Die Boesmanskloofroete is 14?km lank en die meeste groepe neem ses tot agt uur om dit te voltooi.
Met sy rotspoele, fynbos en pragtige uitsigte is die Boesmanskloof-staproete tussen Greyton en McGregor ’n gewilde dagstap. Mark Johnston het ’n heen-en-weertjie gaan doen.
Boesmanskloof 101 Afstand: 14 km
Staptyd: 6-8 uur, blaaskanse ingesluit.
Moeilikheidsgraad: Matig, maar dit is ’n stywe stap.
Slaapplek: Die Galg teen R60-R100 p.p.p.n. Jy kan vra dat hulle vir jou vleis, brood en drinkgoed gereed het.
Kontak: Ruth by 023 625 1794 (ook vir Eagle’s Nest)
Beste seisoen: Die roete is heeljaar oop, maar die beste staptyd is die lente en herfs.
Koste: R75 p.p. (Wild Card-houers kry R25 korting)
(Pryse akkuraat in November 2009)
Kontak: Kaapse Natuur-bewaring 021 659 3500, bookings@capenature.co.za
KAART: Klik HIER om 'n drukstuk van die roetekaart te maak.
5 km; 2 ureDag Greyton na Breakfast Rock
Die roete volg 'n duidelike voetpaadjie, al is die fynbos ruig.
Aan die einde van dié vallei wag Die Galg, waar jy kan oorslaap.
Om vroeg te begin stap het sy voor- en nadele. Ons wou vroeg in die pad val, maar in die skemer sukkel ons om die roete se beginpunt te kry. Die bordjie is nou nie wat ek duidelik sal noem nie: ’n Pyl na regs sê Boesmanskloof, en die een links… ook Boesmanskloof. Dalk was hier baie Boesmans. Ons kies links, want aan daardie kant is ook ’n simbool wat sê daar is ’n parkeerterrein. Eers later sien ons die twee paaie kom by die Boesmanskloofrivier by mekaar uit.
As jy die regterpyl kies, stap jy deur die dorp, maar ons kies koers op ’n ompad deur die mooie Greyton-natuurreservaat. Die ekstra paar honderd meter is beslis die moeite werd.
Nadat jy die rivier oorgesteek het – trap maar versigtig op die groot wit sandsteenklippe – stap jy met ’n tweespoorpaadjie die Wolfkloofvallei in, natuurlik met ’n paar op- en afdraandes.
Ons stryk rustig aan, maar links van ons kan ons síén hoe die roete klim. Hoër en hoër.
Ná ongeveer 2½ km begin ek voel hoe my kuite werk.
Die paadjie is deel van ’n pas waarvan die bouwerk in 1930 begin is – enersyds om die pad tussen Greyton en McGregor effens korter te maak, maar ook om werk te skep. (Op die kaart lê dié twee dorpe wel net ’n hanetreetjie van mekaar af, maar jy moet meer as twee uur óm die berg ry om van die een by die ander te kom.)
Sulke padbouprojekte was broodnodig in die jare van die Groot Depressie. Maar toe breek die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uit, die geld droog op en die bou-projek word gestaak.
Dis ook maar goed so, dink ek terwyl ek die pragtige natuurskoon rondom my bewonder.
Ons bereik ’n effense gelykte en besluit om ’n blaaskans te vat. Goeie keuse, dink ek toe ek die bordjie sien: Breakfast Rock. Uit met die stofie en ketel!
Maak toe
2 km; 1 uurDag Breakfast Rock na die einde van die tweespoorpaadjie
Die roete is duidelik gemerk; groepe kan dus nie sommer verdwaal nie.
Ons is versterk en val weer gou in die pad. Daar lê ’n opdraande voor ons, maar dis gelukkig nie meer so erg steil nie. Ons gaan minder hyg en swaarkry en meer kans kry om die uitsig en natuurskoon te geniet. Die omgewing hier is werklik ongelooflik. Die pragtige Boesmanskloofvallei loop deur die hart van die Riviersonderendberge: Doer links onder kronkel die Boesmanskloofrivier rustig, terwyl Perdekop (1 346 m) regs hoog bo die voetslaanpad uittroon.
Tog is dit nie net die grootse dinge wat ’n mens se aandag hier trek nie – die winter staan nou einde se kant toe en die fynbos is reeds aan die blom. Ons word omring deur skelgeel fynbosproteas en helderpienk heide.
Die bye is heel bedrywig en ’n klompie Kaapse suikervoëls fladder tussen die proteas rond, ten spyte van hulle lang stert wat lyk asof dit swaar hang.
Maar dan loop ons ons skielik in ’n spul hakeabosse vas.
Dit is ’n indringerplant uit Australië wat as die vloek van die Suid-Kaapse berge beskou word. Dié bosse neem maklik ’n hele berg oor en verdring die fynbos, diere en ook die insekte. In my kop maak ek gou-gou ’n sommetjie: As 50 mense elke naweek R75 vir ’n permit betaal, beloop dit darem ’n inkomste van R200 000 per jaar vir Kaapse Natuurbewaring. Hulle kan sekerlik ’n paar kettingsae en takknippers bekostig, of hoe?
Maak toe
2 km; 1 uurDag Einde van die tweespoorpad na die
Groepe moet lank voor die tyd bespreek om by die Eagle’s Nest te oornag.
By die nek reg onder Perdekop eindig die tweespoorpad. By dié uitkykpunt groet jy die Overberg met sy lappieskombers van koring en canola en stap jy die bergwildernis in.
Ons kyk tot doer by die verste punt van die Boesmanskloofvallei waar ’n bloekombos op sy eentjie wagstaan. Dis by Die Galg, die eindpunt van die roete en die plek waar ons vanaand oorslaap. (Toemaar, jy bring nie die nag in die dodesel deur nie; hier is oulike kothuise met beddens en ’n warm stort – sien die kassie op bl. 102.) Die Galg lyk veel nader as die 7 km wat dit is, maar gelukkig wag daai lieflike waterkuil nog op pad soontoe... ons kan daar darem weer ’n bietjie asem skep. Van die nek af slinger die pad afdraande deur welige fynbos.
’n Mens is heeltyd in die versoeking om kortpad te kies en reguit af te stap, maar byt vas: Dit sal nie net jou knieë opdreun nie, maar ook onnodige erosie veroorsaak. Op dié deel van die roete sien jy van die mooiste fynbos, maar dis plek-plek só dig dat jy skaars die voetpad kan sien.
En vir die tweede keer vandag wonder ek wat die bewaringsmense met hulle geld doen…
Gelukkig wyk die gedagtes wanneer ons by die Oakes-waterval aankom. Dis een van die mooiste bergrotspoele wat ek nóg gesien het. Die water lyk soos bier, soos wat ordentlike bergwater moet wees. Die stroom tuimel af in ’n waterval van 8 m. Dis heerlik om te drink, maar die beste is om jou lyf daarin te dompel. Heerlik verfrissend!
Maak toe
5 km; 2 uur & 30 min.Dag Oakes-waterval na die Galg
Dis 'n verligting om weer teer onder jou voete te voel ná twee dae van mooi kyk en mooi loop.
Van die waterval af loop die paadjie vir nog ’n paar kilometer regs van die Boesmanskloofrivier voordat jy oor die rivier stap en dan by ’n vurk in die pad kom.
Hier is dit dieselfde storie as vanoggend: Links wys die bord na Die Galg oor die geskiedkundige pas. Mik regs en jy stap ook Die Galg toe, maar oor “Scenery”.(En ek dag ons verwonder ons
al die hele oggend!) Al twee paaie lyk ewe steil, maar ek wil die onvoltooide pas van dié kant af te sien en daarom kies ons links – en pak wat sekerlik een van Suid-Afrika se grootste stel oefentrappies moet wees. Ons stap en ons stap, hoër en hoër… Maar dis elke druppel sweet werd.
Dié deel van die onvoltooide pas is ongelooflik.
Anders as aan die Greyton-kant, waar dit luilekker boontoe kronkel, is die berg hier byna loodreg, en die pad is letterlik uit die rotse gekerf.
Die einde is nou in sig, want kort daarna beland ons op die grootpad. Ons stap sommer vinniger, amper soos woestynkamele wat water ruik. Dan, skielik, verskyn die bloekombome wat ons van doer oorkant af gesien het, nou net veel groter.
By die huisie gooi ons ons rugsakke neer en skop stewels uit. Tyd vir ’n bier.
Ons is tevrede soos ’n mens maar net ná ’n lekker staptog kan wees. En môre kry ons ook die kans vir ’n encore te voet terug Greyton toe. Wat kan jy meer wil hê?
Maak toe
Lees die res van die storie
Die Boesmanskloofroete is 14 km lank en die meeste groepe neem ses tot agt uur om dit te voltooi.
Vir lang tye is daar nie water nie; maak dus maar vol as jy die kans kry.
Dit klink vir my asof die hele wêreld al dié roete in die Riviersonderendberge gestap het: Kollegas, bure, verlangse familie, die tannie wat die Lotto-kaartjies verkoop in die kafee… dis net ek wat nog nie die 14 km tussen Greyton en McGregor op my kerfstok het nie.
Skande. Dit is een van die gewildste staproetes in Suid-Afrika, minder as twee uur se ry van die Kaap af. Dit kronkel deur die bergreeks wat die Overberg en die Boland van mekaar skei, maar is net 14 km en jy hoef nie Marco Polo se deursettingsvermoë te hê om die ander kant te haal nie, trouens, jy kom selfs ’n bergpoel teë waar jy kan lyf natmaak.
Ek het dié paadjie nog altyd geken as die Greyton-na-McGregor-staproete, seker maar oor die storie wat loop dat die rugbyspanne van Greyton en McGregor die roete om die beurt draf voordat hulle mekaar die stryd aansê. Die amptelike naam is Boesmanskloof.
Vier van ons besluit die tyd is ryp om hom te takel. Ons voel sterk en beplan om by die eindpunt op McGregor oor te slaap en dan die volgende dag terug te stap hier na die vertrekpunt by Greyton.
Japie en Sandra Oosthuizen is die trotse eienaars van Onverwacht Flora Akkommodasie en Eagle,s Nest Gastehuis wat aan die begin van die Boesmanskloofroete aan die McGregor kant geleë is. Kontak ons by flora@breede.co.za, Japie sell:0828941462. Sandra sell:0725144209. Landlyn:023 625 1667 vir akkommodasie. Sien is glo!
Gelewer op 14 Februarie 2011 | 14:38:46
Vir Akkommodasie aan die Mc Gregor kant jy my ook op die vlg. nommer skakel of e-pos. Ruth Oosthuizen - by 0722400498 of bao@webmail.co.za
Kommentaar