Die Impofu-staproete begin by die ruskamp van die Bergkwagga- nasionale park.
Stap in die kwaggas se bergveld Die Oos-Kaap se Impofu-staproete is die perfekte tog om aan te pak as jy lus is vir meer as ’n dagstap, maar nie noodwendig so ver wil stap dat jy twee weke ná die tyd nog met blaaswonde sit nie.
Impofu 101 Prys: Dit kos R160 p.p. om Impofu te stap, maar jy moet ook die park se bewaringstarief van R22 p.p. betaal. Nota: Pryse akkuraat tydens April 2010.
Besprekings: 048 881 2427 (vir die roete); 012 428 9111 (as jy ander verblyf in die ruskamp wil bespreek vir die aand voor of na die tyd); www.sanparks.org.
Hoe lank is dit? Jy stap sowat 25 km oor twee en ’n halwe dae. Die langste skof is net meer as 12 km.
Is die stapwerk straf? Nie regtig nie. Jy klim wel heelwat, veral op die tweede dag, maar enigiemand wat matig fiks is, sal dit kan voltooi. Maak seker jy’t goeie stapskoene wat al ingetrap is. ’n Stapstok is altyd nuttig.
Wat van die buffels en renosters? Jy kan vooraf reël dat ’n gewapende veldwagter op dag 3 (wanneer jy veral deur buffelwêreld stap) saam met julle loop. Stappers word vooraf volledig ingelig oor wat om te doen wanneer hulle gevaarlike (én onskadelike) diere teëkom.
Wat moet ek saambring? ’n Rugsak, slaapsak, koplig, warm klere en ’n ligte reënjas is nodig. Jy dra jou eie kos, maar jy kan die veldwagters vooraf vra om van jou kos by die hutte te kom aflaai sodat jy nie al die swaar goed hoef saam te dra nie. Onthou’n klein noodhulpkissie.
Hoe lyk die hutte? Daar’s matrasse, potte, ’n braairooster, messegoed (laat hulle maar seker maak dit is wel daar!), kerse en paraffienlampe. Plus hout en drinkwater, spoeltoilette en warmwaterstorte (jy stook ’n donkie).
Hoeveel mense kan stap? Ná die onlangse bou- en opknappingswerk kan 14 mense op ’n keer nou stap. Die hutte is ook nou beskikbaar vir mense wat die park se 4x4-roetes wil ry en nie in die hoofkamp wil oornag nie. Jy kan dus dalk die hut deel met ander mense.
Kinders? Kinders moet verkieslik ouer as 12 jaar wees.
Die roete loop deur die bergagtigste, wildste dele van die park.
Die grootheuningwyser neul nou al hoe lank om ons, maar ons het nie heuning nodig nie. Ons het Jungle-energiestafies. En Black Cat-stafies. En omtrent elke energiegelaaide stafie wat in Cradock se Spar op die rak lê.
Die voëltjie verlang seker na die Boesmans, wat hom dadelik sou volg totdat hulle saam die korf ontdek en die heuning dan deel.
Ek en drie vriende van Grahamstad is in die Bergkwagga- nasionale park net buite Cradock waar ons die drie dag lange Impofu-staproete aanpak.
Impofu beteken “eland”, en ons hoop om hierdie mooi diere van nader te kan sien – ook rooi- en vaalribbokke, koedoes en natuurlik die bergkwaggas waarvoor die park bekend is. Deesdae is hier ook buffels, maar ons gaan meestal in die bergveld stap waar die buffels nie gereeld loop nie (hulle verkies die doringboomruigtes in die klowe). Boonop het die park swartrenosters ook, al word hulle min gesien.
Maak toe
12 kmDag 1Fluit-fluit die berge uit
Olienhut is die eerste oornagplek. Die hutte het spoeltoilette, warmwaterstorte en basiese kookgerei.
Net voordat ons by die kamp weg is, het Robyn Wood, die park se senior seksieveldwagter, verduidelik hoe ons moet maak as ons diere sien. Sy het heeltyd ’n steenbokkie as voorbeeld gebruik, maar al wat ons wou weet, was wat om te doen wanneer ’n buffel ons bestorm.
“Moet ’n mens nie stilstaan nie?” het ek geraai, maar ek was verkeerd. Dis wat ’n mens doen as ’n leeu jou storm. Met ’n buffel moet jy so gou as moontlik uit die pad probeer kom, want as hulle eers begin storm, stop hulle nie. Sorg dus dat jy in ’n boom kom, agter ’n groot rots skuil of teen ’n hang uitklim.
Vir eers is ons nie bekommerd oor die buffels nie. Ons volg ’n tweespoorbergpaadjie in Grootkloof op. Van hier af kan ons die gevaar sien aankom en daar is genoeg groot klippe om op te klim...
Dis nie lank nie voordat ons rooihartbeeste, koedoes, elande, ribbokke en bergkwaggas sien. Die stapwerk is maklik en ons gaan staan elke nou en dan stil om verkykers of kameras uit te haal. J.P. en sy vrou, Hester, is groot voëlkykers.
Bo in die kloof swenk die pad na regs, weste toe. Oor die volgende paar dae gaan ons in ’n groot sirkel loop en uiteindelik weer uitkom by die hoofkamp waar ons begin het.
Van ver af sien ons al die lang, reguit traanmerk wat die Groot Klip gelos het. Dié enorme dolerietrots het ’n diep sloot maak – asof ’n reus sy vinger hier deur die aarde kom trek het om ’n ry boontjiepitte te plant – toe dit in 1974 op dramatiese wyse bergaf geskuur het. Dit het ’n halfuur geneem, en dit het glo soos donderweer geklink wat mense tot op Cradock kon hoor (soos die kraai vlieg, is dit omtrent 13 km).
Ons klouter teen die klip op, wat omtrent so groot soos ’n voorstedelike huis is. Die tweespoorpaadjie loop nou dood en van hier af is dit voetpad teen die volgende hang uit. Dit lyk asof die ernstige stapwerk nou begin.
Ons nie haastig nie. Die paadjie is nie oral goed gemerk nie en ons raak ’n paar keer die pad byster. Gelukkig kry jy ’n baie goeie opvoukaart (met GPS-koördinate) wat help dat jy ten minste in die regte rigting bly stap.
Ons sak af deur Fonteinkloof en stap dan weer op ’n tweespoorpad teen die volgende hang uit. Die pad loop tot bo-op die plato en dan verlaat ons dit weer voordat ons in die laaste kloof van die dag, Weltevrede, af te sak. Ons oornaghut lê doer onder iewers. Dis al ná vier, en omdat die winterson vroeg ondergaan, probeer ons aanstoot, veral omdat ons pas teen die steiltes effens traer geraak het. Boonop lê daar na die weste toe wolke wat lyk na koue of reën.
Ribbokke fluit kort-kort onsigbaar teen die hange om alarm te maak, en later hoor ons klippe spat. ’n Paar kwaggas verskyn op die rug van die berg, perfekte silhoeëtte teen die laatlug. Daar is ’n kleintjie by en hulle galop vir ’n paar sekondes stuitig voordat hulle agter die bergnaat wegraak.
Die Olienhut is byna volkome omring deur berge; net die kloof se tuit maak na die een kant toe oop. Ons het vleis saamgedra en begin dadelik ’n vuurtjie pak. Ons stook ook die donkie vir diegene wat wil warm stort. Later kom ’n liggie van onder in die kloof af aangebons. Dis ’n veldwagter wat kom seker maak ons het goed gestap. Terwyl die jakkalse in die kloof jil, eet ons lekker – en begin nog lae aantrek, want die koue skuif nader.
Maak toe
12 kmDag 2Lekker deur die mis
Dag 2 is die strafste - jy klim steil en daal dan later weer vallei toe na die Kareehut.
Die son is al op, maar nog glad nie hier onder in die kloof te besperu nie. Gisteraand het ’n klompie bobbejane in die krans bo die hut geslaap en nou begin hulle mekaar se siel uittrek. Terwyl J.P. die vuur weer aan die gang blaas om die koffiewater te kook, hoor ons skielik weer klippe teen mekaar klap. Skaars 50 m van ons af stap twee, dan drie elande verby. Behalwe die klippe wat hulle raaktrap, hoor ’n mens ook hoe hulle knieë knak – amper asof iemand ’n plastiekbottel staan en knak.
Vir my is ’n eland ons mooiste boksoort. Oor hulle grootte voel ’n mens hulle moet eintlik beeste wees – ’n bul kan tot 900 kg weeg en die kleintjies kan binne ’n jaar die skaal op 450 kg trek!
Selfs al het ons weer vandag net ongeveer 9 km om te stap, wil ons vroeg in die pad val sodat ons nie deur die donker ingehaal word nie. Boonop lê daar vanoggend ’n laag mis op die berge. Eers moet ons weer terug op ons spore, terug teen dieselfde steil hang uit. Bo-op die plaat sluit ons by die tweespoorpad aan en volg dit al teen die berg op.
Waar die paadjie ophou, sit ons eers en rus. Sophia, ’n vriendin van J.P. en Hester, het nuwe stapskoene en haar hakke is effens seer. Dus lap ons dit gou met pleisters. Wanneer ons weer vort is, swenk die pad wes en ons klim nog so ’n bietjie voordat ons onder die mis inklim.
Weg is die vallei en die uitsig – reg rondom ons is dit wit en ’n mens kan skaars 100 m voor jou sien. Maar gelukkig is die ergste klimwerk verby en nou stap ons met die kontoer langs (omtrent 1 800 m bo seespieël) net onder die groot dolerietkranse wat soos bolvestings hier uittroon.
Hierdie is die hoogste deel van die Impofo-roete. Vir die volgende paar uur bly Bankberg (1 927 m) en Bakenkop (1 957 m) net links van ons. Bo-op die plaat net duskant Bakenkop rus ons by ’n ou klipmuur wat ’n windskerm help vorm. Die mis het begin opklaar en sigbaarheid is beter.
Dis ystervarkwêreld dié, en oral sien ’n mens hulle gate en grouwerk. Van hier af kan ons na die suide toe die begin van die Swaershoekberge sien.
Nou vleg die roete deur mooi losstaande rotse. ’n Paar kwaggas skrik wanneer ons skielik noord draai en teen die uitloper begin afdaal na Langkloof. Hulle blaf en laat spaander. Laer af sien ons nog elande en koedoes. Noudat ons amper weer op die vloer van die vallei is, begin ons meer tekens van buffels sien. Ons bly dus op ons hoede – van die mis en spore lyk vars.
Ons is nogal verlig wanneer ons die oornaghut sien. Die Kareehut staan reg langs ’n kareeboom wat só oud is dat van die takke al op die grond gaan lê het, nes die knieë van ’n skrum wat genoeg gehad het. Die hutte is netjies en daar is alles wat jy nodig het – potte, borde en messegoed (hoewel die Olienhut om een of ander rede nie messegoed gehad het nie).
Ek gaan stook die donkie, maar toe dit later storttyd is, kom daar niks water uit die kraan nie. Daar moet seker iewers ’n borrel in die pyp wees, want laer af teen dieselfde pyp kan ons nog drinkwater tap. Ongelukkig kom die veldwagter nie weer vanaand draai gooi nie, en ons vergeet maar van stort.
J.P. en Hester maak seekospasta – hulle kamp in styl, dís seker! Ek het ook nog Old Brown Sherry oor en ons sit lekker en kuier totdat die bottel leeg is en die twakpraat daarmee saam opdroog. Nou en dan hoor ons iets in die veld rondom ons, maar wanneer ons lig, is dit net koedoes.
Maak toe
7 kmDag 3Ligloop vir die buffels
Die laaste dag is die maklikste. Jy volg basies net die Wilgerboomrivier tot terug by die ruskamp.
Wanneer ek op die onderste bank wakker word, sien ek die geskryf teen die bank bokant my: “Hi, I’m James. I’m sore.” Wel, James, ek hoor jou. Hoewel die roete glad nie straf is nie, voel ek dit tog aan my lyf – ek is lekker styf.
Vandag se stap is die maklikste van die roete. Ons stap net 7 km en die paadjie loop onder in die vallei langs, net regs van die Wilgerboomrivier. Hier is die bosse ruier en ons stap versigtig. Dis raadsaam om kort-kort te stop en luister, want jy kan nie so mooi hoor terwyl jy self stap nie. Die buffels is beslis onlangs hier deur, want ons sien hulle mis en spore nou oral. Wanneer ons die Weltevredespruit oorsteek, verloor ons weer die voetpad. Terwyl ons soek, hoor ons takke kraak en breek.
Buffels! Gelukkig is hulle sowat 200 m van ons af en hardloop weg van ons af!
Ek is bly ons het die buffels gesien, maar moet erken ons almal was nogal benoud dat iets kan skeef loop.
Naby die Doornhoekdam raak ons nogmaals die voetpaadjie kwyt; dus stap ons sommer af pad toe en volg die toeristeroete vir die laaste paar kilometer tot by die ruskamp.
Ons is net betyds vir middagete en gaan sit dadelik aan vir ’n feesmaal. Die ander moet terug Grahamstad toe ry, ek slaap nog twee aande hier, sommer om die res van die park ’n bietjie te geniet.
Dis ’n ander soort wildernis hierdie. Dis makker (behalwe nou vir die buffels en renosters) as byvoorbeeld die Krugerwildtuin, maar dit stel jou in staat om die roete sonder ’n gids te verken, teen jou eie pas.
Stap is ’n eenvoudige aksie. Alles is stadiger. Daar’s g’n masjien wat jou vinnig tot bo-op die berg bring nie. Jy stop, jy buk af, jy neem makrofoto’s van vetplante. Jy hoor diere fluit, hulle horings en hoewe kap, hoor hoe hulle proes en nies. Jy ruik die veld en die wind en die mistigheid; nie die bekleedsel van jou motor en die petroldampe nie.
Ja, stap laat jou met ’n gevoel van genoegdoening.
Dinge wat ons stap makliker gemaak het:
“Bioderma se 100% SPF-sonskerm. Dis duur – sowat R150 – maar die geld werd as jy nie wil kanse vat nie.” – Hester Jordaan
“My klein, ligte Switserse mes gaan altyd saam. Jy kan blikke oopmaak, tjops omdraai en jou naels skoonmaak...” –J.P. du Toit
“ ’n Rolletjie Elastoplast-pleister (Flexible Fabric Roll) is ’n moet, veral vir ’n groentjie soos ek. Dit rek lekker, bedek alles en kom nie sommer af nie.” – Sophia van Tonder
Kommentaar