’n Eeu gelede, voordat ’n mens Die Hel met die Elandspadpas kon binnery, moes jy te voet of met ’n donkie óór die Swartberg stap. Jeanne van der Merwe en Ruvan Boshoff het in die ou donkies se spore gaan stap.
Swartbergroete 101
Hoeveel dae? As jy die roete oor ’n naweek wil stap, kom jy op ’n Vrydagaand aan en vertrek op ’n Maandag net voor middagete. Jy stap die eerste dag 11 km en die tweede dag 9 km.
Hoe fiks moet ek wees?
Taamlik fiks; die roete strek oor ruwe terrein en is baie steil.
Wat is ingesluit?
Alle etes, drink-goed (nie drank nie), portiergeld, vervoer terug na jou motor, gidse, kamptoerusting en bewaringsgelde vir die Gamkaskloof-natuurreservaat. Jy betaal ekstra vir alkohol.
Wat moet ek saambring?
Waterbottel, insekweerder, warm en windbestande klere, sonroom, ’n stewige wyerandhoed en ’n mussie.
Hoeveel vriende kan ek bring?
Tot 8 stappers per groep.
Is dit veilig? Drie uur se stap van die bergkamp af is hier ’n kamp met noodvoorraad. Een gids het altyd ’n satelliettelefoon ingeval van ’n besering.
Wanneer moet ek gaan? Die berg is heeljaar pragtig, maar van Augustus af sal jy veldblomme sien.
Koste: R2 500 per persoon.
Waarvandaan die naam?
Die by-naam “Die Hel” het niks te make met hoe warm dit word nie (dis koeler hier as op Prins Albert in die noorde of Oudtshoorn in die suide). Dié bynaam is blykbaar te danke aan ’n vee-inspekteur van Calitzdorp, Piet Botha, wat skape tydens ’n droogte in die jare twintig in die kloof moes kom dip. Die reis per donkiekar by Die Leer af was vir hom “hel op aarde”. Die Gamkasklowers het nooit vat gekry aan dié naam nie.
Bo-oor, onderdeur, sywaarts en af. Verskeie voetpaaie het na die Gamkaskloof gelei. Die beroemdste een was Die Leer, ’n gevaarlike noordwestelike deurgang uit Prins Albert se rigting. Twee poorte langs die Gamkarivier se noord-suidvloei het as Onderpoort of Suidpoort (suid van Calitzdorp) en Noordpoort (in die rigting van Prins Albert) bekend gestaan. Die Noordpoort-uitgang, wat ook Skietpoort genoem is, is in 1969 toegemaak toe die Gamkapoortdam gebou is.
Vergete en vergange. Nadat die gruispad in die jare sestig voltooi is, was dit nie meer nodig om die berg met ’n donkie oor te steek nie. Die donkiepaaie het in onbruik verval en toegegroei.
Fokuspunt.
Die Gamkaskloof is een van 34 biodiversiteitfokuspunte ter wêreld. (Dis gebiede waar ’n besondere hoeveelheid plantsoorte voorkom wat uniek is aan die gebied en deur ontwikkeling bedreig word). Dié kloof is die enigste fokuspunt in ’n dorre streek; jy stap op een dag deur vetplantryke Karoo-, subtropiese ruigte-, bergfynbos- en renosterveldplantegroei.
(Let wel: Pryse akkuraat vir Junie 2009)
Lees die volledige storie:
Die donkie gaan jou nie dra nie
Voordat 'n mens Die Hel met die Elandspas kon binnery, moes jy te voet of met 'n donkie oor die Swartberg stap.Toe die fotograaf Ruvan Boshoff in die voetspore van die ou donkies gaan stap het, het hy hierdie foto geneem van Buddy, een van die die pakdonkies en die hanteerder Johnifer Nel. (Weg #56)
Teen die tyd dat ek en Ruvan, die fotograaf, die aand voor ons staptog by die beginpunt aankom, het die sewe ander stappers reeds gehoor wat op hulle wag.
Erika Calitz, eienaar van die plaas Living Waters anderkant Calitzdorp, waar die roete begin, gee vir ons die inligting: ’n Gedeelte van ons bagasie gaan op die donkies se rug saam met ons berg-op; die res ry sy die volgende dag aan Gamkaskloof toe met haar bussie. “Jy sien nie altyd die donkies op die roete nie,” verdui-delik sy. “Hulle stap teen hulle eie tempo; soms vinniger as die stappers, soms stadiger.”
Ruvan lyk dankbaar. ’n Donkie gaan sy kamera se driepoot dra. Erika se man, Hans, ons stapleier, vertel ’n vorige groep het gedink hulle gaan die berg op die donkies uitry. “Hulle was verras toe hulle hoor hulle moet self stap.”
Ná kouevleis, slaai en brood kruip ons in. Ek is al halfpad in ’n droom in toe ’n luide “haaaaa- heeee… haaaaaaheeee” die stilte verbreek. Blykbaar balk ’n donkie as hy van sy maats geskei word.
Latitude: Longtetude: Elevation: Maak toe
11 kmDag 1Living waters-plaas na Bergkamp
Die roete begin op die plaas Living Waters, wat in die 19de eeu deel was van die plaas Groenfontein. Een van die oorspronklike Gamkasklowers, Koot Nel, het hiervandaan oor die Swartberg getrek.
Net voor die kamp stap jy by 'n oorhangrots verby met swart kolle teen die "dak" -volgens oorlewering het die Klowers hier gestop om koffie te maak en te rus.
Al die pad boontoe
Om sesuur ontmoet ons by die ontbyttafel wat kreun onder die heilsaamheid: Tuisgebakte brood, kouevleis, kaas, muesli, jogurt, vrugtesap en koffie.
Ons lê weg, want vandag gaan ons krag nodig hê. Ons stap 11 km vorentoe en 1 200 m boontoe.
Buite op die grasperk knabbel die donkies ook aan hulle laaste dosis kragvoer terwyl hulle gepak word. Buddy is liggrys en omtrent so groot soos ’n ponie; Goldie is goudbruin en effens kleiner; en Thyme, die kleinste een, het ’n paar littekens op haar sye.
“Ons stapdonkies is byna al-mal uit haglike omstandighede gered en hier op die plaas gere-habiliteer,” vertel Erika.
’n Donkieskuiling op De Rust het haar gehelp om die donkies in die hande te kry. Die Gamkaskloof-donkies van destyds het vragte van tot die helfte van hulle eie liggaamsgewig gedra, maar Erika en Hans se donkies dra nooit meer as 20 kg elk nie. Terwyl ons staan en gesels, snuffel Buddy ’n pakkie droëvrugte en neute uit iemand se sak. Uitgeslape.
Ons begin stap. Hans vertel Living Waters was eers deel van ’n groter plaas, Groenfontein, wat toentertyd aan die Nel-familie behoort het. Dié plaas grens aan Kaapse Natuurbewaring se Swartberg-natuurreservaat, wat die Gamkaskloof insluit.
Sue van Waart vertel in haar boek Die Hel, vallei van die leeus, dat Groenfontein mettertyd te klein geword het vir al die Nels – daarom het een van die seuns, Koot, oor die berg na die afgeleë dog vrugbare Gamkaskloof getrek.
Om in en uit die kloof te kom het die Nels dié voetpadpas ge-bruik waarop ons nou stap. Die paadjie steek op sy hoogste punt Wyenek oor en het mettertyd as die Wyenekroete bekend geword. Die Nels is destyds selfs met
’n volledige watermeul hier oor! (Goed, darem stuk vir stuk.)
So in die stap wys Hans vir ons ’n witkruisarend se nes doer teen die kranse, ’n paar rots-tekeninge, ’n klipspringer wat doodstil teen die skuinste staan, en ’n dam met ’n klompie skug-
ter varswaterskilpaaie.
Die pad raak skielik steiler. Dis die begin van Zigzag, en ons is nog nie eens by die halfpadmerk nie.
Wyenek, die bopunt, lê iewers doer voor weggesteek agter die granietblokke wat soos suiker-klontjies teen die helling gestrooi lê.
Zigzag 1, Robbie 0
Aan die bopunt van Zigzag gaan sit een van die stappers.
“Genoeg is genoeg. Ek kan nie meer nie,” sug Robbie Merrifield, ’n gesoute stapper van Kaapstad. Hy en twee vriende het gister van Calitzdorp af gestap – 12 km met ’n kronkelende gruispad terwyl die kwik digby 40 ºC gaan draai het. Sy energie is op. Hy wil terugdraai.
Hans kom van die voorpunt van die groep af om ’n ent saam met Robbie terug te stap en seker te maak hy kom veilig onder.
Die temperatuur kuier weer aan die verkeerde kant van 30 ºC en die berg is snoep met skaduwee. My tweede waterbottel begin lig voel, maar ons gaan glo nou-nou ’n rivier oorsteek. Net toe ek effens bekommerd die laaste druppel uit-skud, kom ons op die kabbelende stroompie af.
Ons bondel dankbaar onder die bome in en drink groot slukke yskoue bergwater. Jane dompel sommer haar laphoed in die rivier – ’n mens kan sien dis nie haar eerste lang warm staptog nie…
Eers toe ons wil aanstoot, kom die donkies teen ’n slakkegang teen die steilte op. Ons druk maar voort vir nog ’n uur voordat ons uitspan vir middagete – net mooi toe ’n wolk voor die son inskuif.
Ons tuur wyd oor die Klein-Karoo se heuwels terwyl ons toebroodjies, frikkadelle en hard-gekookte eiers eet en effens besorg wonder oor Wyenek, waar ons nog moet deur.
Toe ons weer voortswoeg, dink ek onwillekeurig aan die Nel-broers, Pietie en Danie, wat ’n hele meulsteen oor die berg gedra het toe hulle die eerste keer in die negentiende eeu van Groen-fontein na die Gamkaskloof ver-huis het.
Dis warm, steil en plek-plek swaar om te stap. Maar ek is hier omdat ek hier wil wees. Die Nels se lewe het daarvan afgehang.
Ek soek elke paar honderd treë ’n gemaklike sitplek waar ek my bene kan laat rus. Ek plof langs
’n protea neer wat ’n maand gelede pragtig moet gewees het.
Hans vertel hoe hy en Erika heel toevallig van hulle plaas se geskiedenis gehoor het: “Vandat ons die grond twaalf jaar gelede gekoop het, het mense af en toe ’n draai by die begraafplaas kom maak. Omtrent vier jaar gelede het iemand van die Simon van der Stelstigting ons gehelp om ’n ge-bou hier te restoureer. Hy’t gesê een van die oorspronklike donkie-passe na die Gamkaskloof het op ons plaas begin en gevra of ons stappers op dié roete sou toelaat.”
Ná vier jaar van geldinsame-ling, beplanning, navorsing en onderhandelings met Kaapse Na-tuurbewaring het die Calitze die roete verlede September oopgestel.
Dit was nie maklik nie. Nadat die gruispad van die Swartbergpas af in 1962 voltooi is, is donkies al hoe minder gebruik. Die paaie het toegegroei en die herinneringe daarmee saam.
“Ons kon nog die pad plek-plek sien, maar ons het ook ou foto’s nagegaan en baie rondgevra,” sê Hans.
Namate ons hoër klim, rek die rytjie stappers ver en dun uit op die paadjie. Op, op, op. Uiteindelik kyk ek boontoe en sien Ruvan op ’n rots sit met ’n glimlag op sy gesig… en agter hom net blou lug! Ons is bo.
Bo-op die berg lyk alles anders. Plek-plek maak die gras bleek feësirkels, tussen plate wabome met pienk blomme so groot soos teepotte.
Nou stap ek saam met Stephan Theron, ’n programmeerder, agter die res van die groep. Ons verkyk ons aan wit en pienk sewejaartjies, leucadendrons, dekriet, klein pienk speldekussings en ’n mag-dom ander plante wat ek nog nooit gesien het nie.
“Sien iemand al die kamp?” vra Hans toe ons skuins bo ’n stroompie gaan staan. Eers sien ons niks nie, en toe ’n groen- bruin weermagtent tussen die rotse anderkant die rivier, nes ’n versteekte prentjie op ’n baie groot poskaart.
Ons stap verby ’n oorhang- rots omtrent so groot soos ’n halwe motorhuis. Binne is dit gitswart van die roet. Die ou Gamkasklowers het dit “koffieklip” gedoop; dit was hulle rusplek.
Ons tree versigtig oor ’n lae waterval en dan is ons tuis vir die nag. Kort voor lank sit ons om ’n tafel, elkeen met ’n emaljebeker vol stomende koffie. (Die bekers het almal ’n donkieprent op.)
Toe ons weer ’n bietjie lewe in die bene het, gaan kyk ’n paar van ons na die swemgat in ’n na-tuurlike sandsteen-amfiteater. Die middagson bak lekker warm en ons is beskut teen die wind. Bo ons hang varingtakkies oor ’n rots, suikerbekkies fladder van blom tot blom en die waterval tuimel druisend uit die swemgat.
Ons mag nie vuurmaak in die wildenisgebied nie, en ná ’n bord tamatiepasta en rooiwyn jaag die koue windjie ons tente en slaapsakke toe.
Latitude: Longtetude: Elevation: Maak toe
9 kmDag 2Bergkamp na Gamkaskloof-ingang
Die swemgat by die kamp bo-op die Swartberg word deur 'n permanente stroom gevoed. Dis hemels om hier af te koel nà die trek oor Wyenek.
Thyme en Buddy vat 'n blaaskans nadat die pakkaas van hulle rug af gehaal is.
Afdraand af...
Dit het laasnag gereën. Terwyl ek my yskoue langbroek aantrek, onthou ek Else, my tentmaat, se wyse raad dat jy jou klere saans onder jou slaapsak moet indruk sodat dit warm bly.
Die wind waai onophoudelik en die kwik wil net nie styg nie. My vingers is dood en ek kan nie my neus se punt voel nie. Ek wil nou net aan die stap kom sodat ek kan warm word.
Voordat ons begin stap, groet ons die donkies, wat nou terug-stap na gister se beginpunt.
“Hulle stap baie vinniger as hulle huis toe stap as weg van die huis af,” vertel Malcolm, een van die hanteerders.
Ons stap teen groot rots- trappe op waar vreemde formasies deur die eeue deur die wind uitgekerf is – op een plek lyk dit soos ’n seeperdjie.
Hier kom jy regtig onder die indruk van hoe groot die Swartberge is. Die voue en skeure is stille getuienis van hoe die aarde se kors oor die millennia gevou en verfrommel is. “Jy kan sien hoe die sagter leiklip uitgekalwe is om dié vallei te vorm,” sê Rod.
Die een wat die Vallei van ’n Duisend Heuwels in KwaZulu-Natal sy naam gegee het, was seker nooit hier nie. Hier’s ontelbare heuwels, na alle kante toe.
Dis nie maklik om teen die onegalige hange af te stap nie. Die steil kronkelpad laat gister
se Zigzag na kinderspeletjies lyk. Plek-plek trap ons leiklipkrummels los. Ons klim voetjie vir voetjie teen rotstrappies met vlymskerp happerige tandjies af en stap deur ’n vlak valleitjie voordat ons die volgende rantjie aandurf.
Uiteindelik, omtrent drie uur later, sien ons die Gamkaskloof. Dit lê soos ’n groen lint op die bodem van die lang, wye vallei wat deur die Gamkarivier en sy vertakkings uitgekerf is. Uiteindelik sien ons selfs die beroemde pad na Die Hel, die pad wat alles verander het, die Elandspadpas.
“Die pad was veronderstel om die lewe hier makliker te maak,” sê Hans, “maar op die ou einde was dit net ’n ontsnaproete vir al die jong mense.” In die dekades nadat die pas in 1963 voltooi is, het die kloof leeggeloop.
Ek hoor later die enigste oorlewende gebore en getoë Gamkasklower, Annatjie Mostert, wat nog die plaas Fonteinplaas in die kloof besit, woon ook nie meer permanent hier nie, maar is meestal op Mosselbaai. Haar seun, Piet, en sy vrou boer nou op die plaas. Dis een van net
twee plase in die vallei in private besit, en die laaste werkende een… dis al wat oorgebly het van ’n eens bedrywige plaasgemeenskap.
Die pad loop soos ’n wit kryt-streep deur die veld. Erika se silwer minibus wag vir ons. Ek het ’n gevoel sy het koue drinkgoed gebring en stap al hoe vinniger – nes die donkies wat weet hulle gaan huis toe. ’n Paadjie met dakhoogte aalwyne spoeg ons op die groot-pad uit, nie ver van die 33 km-mylpaaltjie van die Swartbergpas af nie.
“Veels geluk!” sê Hans. “Daar is nie baie mense wat gedoen het wat julle nou gedoen het nie…
nie onlangs nie.”
Kronkels en krulle
Erika wag ons in met bier, sider en koeldrank.
Ons gooi ons dagrugsakke in die bussie en stap die Elandspadpas se amper verspot kronkelende laaste afdraande, wat jy dalk al op ’n poskaart gesien het.
Af en toe dreun ’n groot, stowwerige veldwa met groot-oog-insittendes verby. Ek was nog nooit in die Gamkaskloof nie, maar noudat ek die berg oorgesteek het, voel ek nader aan die mense wat hier gewoon het as wat ek sou as ek die kloof met ’n lug-verkoelde 4x4 ingery het.
Ná ’n uitgerekte middagslapie braai ons op ’n vuur wat só groot is dat dit vergoed vir die een wat ons nie gisteraand gehad het nie. Ons kuier in die huis van wyle Lenie Marais, ’n legende in dié geweste. Sy het die huis vrou-alleen gerestoureer en dikwels oor die berg gestap Calitzdorp toe, waar sy vir die dag gaan inkopies doen het. Sy wou glo kort ná haar dood begrawe word sodat sy “vinnig kan begin spook”.
“Kyk, daar’s ’n satelliet,” sê Erika.
Die dun ligstrepie beweeg soos ’n radionaald teen die hemelruim, tussen miljoene der miljoene helder sterre deur. Môre ry ons huis toe met die pad wat die einde beteken het vir dié 150 jaar oue gemeenskap.
Ek het dié artikel baie geniet aangesien ek een maal 'n maand Hel toe gaan. Ons is tans besig met die herstel van die pad na Huis Marais Cordier en ek is die projekbestuurder op dié projek.
Kommentaar