Leon begin sy staptog vanuit Lukla
Leon Kriel het in Lukla geland en sy staptog na die voet van Everest het uiteindelik begin.
Dag 1
Ek het vanoggend van Katmandoe na Lukla gevlieg. Dit was toe glad nie so erg soos ek gedink het nie. Seker so net ná halfagt begin stap. Ons het gereeld gerus en gestop vir tee voordat ek opgewarm was.
Middagete was so halfpad Pakding toe. Lekker slap chips en baie tee. Ek het ’n baie lekker kamer vir vanaand in die Chinese Lodge in Pakding. Dit raak nou nogal koud en volgens Phurba, my gids, kan dit vannag sneeu. Cool.
Môre is glo ’n lang dag en baie opdraand ná middagete. Ek sal maar sien. Ek en Phurba het besluit om ons portier, Dorche, môre te help dra. Hy sukkel so ’n bietjie met al my én sy goed op sy rug.
Dag 2
Ons het gister van Pakding na Numche gestap. Ek dink dit was ’n goeie dag. Daar was baie opdraande en baie mense langs die pad. Ek kan voel die hoogte begin my vang. Dis selfs moeilik om by die trappe op te gaan na my kamer toe. Ons is nou eers by 3 400 m. My gids meen ek’s nog in ’n goed genoeg toestand om na die volgende dorpie te gaan.
Die meeste mense wag hier vir ’n eksta dag voordat hulle aangaan, maar Phurba dink ek is nog fine en kan eerder later ’n rusdag vat.
Ek was gister vir die eerste keer in my lewe in die sneeu terwyl dit sneeu. Nogal in ’n kortbroek. Maar nie vir lank nie. Hier is twee foto’s van Numche. Een toe ons gistermiddag hier aangekom het en een hoe dit vanoggend uit my kamervenster lyk.
Dag 3
Vandag is net 3 ure se stap tot by Kumjung en ek mag dalk ’n foto van my kry saam met ’n llama.
Die kos is baie lekker so ver. Oats vir ontbyt, pannekoek vir middagete en Yak-noedels vir aandete. Dis my laaste keer dat ek gaan waag om naby aan vleis te kom tot ek weer terug is in Numche.
Ek het ook tot dusver elke aand ’n lekker kamer vir myself gehad. Gisteraand sommer ’n dubbelbed. Daar is twee spoeltoilette op my vloer.
Goed. Dis dit vir nou.






















Kommentaar