WegRy se Leon Kriel stap tot by die voet van Everest
Leon, ’n Weg-redaksielid van die Kaap, is dol oor stap en het al onder meer Tafelberg, Groot-Winterhoek naby Porterville, Leeukop en die Wolfbergskeure in die Sederberge gestap. Hy het nooit gedink hy sou die Himalajas kon aanpak nie, totdat ’n vriend hom oortuig het dat enige iemand dit kan doen. Na baie navorsing en beplanning is Leon uiteindelik op pad en hy gaan vir ons op hoogte hou van hoe sy staptog vorder. Hier is ’n paar vrae wat hy voor sy vertrek geantwoord het:
Hoekom het jy besluit om die groot staptog aan te pak?
Ag, ek was nog altyd mal oor die berge en ek dink die Himalajas is dié bergreeks van alle bergreekse. Vir my was dit altyd ’n droom om eendag Killi te klim en ek sou nooit kon raai dat ek eendag Himalajas toe sou kon gaan nie. Maar ná ’n bietjie navorsing kon ek nie glo hoe moontlik dit eintlik is nie. En die res is geskiedenis.
Hoe lank terug het jy besluit om dit te doen?
Ek het Augustus verlede jaar met iemand gepraat oor sy planne om Killi te gaan klim. Dit het my laat besef dat ek dit ook miskien kan doen.
Hoe het jy hiervoor voorberei?
Omdat dit my eerste keer is wat ek so iets aanpak, was ek nie juis seker hoe fiks ek sal moet wees nie. Ek het maar gedraf, geswem en elke naweek ’n lang stap gedoen. Ek het byvoorbeeld een Sondagoggend Tafelberg, Duiwelspiek en Leeukop in 6 ure gedoen. Dan het ook elke Donderdag Leeukop so vinnig moontlik uitgeklim met 10kg water in my rugsak. Die water het ek dan weer uitgegooi as ek bo kom om my bene en knieë op pad af te spaar.
Wat gaan jy alles inpak en hoekom?
Die toeroperateur het vir my ‘n baie lang lys gegee van wat ek moet vat en dit het baie gehelp. Dis maar my gewone stapklere en -dinge, maar met baie meer warm klere as wat ek aan gewoond is. Ek vat ook ‘n slaapsak wat op tot -18 grade kan hanteer en ‘n skibril vir die moontlike sneeustorm op Island Peak.
Wat is die een ding waarsonder jy voel jy nie kan gaan nie?
Sjoe, dis moeilik. Maar ek sou sê my kamera. Hoe meer foto’s ek kan neem hoe beter.
Watter tipe kos en toerusting vat jy saam?
Behalwe die twee of drie aande op Island Peak gaan ek elke aand in ‘n lodge slaap en etes is ingesluit. Die aande op die piek gaan ons glo vries-gedroogde kos eet. Maar ek gaan nie nodig hê om kos te maak nie, so ek kan my stofie by die huis los. Ek gaan wel sjokolade en energiedrankies saamvat aangesien dit daar glo baie skaars is.
Vertel ons kortliks van jou roete. Hoe vêr jy gaan stap, hoeveel dae ens?
Ek gaan twee dae in Katmandu wees voor ek vlieg tot in Lukla. Van Lukla af tot by die Everest basiskamp is 10 dae se stap en dis ongeveer 80 km. Dan vandaar gaan ek tot by Island Peak basiskamp. Die klim van Island Peak vat so 3 tot 4 dae. Daarna is dit weer 7 dae se stap terug tot by Lukla. Na die tyd gaan ek dan ook weer 3 dae deurbring in Katmandu voor ek weer terugvlieg Kaapstad toe.
Waarvoor is jy bang?
Aangesien ek nog nooit bo 2 300 m bo seespieël was nie, is die hoogte en die dun lug my grootste vrees.
Waarna sien jy uit?
Ek sien natuurlik baie uit na die berge. Ek wil ook soveel moontlik van die sherpas se kultuur beleef. Ons gaan by baie tempels aandoen langs die pad. Ek sien ook baie uit na die sneeu en die ys. Ek weet dit klink stupid, maar ek kan nie wag tot ek my yspik en crampons in die ys indruk nie.






















Kommentaar