Villiers Steyn het saam met sewe vriende van Pretoria die Wildekus se groen heuwels en kuslyn vyf dae lank te voet verken.
Agt vriende van Pretoria het die Wildekus se groen heuwels en kuslyn vir vyf dae te voet verken en toe sommer heelwat vriende langs pad gemaak.
Die lang pad
Ná ’n lang dag op die pad verdwyn ons moegheid sommer gou terwyl ons langs die kampvuur sit en gesels oor môre se staptog. Ons het om 3:15 vm. uit Pretoria vertrek en ná 1 130 km se ry uiteindelik by Port St. Johns aangekom.
Ek en my beste vriend Servaas Verster, Alwyn Hoogendyk en sy verloofde Hannelie Smit, Dennis Pothas en Izelle Mouton en Philip Botha en sy vrou Elandi gaan môre die Wildekus oor ses dae verken.
Dag 1Port St. Johns na Koffiebaai en terug
Die wilde pad
Ons staptog eindig by Koffiebaai en ons moet vandag ons voertuie daar los voordat die groot stap môre begin. Soos die kraai vlieg is dit skaars 55 km van Port St. Johns af, maar ons moet ’n reuse-ompad van 200 km deur Umtata ry.
Die laaste 100 km is stamperig en ek is bevrees een van die vele slaggate gaan die Polo insluk. Soos my pa altyd sê: “Jy dink nog dis ’n kobra wat sy kop by die gat uitsteek, dan sien jy dis ’n volstruis!”
Drie uur later is ons voertuie veilig geparkeer by Bomvu Backpackers en onderhandel ons vir ’n taxirit terug na Umtata. Wat ’n belewenis! Ons is skaars buite Koffiebaai toe is daar 17 mense in die minibus. Ry. Stop. Laai af. Ry. Stop. Laai op. Só gaan dit al die pad tot op Umtata waar ons ’n tweede, groter bussie kry na Port St. Johns.
Ons is net betyds om te sien hoe druk Habana ’n pragdrie teen Samoa en daardie aand eet ons hamburgers en tjips, want ons weet wat op ons wag vir die volgende vyf dae. Of weet ons?
Maak toe
12 km; 7 uurDag 2Port St. Johns na Madakeni
Opdraand op, afdraand af
Ná ’n lekker koppie koffie en ’n paar van Hannelie se beskuite vir ontbyt ontmoet ons ons gids, Sisa, ’n klein ou met ’n groot glimlag. Teen 8:30 vm. begin ons te stap, met Sisa se kollega Jimmy en ’n groep Stellenbossers kort op ons hakke. Sisa se bloedrooi dagsak hang slap op sy rug en laat ons reuse-rugsakke, wat met ’n honderd verskillende belde aan ons lywe vasgegespe is, klein lyk.
Minder as ’n uur se stap verder kry Sisa ’n skelm laggie op sy gesig. “Heartbreak Hill is just around the corner,” beduie hy voor hom uit. Die naam van dié heuwel is in wit op ’n klip geverf. Ons bene kramp en ons longe smag na meer lug, maar heelpad bult-uit word daar nog grappies gemaak. Min het ons geweet dat dié heuwel nie die uitdagendste sou wees nie... Sugerloaf Hill is volgende en twee keer so erg soos Heartbreak Hill, maar die uitsig is besonders en die lekkernye vertroostend.
Ons steek die eerste van baie riviere met ’n bootjie oor en betaal R5 per persoon. Heuwel op, heuwel af, met die mooiste uitsigte ná elke klim. So vlieg die dag verby.
Teen 4 nm. groet ons eerste gasvrou ons – ’n Xhosa-tannie met leersandale en ’n warm glimlag. Ons kry ons eie seegroen rondawel met selfs ’n sitkamerstel. Ons eet vars gebakte brood, speel albasters saam met die stat se kinders, en verwonder ons aan al die diere wat so tussen die mense bly – honde, hoenders, varkies en bokke.
Almal slaap lekker, ten spyte van ’n boklam se geblêr tot in die nanag.
Maak toe
8 km; 3 uur en 40 minDag 3 Madakeni na Mpande
Ongelooflike uitsigte
Teen 8 vm. is ons weer reg om die pad te vat. Ons mae is propvol mieliepap en vars gebakte skaapwagtersnye brood.
Sisa het nie gejok toe hy gesê het vandag se stap is kort nie. Ná net drie uur se stap wys hy al ons oornagplek vir ons in die verte.’n Uur later lê ons almal in die rondawel. Ek kan sien Servaas dink wat ek dink: “Kyk net die uitsig!” Deur die rondawel se klein houtvenstertjies sien jy die see en as jy mooi kyk, dolfyne.
Dit is lekker om die plaaslike mense te kan ondersteun – Hannelie laat haar hare vleg, ek koop ’n armband van skulpies en kraletjies en ons koop ook ons bier en koeldrank by die spazas.
“Spread the money,” sê Elandi. As die wind nie so gewaai het nie, het ons kreef ook geëet. Hulle verkoop dit vir net R10 elk.
Teen sononder maak Philip ’n koue bottel Zamalek met ’n hark oop, hy kan ’n bottel met omtrent enigiets oopmaak, soos ’n sigaretaansteker en ’n stuk braaivleishout. Ons eet weer soos konings en klim vroeg in die bed, reg om ’n paar balke te saag.
Maak toe
14 km; 6 uurDag 4Mpande na Hluleka
Vang ons as julle kan!
Vandag stap ons vinnig. Izelle, wat die eerste twee dae ’n bietjie gesukkel het teen die heuwels op, loop voor! Ons bene is lekker los en teen dié tyd al gewoond aan die steiltes. Oral sien ons steeds mak diere langs die pad, ook ’n hoenderhaan met ’n groot rooi kam wat op ’n rondawel se houtdeurtjie sit.
Ons loop op ’n lang, plat strand. “Dink net hoe lekker sal ’n mens strandkrieket hier speel,” lees Servaas my gedagtes. Die Stellenbossers was tot dusver nog kort op ons hakke, maar vandag is hulle nêrens te sien nie. Ek skryf ‘Vang ons as julle kan’ in die sand.
Ons slaapplek vir vanaand is reg langs ’n skooltjie. ’n Klein dogtertjie met ’n wit-en-pienk rokkie vee die paadjie na haar ma se rondawel en help selfs om ons middagete aan te dra. Ons aandete is hoender, stywepap en bone. Dennis deps om môre voor te loop. Ons lag nog tot laat vir sy sêgoed.
Maak toe
17 km; 7 uurDag 5 Hluleka na Mdumbi
Resies in die reën
Vir die eerste keer in vier dae dwing ligte reën ons om onsself en ons sakke met reënjasse droog te hou. Vier van ons groeplede lyk soos geel kamele met jasse wat oor hulle lyf én sak pas.
Die Stellenbossers het ons boodskap ernstig opgeneem en vang ons onkant deur ’n halfuur vroeër te vertrek. ’n Bottel Game lek in Alwyn se sak uit en los ’n taai verrassing. Ons kom toe eers 08:30 vm. by ons oornagplek weg. Vandag se stap is die langste van die week. Sisa praat van twee heuwels wat vir ons wag, maar dit spoor ons net aan, want daar kan ons dalk die Stellenbossers inhaal!
Hulle gids, Jimmy, los hierdie keer vir ons boodskappe in die sand. Ons besluit om nie te rus nie. Anderkant ’n rotsbank staan daar ‘10:30’ op die strand geskryf. Ons is 45 minute agter. Die speelse jaagtog hou ons gemotiveerd. In die verte sien ons hoe Jimmy-hulle oor die eerste monsterheuwel verdwyn.
Teen 3 nm. haal ons die ander stappers in en steek hulle sommer ook verby. Die twee heuwels is eintlik grasbedekte berge, maar ons is vinnig daar oor. Ons laaste aand bring ons deur by ’n bedrywige stat aan die voet van ’n heuwel. Die eienaar stel homself voor as Colin. Hy dra ’n rooi mus, ’n lang swart jas, en loop kaalvoet rond. Colin praat natuurlik Xhosa, maar verwelkom ons in Afrikaans en Engels ook. Hy praat baie.
Nadat almal lekker warm gestort het, sluit Rasta Jimmy (soos hy homself noem) by ons aan en vertel vir ons stories uit sy kinderdae. Ons rol soos ons lag. Die geselskap het intussen heelwat groter geraak – tien honde, vier hoenders en drie varke het hulle by ons aangesluit.
Vir aandete bederf Colin ons met boerewors, koolslaai en stywepap. Net Philip en Dennis is braaf genoeg om sy ‘Supa Atchar’ te probeer.
Maak toe
Dag 6 Mdumbi na Koffiebaai
Twee oorwinnings in een dag
Vandag is die laaste dag van die staptog. My bene is bly, maar my hart is seer. Hierdie week aan die Wildekus was ’n onvergeetlike belewenis. Die uitsigte, die mense, die mooi kuslyn...
Servaas geniet die laaste stukkie stap op die strand en soek na die perfekte skulpie vir sy meisie, Liese, wat nie kon saamkom nie. Teen 9 vm. stap ons oor die interessantste sokkerveld in die wêreld. Die veld is reg bo-op ’n heuwel waar die wind jou help om die bal soos Beckham te draai, sonder om eens te probeer. Die doelpale is groot, soos op ’n regte veld, maar die pawiljoen bestaan uit ’n piepklein houtbankie skaars groot genoeg vir drie mense. Agter die bankie is die blou see. Die gras word kort gehou deur ’n boerbok en sy familie.
Net ná 10 vm. stap ons Koffiebaai binne. Die geraas van ’n klein fabriek en ’n paar voertuie voel vreemd. Dit was ’n rustige week waar ons weer tyd gekry het om met ons binneste te praat.
Van Koffiebaai af is ons almal na die Hole in The Wall waar ons ’n heerlike middagete geniet. Toe ons begin stap om die gat van nader te bekyk, voel dit vreemd om nie ons rugsakke te dra nie.
Ons sluit die dag af in ’n kroeg terwyl ons na die Bokke se prag-oorwinning teen Engeland kyk.
Die Wêreldbeker is ons s’n.
Viva die Wildekus!
Maak toe
My wenke vir ’n Wildekus-stap
• As jy van Pretoria af Port St. Johns toe ry, is dit slim om iewers langs pad oor te slaap.
• Vat gerus R56-kortpad tussen Pietermaritzburg en Kokstad. Die pad is in ’n goeie toestand en die
landskap is pragtig.
• Onthou om ’n hele dag opsy te sit om jou vervoer uit te sorteer voor jy kan begin stap. Dit is maklik
en goedkoop om ’n minibustaxi van Koffiebaai na Port St. Johns te vat, maar dis seker nie vir almal
nie.
• Dit is nie nodig om ’n reuse-rugsak saam te neem nie! Ontbyt, middagete en aandete word elke
dag voorsien. Vat net ’n paar lekkernye vir die pad saam en dalk ’n potjie grondboontjiebotter of
konfyt om op die vars brood te smeer. Skoon, warm beddegoed word ook elke aand voorsien.
• Onthou watersuiweringstablette en genoeg Game om die water se chloorsmaak weg te vat.
Micropur-tablette laat nie ’n nasmaak nie. Drie liter water is genoeg vir ’n dag se stap. ’n Tweeliter
bladder en ’n eenliter waterbottel werk lekker!
• Die koste is R60 per dag vir ’n gids en ’n minimum van vier mense. R55 per persoon vir 5 mense,
R45 vir 7, R40 vir 8 tot 18 stappers. Om die rivier oor te steek is R50 vir die hele staptog, daar is
vier punte. Tel ook R80 per aand by vir ’n bed en ontbyt vir vier dae. Portiere kan teen R100 ’n dag
gekry word om jou sak te dra, dis onderhandelbaar.
• Dra ten minste R100 kontant by jou vir drinkgoed en kraletjies langs die pad en vervoergeld om
die riviere met bootjies oor te steek.
• Dié stap het ons R25p.p.p.d vir die gids en R60 per aand vir verblyf gekos.
• Kontak vir Jimmy Selani van Jimmy’s Hikes and Cultural Tours by 082 507 2256
Ons het bespreek om hierdie roete te doen oor 'n week. Dis nou saam met Jimmy en Mbuyie en ons sien baie uit!
Ek wonder egter bietjie oor mens se veiligheid op die roete. Het Villiers Steyn enige advies?
Gelewer op 6 April 2010 | 11:22:40
Lindi, kontak vir Jimmy Selani van Jimmy’s Hikes and Cultural Tours by 082 507 2256 - Weg.
Gelewer op 1 April 2010 | 15:28:28
Wat moet mens doen as ons groep vriende ook hierdie staproete wil doen? Klink na 'n ongelooflike belewenis!!!!!
Lindi
Kommentaar