Stapper vertel van heli-redding
Jackie Cilliers (45) en haar man George (49) het vir drie dae in Augustus in die Drakensberge gaan stap, toe hulle ’n verkeerde roete gevat het en hulself in dik sneeu bevind het. Jackie vertel hul storie:
Ek en my man George het vir drie dae in die Cathedral Peak in die Drakensberge gaan stap. George is ’n ervare bergstapper en het onlangs ’n 12-dag, 230 km dwarsklim van die Amphitheatre na Bushman’s Nek gedoen. Dit was die hele week mooi weer, so ons was verras om sneeu op die berge te sien (van die vorige week se kouefront) toe ons van Harrismith se kant af kom.
Ons het om 10vm van Mike’s-pas, wat omternt 1900 m bo seevlak is, begin klim en was om 11.30vm by die vuurhut. Ons het goed geklim en elande, klipspringers, bergrooibokke, bobbejane en verkleurmannetjies gesien. Roofvoëls het ook bo ons gesingel terwyl ons gestap het. Ons het naby die Organ Pipes-pas besluit om oor ’n rantjie te stap om die Thuthumi-pas te vat omdat dit van ver af gelyk het asof daar minder sneeu is. Die suidelike helling was egter steil en ysagtig en ons het besluit om om te draai en aan te gaan met Organ Pipes na Windy Gap. Ons het om 2.45 nm uit Windy Gap op die berg gekom. Die sneeu was prentjiemooi. Dit was verbasend warm – George was in ’n kortbroek en T-hemp. Ons het ’n grasagtige helling gekry, kamp opgeslaan en die laaste hitte van die sontrale geniet. Daar was ander stappers in die omgewing wat gegroet en entoesiasties gewaai het.
Ons het ná ’n warm nag in ons slaapsakke die volgende oggend opgepak en na die boonste Cleft Peak gestap. Ons het gou besef die sneeu lê plek-plek so diep as tot by jou bobene – dis nogal uitputtend en jy moet gereeld rus teen daai hoogte. Ons het om 11 vm die bopunt van Cleft bereik en gestop om die uitsig en ’n koppie tee te geniet. Die wind het van Lesotho se kant af opgetel en die lug verkoel. Dit was makliker om so sukkel-sukkel afdraend te loop en ons besluit toe om oor te stap na Cockade-pas om te sien hoeveel sneeu daar lê. Dit het gelyk asof die berg voor ons dikker onder die sneeu is en die volgende heuwel was harde werk. Ons het om 1 nm terug afgestap en by die stroompie middagete geniet. Dit was beskut van die wind en omring deur sneeu. Ons kon dit nie weerstaan om na ete ’n sneeuman te maak nie – met behulp van ’n ander stapper, John, wat alleen gestap het.
As gevolg van die wind en dik sneeu het ons besluit om ’n bietjie verder af na Tseketseke-pas te gaan en dié aand laer af te slaap – beskut van wind en sneeu. Die sneeu was byna kniediep toe ons na die pas toe stap en toe ons by die kloof kom, was die sneeuhope so diep tot by ons middellywe – en dieper. Ons het op ons boude gegly en ons hande en voete gebruik om ons te lei – ons het op dié manier bo die sneeu gebly. Die sneeu was plek-plek tot 2 m diep.
Met hande en boude wat omtrent gevries was, het ons die einde van die sneeu bereik en ons pad verder deur die groot klippe en onlangse rotsstortings gewerk. Ons was versigtig vir ge-ysde strome wat steil en glad was. George moes skielik stop as gevolg weens ’n van ’n vurk in die pad, wat nie voorheen aan ons bekend was nie. Ek het op ’n minder steil grasbank teruggeleun terwyl hy die pad vorentoe verken het. Hy het teruggekom met ’n groot frons. Toe ons die kaart bestudeer, het ons besef watter fout ons gemaak het – ons was nie in Tseketsepas nie, maar ’n pas links daarvandaan. Dit was ’n doodloop – en boonop ’n steil een. Net die idee daarvan om deur die dik sneeu bo ons te probeer klim, was skrikwekkend. Ons het ons selfoon probeer gebruik, maar daar was geen sein nie. Ons het toe maar omgedraai en is terug op by die helling in die rigting van die klofie.
George het so 300 m in die berg op weer sy selfoon probeer en dié keer was daar ’n sein. Hy het by Pietermaritzburg se Berg en Redding. Deurgekom en vir raad gevra. Hulle het ons gewaarborg dat die beste sou wees as ons sit en wag vir hulp. Dit kon dae neem om deur die sneeu te klim en dit was reeds 4.30 nm en besig om vinnig koeler te raak. George het die man verseker dat ons warm klere, slaapsakke en genoeg kos het. Hulle het vir ons gesê om die selfoon vir ’n rukkie af te skakel – om die batterylewe te spaar en om te wag vir hul boodskap ’n bietjie later.
Ons volgende taak was om ’n plekkie aan die kant van die berg te kry waar ons die nag kon deurbring. Ons het rotse aan die onderkant van ons voete gepak om te voorkom dat ons afgly. Ons het ietsie gemaak om te eet en drink en uiteindelik in ons slaapsakke geklim – so teen die skuinste. Ons het teen 7.30 nm nog niks van hulle gehoor nie en besluit om te slaap. Ons was wawyd wakker toe dit begin lig word en het toe die selfoon aangeskakel om te kyk hoelaat dit is en of daar al ’n boodskap is. Daar was ’n sms wat gesê het ons moet oppak en om 6 vm reg wees vir die helikopter om ons te kom optel. Dit was 5.54 vm en ons het so vinnig moontlik probeer om die toerusting in ons rugsakke te pak. Die laaste ding wat ons wou doen was om duisende rande se goeie staptoerusting te verloor. Ons het binne minute begin afstap na ’n oorhang 300 m laer, wat die beste plek was vir ’n helikopter om by uit te kom.
Net nadat ons ’n neon-kleurige omhulsel gekry het om mee te waai, het ons die helikopter om die berg hoor kom. Die massiewe 8 ton Oryx Lugmag-helikopter het binne minute bo ons gehang – dit was nie moeilik vir hulle om ons te sien nie. Ons het vir hulle GPS-koördinate gegee en hulle kon direk na ons toe kom. ’n Kabel is uit die helikopter laat sak met ene Colin byderhand om ons te help. Dit het gevoel asof ons van die berg af gewaai gaan word. Ek het aan stukke gras vasgehou, met die oorverdowende geraas van die helikopter. Die helikopter het ’n bietjie aanbeweeg vir Colin om vir ons die stappe te verduidelik en die harnas aan te sit. Die helikopter het weer nader beweeg, Colin het die haak aan my harnas vasgemaak en ek is binne sekondes opgehys. Ek het die kort rit na die helikopter baie geniet en dit het vlot verloop omdat ek presies gedoen het wat hulle gesê het. George en ons rugsakke was volgende. Colin is laaste opgehys en ons is toe na die Didimakamp-omgewing.
Hulle het op ’n sokkerveld langs die kampplek geland en ons het almal lekker warm koffie en ’n paar minute se gesels geniet voordat die helikopter weer opgestyg het. Al wat ons nog moes doen, was om af te gaan en uit te teken op die bergregister.
Die belangrikheid om voorbereid te wees wanneer jy in die Drakensberge gaan stap
1. Teken die bergregister met all jou inligting, asook die staproete.
2. Neem ’n selfoon met ’n gelaaide battery saam.
3. Vat genoeg warm toerusting vir reën en uiterste weerstoestande.
4. Sorg dat jy genoeg kos het vir ’n ekstra dag of twee.
5. Sorg dat jy altyd genoeg water het. Ten minste 2 liter elk.
6. Dra ’n ordentlike kaart van die omgewing saam met jou en indien moontlik, ’n GPS.
7. Moenie alleen gaan nie.
Deur slegs hierdie eenvoudige reëls te volg, kan ’n lewensverskil maak.






















Kommentaar