Bloupuntroete
Deur Mark Johnston
Dis nie op elke dagstap dat ’n mens vir ’n volle kilometer moet klouter nie. As jy egter die Bloupunt-staproete buite Montagu in die Klein-Karoo uitsweet, word jy beloon met ’n ongelooflike uitsig oor die Breëriviervallei.
Bloupunt 101
Koste: R20 p.p. Verblyf in die hut is R80 p.p. ekstra. Pryse akkuraat in April 2010)
Besprekings: Montagu-en-Ashton-toerisme – 023 614 2471; info@montagu-ashton.info; www.montagu-ashton.info
Afstand: 16 km
Tyd: 6-9 uur
Hoe moeilik? Matig tot veeleisend
Beste tyd om te gaan: Die staproete is heeljaar oop, maar die beste tyd is die lente en herfs wanneer die temperature meer gematig is.
Waarskuwings: Maak seker jy vat genoeg drinkgoed saam. Dit kan baie warm raak op die roete en daar is lang ente waar geen water beskikbaar is nie. Wees in die somermaande op die uitkyk vir slange in die paadjies.
Verblyf: Daar is nie ’n tekort aan blyplek op Montagu nie. Ons het by De Bos gekamp teen R40 p.p.p.n (daar is ablusiegeriewe met warm storte).
Kontak: 023 6142532; www.debos.co.za
Maak 'n drukstuk: Klik HIER vir 'n volledige kaart van die staproete.
Inleiding
Terwyl on Montagu binnery, troon die sandsteenpieke van die Langeberg in die laatmiddag bo ons uit. Plek-plek is daar nog littekens van 2008 se verwoestende vloede langs die pad, maar die dorpie met sy groen wingerde en ou geboue is nog net so mooi soos altyd.
Dis juis die berge – en meer spesifiek Bloupunt, die 1 266 m hoë bergspits wat wagstaan oor die dorp – wat my en my ou stapmaat Roger Diamond hierheen gelok het. Ek het al ’n paar keer dié roete gestap, dus weet ek wat voorlê: ’n 16 km-roete waar jy plek-plek moet klim. As jy egter taamlik fiks is, kan jy die roete maklik binne ’n dag stap, en jou beloning is ’n lieflike uitsig oor die Breëriviervallei. Dis een van my gunsteling-staproetes en ek begin opgewonde raak.
Daar is ’n oornaghut op die roete wat deur die munisipaliteit bedryf word, maar ons het besluit om eerder tent op te slaan by die De Bos-gasteplaas aan Montagu se buitewyke. Dis ’n gewilde kampeerplek vir stappers en rotsklimmers wat kom kragte meet met die oranje kranse wat aan weerskante van jou verbyskuif as jy van Ashton se kant af deur die Cogmanskloofpas na Montagu ry.
Dié kampterrein kan nogal woelig raak, veral saans wanneer almal om die braaiplekke saamstaan. Terwyl ons aandete maak, ontmoet ons vir Steve Pinfield, ’n Britse bergklimmer wat al vier maande stoksielalleen deur Suid-Afrika reis en soveel as moontlik van die land wil sien. Hy wil die volgende dag saam met ons stap en ons stem in. Ek stel my wekker en kruip vroeg in.
Maak toeMontagu tot die hut
Ons val om agtuur in die pad. Die roete begin by ’n skaduryke parkeerterrein waar jy jou kar kan los. Die kantoor, waar jy ’n permit koop en die stapregister teken, is net ’n klipgooi verder. Die kantoor maak eers om agtuur oop, maar jy kan die vorige dag reeds die permit koop en vroeër begin stap as jy wil.
Vir die eerste twee kilometer stap jy met ’n viertrekspoor langs deur ’n bloekombos. Dis nie juis mooi nie, maar die helling is gemaklik en die pad breed genoeg dat ons drie langs mekaar kan stap en ’n hond uit ’n bos gesels.
Só vind ons uit ons nuwe Engelse vriend is ’n groot avonturier – ’n professionele bergklimgids met ’n hele paar van die wêreld se hoogste pieke, ook Everest, agter die blad. Hy was ook al by die Suid- én Noordpool. Steve is iets in die vyftig, beter gebou as Bryan Habana en beplan reeds sy volgende uitstappie Everest toe.
Ek spot en sê hy moet skreeu as hy nie kan byhou nie, maar in die stilligheid begin ek wonder of ek en Roger by dié gesoute stapper sal kan bly.
Ná 1,7 km is jy by die staphut. Dis ’n klip-en-sementhut met slaapplek vir 12 mense. Die hut lê diep in die vallei en word omring deur hoë kranse. Jy het dus nie veel van ’n uitsig nie en ek’s maar bly ons kamp eerder. Vir groter groepe is dit egter ’n gerieflike blyplek: Daar’s ’n braaiplek (die munisipaliteit verskaf braaihout) en as jy boonop ’n 4x4 of bakkie het, laat hulle jou toe om tot by die hut te ry en jou bagasie af te laai.
Maak toeDie hut tot by die vurk
As jy verby die hut is, word die vallei en die stappaadjie nouer. Dis hier waar jy begin stáp. Die paadjie kronkel kruis en dwars oor ’n klipperige rivierbedding. ’n Mens moet maar mooi kyk waar jy trap, want hier kan jy maklik ’n voet swik of ’n enkel verstuit.
By die 2,2 km-merk is ’n afdraai na links vir die Cogmanskloof-staproete. Dis korter (12 km) en makliker as Bloupunt, maar vandag is ons visier gerig op die hoogste spits in dié kontrei.
Ons is nou in ’n smal kloof met hoë kranse en steil hellings aan weerskante. Dis ’n gewilde speelplek vir rotsklimmers en dalk sien jy ’n paar “rock jocks” wat soos geitjies met hulle vingerpunte en tone aan die kranse klou. Die gebroke voue en krake van die sandsteenformasies is indrukwekkend, selfs al kom slaan jy nie hier jou karabynhaak in nie.
Asof Roger se CV nie reeds indrukwekkend genoeg is nie, is hy boonop ook ’n geoloog. Hy verduidelik Montagu lê in die Kaapse plooiberge, wat sowat 300 miljoen jaar gelede in hierdie snaakse krom vorms gedruk is toe die oer-supervasteland Pangaea gevorm is.
Maak toeDie vurk tot die nek
By die 3 km-merk is daar ’n vurk in die pad. Die Bloupuntroete is ’n sirkelroete en ons moet nou besluit of ons dit kloksgewys of antikloksgewys wil aanpak.
Kloksgewys beteken jy gaan bars aan die begin, maar dan klim jy geleideliker tot by die spits. As jy andersom stap, kan jy vir langer in die kloof se skaduwee bly (’n gawe gedagte, want die son wys al vroegdag tande), maar dan kan jy solank jou lyf begin vetsmeer vir die Stairmaster of Doom later in die dag, wanneer dit nóg warmer gaan wees.
Ons kyk by die bult op en my stapmaats knik instemmend toe ek sê: “Nee wat, kom ons kry eerder klaar met die ergste klimmery.” Ons draai links en begin klim. Soms kom spyt nie te laat nie – ná skaars vyf minute begin ek wonder oor die linksdraaiery. Van die vurk af loop die pad in steil sigsagvorms berg-op. Ek swoeg en sweet so erg dat ek byna vergeet om om te kyk en die lieflike uitsigte oor die Klein- Karoo agter my te geniet. Daar’s net een pad vorentoe: boontoe.
Kort voor lank is die ergste verby en ná ’n kwartier raak dit minder steil en ons vat ’n blaaskans om water te drink. Van hier af kronkel die paadjie al langs ’n golwende vallei, Rietkloof, tot by die nek in die verte. Dié deel van die roete is aansienlik makliker, en die enigste ding wat ons spoed breek, is ’n paar boomstompe wat in die pad lê.
Die roete is in ’n beter toestand as ’n paar jaar gelede toe ek dit gestap het. Destyds was dié deel van die pad amper heeltemal toegegroei. Dis goed om te sien die permitgeld word gebruik om die roete te verbeter.
Maak toeDie nek tot die piek
Een van die lekkerste goed van stap is hoe vinnig die uitsig kan verander. Vir die afgelope uur was ons in die vallei vasvang, byna soos ’n perd met oogklappe op.
Maar toe ons by die nek kom, val die berge weg en al wat ons sien, is ’n laslappiekombers van vrugteboorde en wingerde doer onder. Die Breëriviervallei is nie net een van Suid-Afrika se vrugbaarste wyn-en-vrugtestreke nie, maar ook een van die mooistes.
My maag begin grom en ons soek ’n gelykte waar ons iets kan eet en die uitsig kan geniet. Ons stap al twee uur en die piek lyk nog vér. Ek haal my hoogtemeter uit en sien ons is nou 750 m bo seespieël. Daar’s nog ’n hele 500 m oor tot heel bo. Blouberg is wel ’n dagstap, maar dis beslis nie kinderspeletjies nie.
Maar vir Steve Everest is dié roete duidelik soos ’n stappie af kafee toe om Blitz en Coke vir die braai te kry, en kort voor lank hou hy op met kou en skimp dis tyd om weer in die pad te val. Ek en Roger sug en tel ons rugsak op.
Van die nek af klim die paadjie geleidelik, maar dit word al hoe steiler, hoe nader jy aan die piek kom. Gelukkig is ons steeds aan die suidelike skadukant van die ber,g waar dit nie so warm is nie. Op party plekke hang daar selfs nog doudruppels aan die fynbos.
En dan is daar skielik meer ’n enkele trap oor nie. Ons is bo!
Bloupunt troon meer as ’n kilometer bo Montagu uit en van hier af lyk dit asof die dorp uit Lego-blokkies gebou is. Op die piek is ’n metaalskyf wat wys waar sit Ashton, Robertson en Barrydale en ’n paar van die omliggende bergpieke wat ’n mens van hier af kan sien. Ons staan ’n paar minute stil en verwonder ons aan die bulte en draaie van die Klein-Karoo voordat ons weer in die pad val.
Maak toeSpits tot die parkeerterrein
Dis snaaks hoe moeë stappers altyd vir ’n afdraande bid… totdat jou gebede verhoor word en jy besef watter harde werk dit is om so briek-briek te stap. As jy nie mooi konsentreer nie, kan jy maklik jou enkel verstuit en die afdraande keil jou bobeenspiere behoorlik op. Kort voor lank is my bobene die ene jellie.
Boonop gebeur dit alles reg in die middel van die dag en die son looi ons. Gelukkig onthou ek van die ompaadjie na die waterval en ’n paar swemgate, en toe ons ná sowat 12 km by die afdraai kom, huiwer ons nie. Skaars vyf minute later plas ons in ’n koel, donker bergstroom. Die waterval is nie indrukwekkend nie en die rivier is net ’n pieperige stroompie – maar niemand kla nie.
Ná die swem voel ons verfris, en genadiglik wag daar geen afdraandes meer nie. Toe ons weer in die pad val, begin ons vanself vinniger stap, amper soos ’n perd wat stal ruik.
Ons is gou weer by die vurk in die pad en nou lê drie maklike kilometer voor tot op Montagu. By die parkeerterrein kyk ek op my horlosie. Dis presies sewe uur later.
Glad nie sleg in hierdie hitte nie, maar dan dink ek skielik Steve sou op sy eie waarskynlik die pad in die helfte van die tyd kafgedraf het…
Maak toeWenke vir stappers
- Dra altyd ’n noodhulpstelletjie en ’n selfoon met ’n gelaaide battery saam vir noodgevalle.
- Stap ’n hele ent weg van die voetpad en alle waterstrome as ’n nood jou oorval. Onthou ook om al die bewyse te begrawe.
- Vat ’n reënjas en warm klere saam, selfs al gaan jy in die somer stap.
- Moenie vuurmaak nie.
- Moenie kortpaaie vat nie.
- Moenie die plantegroei beskadig of plante en bolle steel om saam te vat nie.
Maak toe
Gepubliseer op 1 April 2010




























Kommentaar