Jou knieë leef swaar, maar dis goed vir die gemoed.
Die Amatola-staproete is een van dié voetslaanpaaie in Suid-Afrika. Dié roete van 100 km werk jou sake. Dis ses dae se swaardra oor tallose opdraande, maar die landskap is groen en sag en die uitsigte hoog en wyd. Waterval na waterval stort oor die rotse. In die woude wemel dit van voëls, skoenlappers en sampioene. Esma le Roux en Dawie Verwey maak dié meneer van ’n roete net-net klaar...
“Die Amatola eis sy tol,” spot iemand op dag 4. Seer knieë, blase en heupprobleme dwing vandag vier stappers om ’n rit na die eindpunt by Hogsback te vat. Die oorblywende nege van ons is moeg, maar vasberade om dié bergreeks te oorwin wat soos ’n groot, groen hoefyster tussen King William’s Town en Hogsback lê.
Drie dae gelede het ons groepie mekaar optimisties by Madendam anderkant King William’s Town in die Oos-Kaap ontmoet – twee aptekers, twee dokters, ’n biokinetikus en twee evangeliste is onder andere in ons groep. Met dié kombinasie, het ons gereken, sou ons die berge maklik kafdraf.
Die Xhosa-woord amatola beteken “’n versameling jong kalwers”, maar daar is niks kalfie-agtigs aan dié roete nie. Dis lang ure se stap met ’n swaar rugsak, vroeg opstaan en vroeg gaan slaap. Twee pieke en die drie Hogs van Hogsback moet uitgesweet word. Die Amatola tart jou. Nes jy dink jy’s bo, begin dit reën; sodra jou sak ligter begin word, verdubbel die opdraande. Die roete beloon jou egter met van die mooiste tonele denkbaar.
Ses dae en 100 km later kom jy op Hogsback aan.
Ek laai vir die eerste keer my sak op my skouers en stap effens wankelrig tot by die bord wat sê: Amatola Hiking Trail: Your 100 km adventure starts here.
Ons begin stap.
15,3 kmDag 1Madendam na Gwiligwili-hut
Ons spring weg. Twee keer
Ek steek in my spore vas iewers anderkant die 4 km-merk. Ag, dêmmit! Ek het vergeet om Weg se Condor-bussie by die beginpunt te sluit. Daar is nie ’n ander uitweg nie – ek en die fotograaf Dawie Verwey sal moet omdraai en terugstap na waar die motors staan. Dis ’n ekstra 8 km heen en terug, en dan lê die res van die skof – 11 km – ook nog voor. Ons sit ons rugsakke neer en stap druipstert terug.
My vermoede was reg, die “Kondoor” is oop. Ons begin stap vir ’n tweede keer aan die magtige Amatola.
Die voetpaadjie slinger stroomop al langs die Buffelsrivier, wat rustig oor die klippe vloei. Jy stap onder ’n groen blaredak, op ’n klam blaremat. Die bome het dun stamme en takke wat lyk of hulle enige oomblik om jou been kan draai. Oral sien jy torinkies mis op die grond. Dis glo reuse-erdwurms – tot 2 m lank! – wat so in die grond woeker.
Ons besluit om die kortpad na die eerste oornaghut te vat sodat ons die ander stappers kan inhaal. Plek-plek raak die paadjie yl en moet ons deur die nat varings stoei. Ons klim geleidelik.
Hier is hope watervalle, spinnerakke en voëls. ’n Piet-my-vrou soek sy wyfie luidkeels en die sonbesies skree meedoënloos. Die Knysna-loeries hier is minder skugter en ons sien gereeld die glim van hulle rooi vlerke tussen die boomtoppe.
Hierdie bosse was in die ou dae die werkplek van boskappers. ’n Bordjie dui ’n ou valgeut aan waarlangs J.E. Howse destyds boomstompe vervoer het. Hy het in 1897 die alleenreg gekry om timmerhout in die Pirie-bos te ontgin en het meer as 16 500 bome afgekap. Toentertyd was dit een van die grootste houtkapondernemings in Suider-Afrika.
Ons loop oor ’n stroompie. Ek gaan sit. Ons het lanklaas ’n geel geverfde voetspoor (dis hoe die rigtingwysers hier lyk) gesien. Dit begin reën. Ek sukkel om ’n swart sak oor my rugsak te trek. Ek verlang reeds na ’n fliek en springmielies. En dis maar die eerste dag...
Die opdraandes is nie te erg nie, maar die dekselse swaar rugsak – jy is gelaai met ses dae se kos – maak dat jou spore diep wegsink.
Dan hou die reën op. Die son kom uit en glinster op die nat blare. Die bos is skoon gewas. Takke en stompe lê soos pick-up sticks oor mekaar gestrooi. Ek haal diep asem.
Ons is wraggies eerste by die hut. ’n Uur of wat later kom die agterosse aangestrompel. Die mense is moeg. Omtrent almal het iewers langs die pad verdwaal. Jan Spies, ’n dosent in rekenaarstelsels, sê hy was lus om die bordjie wat ietwat tartend sê “Cheer up, you are almost at the Gwiligwili-hut” om te skop. Kan hulle nie eerder sê hóé ver nie?
“Dit voel asof iemand my omgery het,” kla die evangelis Gerrit Grobler. Sanrie Bekker, ’n student, kom wys haar blase – grotes. Al wat ons op ons kortpad gemis het, was ’n yskoue rotspoel en ’n broodboomwoud.
’n Paar van ons klim die heuwel agter die hut uit vir ’n pragtige uitsig oor die Amatola-bergreeks. Die son gooi ’n pienk skynsel oor die drie Hogs wat ons in die volgende dae moet uitklim.
Die mense eet vanaand baie, want hul sakke móét ligter. Enigiets wat oorbodig lyk, word geëet. Gerrit los ’n blikkie ingelegde vrugte, twee blikkies sardyne, ’n 2 l-waterbottel en 600 g wors.
Net ná nege plof almal op hul beddens neer. Môre lê amper 20 km voor.
Maak toe
19,6 kmDag 2Gwiligwili-hut na Dontsa-hut
Matrasse? Watter matrasse?
Vandag beweeg ons effens vinniger, want ons weet nou ons lywe kan ten minste 16 km oorleef.
Die pad klim tot by ’n uitkykpunt oor die hele Amatola-vallei. Hier bo groei die clivias, agapante en malvas wild. Nou loop ons vir ’n slag in die oopte. Die son bak warm en onder lê die groen valleie van die ou Ciskei. Oral staan klein huisies geverf in pastelkleure, amper soos ’n Lego-landskap. Ons sien twee locals iemand in ’n kruiwa teen die bult af stoot.
Die pad hobbel verby ’n plaat verbrande wattelbome, heel moontlik deel van die regering se projek Werk vir Water. Hier kan jy die selfsugtigheid van uitheemse plante sien. In die wattelbos groei niks; jy hoor ook niks.
Die pad draai weer in by ’n stuk inheemse bos en styg tot by die kruin van ’n 25 meter hoë waterval. Dit is drie-uur, maar in die bos is dit reeds donker.
Ons kronkel tussen dennebome al teen ’n skuinste op. Dontsa-hut is vir wittebroodpaartjies, diep in ’n dennewoud met ’n uitsig oor ’n kloof.
Ek’s eerste in die hut en sien dadelik hier’s nie ’n enkele matras nie. Gerrit, ons geiserdeskundige, rapporteer daar is nie ’n gasbottel nie. Die dokter Honey Ferreira sê die storte het nie water nie. Riaan Olwagen, die ander evangelis, sukkel met die nat hout en dennebolle. Én dit reën.
Ek’s só teleurgesteld ek eet sommer dadelik my hele week se dadelvoorraad op. Die ander begin planne maak om op grondseile op dennenaalde te slaap. Wie’t nou daaraan gedink om ’n grondseil saam te bring?
Dawie stap die bult uit om ’n selfoonsein te soek sodat hy die roete se skakelpersoon, Daki Ngxangane, kan bel. Dis reeds halfses op ’n Saterdagmiddag, maar vandag móét die departement van bosbou uithaal en wys. Later kry Dawie ’n stemboodskap van Daki: “Mattresses on the way. Don’t panic.”
Halfagt hoor ons stemme. Die matrasse is hier! Ek gryp ’n nat matras. Na vele hamba kakuhle’s is die matrasmanne vort.
Ons besluit om môreoggend sesuur te begin stap. Dis so mooi hier en jy wil meer tyd hê vir tuur en swem en nie net die heeltyd voortmarsjeer nie.
Slaaptyd. Salig. Dis lekker om ’n stapper te wees.
Maak toe
18,9 kmDag 3Dontsa-hut na Cata-hut
’n Uitsig van 360°
Dit is die moeite werd om vroeg te begin stap. Jy hoor en sien hoe die bos wakker word. Die voëls sing en die son skyn deur die takke. Die pad klim en sak tussen die bome deur oor klippe tot by nog ’n mooi waterval. Teen ’n rotswand groei sommer ’n hele bos varkblomme.
Ons besluit eenparig hulle moes Lord of the Rings in die Amatolas verfilm het.
Dis ’n paar steil draaie tot wat jý dink heel bo is – maar dan sak die pad weer tot by nog ’n waterval teen die rant van die berg. Die klippe is glad en jy moet jou storie ken met jou swaar sak, want as jy hier gly, val jy ver. Ons staan in die waterval se sproeireën (net om later uit te vind ’n dooie koei lê bo in die stroom).
Ons klouter tot op die plato en saal af op ’n klipplaat in die oopte. Dis ’n grootse uitsig oor die groen landskap. Huisies en rooibruin blokkies landerye lê oral gesprinkel. Jy kan jou kaart op jou skoot oopvou en met jou vinger die kontoere in die lug voor jou trek.
Halfpad op teen Doornkop, ons hoogste piek vir die dag, raak ons die paadjie byster. Jan bestudeer sy kaart en Pieter stap bult op (ek was nie ’n Voortrekker nie; ek wag.) Pieter spoor gelukkig ’n geel voetspoor op. Ons beur op met die heuwel met ’n paadjie wat lanklaas ’n stapper gevoel het.
Ons hou aan met steun en kreun oor klippe tot by die hoogtebaken op Doornkop (1 642 m) van waar jy ’n 360º-uitsig het. Die landskap is oop en sag. Jy wil dit optel en teen jou wang druk soos in ’n Sta Soft-advertensie.
Dan begin daal ons darem ’n bietjie deur ’n bos, waar ons die res by ’n yskoue poel kry. Ons moet besluit: Die moeiliker, korter roete wat verby twee watervalle loop, of die langer, maar makliker tweespoorpad. My hakke pyn. Ek’s moeg. Maar wanneer kom jy weer hier? Ons kies die watervalpad en begin klim weer hoër en hoër in die bos. My spiere voel bewerig. Ek is nie soseer moeg of uitasem nie, maar dit voel of al my krag uit my getap is. Ons klou aan die bome vas. Ons kom af op ’n pragtige waterval wat tot in ’n rotspoel stort en na nog ’n rotspoel verder ondertoe spoel.
Ons stap verder en kry ’n rots waarop “waterval” geskryf staan. Ek het amper nie krag om te gaan kyk nie. Nuuskierig loer ek tog, en sjoe, ’n indrukwekkende vier verdieping hoë waterval troon bo jou uit. Die donker rotswand maak ’n hoek in die berg en die water stroom by die mure af.
Ons klim oor ’n laaste paar rotse voor ons ons hut gewaar wat aan Heidi en haar oupa se huisie herinner.
Dit was ’n lang dag. Ons lywe is seer. By die hut eet ek ’n hand vol lekkers om die bewerasies te laat bedaar. Gelukkig is môre net 14,5 km – kort gemeet aan die Amatola se norme.
Maak toe
14,5 kmDag 4Cata-hut na Mnyameni-hut
Uiteindelik, afdraand
Vandag het ons vir die eerste keer regtig genoeg tyd om die skoonheid van dié moeilike berg te waardeer. Ons stap heel gemaklik en die son sit nog hoog toe ons by die hut aankom. Skoene, klere en sokkies kan ’n slag lekker uitdroog. Ons gooi ’n paar matrasse op die stoep, maak koffie en gesels tot laatnag oor sterre en Orion wat vir party mense eerder soos ’n Checkers-waentjie as ’n antieke kryger lyk.
Ons is nou net nege?? moeë stappers. Vier het vanoggend omgedraai. Die gevreesde Geju-piek (1 880 m) het amper nog ’n paar van ons se moed gebreek. En ons het byna verdwaal – een van daardie verdwaalslae waar jy in jou kop begin bereken hoe lank jy hier in die berge sal kan oorleef op ’n blikkie tuna en ’n pak Provitas.
Maar ons het die geel voetspore weer raakgeloop en die kruin gehaal. Dis vreemd hoe jou gemoed verbeter as jy afdraand loop. Die laaste paar kilometer hierheen was ’n rustige wandeling deur die woud.
By een van die watervalle lê ons op ons rug en kyk hoe die water uit die blou lug oor die kranswande stort.
Dis mos hoekom ’n mens stap, want jy kom op plekke waarheen net jou voete jou kan neem.
Maak toe
18,2 kmDag 5Mnyameni-hut na Zingcuka-hut
Zombies in die bos
Goed, 67 km is agter die rug, maar dit maak nie vandag se 18 km korter nie. By die stroompie waar die ander nie kan hoor nie, sê Gerrit half in ’n fluisterstem: “Hier’s vandag ’n roete direk terug Hogsback toe...”
Sy maag pyn al vir twee dae nadat hy water gedrink het van die stroom waarin die dooie bees gelê het. Gerrit se robleervellies uit Swakopmund begin lostrek en die sool van Albert se een stapskoen word nou al met ’n verband vasgebind.
Ek dink nie meer oor kortpaaie, ontsnaproetes of blase nie. Net oor klaarmaak. Op die hárde manier.
Jy bestyg nogmaals die berg deur die bos. Ek kyk net vir die donker paadjie voor my en volg die ritmiese beweging van my skoene. Vorentoe, dis al. Nou loop die paadjie al langs die Hogsback-berg. Ons klou soos vlooie al teen die flank.
Dan is dit oor die berg en af in ’n vallei, waar ’n paar beeste rustig wei. Ons swem in ’n groot, yskoue rotspoel en lê soos dassies op die warm klippe en bak. Van hier loop die pad al met die Wolfrivier langs verby nog pragtige swempoele en watervalle wat oor ronde bruin rotse stroom.
By die laaste poel eet ons sardientjies en droë beskuitjies. Hier’s ’n waterval wat jou rugspiere lekker bewerk. Ek sit soos ’n lui akkedis op ’n klip en raak amper op my arms aan die slaap.
Ons mik weer boontoe deur ’n leë landskap vol gebrande bome en varings. Ons hou al met die platorand langs en bewonder die landskap uit verskeie hoeke.
Net voor ’n afgrond sit ons op ’n paar rotse en tuur ondertoe. Jy voel lus en gooi jou sak oor die rant na waar die oornaghut doer onder iewers is. Die donderweer begin in die verte roggel.
Die paadjie daal gevaarlik steil by die berg af. Ons strompel oor die rotse tot diep in die bos. Die laaste stukkie loop ons soos zombies. Soek net daai geel voete hut toe.
En skielik maak die bos oop. Net anderkant ’n houtbruggie lê die Zingcuka-hut. “Welcome to your last pitstop,” sê die kennisgewingbord. Ons kan dit amper nie glo nie.
Amper al die lekker kos is teen dié tyd opgeëet. Ons maak deeg aan en braai roosterkoek. Die res eet hulle laaste pakkie tweeminuutnoedels. Ek maak kitspoeding met water aan, maar dié oranje jelliemengsel lyk glad nie goed nie. Ons eet dit nie.
Rondom ons glim die vuurvliegies tussen die bome. Ons gesels terwyl die vuur uitbrand. Môre begin ons vroeg. Die Amatola het een van die hoogste bulte vir laaste gelos – die Hogsback-berg (1 845 m). Daar is drie bosboupaaie waar jy kan uitdraai as jy nie vir die kruin kans sien nie. Ná vyf dae en 85 km het jy nie veel krag oor nie, maar jy het darem nog jou trots.
Kwart oor agt is almal in die bed. Ek gaan slaap met ’n ongemaklike gevoel op my maag. Seker maar senuwees. Dalk omdat ek te veel roosterkoek geëet het.
Maak toe
15 kmDag 6Zingcuka-hut na Hogsback
Uiteindelik, die einde
’n Gedempte stilte heers in die Zingcuka-hut terwyl ons vir die laaste dag inpak. Dis 8 km opdraand sonder enige waterpunte.
Ons stap vinnig, want ons rugsakke is nou lig. Hier en daar spring ons hekkies bo-oor die boomstompe.
Dit begin reën. En die paadjie begin klim teen Hogsback uit. Soos bergbokke klouter ons later skuins-skuins oor die rotse, veby die mooiste fynbos en kleurryke veldblomme. Onder staan twee klein huisies soos Smarties op ’n groot groen koek.
Die voete wys ons moet bo-oor ’n klomp groot rotse beur. Anderkant die rotse staan die voorlopers met hulle poncho’s en wapper soos groot plastieksakke in die wind.
Ons kyk vinnig na die uitsig. Doer onder lê die dorpie. Dis koud en dit reën. Ons stap aan – ook net betyds, want die mis vou toe om ons. Ons klouter handeviervoet oor nog groot rotse. Die paadjie begin swenk uiteindelik ondertoe. Ná ses dae se stap, klouter en gesoek na geel voetspore is ons uiteindelik op pad huis toe.
Natuurlik lê daar nog ’n laaste stukkie bos voor. (Dié einste bosse rondom Hogsback het glo J.R.R. Tolkien geïnspireer om The Hobbit en Lord of the Rings te skryf, vertel die operasanger Gwyneth Lloyd wat al 13 jaar op Hogsback bly.)
Die pad wil net nie end kry nie... en dan meteens kondig ’n groot bord aan: “Congratulations come again”.
Ons is klaar! Ek is die natste wat ek al ooit in my lewe was. Dankie tog vir swart sakke, want anders was my notas onleesbaar.
Ek kyk vir oulaas terug na die berge en kan nie help om te glimlag nie. Die Amatola is een van die uitmergelendste staproetes in die land, maar nou sien jy kans vir enigiets. Kilimandjaro. Die Himalaja. Wie’s bang?
Koebaai, ou grote.
Maak toe
Haal uit en wys
Dié goeters het die dapper stappers deurgedra.
Tuisgemaakte pap Danél Bosman, geleentheidskoördineerder “Ons het ons eie papmengsel gemaak. Jy meng Safari Breakfast Booster, Post Toasties, neute, 2 lepels suiker en 1½ lepel poeiermelk in ’n Ziploc-sakkie. Dan voeg jy soggens net ’n bietjie koue water by. Skud die sakkie en siedaar, jy het ontbyt.
“Ek het ook iewers gehoor jy moet ’n pleister plak sodra jy ’n branderigheid op jou hakke voel – hulle noem dit ’n ‘hot spot’. Ek het sommer uit die staanspoor al my tone toegeplak. Dis nogal moeite, want jy swem gereeld en dan word die pleisters nat. Later het ek net my groottoon toegeplak en hier en daar waar ek ’n branderigheid voel. My skoene was splinternuut en op die ou end het ek nie een blaas gehad nie. Dus, dit het vir my gewerk!”
Slaggereed-slaaie Riaan Olwagen, evangelis
“Werda-slaaie werk vir my. Jy maak dit eenvoudig net oop en dis reg om geëet te word. Én dit proe lekker vars. Jy kry ’n klomp verskillende soorte soos beet, wortel, driebone en pasta. Dis boonop goedkoop.”
Dompelkoffiebeker Dawie Verwey, fotograaf
“Kry ’n ordentlike koffiebeker. As jy hou van goeie koffie – dus nié kitskoffie nie – is ’n dompelkoffiebeker die ding om te hê. Jy skep moerkoffie in, laat staan dit vir twee minute en druk die koppie se dompelaar in... en jy het ’n termosbeker moerkoffie wat lekker lank warm bly. Kry dit by Boardmans.”
Krokodilskoene
Jan Spies, dosent “Ek het ’n stel Crocs-skoene aangeskaf en saamgebring as tweede stel skoene. Dis baie gemaklik, lig, word vinnig droog en stink nie.”
Gee gas
Gerrit Grobler, evangelis
“My Campingaz-gaslampie was ’n wenner. Dit kom in ’n oulike plastiekhouertjie. Jy prop dit in ’n gasbom en dan het almal elke aand lig en hoef jy nie die heeltyd met koplampies te sukkel nie.”
Kurkdroog Albert Wessels, apteker
“My kamaste het uitstekend gewerk. Dit hou klippies, grond en gras uit my sokkies. Dit het my skoene in die nat bos droog gehou. En dit kan ook jou arms teen sonbrand beskerm.”
Stapstok
Chel-Marí Spies, dosent
“My stapstok het regtig gehelp vir balans, veral teen die opdraandes. Die ‘derde voet’ is baie handig, veral as jy oor klippe moet stap.”
Maak toe
Lesse geleer
Die probleme van die vier stappers wat teëspoed gekry het, het op dieselfde plek begin: by hulle voete.
Die regte skoene
Joanne Wahl, radiografis
“Ek sal volgende keer tekkies dra wat geskik is vir alle terreine – stapskoene waarin jy al 20 jaar gelewe het.”
Sandale vir slof
Sanri Bekker, student
“Ek sou ander skoene gedra het. Ek het my stapskoene reeds ses maande gehad, maar dit was helaas nie lank genoeg nie. Ek sou ook sandale, soos Rockies, saamgeneem het.”
Oefen voor die tyd
Natalie Ferreira, biokinetikus
“My knieë het opgepak en my voete het krampe gekry. Ek sou my amfibiese Salomon-tekkies van die eerste dag af gedra het. Ek sou ook meer knie-oefeninge gedoen het voor die groot stap.”
Twee pare skoene
André Joubert, apteker
“Ek sou beslis sandale of skoene soos Rockies saamgevat het en dit afwissel, want as jy ’n blaas kry, kan jy ten minste skoene omruil.”
Maak toe
Weg! se wenke
Amatola 101
Weg se stappers deel die lesse wat hulle op die harde manier geleer het.
Wees fiks. As jy dié roete wil geniet, moet jy redelik fiks wees en jou kop moet gereed wees vir ver stap en swaar dra. Pak ’n paar klippe in jou rugsak en klim die bult voor jou huis ’n paar keer uit. Besluit of dié gevoel ses dae lank vir jou sal lekker wees.
Die skoen móét pas. Die Amatola is nie ’n roete waarop jy jou skoene moet inloop nie. Jy en jou stewels moet reeds troetelnaampies vir mekaar hê.
Pak lig. Jy moet kies: Dra swaar en eet lekker óf dra lig(ter) en eet beskeie. Pak elke dag se kos in ’n afsonderlike Ziploc-sakkie, sodat jy jou nie uit wanhoop op dag 2 aan kos vergryp nie.
Pak in ’n bak. Verpak jou vars kos sodat dit nie kneus nie. Gebruik ’n leë tweeliter-roomysbak.
Doen ’n proeflopie. Toets al die etes en koskombinasies voor jy gaan stap.
Deurmekaar lekkers. Koop verskillende pakkies sagte lekkers (bv. Liquorice Allsorts, Sugus en jelliebone), meng alles en verpak dit in afsonderlike sakkies vir elke dag. Bêre dit waar jy dit bedags maklik uit jou rugsak kan haal.
Onthou die biltong. Sowat 60 g se droëwors of biltong pas net mooi in ’n banksakkie.
Stap vroeg. Die roete is pragtig, maar omdat jy elke dag so ver moet stap, is daar nie altyd genoeg tyd om alles te geniet nie. Spring vroeg soggens weg sodat jy langs die pad kan uitspan en swem.
Bosluise. Kyk elke aand vir bosluise. Hulle is volop.
Kringetjies in die bos. Die Amatola is pragtig. Indien jy nie kans sien vir die hele 100 km nie, is daar ook verskeie tweedag-sirkelroetes en korter moontlikhede.
Maak toe
Stappersresep
Hier is ’n maklike resep vir twee porsies spaghetti bolognaise – net die dis om jou ’n bietjie woema te gee ná ’n paar dae se moeilike voetslaan.
1. Droog jou maalvleis tuis
Maak 200 tot 300 g maalvleis gaar met net sout.
Strooi die maalvleis op ’n bakplaat en droog dit in die oond teen 100 ºC.
Roer dit gereeld.
As dit ná omtrent 60 tot 90 min. soos grond lyk, is dit reg. (As dit soos grond proe, praat met jou slagter. – Red.)
Verpak die maalvleis in ’n Ziploc-sakkie en dra dit saam op jou staptog.
2. Dít het jy nodig by die oornaghut
jou sakkie met gedroogde maalvleis
½ blik tamatie-en-uiesmoor
¼ groen soetrissie, fyngekap
2 teelepels blatjang
speserye na smaak (bv. 1 teelepel gemengde kruie, 1teelepel origanum en ½ teelepel knoffelsout)
3. Maak jou aandete só
Rehidreer die maalvleis (dit sal 200 g se maalvleis lewer). Gooi die water af en maak die vleis warm in ’n potjie. Maak die spaghetti in ’n afsonderlike potjie gaar (volgraanspaghetti word gouer gaar). Voeg die res van die bestanddele by die maalvleis. Eet warm met kaas bo-oor.
* Resep verskaf deur Chel-Marí Spies
Maak toe
Wat eet ’n mens?
Wat pak jy in as jy kos vir ses dae moet saamdra?
Chel-Marí Spies wys hoe lyk haar spyskaart.
Dag 1 “Gewoonlik is die eerste dag se skof nie so lank nie, omdat die meeste stappers eers tot by die vertrekpunt moet ry. Jy kan dus “swaar” kos – braaivleis, deeg, vars vrugte en groente – op hierdie korter skof saamdra sodat jy die eerste aand lekker eet.” Ontbyt: Kitshawermout-ontbytpap: ’n boks Bokomo Instant Oats met 10 sakkies kos R18. Middagete: 1 sakkie John West-tuna. Smeer dit op ’n paar beskuitjies (soos Provita). Knorr Cup-a-Snack-sop (R5) met noedels het ’n bietjie meer om die lyf as gewone sop. “Dit proe lekker en is vinnig en maklik om te maak. Jy maak ook nie juis goed vuil in die proses nie.” Aandete: Braaivleis (vakuumverpak), sous (Royco se rooiwyn-en-knoffel), 1 patat (gaargemaak in foelie in die vuur), vla en droëvrugte. “Maak Moir’s se kitsvla aan met water en kook die droëvrugte tot dit sag is.”
Dag 2
“Wissel miskien die kitshawermout met ProNutro af. Meng ongeveer vyf lepels Pronutro met suiker en poeiermelk in ’n Ziploc-sakkie by die huis.” Ontbyt: ProNutro. Middagete: 1 pakkie Maggi-tweeminuutnoedels (R1,90). Beskuitjies met salami. “Bêre die salami in ’n lugdigte houer. Dit hou maklik 5 dae. Koop ’n pakkie geprosesseerde kaasskywe (Parmalat, Dairybelle of Melrose) vir R13. Elke pakkie het 12 kaasskywe wat individueel verseël is. Dit bly dus vars.” Aandete: Vakuumverpak beesfilette in ’n marinade. “Die marinade werk amper soos ’n preserveermiddel. Kies ’n snit sonder ’n been, want die skerp punt kan ’n gaatjie in die sakkie maak en dan is jou hele rugsak vol sous. Die been is in elk geval net ekstra gewig. Sit die vleis voor saam met Royco se Thai-soetrissiesous en ’n mielie (gaargemaak in foelie in die vuur).
“Moir’s se kitspoeding met melkpoeier is ’n lekker nagereg. Meng die kitspoeier met genoeg melkpoeier in ’n Ziploc-sakkie by die huis.”
Dag 3
“Kan jy nie sonder jou stukkie vleis in die aand nie? Vakuumverpak dit, vries dit en draai dit toe in koerantpapier. Indien die dae nie té warm is nie, behoort jou tjoppie of steak teen dag drie nog eetbaar te wees.” Ontbyt: Kitshawermout. Middagete: 1 sakkie John West-tuna met beskuitjies, 1 kaasskyf, tamatie. Aandete: Braaivleis (vakuumverpak), sous (Royco se rooiwyn-en-knoffel) en Smash-kapokaartappels. Soek die kleiner 52 g-sakkie Smash-kapokaartappels. Dis net genoeg vir een mens.”
Dag 4
“Ek het al stappers gesien vleis eet op die vierde aand (én selfs vyfde!), maar as jy wil veilig speel, maak gedroogde maalvleis by die huis (sien resep op bl. x).” Ontbyt: ProNutro. Middagete: John West-tuna met beskuitjies, Cup-a-Snack. Aandete: Spaghetti bolognaise.
Dag 5
“Moeg vir pap in die oggend? Wissel dit af met beskuit.” Ontbyt: Beskuit. Middagete: Tweeminuutnoedels, beskuitjies met salami en 1 kaasskyf. Aandete: Spaghetti bolognaise.
Dag 6
“John West tuna-sakkies kos R7,60 en is lekker genoeg om ook by die huis te eet. Dis in ’n ligte foeliesakkie in ’n verskeidenheid heerlike geure – sonneblomolie, oondgedroogde tamatie, lemmetjie en swartpeper, Franse slaaisous (my gunsteling!) en Thai-soetrissiesous.” Ontbyt: ProNutro. Middagete: John West tuna-sakkie, 1 kaasskyf, beskuitjies. Aandete: “Jy’s klaar gestap. Vergryp jou aan ’n pizza met álles op.”
Maak toe
Waar? Wat? Hoeveel?
Hoeveel kos dit?
R150 per persoon vir ses dae of R30 per nag.
Besprekings? Daki Ngxangane by 043 642 2571 of amatolhk@dwaf.gov.za. Daar is plek vir 16 mense. Bespreek sowat ’n maand vooruit om veilig te wees.
Waar?
Die roete begin by Madendam, 23 km van King William’s Town af en eindig 3 km van Hogsback af. Jy kan vervoer reël met John Tidy by 045 962 1033. Hy sal jou kom haal en terugneem na jou motor teen R70 per persoon. Hy is ook die een wat jou kom oppik as jy nie meer kan aangaan nie. Daar is verskeie “ontsnaproetes” indien iemand in julle stapgroep ’n besering opdoen of net keelvol is.
Geriewe? Jy kry net die basiese dinge, maar die geriewe word tans opgeknap. By die meeste hutte is daar storte, geisers vir warm water en spoeltoilette, maar dit werk nie altyd nie. Daar is egter oral lopende water (behalwe by die Mnyameni-hut, maar daar is ’n stroompie langs die hut) en longdrops – altyd ’n ou staatmaker.
Waar bly ek?
Jy kan op King William’s Town of Hogsback bly of by Madendam kampeer. Bel Buffalo City-toerisme by 043 722 6015 of Hogsback-toerisme by 045 962 1326. Jy kan mev. Robinson by 040 656 7744 bel as jy wil kampeer.
Is daar enige terugvoering van stappers wat in 2011 Amatola gestap het? Ek hoor dat die roete blykbaar baie sleg is op die oomblik. Sal graag enige terugvoering waardeer.
Gelewer op 10 Februarie 2011 | 13:21:11
Ons gaan weer die Amatola stap en begin 27 Maart 2011 en kort nog mense om saam te gaan. Dit is ons tweede keer dat ons die roete aanpak en sal u meer volledig kan inlig na die tweede stap. Maar soos u sê die berg verdra mens net. Dit is 'n tawwe een en soos 'n Echo Challenge. Ek moet sê die watervalle is byna net te veel en net te mooi. Ek stem saam, moet nie kortpad vat, mens mis teveel. Ja ons het ook vir die tweede keer by Dake R678.50 betaal en ons gaan by The Edge in Hocgsback bly voordat ons die volgende dag met die shuttle geneem word na Maiden dam. Ons pak gewoonlik net genoeg in om te eet en braai gewoonlik die eerste 3 aande lekker vars vleis wat vakuum verpak is. Ons slegste ervaring was ook die mooiste hut Mnyameni wat nie so skoon was nie. Vorige stappers het dit baie verniel. Die lekkerste is in die aande die warm stort en die manne weet hoe om vrouens te bederf. Op die web van die Amatola is nog die ou hutte en ek sal graag wil dat hul die mooi nuwe hutte moet opdateer. So wie ook al lus is om einde maart in die skoolvakansie saam te stap laat weet asseblief. Ons is regtig mense wat die lewe geniet, nie drink en sommer in die rivier ook bad as dit moet. kleynhans@ohs.dorea.co.za of kontak Harrismith Gastehuis Alet 058-6222875
Hierdie artikel het ek BAIE geniet. Ek het al baie artikels oor die Amatola gelees deur die jare - hierdie een is volledig en gee die leser 'n goeie insig van wat op hom wag.
Ons (my vrou en ek) se eerste Amatola het ons gedoen in 1992 en hy het in ons bloed gaan sit - vir ons is dit MEER as net 'n roete - dit was vir ons 'n lewensveranderingservaring!! - in al sy buie - en daar was BAIE - het ons hom ervaar en al die opsies gedoen wat dit bied - een ding is seker - die Amatola sal jy nooit "oorwin" nie - hy verdra jou net.
Net 'n opmerking - die skrywer sê - die eerste dag nadat die "Kondoor" toe gaan sluit is - het die 2 van hulle die kortpad gevat en eerste by Gwili-hut aangekom en
"Al wat ons op ons kortpad gemis het, was ’n yskoue rotspoel en ’n broodboomwoud." - NEE - dis nie AL wat u gemis het nie - wat u eintlik gemis het, is DIT wat die 1ste dag EINTLIK "maak" - McNaughtanskrans - en bitter baie sweet daarna - as mens die 1ste dag die kortpad neem, wat eintlik daar is vir 'n noodsituasie, dan het u nie die ware Amatola in sy geheel ervaar nie!!
Ek bedoel dit nie as kritiek nie - net 'n "observasie"!
Sommige reken die Naukluft roete in Namibië is die moeilikste roete in Suidelike Afrika - ons eie ervaring is dat die Amatola se moeilikheidsgraad hoër is - Naukluft gedoen in 2007 en die jongste Amatola in Sept/Okt 2008 - 12 keer al het ons hierdie "moeder van alle roetes" gedoen en steeds verdra hy ons net.
Baie dankie vir 'n lekker-lees artikel - het dit baie geniet.
Ek sou graag wou weet wanneer die groep dit gedoen het, want ek sien die tarief word gegee as R30/persoon/nag - ons het in Sept 08 (by Daki, na wie verwys word) R 137.50/persoon/nag betaal - 'n totaal van R 678.50 per persoon vir die roete.???????
Groete
Andrè Wheeler
andwhe@mweb.co.za
Kommentaar