Kranshoekstaproete
Soek jy ’n voorsmakie van die Otterstaproete? Kom doen ’n eendag-toetslopie by Kranshoek en bring die hele gesin saam.
Kranshoek 101
Waar?
Neem die Harkerville-afdraai (17 km buite Knysna met die N2 onderweg na Plettenbergbaai) see se kant toe en volg die bordjies vir ongeveer 7 km totby Kranshoek.
Waar los ek my kar?
Daar is genoeg parkeerplek by die piekniekterrein by die beginpunt. Die roete begin en eindig daar.
Koste:
Jy skryf jou eie permit uit en dit is gratis. Jy hoef nie te bespreek nie.
Klik hier om 'n drukstuk van die roetekaart te maak.
Die roete in ’n neutedop
Hoe lank stap jy?
Die roete is sowat 9 km lank. Afhangende van hoe lank jy langs die pad gaan vertoef vir piekniek hou, swem of foto’s neem, behoort dit jou tussen 3 en 4 uur te neem.
Wat sien jy langs die pad?
Daar is ’n paar plekke met ’n pragtige uitsig oor die Tuinroete se kus. As jy gelukkig is, sien jy dalk nog ’n walvis of dolfyne in die branders. In die klowe stap jy deur inheemse bos, met lekker stroompies vir waterdrink en ’n paar koel swempoele vir die somer. Daar is ook pragtige sampioene langs die pad. As jy nie ’n kenner is nie, moet dit liewer nie saam met jou salami op jou toebroodjie vir middagete sit nie.
Gaan tant Breggie die roete kan voltooi ná haar heupvervanging?
Dele van die roete is taamlik steil, maar goed uitgelê met trappies om die stapper te help en erosie te keer. Die paadjie is in die algemeen goed onderhou en gemerk, maar daar is ’n deel waar jy oor rotse moet stap. Tant Breggie moet dalk eerder tuis bly (maar sy kan wel haar beskuitjies en tuisgebak saamstuur).
Wat is die beste tyd van die jaar?
Ek reken tussen September en April, wanneer die weer warm is, maar as jy die weervoorspelling dophou, kan jy dit op enige mooiweersdag stap. Dit vat immers net ’n paar uur.
Wat van jong kinders?
Die roete is taamlik lank, dus gaan iemand dalk ’n kind vir die laaste kilometer of twee moet dra. Ek
dink kinders ouer as 8 jaar behoort die roete sonder moeite te kan stap, maar reken dan net 'n uur of wat se ekstra staptyd by en stop gereeld om rotspoele en swemplekke te verken.
Ná 2 km is daar ’n “ontsnap-roete” terug na die uitkykpunt, maar dit is steil en dan loop jy boonop die deel van die roete langs die see mis.
Enige diere, plante of natuur-verskynsels waarvoor ek op die uitkyk moet wees?
Kyk in die boomtoppe vir Knysnaloeries. Jy sal hulle waarskynlik hoor voor jy hulle sien. Luister vir hulle kau-kau-kau-kau – dit klink meer soos ’n dassie wat grom as ’n voël wat sing.
As jy gelukkig is, sien jy dalk ’n otter wat in die getypoele krap-pe soek. Party van die bome op die roete het naamplaatjies. Wees op die uitkyk daarvoor en probeer ’n paar inheemse spesies uitken.
Die beste deel?
Nadat jy die laaste keer van die kus weggedraai het, stap jy deur die woud terug teen die kop uit. Bo kyk jy terug oor die pragtige roete wat jy doer onder afgelê het. Die uitsig van daar af is iets besonders.
Gaan ek verdwaal?
Nie sommer nie. Die roete is duidelik gemerk en word goed in stand gehou.
Wat moet ek inpak en saamvat?
Twee liter drinkwater behoort genoeg te wees. Daar is stroompies waaruit jy kan drink, maar bring liewer jou eie water. Jy het nie eintlik kos nodig nie, maar peuselgoed is altyd lekker. Ek sou mense aanraai om ’n lekker middagete te pak en iewers langs die pad piekniek te hou. Die eerste strandjie wat jy teëkom, is beskut en goed geleë. Onthou jou swemklere in die somer – en uiteraard die sonroom en hoed. Moenie jou kamera vergeet nie. Jy kan lekker op Facebook spog met jou foto’s. Die mense sal dink jy was diep in die wildernis.
Jou wenk vir mense wat wil gaan stap?
Vat dit rustig. Dis ’n lieflike, gemaklike roete. Moenie dat iets jou aanjaag nie. Daar is heerlike swempoele in die stroompies. Begin vroegoggend stap terwyl dit nog lekker koel is en span dan oor middagete iewers langs die see uit. Soos met die Otterpad self, kan jy selfs ’n snorkel en duikbril saamvat en die rotspoele verken.



















Kommentaar