Kosibaai-stap
Deur Leon-Ben Lamprecht
Jy kan binne vyf uur met ’n motor van Durban af tot in ’n ongerepte stukkie subtropiese Afrika ry. Leon-Ben Lamprecht en die fotograaf Greg Ewing het by Kosibaai gaan stap en amper besluit om nie terug te kom nie...
Kosibaai 101
Hoe werk dit?
Ons het twee dae gestap en drie nagte oorgeslaap. Jy kan ook drie dae stap en vier nagte bly. Reël met Willie.
Hoeveel kos dit?
R1 660 vir vier dae – verblyf, kos en die vervoer van jou bagasie ingesluit. Dié prys word aangepas na gelang van wat jy wil doen. Die dagaktiwiteite kos ekstra (per persoon): kano – R100; seeskilpadtoer – R200; bootrit – R250. Jy kan ook perdry teen R250. Die stapgidse se tarief vir die hele tyd is R300, wat deur die groep as geheel betaal word.
Moet ek malariapille drink?
Dit is malariawêreld, veral in die reënseisoen (tussen Februarie en Mei). Sluk daai pille.
Beste tyd?
Die seeskilpadseisoen is van November tot Februarie. April tot Augustus is dit aansienlik koeler.
Wat moet ek bring?
’n Beperkte hoeveelheid bokswyn en bier word verskaf, maar jy is welkom om jou eie te bring. Bring peuselgoed vir die stap.
Kontak: Jacana Marketing by 0861 5222 62; 011 656 0606 of bookings@jacanacollection.co.za of Willie by 072 727 3079. www.jacanacollection.co.za
(Let wel: Pryse akkuraat vir Februarie 2009)
Lees die volledige storie:
Aankoms
Viskrale is eintlik yskaste
Willie Labuschagne, wat Kosibaai se staproete bedryf, het ’n paar jaar gelede sy werk as
rekenaarprogammeerder in Pretoria gelos en saam met sy Belgiese vrou, Isabelle (toe nog
sy meisie), Kosibaai toe getrek. Sy wou perdsafari’s doen en hy het nie juis van Pretoria gehou
nie. “As jy brandewyn drink en die Bulle ondersteun, dan pas jy in.
Maar ag, dis seker maar oral so. As jy inpas, dan’s alles fine. Hier pas ek in.” Nadat die vorige staproete hier by Kosibaai gesluit is omdat die geriewe agteruitgegaan het, het Willie en die plaaslike gemeenskap ingespring om die nuwe roete op die been te bring. Jy stap twee of
drie dae, nes jy verkies, tussen 8 km en 15 km per dag deur kusen duinewoude, deur vleie, langs
mere, oor riviere en op strande.
Jy slaap elke aand in ’n boskamp, wat nie ’n gewone ou staphut is nie, maar eintlik ’n gastehuis wat ook ander niestappende toeriste ontvang. En waar die vorige roete in Willie se woorde meer “hardcore” was, is dit nou ’n slenterroete waar jou bagasie vir jou aangery word. Ons het ’n bietjie vroeg op Manguzi aangekom; die ander stappers daag eers later die middag op. Willie gaan wys ons solank die viskrale by die Kosibaaimond.
Ons klim in sy ou Mercedes-4x4 en ry af see toe. Hier onder by die mond is ons net ’n raps meer as ’n Lance Klusenerses van Mosambiek se grens af. Dié krale lyk soos primitiewe skaapkrale wat halfpad onder die water is. Die stokke vorm ’n drukgang om die vis in af te jaag, en eindig in ’n ronding waar die vis vasgekeer word. As die visse, meestal knorders, eers in die krale is, kan jy met
’n spies soveel gaan vang as wat jy vir die dag nodig het. Willie meen dié krale is die gemeenskap
se ekwivalent van ’n Defy-yskas. “Ek het altyd gewonder hoekom die mense hier nie kaas en botter
van hulle melk maak nie,” sê hy.“En toe besef ek hulle het alles in oorvloed.”
Later die middag ontmoet ons die ander stappers: Hier’s twee Nederlanders, Judith en haar
suster Kim, en dan is daar Janice, ’n voedingskundige van Durban, wat dié staptoer as ’n prys op
East Coast Radio gewen het. Sy kon drie vriende saambring: haar gewese man, Rory, haar neef en
tatoeëerkunstenaar, Mulley, haar dogter Kim (ja, twee Kims), en Matthew, die kleinman.
Die aand sit ons aan vir heerlike filette by Willie-hulle se gastehuis, Maputaland, wat hulle self ontwerp en gebou het. Hier’s drie hutte met ’n grasdak en ’n houthuis waarin Willie-hulle bly. Almal gaan kruip vroeg in. Môre begin ons stap.
Dag 1

Ná die eerste dag se stap, kan jy op die Amanzamnyama-rivier gaan roei. Hou jou oë oop vir babakrokodilletjies - hulle word in hierdie rivier groot tot hulle reg is vir die wêreld van die groot krokodille.
Swart water en ’n gesteelde hond
Ek skrik halfvyf wakker. Dis lig. My Kaapse lyf is nie dié vroeë sonsopkoms gewoond nie.
Ná ’n stewige ontbyt van muffins, muesli en sap ontmoet ons ons gidse, Richard Bonambi en Simanga Zulu. Hulle is eintlik seeskilpadmonitors vir Ezemvelo KZN Wildlife, die ou Natalse Parkeraad. Hulle tel die skilpaaie wat op die strande hier kom broei en sorg dat hulle nie gesteur word nie. Die stapwerk doen hulle in hulle vrye tyd.
Halfnege begin ons stap, Rory en Mulley sommer kaalvoet. Kim probeer baba Matthew besig hou deur goedjies langs die pad aan hom uit te wys. Gras. Blomme. Goggas. Songololo. En net daar begin Anton Liedjieboer Goosen se “Songololo” in my kop draai.
Ons stap deur grasvlaktes, met struikagtige palms wat plek-plek welig groei. Simanga se arms sjwiep-sjwiep soos dit teen sy reënbaadjie skuur.
Dis nie lank nie of Matthew slaap met sy arms oopgesprei oor sy ma se skouers. ’n Uur later
kom ons by ’n nedersetting met omtrent vyf hutte. Ons rus en drink ’n slukkie water.
’n Troppie bababrakkies draf nader en kom snuffel aan ons voete. Hulle ma hang knor-knor
op die agtergrond rond.
Simanga vertel dat jy by sulke nedersettings gewoonlik ’n pot of ’n bottel whisky in ’n boom sal sien. Dis simbolies van die voorvaders en as jy wil raad vra, kom kniel jy voor die bottel. “Maar dit moet whisky wees,” sê hy. “Die voorvaders hou nie van brandewyn nie.” Skaars tien minute verder stap ons die Kosiwoud binne.
Dit laat ’n mens nogal aan die Knysnawoud dink, maar dis warmer en weliger. Binne is dit soos ’n stoombad. Ná die goeie reëns is die paadjie modderig. Die bome verswelg jou soos
’n fratsgolf op Victoriabaai. En dan lê die Siyadlarivier voor. Wel, dis nie juis ’n rivier nie, eerder, soos die mighty Apies, ’n stroompie met twee boomstompe wat ’n bruggie
vorm waaroor jy moet skuifel. Oorkant die rivier raak dinge rowwer.
Die modder is só diep dat jy lángs die paadjie moet loop, anders sak jy weg. Langs die paadjie klou die lantanastruike aan jou soos klitsgras. Mulley sak in tot waar ’n mens nie meer die tatoeëermerk van Bob Marley op sy been kan sien nie. “That’s why tats are value for money, Boet,” sê hy. “They don’t wash off.” Dit vat sowat 40 minute om deur die woud te kom, en dan stap ons al langs die buiterand. ’n Uur later is ons weer onder die bome in, dié slag in die Amanzamnyamawoud, wat “swart water” beteken.
Dié rivier is ’n goeie 30 m breed en jy moet dit op ’n vlot van raffiapalms oorsteek: óf jy moet jou met ’n tou oor die rivier van ’n goeie 30 m breed sleep óf iemand aan die oorkantste oewer moet jou nader trek. Op die vlot moet jy jou staan ken, anders gaan jy die water proe. Mulley swem sommer in sy wynrooi onderbroek deur. Skaars twee minute se stap verder is ons by die Amanzamnyamakamp, waar ons die aand oornag. Arie en Helena van Wouden is in beheer van sake en kom groet met hulle driejarige seun Dylen en dié se beste maat, Valie, die hond.
Ná ’n stewige middagete van lasagne keer ons terug na die Amanzamnyamarivier. By elke oornaghut kan jy een of ander lekker ding gaan doen, en hiér is dit kanoroei. Ons klim twee-
twee in die vier kano’s en gaan verken die rivier. Ek kyk na die raffiapalms, die enigste broeiplek vir die skaars witaasvoël. Pragtig. Met die een oor hoor ek dié nuusbrokkie van die gids: Ons roei nou op die rivier waar die streek se babakrokodille kom leer om volwasse krokodille te wees. Hulle bly hier totdat hulle groot genoeg is om die woeste wêreld daar buite aan te durf.
’n Boskraai skree sy whaaa-wheee-whaaa en ’n ent verder sien die res van die groep ’n krokodil van by die 2 m. Ek en Greg daag net-net te laat op. Dan is dit terug kamp toe, waar ons gasheer, Arie, druk besig is om ’n paar hoenders te braai. “Dié’s die ware Afrika,” sê hy.
“Dié en Mosambiek. Nie Nami-bië of Botswana nie.”
Valie, moontlik die vriendelikste hond in KwaZulu-Natal, kom lek my hand. Arie vertel hy het haar in die Moolman-hotel op Piet Retief gekry en Valie gedoop omdat, wel, sy so vaal is. Dalk Weimaramer-bloed, wie weet. Voordat ek die aand aan die slaap raak, hoor ek ’n seekoei nurk, nuurk, nuuurk in die verte.
Dag 2
Seeskilpaaie en privaatheidskending
Ons gaan nie vandag ver stap nie, wat goeie nuus is, want ek het skaafmerke aan die binnekant van my bobene en loop al stywebeen, soos John Wayne net voor hy begin om Dodge City se hoofstraat van ’n kant af skoon te maak.
’n Bietjie Johnson & Johnson’s-babapoeier help aansienlik vir die bene. (Maar dink twee keer voor jy dit vir John Wayne aanbied. – Red.) Skuins voor elfuur val ons in die pad. Vandag stap ons al langs Vierde Meer, wat net buite die Amanzamnyamakamp begin. Kosibaai se vier strandmere is soos ’n string krale aan mekaar verbind. Die eerste twee, naby aan die see, is vlakkerig en vol soutwater. Die derde meer is die grootste – meer as 30 km² – en sy water is vars, en die vierde een, die verste van die see af, is klein en omring deur unieke moeraswoud.
Simanga kap plek-plek vir ons ’n paadjie deur die bos met ’n panga. Ja, sê hy tussendeur, sy van is Zulu, soos in Tsjaka, maar hy is nie ’n direkte afstammeling nie. Ons kom af op ’n spinnekop op
’n geel web. Hy is so groot soos my handpalm. Simanga deins weg en sê hy ken nie dié soort nie.
Vierde Meer lê nou rustig aan die linkerkant. Ons weet hier is baie seekoeie en hulle is gevaarlik.
Die bosse is dig. Hier en daar probeer ’n tak die hoed van jou kop af steel. Simanga lê weer met sy panga in, want die paadjies is toegegroei, skaars ’n maand nadat die laaste mense hier geloop het.
’n Visarend roep in die verte. Jy verwag so half die een of ander advertensiedeuntjie gaan volg wat ’n bottel likeur of ’n tyd-deelwoonstel aan jou wil verkoop. Ons hoor Derde Meer se water klots voordat ons dit sien. En as jy hom in sy volle glorie sien, wonder jy hoekom niemand ’n meer beskrywende naam gekies het nie. Ons stap verby ’n klompie wa-terbessiebome, party seker 15 m hoog, dalk 20 m. Palms groei só welig tussenin dat dit lyk of die bome in ’n palmpoel staan.
Ons sien ’n strik wat lyk of dit vir bosvarke gestel is.
Simanga skuif dit uit die pad uit en ons trek dit uitmekaar. Die pad raak vol bulte, maar as jy afkyk na Derde Meer, is dit die klouter werd. Ukuthula Adventures, waar ons die aand oornag, doem 20 minute later op. Victor Ngubane, wat hier grootgeword het, wag ons in.
“Vanmiddag gaan ons met ’n boot op die mere ry,” sê hy.
“En vanaand,” voeg hy by, “gaan soek ons seeskilpaaie.”
Die wind waai en ek probeer my hare uit my oë hou. Die hele spul van ons is op ’n groterige motorboot op Derde Meer.
Die kanale tussen Tweede en Derde Meer is vol kinkels en die boot moet stadig vaar. Twee bontvisvangers swiep die lug in, sommer hier by ons. Die gras langs die meer is aan die brand. Willie verduidelik dis om dit korter te maak sodat die Thongagemeen-skap se beeste makliker kan wei.
Tweede Meer is aansienlik kleiner as Derde Meer, amper soos ’n Datsun 1400 langs ’n Land Cruiser. ’n Seekoei steek kort-kort kop uit om te kyk wat ons hier op sy werf doen.
Ons kan nie deurvaar na Eerste Meer nie, want die water is te laag, maar ons stop sodat Mulley, die Nederlandse Kim en Rory vinnig kan swem. Die seekoei steek skaars 20 m verder oopbek sy kop uit die water, gereed vir ’n Chomp. Ons draai terug kamp toe.
Ná aandete mik ons strand toe om seeskilpaaie te gaan soek wat eiers kom lê. Victor is ons gids en hy waarsku dat flitsligte so uit is soos sjokoladekoek by ’n Weigh Less-vergadering.
Dan begin die soektog. Soms sien jy glo sommer dadelik ’n skilpad, maar nie vanaand nie. Dis eers ná ’n uur en ’n half se stap dat Victor spore in die sand gewaar. Ek hoop dis ’n leerrugskilpad. “Dis soos om te sien hoe ’n Citi Golf uit die see kruip,” het Willie vroeër verduidelik.
Dis egter ’n karetskilpad, omtrent 1,5 m lank en maklik ’n meter korter as ’n leerrug.
Die wyfies keer terug na hulle geboorteplek om te kom eiers lê. Sestig dae later broei die kleintjies uit en dan moet hulle verby ’n linie honger sandkrappe (“ghost crabs” klink meer onheilspellend) skarrel om die see te haal. Maar in die water is dit ook nie veilig nie: Victor sê net een of twee skilpadjies uit ’n duisend eiers wat in ’n seisoen deur ’n ma gelê word, oorleef.
Ons wag dat die skilpad haar gat grawe. Sy skep die sand bietjies-bietjies met haar vinne weg.
Wanneer ’n seeskilpad begin eiers lê, gaan sy in ’n beswyming. Eers dan kan ons ons kameras uit-haal en foto’s neem. Nadat sy ’n stuk of 120 eiers gelê het, krap sy die gat geduldig toe en kruip met moeite terug see toe. Dit is ongelooflik om só iets te sien; en tog voel ’n mens op ’n manier asof jy inbreuk gemaak het op ’n private ritueel. Dis byna eenuur in die nag toe ons weer by Ukuthula kom.
Dag 3
Introspektiewe gedrag
Almal sukkel om op te staan ná die laatnag. ’n Koue stort help darem. Ek en Greg het net vir twee dae bespreek en gaan vandag teësinnig terug, maar die res kan kies om verder te stap, 12 km of 15 km.
Ons ry saam met Willie tot by die Maputaland-lodge waar ons ons bagasie kry en in die pad val Durban toe. Almal groet. Op pad terug dink ek aan wat Helena vroeër by Amanzamnyama gesê het: “ ’n Mens het net warm water, lekker kos en ’n goeie nag-rus nodig, dan’s jy happy.” Ja, en die warm water is nie juis belang-rik nie – ’n mens het nie veel nodig om gelukkig te wees nie.
Lees die res van die storie
Ons stap deur ’n ruie woud, ek en Judith, die Nederlander, agter my. Saam met ons is nog ses stappers, ’n 21 maande oue baba op sy ma se rug en twee gidse. Bome rank hoog weerskante
van ons, digte struike kyk jou vierkant in die oë en die humiditeit kleef aan jou soos kougom aan ’n kapsel.
Terwyl ons nog ewe rustig stap, sien ek hoe ons gids, Simanga, ’n skriksprong maak wat Hestrie Cloete in haar springdae graag op video sou wou ontleed.
“Ssn-a-a-a-ake!” gil hy terwyl hy na die bosse naby my voete wys. Ek drentel nader.
“Black mamba!” skree hy.
Toe gee ek self ’n sprong waarop ’n luiperd sou trots wees. Gits, dink ek. (Goed, ek het iets anders gedink.) Die res van die stapgeselskap drom om ons saam en staar ook met morbiede verwondering na die reptiel. Ta lig sy kop. Sy tongetjie flits in en uit. Hy seil die bosse in…
Om te sê ek slaak ’n sug van verligting sou ’n onderbeklem-toning wees.
Ons begin verder stap, maar nou kyk almal rond – links, regs, voor, agter – vir ’n moontlikheid van ’n heruitsending.
Later die aand, met ’n glas wyn in die hand by Amanzamnyama-kamp, herleef ons die dag. Joost, ’n Nederlander, is ’n dokter by die hospitaal op die dorpie Manguzi hier naby.
“Die naaste plek waar ons teengif vir ’n swartmamba sou kon kry, is in Johannesburg,” sê hy. “Dis agt uur se ry.” Dié mamba pik glo in ’n agtste van ’n sekonde. En daarna het jy nog tyd om omtrent een en ’n halwe episodes van 7de Laan te kyk voor jy sal moet groet en in die koelte gaan lê.
Ek vat ’n gróót sluk wyn. Dit was nogal hittete. Maar dié voorvalletjie sal my nie hier weghou nie, want dis juis hierdie ongereptheid – die wildheid – van die plek wat jou hart steel.
Gepubliseer op 1 Februarie 2009























Kommentaar