Drakensberg: Dagstappe
Die landskap van die sentrale en noordelike Drakensberg vra om te voet verken te word.
Nota: Inligting uit Drakensberg 20 Best Day Hikes in 10 Regions deur Erwin en Nicoleen Niemand. Bestel dit by www.oshana.co.za teen R85.
Koninklike Natalse natuurreservaat
Cascades, Look Out-rots, Gudubos en Tigerwaterval
Hoe ver? 6,5 km
Hoe lank? Sowat 4 uur
Waar begin ek? Mahai-kampterrein
Hierdie roete bestaan eintlik uit vier paadjies. Dit is ’n kort roete, maar daar is mooi uitsigte, helder waterpoele, ’n woud en ’n waterval. ’n Mens kan enige plek omdraai en in jou voetspore terugstap óf jy kan ’n ander, korter roete kies.
Hoe loop die roete? Volg die sementpaadjie met die Hiking Trails- of Cascades-bordjies van die Mahai-kampterrein se ingang af. Draai ná 20 m by die T-aansluiting regs berg-op. Sowat 800 m verder kan jy na regs uitdraai en na die Cascades , ’n reeks pragtige watervalletjies, gaan kyk.
Terug op die paadjie stap jy om die rif se bopunt, deur groot rotse tot by ’n sementstrook.
Hou links waar die pad vurk – die paadjie na regs loop dood teen die rivier. Die pad raak steil en loop sigsag tot by die onderpunt van die Look Out-rots waar dit weer in twee verdeel. Regs neem jou na die uitkykpunt en links gaan na die Tigerwaterval.
Volg die bordjies na regs wat die Gudubos en Crack aandui.
Skaars 200 m hiervandaan sluit ’n pad uit die rigting van die waterval by dié pad aan. Hou reguit aan; die roete loop rivier toe waar sementtrappies jou oor die water neem. Voordat jy die Gudubos binnegaan, vurk die pad weer. Draai regs en stap die woud binne – van hier af kan jy tot by die Guduwaterval stap.
Om na die Tigerwaterval te gaan stap jy terug op die paadjie waarmee jy gekom het. Ná ’n paar honderd meter hou jy regs by ’n vurk die pad, en weer regs waar die volgende paadjie van links aansluit.
Jy kom weldra by die woudjie onder die waterval. Die roete spoeg jou aan die ander kant van die Tigerwaterval en by die Thukelarivier uit.
Ná die waterval stap jy ’n lang ent deur grasveld. Waar die pad weer vurk, kan jy reguit aanstap na die Thendelekamp of links hou na die Mahai-kampeerterrein (hier is nie ’n bordjie nie).
Wenk: Hoewel erosie die pad by die Tigerwaterval weggevreet het, bly eerder op die paadjie as om kortpaaie te soek.
Monk's Cowl
Makhulumaneklip en -woud
Hoe ver? 9 km
Hoe lank? Sowat 4 uur
Waar begin ek? Monk’s Cowlkamp
’n Paar verrassings wag op dié roete. ’n Mens stap deur ’n rivier en teen sandsteenriwwe uit tot in ’n pragtige woud. Voor die ingang na die woud hou die yslike Makhulumane-klip – so genoem weens sy grootte – wag.
Hoe loop die roete? Val in die pad op die kampeerterrein by die Monk’s Cowl-kantoor .
Die eerste 200 m loop deur baie ruie plantegroei – draai links in die oopte en loop deur die hekkie .
’n Pad met erosiewalle neem jou tot by ’n voetgangerhek in die heining – gaan deur en draai dadelik links.
Daar is dan twee vertakkings in die pad – hou eers links en dan regs en stap tot by die stroom . Trap mooi op die rivierklippe en vat dan die pad na die sandsteenrand.
Stap vir sowat ’n kilometer en hou weer regs tot waar die roete ’n kontoerpad bereik wat jou dan na ’n trapleer sal neem.
Die pad verdeel weer vorentoe – hou links. Dit vat jou tot voor die Makhulumaneklip.
Agter die klip loop die pad die woud binne. Stap op dieselfde roete terug.
Onthou: As jy van die Makhulumaneklip af terugkom en jy het pas oor die leer geklim, moet jy die regterkantste pad terugneem. Die linkerkantste pad lei na private grond.
Cathedralpiek
Doreenwaterval
Hoe ver? 4 km
Hoe lank? Sowat 2 uur
Waar begin ek? Cathedral Peak-hotel
Dís die roete vir stappers wat nie te veel wil swoeg nie. Jy stap verby ’n wattelplantasie en oor strome na die groot kuil waarin die Doreenwaterval stort. In die somer kan jy sommer skoene uitskop en inspring!
Hoe loop die roete? Jy trek weg by die Cathedral Peak-hotel se sonwyser. Klim die trappe naby die sonwyser en volg die rigtingbordjies na die stalle.
Met die ingang na die stalle aan jou linkerkant, gaan deur die hek en kies koers deur die weiveld na die hek in die verste hoek. Van hier af stap jy verby ’n afdraai en later ’n kruispad tot by die Doreenwaterval-Mushroom Rock-aansluiting. Draai links (regs is die rots wat nes
’n paddastoel lyk) en ná sowat 300 m steek jy ’n stroom oor.
Hou regs by die volgende afdraaipad (links neem jou tot bo by die Ribbonwaterval en die Orrelpyppas) en dan links sowat 200 m verder.
Nog ’n stel trappe en ’n stroom wag op jou − hou moed! Die Doreenwaterval is dan net om die volgende draai aan jou linkerkant. Stap op dieselfde roete terug na die hotel toe.
Moenie ’n morsjors wees nie. Dra asseblief al jou rommel saam met jou terug en gooi dit in die vullisdrom.
Injisuthi
Van Heyningenpas
Hoe ver? 6,5 km
Hoe lank? 4,5 uur
Waar begin ek? Injisuthi-kamp
Hierdie dagstap is een van die gewildstes – en met rede.
Dis nie te uitputtend nie en loop deur ’n groot woud in die skaduwee van geelhoutbome, en oral om jou lê mosbedekte rotse en boomstompe. Jy besef eers hoe hoog jy geklim het as jy uit die woud stap. Van die uitkykpunt af sien jy Cathkinpiek, Monk’s Cowl en Ship’s Prow regs. Na links lê die Groter-Injisuthi-bergkaap, die Trojaanse Muur en die Injisuthidrieling.
Hoe loop die roete? ’n Klip tussen chalet 3 en 4 in die Injisuthi-kamp wat Van Heyningenpas gemerk is, stuur jou in die rigting van die Del’mhlwa-zini-rivier en oor ’n houtbrug.
Volg die paadjie langs die stroom op en 500 m verder sny jy deur die hoek van ’n denne-en-bloekomboomplantasie. Net 80 m anderkant die plantasie swaai die pad na regs en klim 15 m teen ’n bult uit. Hier moet jy mooi konsentreer: As jy reguit aanhou, gaan jy by die Ou Hut eindig. Draai regs by die T-aansluiting na Van Heyningenpas, soos die bordjie aandui.
Ná ’n paar honderd meter gaan jy ’n woud met waterstrome binne. Aan die bopunt van die pas sal jy twee uitkykpunte ( en ) kry. Volg dieselfde roete terug.
Wanneer moet ek die roete stap? Wees vroeg uit die vere om die berge te sien – teen laatoggend begin wolke jou uitsig bederf.
Champagne-vallei
Cleo se poele
Hoe ver? 7,5 km
Hoe lank? Sowat 3½ uur
Waar begin ek? Drakensberg Sun-hotel
Pak ’n ligte piekniekmandjie en sit af na Cleo se poele. Die roete is nie straf nie en gaan deur ’n grasveld, wattel- en bloekomplantasies en uiteindelik ’n woud met bergpoele.
Hoe loop die roete? Begin by die valhek by die ingang na Bergview en die Drakensberg Sun-hotel. Stap met die teerpad na Bergview en kyk uit vir ’n hek links van ’n gebou waar ’n bordjie die roete aandui.
Gaan deur die hek en hou regs in die paadjie langs die heining tot waar die plantasie aan jou linkerkant ophou. Gaan deur die hek, draai 200 m verder skerp regs en stap bult-op verby ’n huis.
Stap reguit aan tot by die hoof-pad en daarlangs vir 50 m totdat jy by ’n “Hiking Trail”-bordjie aan jou linkerkant kom – volg dié roete. Bly op dié pad en draai links by die Cleo se poele-bordjie 1 km verder.
Ná 300 m is daar ’n vurk – hou regs en stap deur die stroom en links om die hoofheining 100 m verder. Die paadjie sigsag af tot by ’n plat klip reg bo Cleo se poele . Klim met die buitebandleer af en jy’s daar. Stap dieselfde pad terug.

























Kommentaar