miskombers stadig die plaas en woud toevou.
Kontak 00 268 2 467 4177; www.forestersarms.co.za
Swazi Candles
By Swazi Candles, sowat 51km van die Oshoek-Ngwenyagrenspos af, aan die onderkant van die bekende Ezulwinivallei, kan jy deur ’n ou melkstal stap en kyk hoe onder meer skilpad-, uil-, olifant- en renosterkerse binne minute uit kerswas geskep word – met die hand.
Daar is baie handwerkmarkte in Swaziland, maar die een by Swazi Candles is ’n moet.
Buiten die verskeidenheid Swazi-handwerk is die atmosfeer ook besonders: Die uitstallers sit sommer so onder die koeltebome en werk, met die warm Afrikason wat plek-plek deurskyn.
Kontak 00 268 2 528 3219; www.swazicandles.com
terug na groot vyf | Terug na bo
























Kommentaar