Leon land in Katmandoe
Die eerste drie dae voordat die staptog begin
Ek vertrek uit Kaapstad om 6.40 nm. Dis die eerste keer dat ek deur die nag vlieg en ek weet nou dat ek ook nie op 'n vliegtuig kan slaap nie. Ek slaag egter daarin om bietjie in te sluimer net voor ons land en mis toe breakfast. Ai! Gelukkig kon ek met die tweede rondte koffie iets kry om te eet.
Ons land 7.30 vm. in Katar. Hier moet ek tot 9.00 vm. wag voor ek kan board vir my vlug tot in Katmandoe. Ek slaag darem daarin om vir so tien minute in te sluimer. Nee, ek het darem nie my vlug gemis nie.
Ek sien hoe meer en meer mense opdaag by die hek met rugsakke en stapskoene. Opvallend baie Duitsers. Op pad na die vliegtuig ontmoet ek vir Andrias. Hy was al drie keer in Nepal en hy gee my goeie raad. Hy het bietjie bekommerd gelyk toe ek vir hom vertel dat ek nog nie die soort ding gedoen het nie, maar ek maak of ek dit nie sien nie.
Net toe ons almal ons sitplek in die vliegtuig kry, word ons gevra om weer van die vliegtuig af te klim omdat die een waarin ons is, stukkend is.
Ná nog 'n halfuur op die lughawe, laai hulle ons toe in 'n ouer vliegtuig, maar hy maak dit toe darem tot in Katmandoe met net 'n paar snaakse geluide. Ons land toe eers 8.15 nm. in plaas van 5.30 nm.
Ek ontmoet vir Sumba, my gids, en hy vat my tot by my hotel. Daar is selfs 'n foto van Nelson Mandela teen die muur in die eetsaal. Ná 'n baie interessante toast-broodjie is ek reguit bed toe om my verlore slaap te gaan inhaal.
Ná 'n heel lekker ontbyt het Sumba my weer kom haal vir 'n toer deur die stad. Ons was onder meer by die grootste tempel in die wêreld (Bouddanath Stupa) en hy het selfs vir my gaan wys waar die monike bly.
Die straatjies is baie nou en almal het 'n motorfietsie. Almal toet die hele tyd en ry nes hulle wil. Niemand hou aan die linker- of regterkant van die pad nie. Dan moet die bestuurders ook nog uitswaai vir beeste, hoenders en voetgangers. En ek dog dis gevaarlik om deur Transkei te ry!
Nou is daar net tyd vir n vinnige aandete, laaste dingetjies pak en dan is dit tyd vir slaap. Ek moet al 5.30 vm. reg wees om te vertrek na Lukla.






















Kommentaar