Aan die Wildekus bring teerpaaie jou net so ver. Ja, die N2 is in ’n skaflike toestand, maar daaruit loop net ’n hand vol bedenklike grondpaadjies en ’n stamperige teerpad of twee kus se kant toe. Kortom: Sonder ’n 4x4 gaan jy nie veel van die Wildekus sien nie. Te voet is dit egter ’n heel ander storie, want as jy stap, is daar niks tussen jou en die klassieke Wildekustonele nie: Golwende groen heuwels met ’n hut hier en daar, woeste branders wat teen die rotse breek, en beeste wat op die strand lê en herkou.
Die Wildekus het baie verskillende staproetes, maar die Pondolandroete van 70km (oor vyf dae) tussen die Msikaba-rivier in die noorde en Port St. Johns verder suid, is ’n móétdoenroete. Hoekom? Wel, eerstens is daar die ongerepte omgewing: Jy stap heeltyd langs die mees afgeleë deel van die Wildekus, hier is nie juis mense nie, en jy stap net verby een enkele dorpie – Mbotyi. Wat hier wel is, is soveel natuurskoon dat jou oë later pyn, ’n paar skeepswrakke, en ’n waterval wat reguit in die see stort. Tweedens is daar hóé jy stap.
Ek weet, ek weet, 70km klink vrekver (en 8-19km per dag ís ver vir die meeste van ons), maar jy sal nie op die eerste dag al omkap nie (miskien eers op dag drie...). Dís hoekom: As jy dit so verkies, word jou bagasie aangery, jou etes word vir jou gemaak (dink maar aan kreefstertkelkies, braaivleis, hoenderkerrie...), jy slaap elke aand in ’n netjiese permanente tent met warm water én ’n spoeltoilet (die tweede aand slaap jy selfs in ’n driesterlodge), en ’n kundige gids stap heelpad saam. As jy nog nie oortuig is nie, of as jou enigste oefening is om met ’n KFC-barrel onder die arm kar toe te loop, blaai om, en stap saam met jou oë.
16 kmDag 1
Die eerste aand oornag stappers by Drifters se Msikaba-rivierkamp. Jy kan ook op die gelyknamige rivier gaan roei – dis gratis.
Ná sowat 6kmse stap op dag een kry jy dié tonnel waarmee die Grosvenor-goudstaafsindikaat die skeepswrak probeer bereik het.
Die roete begin digby die Mkambatinatuurreservaat, en as jy nog skrikkerig is, wees gerus: Dit sigsag meestal oor plat grasvlaktes met die see aan jou linkerkant – ’n rustige voorwoord.
Hoe lank stap ek?
Omtrent ses uur, maar ons groep was nie almal ewe fiks nie – allermins ek! – en ons het dit baie rustig gevat.
Wat kan ek verwag?
Die enigste noemenswaardige hindernisse is die Mkweni- en Luphuthanarivier. Ons het sommer op die rotse oorgehop, maar as dit hooggety is of die rivier kom af, gaan dit veel moeiliker wees.
Later stap jy verby die plek waar die Grosvenor in 1782 vergaan het. Ongelukkig sien jy nie die wrak nie – dié is op die seebodem – maar wel die tonnel waarmee ’n sindikaat in die jare twintig probeer het om van die strand by die wrak uit te kom.
Die skip het blykbaar ’n ongelooflike skat aan boord gehad, en planne is beraam om by die wrak uit te kom, onder meer ’n tonnel deur die sand (dit het omtrent so goed gegaan as wat jy dink). Daar is net twee kanonne en ’n paar munte gekry – sover ons weet...
Hoogtepunt?
Daar is soveel stories rondom die Grosvenor dat ek skaars kon glo ek staan op dieselfde plek waar die skipbreukelinge aan wal gestrompel het. My verbeelding het behoorlik op loop gegaan. By die Mkwenirivier, sowat 12km se stap van die wegspring af, is dit groen en die koue water is ’n natuurlike voetspa vir moeë voete.
Die lang stap suid.
Van die 150 mense aan boord van die Grosvenor het 136 vaste grond bereik. Hulle het kuslangs gestap na vandag se Port Elizabeth-omgewing – meer as 400km! Ná drie maande het net ses mense dit tot daar gemaak. In ’n latere reddingsekspedisie is nog net 12 ander skipbreukelinge gevind.
Maak toe
20 kmDag 2
Die landskap op die Pondolandroete verskil dramaties: van golwende heuwels (soos hier, net ná Cathedral Rock) tot strande en amperse woude.
Op dag twee laat die uitsigte ’n mens sonder woorde. Ná Waterfall Bluff (oorkantste blad) kom ’n mens by Cathedral Rock. Hou jou kamera gereed.
Vandag is die langste dag, maar ook een van die mooistes, want jy doen nie net Waterfall Bluff en die Cathedral Rock-formasie aan nie, maar stap ook ver ente strandlangs.
Hoe lank stap ek?
Ongeveer 7 uur (hier is baie fotogeleenthede).
Wat kan ek verwag?
Die terrein is uiteenlopend – jy stap hoog bo-op die kranse, oor grasbedekte heuwels, deur woude én langs spierwit strande.
Hoogtepunte?
Heelwat – ná sowat ’n uur stap jy ’n paar honderd meter af see toe en dan onderdeur ’n groot rotsoorhang tot by die legendariese Waterfall Bluff, een van die min watervalle ter wêreld wat direk in die see stort.
Net sowat ’n kilometer verder woel die branders om Cathedral Rock, wat lyk soos die Vingerklip gekruis met Hole-in-the-Wall. Twee grotes op een dag – lekker. Maar die hoogtepunt was om beeste op die strand te sien – as jy nou die Wildekus in een toneel moet opsom, sal dit dié strandherkouers wees.
En dan is daar boonop ’n driegangete en slaap in ’n regte bed in die Mbotyi River Lodge waarna jy kan uitsien. Glad nie ’n slegte dag nie, of hoe?
Braaivleisfeit.
Volgens Bongani Mlotywa, een van ons gidse, hou die beeste op die strand nie vakansie nie, maar vlug van bosluise, want bosluise hou nie van soutwater nie.
O, die pyn!
Op die tweede dag het komplikasies kop uitgesteek: Blase het byna Yvonne, ’n medestapper, se moed gebreek, en my binneboude het so geskaaf dat ek elke vyf minute moes stop om Vaseline te smeer. Ek het later ’n spanoefenbroek aangetrek – dit het gewerk soos ’n droom (al het ek soos ’n oorgewig Body Beat-aanbieder gelyk).
Maak toe
10 kmDag 3
Op die roete stap ’n mens deur Mbotyi, wat “plek van boontjies” beteken. Dis so genoem omdat dié gewas goed groei in dié geweste.
Frank Stevens, een van die stappers, hou sy pakkaas droog deur die Mzintlavarivier, net voor die oornagplek op dag drie.
Ná gister se marathonskof klink vandag se 10km so maklik soos val uit ’n boom, maar daar is wel die klein kwessie van die steilste heuwel op die staproete wat jy moet baasraak – Mount Neverest...
Hoe lank stap ek?
Sowat 4 uur.
Wat kan ek verwag?
Vroegoggend stap jy eers saam met kinders op pad skool toe deur Mbotyi, tot die paadjie jou weer see toe vat.
Die res van die dag wissel tussen strandlangs stap en heuwels tem. Jy steek ook die Mzintlavarivier oor – as dit laag genoeg is, stap jy deur, anders is hier kano’s vir oorroei.
Hoogtepunte?
Naby die driekwartmerk stap jy op die rug van ’n heuwel langs ’n woud wat ruier is as Magnum se borshare – hier gaan jy nie ver kom sonder ’n panga nie. Volgens Bongani is dit ’n ongeskonde woud, wat beteken niemand het nog daardeur gestap nie. Of dit waar is of nie, dis ongelooflik om te dink daar is dalk plekke in Suid-Afrika waar mense nog nie was nie.
Laagtepunt?
Frank en Hettie Stevens, twee van die nege mense in ons groep, het tussen hulle die Comrades al 33 keer klaargemaak. As jy wil weet presies hoe onfiks jy is, gaan stap ’n bietjie saam met hulle. My ego het nou nog nie herstel nie.
Bosluisbeheer 101.
Kyk deurentyd of daar nie ’n bosluis iewers op jou sit en bloed suig nie. Ons het wel bosluisweermiddel gekry (wat vir perde en honde gebruik word...), maar behalwe dat dit glad nie lekker ruik nie, het bosluiskoors my tog ’n week later by die huis platgetrek.
Die bôgghers sit graag onder kouse ook; moet dus nie vergeet om daar te loer nie.
Maak toe
8 kmDag 4
Dié heuwel, net voor die oornagpunt op dag vier, is ’n vulletjie teen van die ander op die roete. As ’n heuwel jou onderkry, stap in ’n sigsagpatroon. Teen afdraandes keer dit dat jy te vinnig stap, en opdraandes voel minder steil. Onthou ook om gereeld water te drink.
Sowat 3 km voordat jy op dag vier by jou oornagplek vir die aand, Ntafufu, kom, moet jy eers oor ’n paar rotse klouter. Maar hou moed, want jou beloning is dié uitsig. Wees bedagsaam en staan ’n bietjie uit die pad as jy by ’n mooi uitkykpunt soos hier wil foto’s neem – jy is nie die enigste stapper nie.
Vandag is die kortste skof, maar ook een van die opwindendstes. Omdat dit so ’n kort afstand is, het ons nie juis lang stoppe gehad nie.
Hoe lank stap ek?
Sowat 4 uur.
Wat kan ek verwag?
Jy stap die grootste deel van die dag op uitgetrapte beespaadjies aan die seekant van die heuwels (hou jou oë oop vir dolfyne – ons het ’n hele paar skole gesien).
Die laaste sowat 2km klouter jy oor rotse op die strand. Dis uitdagend, maar vet pret. As die gety te hoog is, of as die kloutery jou nie aanstaan nie, kan jy binneland om stap. Net voor jy by die oornagplek kom, moet jy die Ntafufurivier oorsteek. Hier is kano’s waarin jy kan oorroei as die stroom te sterk is om deur te stap.
Hoogtepunte?
Op die laaste 2km moet jy in ’n stadium oor ’n gaping van 1m breed spring – as jy nie oorkom nie, val jy 5m ver... Ek het my hoogtevrees gesluk, gespring, en ’n beter (en verligte) mens aan die ander kant geland.
Haal uit die kamera!
Net nadat jy oor die skeur hierbo gespring het, en net voor jy weer afsak strand toe, het jy ’n ononderbroke uitsig op die rotsagtige kuslyn tot by die laaste oornagplek. Laat iemand jou afneem terwyl jy hier staan en soos sir David Attenborough oor die see uittuur (dit sal ’n lekker Facebookprofielfoto maak).
’n Wenk wat werk.
Yvonne se staptog is amper totaal geruïneer deur blase. Iets wat jy wel kan probeer om blase teë te werk, is die volgende: Trek sykouse onder jou kouse aan. Jy gaan waarskynlik soos ’n kerksuster voel, maar dit maak die wrywing tussen jou voet en jou skoen minder.
Maak toe
14 kmDag 5
Net voordat jou staptog klaar is, moet jy die Mzimvuburivier oor – per pont. volgens t.v. Bulpin se Discovering South Africa beteken Mzimvubu “plek van seekoeie”.
Die einde is in sig! Maar voordat jy ’n welverdiende bier in Port St. Johns kan drink, wag daar vir oulaas ’n taai heuwel en twee riviere waar jy moet deur of oor.
Hoe lank stap ek?
Sowat 6 uur.
Wat kan ek verwag?
Jy loop weer al langs uitgetrapte voetpaadjies en strandlangs, onder meer verby ’n grot waar die Khoi glo toentertyd oornag het. Net voor Poenskopheuwel moet jy oor die Mkoduswenirivier – ons kon deur, al was die water tot by die middellyf. Maar voor jy hiér kan deur, moet jy eers ’n taai stukkie klim, maar dis die moeite werd: Van heel bo af kan jy al die pad terug sien tot waar die staptog begin het. ’n Mens voel dan nogal trots op jouself. By die Mzimvuburivier voor Port St. Johns is daar ’n pont wat jou oor die rivier neem (R10p.p.) Die pont loop nie altyd nie – dan moet jy ’n ekstra 3km aflê en padlangs stap, oor die brug, tot by Port St. Johns.
Hoogtepunte?
Die pont oor die Mzimvubu is ’n ware Transkei-belewenis. Die woord “pont” laat jou aan iets groots dink, maar dis net ’n jong man met sterk arms wat jou en ’n paar ander op ’n bootjie oor die rivier roei.
Boereverneukery.
Min dinge suig die pret uit stap soos natwees, en op ons laaste dag het dit heeltyd met tussenposes gereën. Toe ek en Judy dus op die laaste paar kilometer voor die pont oor die Mzimvubu ’n saamrygeleentheid agterop op ’n bakkie aangebied is, het ons dit sonder skroom aanvaar. Moet ek skuldig voel? Dalk, maar ek doen nie.
Maak toe
Weet voor jy waai
Hoe werk die staptog?
Stappers kom gewoonlik die dag voordat hulle wegspring, op Port St. Johns bymekaar, van waar ’n bussie hulle na die begin neem. Maar jy kan die roete ook andersom stap, of net drie dae daarvan doen. Jy kan ook jou eie bagasie dra en self kosmaak.
Waar los ek my kar?
By die Outspan Inn op Port St. Johns (R25 p.n.). 047 564 1057
Beste tyd om te gaan stap?
Herfs of lente – tussen die winterkoue en die somerreëns – is die beste.
Wat dra ek?
Net ’n dagsak (as jy dit so verkies), want die res van jou bagasie word aangery.
Pak elke dag genoeg drinkgoed (minstens een liter per persoon), versnaperinge, swemklere, ’n handdoek of sarong, sonroom, ’n hoed, ’n warm top, ’n poncho en kamera. Pak ook noodhulpgoeters soos pleisters, verbande, pynpille en iets vir ’n omgekrapte maag.
Hoe lyk die oornagplekke?
Buiten die Mbotyirivierlodge (’n propperse hotel, met vars linne, ’n swembad, kroeg en restaurant; www.mbotyi.co.za), het ons elke aand in een van Drifters se kampe geslaap. Elke permanente tent het twee enkelbeddens (sonder beddegoed; pak dus jou eie). Die kampe het sonkrag, warm water en ’n volledig toegeruste gemeenskaplike kombuis.
Wat eet ek?
As jy nie self kosmaak nie, kry jy elke dag ’n kospakkie met toebroodjies, jogurt, ’n sappie en ’n pakkie Super C’s – jy kan kies op watter dae jy dit wil hê. Ontbyt is meestal muesli en jogurt, en vir aandete kan jy uitsien na ’n ordentlike bord kos.
Prys
Alle etes ingesluit: R5995 p.p. vir minstens 2 stappers (dit raak goedkoper hoe meer mense saamstap).
Jy kan die roete in gewone tekkies stap – ek het – maar stapskoene wat jou enkels ondersteun, is ’n goeie idee, veral op die voetpaadjies en waar jy oor rotse moet klouter.
Dra ’n dagrugsak wat jou rug toelaat om“asem te haal” – ’n gespande gaaslaag of dikker skouerbande druk die sak weg van jou rug af sodat lug deurbeweeg.
’n Stapstok is nuttig, veral op afdraandes waar dit dien as ’n ekstra been. Maak net seker hy is lig – ’n swaar stok gaan jy beslis iewers langs die pad“vergeet”.
Op die laaste dag het dit erg gereën, en weens die modderige paaie het ons bagasie amper nie by ons uitgekom nie. Bespreek dus eerder verblyf in Port St. Johns vir die laaste aand. Ons het gebly in die Wild Coast Kitchen (vanaf R350p.p.p.n.) Bespreek vooraf as jy daar wil eet (vra vir die steak wat ín die kole gebraai word). 083 395 4604
Kommentaar