Pondoland


zoommore

Aan die Wildekus bring teerpaaie jou net so ver. Ja, die N2 is in ’n skaflike toestand, maar daaruit loop net ’n hand vol bedenklike grondpaadjies en ’n stamperige teerpad of twee kus se kant toe. Kortom: Sonder ’n 4x4 gaan jy nie veel van die Wildekus sien nie. Te voet is dit egter ’n heel ander storie, want as jy stap, is daar niks tussen jou en die klassieke Wildekustonele nie: Golwende groen heuwels met ’n hut hier en daar, woeste branders wat teen die rotse breek, en beeste wat op die strand lê en herkou.

Die Wildekus het baie verskillende staproetes, maar die Pondolandroete van 70km (oor vyf dae) tussen die Msikaba-rivier in die noorde en Port St. Johns verder suid, is ’n móétdoenroete. Hoekom? Wel, eerstens is daar die ongerepte omgewing: Jy stap heeltyd langs die mees afgeleë deel van die Wildekus, hier is nie juis mense nie, en jy stap net verby een enkele dorpie – Mbotyi. Wat hier wel is, is soveel natuurskoon dat jou oë later pyn, ’n paar skeepswrakke, en ’n waterval wat reguit in die see stort. Tweedens is daar hóé jy stap.

Ek weet, ek weet, 70km klink vrekver (en 8-19km per dag ís ver vir die meeste van ons), maar jy sal nie op die eerste dag al omkap nie (miskien eers op dag drie...). Dís hoekom: As jy dit so verkies, word jou bagasie aangery, jou etes word vir jou gemaak (dink maar aan kreefstertkelkies, braaivleis, hoenderkerrie...), jy slaap elke aand in ’n netjiese permanente tent met warm water én ’n spoeltoilet (die tweede aand slaap jy selfs in ’n driesterlodge), en ’n kundige gids stap heelpad saam. As jy nog nie oortuig is nie, of as jou enigste oefening is om met ’n KFC-barrel onder die arm kar toe te loop, blaai om, en stap saam met jou oë.

Weet voor jy waai
 

Hoe werk die staptog?
Stappers kom gewoonlik die dag voordat hulle wegspring, op Port St. Johns bymekaar, van waar ’n bussie hulle na die begin neem. Maar jy kan die roete ook andersom stap, of net drie dae daarvan doen. Jy kan ook jou eie bagasie dra en self kosmaak.

Waar los ek my kar?
By die Outspan Inn op Port St. Johns (R25 p.n.). 047 564 1057

Beste tyd om te gaan stap?
Herfs of lente – tussen die winterkoue en die somerreëns – is die beste.

Wat dra ek?
Net ’n dagsak (as jy dit so verkies), want die res van jou bagasie word aangery.
Pak elke dag genoeg drinkgoed (minstens een liter per persoon), versnaperinge, swemklere, ’n handdoek of sarong, sonroom, ’n hoed, ’n warm top, ’n poncho en kamera. Pak ook noodhulpgoeters soos pleisters, verbande, pynpille en iets vir ’n omgekrapte maag.

Hoe lyk die oornagplekke?
Buiten die Mbotyirivierlodge (’n propperse hotel, met vars linne, ’n swembad, kroeg en restaurant; www.mbotyi.co.za), het ons elke aand in een van Drifters se kampe geslaap. Elke permanente tent het twee enkelbeddens (sonder beddegoed; pak dus jou eie). Die kampe het sonkrag, warm water en ’n volledig toegeruste gemeenskaplike kombuis.

Wat eet ek?
As jy nie self kosmaak nie, kry jy elke dag ’n kospakkie met toebroodjies, jogurt, ’n sappie en ’n pakkie Super C’s – jy kan kies op watter dae jy dit wil hê. Ontbyt is meestal muesli en jogurt, en vir aandete kan jy uitsien na ’n ordentlike bord kos.

Prys

  • Alle etes ingesluit: R5995 p.p. vir minstens 2 stappers (dit raak goedkoper hoe meer mense saamstap).
  • Selfsorg: R3295 p.p. vir minstens 2 stappers. Kinders o.12 betaal R2495 p.p.
  • ’n Gids kos R150 p.d., en dit kos R100p.d. ekstra om jou sakke aan te ry (vir die hele stapgroep).

Kontak
Active Escapes 084 240 7277

Hou dít in gedagte
 
  • Jy kan die roete in gewone tekkies stap – ek het – maar stapskoene wat jou enkels ondersteun, is ’n goeie idee, veral op die voetpaadjies en waar jy oor rotse moet klouter.
  • Dra ’n dagrugsak wat jou rug toelaat om“asem te haal” – ’n gespande gaaslaag of dikker skouerbande druk die sak weg van jou rug af sodat lug deurbeweeg.
  • ’n Stapstok is nuttig, veral op afdraandes waar dit dien as ’n ekstra been. Maak net seker hy is lig – ’n swaar stok gaan jy beslis iewers langs die pad“vergeet”.
  • Op die laaste dag het dit erg gereën, en weens die modderige paaie het ons bagasie amper nie by ons uitgekom nie. Bespreek dus eerder verblyf in Port St. Johns vir die laaste aand. Ons het gebly in die Wild Coast Kitchen (vanaf R350p.p.p.n.) Bespreek vooraf as jy daar wil eet (vra vir die steak wat ín die kole gebraai word). 083 395 4604

Terug na stap | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Walksarchive

Staptoerusting

Nuttig as jy gaan visvang en nie ’n lastige muskiet kan wegwaai of nóg Tabard...

Lees meer



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek