Otterkoning
Die Ottervoetslaanpad in die Tsitsikammastreek is nie toevallig Suid-Afrika se gunstelingroete nie. Wanneer jy met jou rugsak by Stormsriviermond wegtrek, stap jy die volgende vyf dae deur die natuurskoon van die Tuinroete tot by Nature’s Valley.
Die roete is net 40 km lank, maar onvergeetlik. Elkeen wat al dié moeder van Suid-Afrikaanse staproetes gestap het, weet dat dit jou vir áltyd sal bybly.
Ek kan nie net een hoogtepunt uit my staptog kies nie, want daar is te veel wat my bybly:
Die waterval waar ons op die eerste dag piekniek gehou het; die ruwe rotsformasies van Skilderkrans en sy ongelooflike uitsig; bene strek op Bloubaai se strand met die branders wat maak en breek; die adrenalien wat bruis met die oorsteek van die Bloukransrivier; en uiteindelik die bittersoet oomblik wanneer jy op Nature’s Valley se strand aankom.
Die loodregte kranse op die laaste dag is ’n uitsig wat ek kwalik sal vergeet. Dis ’n stewige klim van André se Hut tot bo-op dié strandkrans, maar die nuwe uitkykpunt sowat 5 minute se stap verder is ’n puik plek vir asem skep. Hier tuimel die afgrond duiselingwekkend tot doer onder by die branders. Daar was maar min stappers wat bereid was om dit tot naby die rand te waag.
Uit die vyf dae toe ons walvisse se sterte hoor klap het, loeries wat in die woude roep, riviere wat oor klippe kabbel en die aande se kuier met vriende om die kampvuur, is dit dié oomblik wat die Otter vir my vasvang.
Ek het die foto met my Canon 17-40 mm-wyehoeklens geskiet en die Canon 5D MkII het die vroegoggend-kleure op die rots mooi vasgelê.
Meer oor die Otterstaproete:
Belangrike GPS-koördinate
Dag 1 - 5: Nuttige wenke
Die Otter: Video-dagboek
Gelewer op 1 Mei 2011 | 20:03:49
Ons het die otter einde Februarie 2011 gaan stap. Die weer was wonderlik, en die beeldskone natuur was onbeskryflik. Ek sal dit enige dag weer doen. Dag 2 is n riller, maar as jy eers daardeur is...wel aanhouer wen. Dag 4 (bloukransdag) het ons in die dag gestap...en het geskrik toe ons n paar inheemse laatjies op die rotse sien, nie ver van waar ons gestap het nie. Ons het toe gewag tot almal verby hulle is om seker te maak almal is veilig. Op aand 4 is daar van die mense wat persone in ons hutte opgemerk het - en wakker geword het daarvan wat glo die mense verskrik het. Dit is definitief n belewenis en ek wens dit aan almal toe!!! Die bogenoemde is regtig die enigste waaroor ons kon kla...en die natuurskoon is regtig onbeskryflik!!!
Gelewer op 1 Desember 2010 | 11:38:13
Ek en my vrou het die Otter so 3 weke terug gestap (was my 3de en laaste keer!) Ons het die Bloukrans met laagwater op die minuut gevang maar `n fratsgolf het ons getref! Die ander groep stappers wat toe reeds deur was het die golf sien aankom en teruggekom om te sien of ons ok is. Ek het altwee die rugsakke in `n rescue bag gesit - en dit was eintlik my grootste vyand want die sak is toe seker 30 meter weggespoel met ek wat daaraan klou. Ek het my been redelik seer gesny teen die mossels toe ek uiteindelik weer die kant tref met `n tweede golf se aansporing. Dit is defenitief beter om mens se rugsak in kleiner meer beheerbare stukkies op te breek, en stuk vir stuk oor te dra. Iewers het ek my knieg seergemaak en dit is baie wys om spierverslappers en sterk pynpille saam te neem asook anti-histamine. Ons het `n satelietfoon by Sat4rent gehuur. Hulle pryse was ongelooflik goed en hulle het die foon na ons gekoerier en weer laat optel. Dit was regtig baie koud (in November!!!) en ek het nie daarvoor voorsiening gemaak nie. Ek het `n dun binnestuk-slaapsakkie gevat en moes twee aande na mekaar die space blanket uithaal en onder dit slaap om nie te vries nie!!! Na die Lottering rivier is die roete nie mooi aangedui nie. Moet eerder nie opklim waar so baie mense opklim nie - dit is uiters gevaarlik, soek net - mens kry wel die roete regs van die deeltjie waar mense opklim (mens kan dit duidelik sien). Ek wens die Otter se personeel kan hier die roete beter merk. Die mense by die ontvangs was maar lekker nors en onbehulpsaam toe dit blyk ons kry nie die brief wat sê ons het wel `n Wildcard nie. Mens kan ook nie meer vanaf Stormsrivier stap nie en moet die oggend vanaf die ontvangs stap - reel dat iemand jul soontoe opneem. Ons het elke aand ons hemde uitgewas en dit het goed gewerk. Mens kry sulke bio-oplosbare seep (klein botteltjie) ek dink dit word Wilderness genoem. Dit werk baie goed vir van skottlegoed tot hare was, en is nie skadelik vir die natuur nie. Die storte is koud, as ek ooit dit weer moes doen sou ek my kampstortjie saamvat en warm water op die vuur maak in `n pot en dit dan in die stortjie gooi. Daar was baie hout by al die hutte. Daar was ook Bybels (danksy die Gideon genootskap) by die eerste twee hutte maar nie by die laaste twee nie. As jy dus van die geleentheid wil gebruik maak om tyd by die Skepper deur te bring - vat gerus `n klein sak-Bybeltjie saam. Ons het aandete geeet wat ons by DueSouth gekoop het, elke aand `n ander geur - behalwe die eerste aand wat ons gebraai het. Sulke stapkos is lank nie meer vervelig en onsmaaklik nie - dit was inderdaad baie lekker - veral die lam en hoender - die beef kort dalk nog speserye. Vat sout saam (al is dit dan net ingeval van krampe) en kook elke aand water en laat dit oornag afkoel om in die waterbottels te gooi vir die volgende dag saam met `n rehidrasie-produk soos rehidrat. Daar is geen twyfel dat elke mens wat kan dit ten minste een maal moet doen nie. Ons het `n loerie letterlik langs ons gesien sit en `n paar keer bosbokkies gesien. Lekker stap!
Gelewer op 3 November 2010 | 14:44:35
Hi julle ons stap die Otter die 25 Nov'10 Ons het 2 plekke beskikbaar as iemand belangstel kan hulle ons kontak 016 889 4363 (W)
Nog resultate: Bladsy | 1 | 2





















Kommentaar