Iewers op die Canyon sal jy die Visrivier moet oorsteek. (In 'n nat jaar sowat 20 keer). En die grootste uitdaging? Om die roete met droë stewels en rugsak klaar te maak.
Esma le Roux het die Visrivier-roete in die suide van Namibië gaan stap en ná vyf dae met vuil stewels en `n skoon kop anderkant uitgekom.
Die Visriviercanyon is naas die Grand Canyon die grootste in die wêreld.
Plek-plek lê die canyonvloer 550 m onder jou en strek dit tot 27 km wyd.
Ons val stuk-stuk in agter Andrew. Die growwe rotswande omsingel ’n mens. Jy hoor water wat kabbel en ruik sonbrandolie. Wit klippe lê gestrooi langs die rivier, asof ’n string reusepêrels lank gelede hier gebreek het.
“Ons red nie eintlik die mense nie,” sê hy en klik met sy tong. “Die chopper kom haal hulle.”
Halfpad ondertoe stop ons vir ’n oomblik en kyk om ons rond. Honderde rotse van verskillende kleure en teksture lê hier rondgestrooi.
Ons is in ’n amfiteater van klip.
Dis nie so moeilik om die rivier oor te steek nie, maar jy moet fokus, want as jy val is álles nat – jou stewels, jou sak, jou kos, jou klere, jou slaapsak en matras.
Die dae vloei ineen. Jy loop in die waaie en draaie van die canyon. Oor sand, klip en water. Dieselfde mense. Dieselfde kleure en klanke. Dieselfde kos – oats en pasta, pasta en oats. Elke aand se saamgesels om die vuur. Die eenvoud is helend.
Hoog teen die blou lug hang ’n visarend in die bries. Hy draai oor die wye vlaktes van suidelike Namibië.
Ver onder hom sak die aarde skielik weg in ’n diep skeur, wat miljoene jare gelede deur plaatverskuiwings in die aardkors gevorm is. Dit is die Visrivier-canyon: ’n Keep wat 160 km suidwaarts deur die plato sny op pad na die Oranjerivier.
Doer onder oor die canyonvloer kronkel die Visrivier soos ’n groen lint. ’n Klomp helder spikkels hop oor klippe en koek dan saam in ’n skadukolletjie langs die rivier: Dis die 20 van ons wat drie dae gelede begin stap het aan die Visrivier-roete van vyf dae.
Ons rus en wag vir die energie om terug te vloei in ons moeë bene.
Keelan sit op ’n rots, trek sy skoene uit en wikkel sy tone. Andrew en Janette het die kaart voor hulle oopgevou. Roelof neem ’n foto. Chris soek ’n plek waar mens teen die kranse kan rotsklim. Dineke eet ’n pakkie suurwurms.
Die res drink water. Dis net adamsappels wat hop.
“Kyk ouens,” roep Louw en wys boontoe, “ ’n visarend”.
Dié plek betower jou. Ons praat reeds van terugkom. Baie mense stap die roete drie, vier keer. Ander sommer 20 keer...
Louw Rabie, ’n ouditklerk, het dié groep pelle van Stellenbosch en Upington bymekaargekry om die Vis te stap. Jy moet mooi verstaan, vir die Vis kan jy nie sommer ’n paar goedjies in jou rugsak gooi en daar gaat jy nie. Dit verg hope reëlings. Louw sê sy selfoonrekening het behoorlik die hoogte ingeskiet om alles gereël te kry.
Jy moet ’n paspoort kry, jou fiksheid deur ’n dokter laat sertifiseer, ’n ZA-plakker vir jou motor koop, polio-druppels drink, allerhande vorms invul...
En die stappery is ook nie ’n wandeling deur ’n bloekomlaning nie. Die Vis het nie oornaghutte nie en jy moet alle benodigdhede self dra: ’n Matrassie, grondseil, slaapsak, kos, bio-afbreekbare seep en sjampoe, plus jou eie grafie om toilet mee te bou. Jy hoef darem nie ’n tent ook saam te piekel nie, want jy slaap sommer so op die sand onder die sterre.
Kortom: Die Vis is nie ’n gewone staproete nie, maar op ’n manier ’n ekspedisie. Dít hoor jy dikwels by mense wat dié roete al gestap het.
“Vir my bly dit ’n persoonlik uitdaging om te sien of ek oor die hele roete droogvoets kan bly,” het Leon Erwee, wat die Vis al 30 keer gestap het, vooraf vir ons vertel. “Daar’s ’n grootse stilte. ’n Mens word gestroop van al die plastiekerigheid van die samelewing.”
Die meeste mense sê die moeilikste deel van die roete is die eerste stuk tot onder in die canyon. Jy daal die helfte van Tafelberg se hoogte – sowat 550 m. Daarna is dit heelpad min of meer gelyk, maar jy stap oor klippe en sandbanke en deur water. En dis warm – deksels warm. Oor die middaguur styg die kwik soms tot 40ºC.
Die rivier is jou gids en jy kom sowat 75 km verder – afhangende van hoeveel kortpaaie jy neem om rivierkronkels uit te skakel – by die oord Ai-Ais aan. Die meeste mense stap vyf of ses dae. Dan’s daar ouens soos Johan Bakkes, skrywer en Vis-veteraan (19 keer), wat dit al in twee dae kafgedraf het.
Kry jy teëspoed, het jy twee keuses: Óf jy moet voortsukkel tot by een van slegs twee ontsnaproetes uit die canyon, beide naby aan die roete se begin óf jy bel jou mediese fonds se ambulanshelikopter om jou op te pik
Uiteindelik, ná weke se voorbereiding, is ons reg om te probeer deel word van die elite-groepie stappers wat al die Vis voltooi het.
1 kmDag 1“Hoe de hel kom ’n mens doer onder?”
“Is julle wakker, mense?” vra Andrew Cawood gans te vroeg vir ’n Sondagoggend.
“Sjoe, ek is so bly ek het vir Andrew saamgebring,” sou Louw nog verskeie kere sê, want Andrew, ’n ingenieurstudent, is ons herder vir die volgende ses dae. Hy’t die roete al drie keer gestap.
Om 20 uiteenlopende mense tevrede en bymekaar te hou in ’n warm canyon, sou selfs vir 7de Laan se Matrone ’n uitdaging wees.
Ons het gister uit die Kaap vertrek en hier by die Abiqua-kampterrein, net oor die grens en langs die Oranjerivier, kom slaap.
Almal pak op en ons voertuie trek weg in ’n stowwerige konvooi op die grondpad in die rigting van Hobas, sowat 200 km verder in die Ai-Ais en Visrivier-canyon Nasionale Park. By Hobas se winkeltjie koop ons Peppermint Crisps, tap waterbottels vol en spoel vir oulaas ’n toilet.
Joshua Haradoeb, die bestuurder van die kampeerterrein, het al duisende stappers hier sien verbykom. “Ons red nie eintlik die mense nie,” sê hy en klik met sy tong. “Die chopper kom haal hulle.”
Ons ry 10 km verder tot by die beginpunt. Dan moet die bestuurders die motors terugneem Ai-Ais toe, 80 km verder, waar ons vyf dae later hopelik gaan uitstap. Ons is gelukkig, want ons leier ken iemand wat op Ai-Ais kamp wat hulle weer hier die beginpunt sal kom aflaai.
Terwyl ons wag, hang ons soos vinke oor die klipmuurtjie en wys na ander stappers wat doer onder soos ’n stringetjie helder kraletjies op die voetpaadjie al hoe dieper in die canyon af verdwyn.
Ná sowat twee ure is die drywers terug. Dis drie-uur in die middag en ons begin gereed maak om te beweeg. Eenkant kom ’n moeë ou kom stroomop teen die hengse steil paadjie uitgestrompel. “Ons kom...” hy neem eers ’n sluk water, “ons kom van Seeheim af. Ons het 175 km in 7 dae gestap en is op pad na...,” hy hyg eers weer, “na die Oranjeriviermond, ma... weet nie of ek kans sien vir klaarmaak nie.”
Dis Willem Gouws. Hy is deel van die Vis330-stap-ekspedisie, ’n groep van 11 stappers wat ’n hardhorende en dowe stapper insluit. Hulle beoog om die Visrivier in sy geheel – 330 km vanaf Seeheim tot by die Oranjerivier – in 14 dae te stap om geld in te samel vir Dowe Bedieninge Suid-Afrika.
Drie van die elf stappers het reeds tou opgegooi weens enkelbeserings. “Ek dink ek gaan eerder opgee en saam met die ondersteuningspan by Ai-Ais wag,” sê Willem.
Hy en nog ’n lede van sy groep het uit die canyon geklim om kos hier by Hobas te kry. Die plan is dat hulle later vanmiddag weer sal afklim tot by die rivier om die tog te hervat.
Ons begin skuifel in ’n ry teen die krans in die canyon af. Die grond is bros en jy gly maklik. Jou swaar sak trek jou grond toe, maar daar is kettings om aan vas te hou.
Halfpad ondertoe stop ons vir ’n oomblik en kyk om ons rond. Honderde rotse van verskillende kleure en teksture lê hier rondgestrooi.
Ons is in ’n amfiteater van klip.
Theunis Kotzé, ’n boer van Aurora in die Sandveld, het darem eerstejaar-geologie (en ’n meestersgraad in grondkunde) agter sy naam en kan die skalie, graniet en sandsteen uitwys. “Ek’s spyt ek’t nie voor die tyd meer gelees nie,” brom hy onderlangs terwyl ons weer begin stap.
Ons talm in ’n klipholte. Onder ons kan ons nou al die rivier hoor bruis. Die gladde rots voel koel onder my vingers. Die son se laaste strale kleur die rotswande pienk.
Ons klim nog ’n entjie af tot heel onder op ’n sandbank langs die groen rivier. Dit voel soos ons eie strand. Elkeen soek ’n slaapplekkie op die sand. Ons gryp ons handdoeke en bio-afbreekbare seep en hardloop water toe. In die laaste lig sit ons soos meerminne op die klippe en was die stof van ons lywe.
Hier’s te min hout vir vuurmaak. Chris Venter, ’n sagteware-ingenieur, haal sy stoof uit. Ek het ’n groot botterskorsie van 1,2 kg in my sak. Die sware ding móét vanaand geëet word. Ons kap dit op en kook dit.
Ná aandete pyn my maag, maar ten minste is my sak twee kilogram ligter.
Maak toe
2,7 kmDag 2Geologie vir beginners
Elke oggend hoor jy grondseile en slaapsakke klap soos almal die sand probeer uitskud. Maar dis vergeefs.
Ons staan in ’n kring. Andrew gesels oor die dag wat voorlê: “Vandag stap ons sowat 7 km. Ek wil julle gewoond maak aan die stappery en die spiere kans gee om aan te pas.”
Hy tuur oor die rivier en sê: “Dis ’n lekker afgesonderde deel en nogals gevaarlik. Maar dis wat dié roete vir my so besonders maak.”
Ons val stuk-stuk in agter Andrew. Die growwe rotswande omsingel ’n mens. Jy hoor water wat kabbel en ruik sonbrandolie. Wit klippe lê gestrooi langs die rivier, asof ’n string reusepêrels lank gelede hier gebreek het.
Plek-plek lê dryfhout tot drie meter hoog teen die oewer – hier het onlangs baie water deurgebruis.
Die ouens van die Vis330-ekspedisie is skielik op ons hakke, maar die leier is nêrens te sien nie. Sy enkels is seer en hy sterk aan op Ai-Ais, hoor ons.
Twintig pare stewels spring en skuur voort oor die rotse. Later bondel ons in die skadu van ’n krans naby die rivier in vir middagete.
Ek duik in die koel, groen water. ’n Elektriese, koue stroom blits deur elke spier.
Later sit ons op die warm klippe en eet tuna en beskuitjies. Petra was haar hare met ’n stukkie bio-afbreekbare seep. Dit wil nie skuim nie.
’n Trop bobbejane suiker verby op die oorkantste wal. Ons hou mekaar stip dop. Nou en dan eggo een van die grotes se bôggom-blaf deur die canyon, seker net om seker te maak ons weet wie’s baas.
Uiteindelik raak die wolke muggies om ons ore te veel. Ons pak op en mik stroomaf. Ons beweeg stadig, want 20 is ’n groot groep stappers. Jy trap diep spore in die sand en moet vir lang ente sukkel oor growwe, wit ghoens.
Ek kyk boontoe. Die lugruim is helderblou. Iewers bo-op die plato ry waarskynlik mense met swaargelaaide 4x4’s met sleepwaentjies. Party stop by die uitkykpunt by Hobas, kyk af in die canyon en sê: “Eish!”
As hulle maar net geweet het hoe mooi die canyon van naby is. Van bo af lyk die landskap soos ’n droë gemmerkoekie, maar hier onder is dit groen. Ons sien gousblomme, wilde floksies, vetplantjies, oliebome, akkedisse, koggelmanders en ’n klein addertjie.
Vandag se skof was taai. By die kampplek aangekom hardloop die meeste af rivier toe om te bad, terwyl die son nog skyn. ’n Paar van ons lê in ’n poel onder ’n lekker stroomversnelling, waar die water oor jou spiere bruis.
Ná die tyd sit ek op ’n groot, ronde klip en kyk dieper af in die canyon. Dis doodstil. Die droë rotswande word sag en pêrelagtig in die laaste lig.
Intussen het die ander met moeite ’n paar stompe dryfhout nadergesleep en ’n groot vuur brand reeds op die sand. Iemand braai ’n steak en die ander eet pasta, elkeen met sy eie bykos – gedroogte maalvleis, biltong, kasies, carbonara-sous...
Iewers donkernag maak ek my oë oop. Bo my lê die melkweg soos diamante uitgestort oor ’n swart fluweeldoek.
Maak toe
15 kmDag 3Ligvoets oor die klippe
“Oukei, mense, wakker word!” sny Andrew se stem deur my wollerige drome.
Ek knip my oë teen die koue windjie. Dis nog net so donker soos toe ons gaan slaap het. Maar ons moet opstaan, want vandag gaan ’n lang dag wees: Die roete strek oor 15 km sand en klippe. En waarskynlik ses rivierkruisings. Die slaapsakke en grondseile klap-klap weer soos ons oppak.
Eendjies-eendjies-almal-in-’n-ry begin ons stap. Skaars ’n kilometer verder staan ons langs die rivier, wat sowat 10 m wyd en plek-plek kuitdiepte vloei. Hier en daar steek ’n nat klip uit.
“Kom ouens,” sê Andrew en beduie waar ons moet deurgaan, maar ’n paar van ons hou ons slim – 30 m verder lyk dit asof jy sommer droogvoets oor die klippers kan spring. Daar gekom, blyk dit dat dié klippe maar net so ver uitmekaar is.
Sakke af, stewels uit, sandale aan, stewels aan sak gebind...
Ek probeer eers kamera-in-die-hand op die droër klippe balanseer, maar gly en val amper.
’n Paar mense wat reeds deur die water is, sit hul sakke neer om die res van ons te help. Andrew gryp my kamera en ek skuifel hande viervoet van die een klip na die ander deur die vloeiende water. Theunis val eerste. Toe Keelan, Margaux, Debbie, Francios, Andrew, Chris...
Voete afdroog, sokkies en stewels aantrek, sandale aan rugsak vasbind, sakke op...
Dié prosedure sou ons nog 21 keer oor die volgende vier dae herhaal. Dis nie so moeilik om die rivier oor te steek nie, maar jy moet fokus, want as jy val is álles nat – jou stewels, jou sak, jou kos, jou klere, jou slaapsak en matras.
Johan Bakkes, met wie ek voor die ekspedisie gesels het, vertel dat een slag toe hy die roete gestap het, daar só baie water was dat hulle ’n menseketting moes maak om oor die rivier te kom. “Van my mense is uit die ketting gesleur en ons moes Wolraad Woltemade speel. Ander kere is daar glad nie water in die canyon nie en as jy nie weet waar die fonteine is nie, dan tjop jy af.”
Die canyon-veteraan Leon Erwee onthou weer hoe droog dit een jaar was: “Daai jaar het natuurbewaring dromme water in die canyon gelos en moes jy gora’s [’n vlak gat in die sand] vir syferwater grawe. Ek het die soutste brakwaterkoffie van my lewe gedrink.”
Ons steek die rivier ’n tweede keer oor. Teen die derde keer is dit nie meer snaaks nie en ’n hele paar van ons loop sommer kaalvoet deur. Dis seerder en dit vat langer, maar dis minder moeite, want jy hoef nie jou hele pakkaas af te haal en dinge aan en af te haak nie.
Aha! Palmbome... Volgens die kaart is die swawelbron hier iewers. Ons loop teen die wal af en iemand vra: “Waar is die warmbron?” Hy’t seker die Caledon Spa in gedagte gehad, want hier loop die warm water maar net in ’n dun straaltjie teen die wal af tot in die rivier.
Dis vrek warm en ek kan nie aan iets erger dink as om nou in warm water te gaan stoom nie, maar die ander hardloop water toe en sit styf langs mekaar op die warm plekkie waar die stroompie by die rivier inloop. ’n Paar smeer hul lywe met modder. Ander duik eerder in die koue rivier.
En die palmbome hier in die middel van nêrens? Twee Duitse krygsgevangenes het glo tydens die Eerste Wêreldoorlog hier geskuil en ’n paar dadelpitte geplant net voor hul weg is.
Die storie loop dat een velkanker gehad het en dat die ander een aan asma gely het, maar ná hulle twee maande elke dag in die warm water gebaai het, is albei glo wonderbaarlik genees.
Ons het egter nie genoeg tyd om ons skete te salwe nie, want baie kilometers moet nog afgelê word. Stewels aan, sak op die rug en ons begin weer stap.
Het ek al gesê dis warm? Soos ’n karavaan kamele, belaai met vragte dadels en sout, wieg ons met ’n sukkelgang deur die warm sand. Die mense raak stiller.
Die canyon kry weer sy kenmerkende sagte pienk skynsel. Ons kampplek lê reeds in die kranse se skadu, toe ons daar aankom.
Louw maak ’n lekker groot vuur. Ons gooi ’n knertsie whisky by ons koffie en klink ons blikbekers omhoog na die duisende sterre bo ons koppe.
Maak toe
16 kmDag 4Die wilde (Suid)weste
Daar’s nog slaap in my oë, toe steek ons al die rivier oor. Jou tone kry koud so vroegoggend. Ons marsjeer voort oor die sand en die klippe. Waterbottels word gereeld vol gemaak. Dis 11.30 vm., die son sit hoog en daar lê nog 16 km voor vandag.
Laatmiddag glip ek en Herkie Paquet, ’n fisioterapeut, weg van die groep en stap ’n entjie vooruit. Dis hemels. Mens wil mos maar partykeer teen jou eie pas voorstu.
Sand, klip en water volg sand, klip en water. As jy weer opkyk, is jy kilometers vooruit en kom dan eers agter hoe die son op jou neerbrand.
Die canyon lê leeg en stowwerig voor ons. I’ve been through the desert on a horse with no name... la la la... hoor ek America in my kop sing. Dit lyk inderdaad soos Wilde Weste-wêreld dié.
En dan, asof uit ’n cowboy-film, kom daar waaragtig twee ruiterlose (en waarskynlik naamlose) perde aangetrippel op die oorkanste wal.
Daar’s ’n paar stories oor die herkoms van dié wilde perde. “Dis afstammelinge van Baron-kaptein Hans Heinrich von Wolf, die oorspronklike eienaar van Duwisib-kasteel, se perde,” is Louw se verklaring. Ander sê weer hulle stam af van die perde wat die Duitse Schutz-troepe ná die Eerste Wêreldoorlog hier gelos het.
Die son se strale blink op die perde se rûe. Een kom rivier toe en hou aan met stap al op die oorkantse oewer. Ons staan vasgenael, betower.
Maak toe
21Dag 5Verraad in die Visrivier
Vandag stap ons vir ’n slag ’n kortpad. Jy swenk regs en klim teen ’n heuwel uit en sak weer af tot op ’n vlakte, wat oortrek is met vetplantjies. Vir die eerste keer kan ons nie die rivier sien nie en is daar net heuwels om ons. Dis asof iemand al canyon se orige los gruis en afvalklippe in netjiese hopies hierheen gevee het. Hier ruht in Gott
Leutnant Thilo v. Trotha
geb. 23.11.77. in Wahlstadt
gef. 14.6.1905. Dis laatmiddag en ons drink water en eet energiestafies by luitenant Thilo von Trotha se graf. Hoekom sou net ’n enkele Duitse soldaat ’n grafsteen in die Visrivier hê? Die verhaal van Von Trotha se lot is die soort storie wat filmmakers dollartekens laat sien.
Hy was lief vir die wye vlaktes van Namibië en het gedroom van ’n plaas vir hom en sy vrou, Margarethe Lieberknecht.
Ná ’n paar jaar se getroue diens gedurende die oorloë teen die Herero’s en Nama’s in die vroeë 1900’s, het die Duitse regering ’n plaas naby Bethanie aan hom beloof. Sy laaste opdrag? Om vrede te beding met ’n vorige kameraad, die Nama-onderkaptein, Cornelius. Maar terwyl Von Throtha met Cornelius sit en onderhandel, val ’n ander Duitse kaptein – onwetend van Von Trotha se besoek – dié kamp binne.
In die warboel van soldate, beeste en mense word Von Trotha doodgeskiet. Cornelius het sy ou vriend in ’n eenvoudige klipgraf hier naby Kochasdrif begrawe.
“Margarethe het die res van haar lewe eensaam geslyt,” skryf C.N.L. van Huyssteen in sy boek Die Eensame Graf in die Visriviervallei. “Sy is in Rotenburg Hannover, 10 000 km ver van haar geliefde Thilo, begrawe.”
Ai. Dink net: Ian Roberts as Von Trotha, Ilse Roos as Margarethe en Soli Philander as Cornelius...
Anderkant die graf begin ons tekens van beskawing sien. ’n Grondpad kronkel in die verte. Ons stap oor ’n laagwaterbrug verby ’n geboutjie – die Kochasdrif-stalletjie.
’n Boer het tot in die laat negentigerjare yskoue koeldrank, worsrolletjies en toebroodjies aan stappers verkoop. Maar die boerdery was nie winsgewend nie en hulle het die plaas verkoop.
Dis moeilik om te glo. Ek sal nou R50 vir ’n koue Coke betaal.
Die dae vloei ineen. Jy loop in die waaie en draaie van die canyon, oor sand, klip en water. Dieselfde mense. Dieselfde kleure en klanke. Dieselfde kos – oats en pasta, pasta en oats. Elke aand se saamgesels om die vuur.
Die eenvoud is helend.
Maak toe
15 kmDag 6Ai-jai-jai, dis verby
Dis sesuur die oggend. Iemand rol onrustig op ’n grondseil rond. Ons het nie gister so ver gevorder soos beplan nie en moet vandag nog ’n stewige 15 km tot in Ai-Ais aflê. Hoekom maak Andrew ons nie wakker nie?
Alles is vol sand, maar jy gee nie meer om nie. Jy sit nie meer op jou grondseil nie, maar sommer óp die sand terwyl jou stofie sis. Jy drink jou koffie met sandkorrels en al. Jy trek jou sanderige hemp net so oor jou kop. Iewers klap-klap ’n slaapsak.
Ons pak langsamerhand op.
Ek wonder hoe dit gaan met die ouens wat op pad is na die Oranjerivier se mond. Ek wens dit was ons.
Later hoor ons net ses van die oorspronklike 11 stappers het klaargemaak en net drie van hulle het die volle 330 km gestap.
Ons rugsakke is nou heelwat ligter, maar ons laai dit traag op ons skouers. Ons stap stil-stil agter mekaar. Sand, klip en water.
Bo teen ’n heuwel speel twee klein seuntjies. “Nog 10 km!” skreeu die een.
“About two miles, maybe one-and-a-half,” sê twee Amerikaners ’n entjie verder.
“Twenty minutes,” sê ’n rooigebrande Britse tannie. Uiteindelik gewaar ons die klipmuurtjie van Ai-Ais-vakansieoord. Ons neem ’n laaste groepfoto en klim moeisaam teen die trappe op.
Die groot 4x4-bakkies gelaai met gasstowe, daktente, jerriekanne en sleepwaentjies lyk soos renosters wat jou wil bestorm.
Ons laat val ons sakke in die stof, koop Hansa-draughts en sit langbeen op die stoep.
“Op die Vis,” sê iemand en twintig glase klingel teen mekaar.
Later die middag sit ek op ’n klipmuur en kyk uit oor die rivier. Jy hoor skaars die water so baie geraas is hier. Kinders jil. ’n Krieketwedstryd raas op die televisie. Iewers blaas ’n haardroër.
Dis verrassend hoe min van die luukse, alledaagse dinge ’n mens mis as jy voetslaan. Nie jou selfoon, iPod of elektriese tandeborsel nie. Dalk nou en dan ’n stort en miskien ’n hamburger.
Hier is jy nou, skoongewas en met skoon klere aan. En nou?
Nou wil jy aanstap.
Want in die canyon voel jy weer die oggendkoue op jou vel en die son op jou skouers. En – die belangrikste van als – jy voel weer jouself.
Maak toe
Dít werk op die Vis
Superhemp
Erlanka Malan
Ouditklerk
“Ek kon my K-Way Explorer Lima-staphemp elke aand was, want dit word gou droog. Jy hoef dus eintlik net een hemp in te pak. Dit beskerm jou teen die son en selfs met die driekwartmoue het ek nooit warm gekry nie.”
Sappige steak
Leon Erwee
Bestuurder
“Gebruik ’n ou papsak as ’n koelhouer. Knip dit oop en keer die binnekant na buite. Ek vakuumverpak my steaks, vries dit, draai dit toe in die papsak se foelie en bêre dit in my rugsak. Dan braai tot op die derde aand nog ’n vleisie.”
Min klere
Sulette van Wyk
Student
“Jy hoef nie baie klere saam te bring nie, want jy kan jou klere in die rivier uitspoel. Dit word oornag droog.”
Room
Petra Treurnicht
Student
“Bring room en lipsalf saam. Die lug hier is baie droog en jou vel raak gou skurf.”
Dit kook
Chris Venter
Sagteware-ingenieur
“My MSR Whisperlite-stofie het ’n liter water in 3 minute gekook. Ek kon vir 4 mense vir 5 dae lank ontbyt, middag- en aandete kook met slegs 750 ml bensien, dus het ek myself nie doodgedra nie.”
Haak aan
Louw Rabie
Ouditklerk
“Hang jou skoene, ketel en nat sokkies met karabynhake aan jou rugsak.”
Armverwarmet
Hercules Paquet
Fisioterapeut
“My fietsry-armverwarmers is lekker warm en ek kon dit vinnig uittrek, sonder om my hele sak af te haal. Dit beskerm jou teen die son. En as dit te warm raak, kan jy dit natmaak, dan hou dit jou lekker koel.”
“Nature’s Kiss kruieroom werk ook uitstekend vir enige skaafplekke en seer spiere. Die meeste fisio’s gebruik dit.”
Beker-en-pot
Dineke van der Walt
Student
“My emaljebeker-en-pot-ineen van 4 l is lekker veeldoelig. Ek kon daarin kosmaak, daarmee water aandra, daaruit koffie drink en dit gebruik om myself te was. En dis lig.”
Skud dit!
Andrew Cawood
Student
“Gebruik ’n plastiekhouer (shaker) om pastasous, kitsmelk en kitspoeding klontloos aan te maak.”
’n Nat lap
Lelani Pienaar
Student
“Wet Wipes werk uitstekend as daar nie water naby is nie. Ek dra kontaklense en dit help om my hande skoon te hou, want dit bevat alkohol.
Stok en sopie
Johan Bakkes
Skrywer
“Ek stap nie sonder vars vleis vir braai tot op die laaste aand nie. Genoeg whiskey ook vir tot op die laaste aand (vir ’n vyfdagstap kort jy 2 l). En nooit sonder ’n stapstaf nie (nie ’n kierietjie nie, maar so ’n moerse, lange paal). Dit handig by rivierkruisings.” Ek sal met Lizette reël om sy foto te laat scan – hou asb ’n opening- dankie.
Watertrappers
Margaux Snyman
Arbeidsterapeut
“Ek’s baie spyt ek het nie my Aqua-skoene saamgebring vir die rivierkruisings nie. ’n Goeie stapstok is ’n moet vir wanneer jy die rivier oorsteek. Op dag 2 het ek én my sak in die water geval.”
Maak toe
Die geboorte van ’n canyon...
Prof. Nic Beukes, geoloog by die Universiteit van Johannesburg, verduidelik hoe die canyon ontstaan het.
1 800 miljoen jaar gelede: Twee oerkontinente, die Kaapvaalkraton (’n kraton is ’n stabiele plaat in die aardkors) en Richtersveldkraton, bots en vorm ’n bergreeks.
1 000-650 miljoen jaar gelede: Dié ou bergreeks verweer tot ’n vlakte. Mettertyd word dit deur die see oorstroom en sedimente word op die bodem afgeset. Dit is die horisontale rotslae op die boonste deel van die canyonwande, soos byvoorbeeld die bekende Viervingerrots.
130 miljoen jaar gelede: Die oervasteland Gondwanaland breek op en Suid-Amerika begin wegdryf van Afrika. Die kontinent styg vinnig en groot breuke vorm in die aardkors.
Die canyon vandag. Die Visrivier-canyon ontstaan toe die rivier sy loop langs een van hierdie breuke begin uitkerf. Dit is ook langs dié ou breuke waar warm grondwater diep uit die aardkors na die oppervlak borrel – vandaar die twee warmwaterbronne in die canyon.
Maak toe
Visrivier 101
So pak jy vir Die Vis-ekspedisie
Daar is geen geriewe op die roete nie – geen oornaghutte, braaiplekke of eens longdrops nie. Jy dra alles saam.
Al jou dokumente. Paspoort, mediese sertifikaat (geteken deur jou dokter), omgewingsvorm (hulle e-pos dit vir jou wanneer jy bespreek), ZA-plakker vir jou voertuig en jou voertuig se registrasiedokumente
Rugsak. 65-80 l is groot genoeg
Stapstok. Veral vir wanneer jy die rivier moet oorsteek.
Matrassie. Jy slaap op sand, dus werk ’n gewone skuimrubber padmatjie goed.
Slaapsak. Dit raak koud snags. Sorg dat dit warm genoeg is.
Grondseil. Anders raak jou slaapsak snags vol sand. Jy kan ook ’n oorlewingsak gebruik.
Stapskoene. Stewels of “gewone” stapskoene.
Plakkies. Nie visplakkies nie, ’n paar wat kan vasgespe.
Sokkies. Kamaste is nie noodsaaklik nie.
Broeke. Een is genoeg, mits dit van materiaal is wat vinnig droogword.
Hemp. Minstens 2 – een om in te slaap.
Warm baadjie. Daar’s min wind en reën. Pluisstof behoort te werk.
Slaapbroek. Dis nogal koud snags. ’n Long John werk goed.
Swembroek. Al is jy skrikkerig vir koue water, sal jy by die warmwaterbron wil swem.
Klein handdoekie. ’n Staphanddoekie (skaars groter as ’n waslap as jy dit opvou).
Mus. Dis ’n woestyn. Dit word koud saans.
Hoed. Verkieslik ’n breërandhoed sodat jou ore en nek toe is.
Koplig. Dan’s jou hande los as jy wil kos maak.
Sonbril. Die son skyn heeldag.
Tandeborsel en -pasta. Jy wil nou nie heeltemal wild raak nie.
Bio-afbreekbare seep en sjampoe. Dis die regte ding om te doen.
Noodhulptassie. Vir blase en seer spiere.
Sonbrandroom. Hoe sterker, hoe beter.
Lyfroom & lipsalf. Anders gaan jy die woord ‘droog’ op jou arm skryf.
Waterbottels. Al is daar water in die rivier, vat minstens ’n 2 l bottel saam.
Game. Jy stap ver en is heeldag in die son.
Sjerrie. Vir koue aande om die vuur.
Droëvrugte en neute. Peusel sommer so in die stap.
Beker. Vir koffie in die oggende en ietsie sterkers in die aand.
Eetgerei. Koop vir jou ’n mes, vurk-en-lepel-in-een-stelletjie.
Leatherman. Hiermee kan jy omtrent enigiets regmaak.
Bord en/of pot. Eet sommer uit jou pot, as jy lui is vir skottelgoed was.
Stofie. Vier mense kan maklik een stofie deel. Onthou ’n ekstra gassilinder. En die vuurhoutjies.
Toiletware. Grafie, swartsakke, plastieksakke vir vullis.
Wenk: Pak saam met iemand, dan dra jy ligter. Een dra die stofie en die Leatherman en die ander een die noodhulptassie, tandepasta, room en bottel sjerrie.
Maak toe
Hoe, wat en waar?
Wanneer kan ek stap? Die roete is oop van 1 Mei tot 15 September. Bespreek ’n jaar vooruit, veral as jy gedurende die skoolvakansie wil stap.
Papierwerk vóór jy stap. Jou dokter moet ’n mediese sertifikaat invul wat jou fiks verklaar. Jy moet ’n vorm teken waarin jy onderneem om die natuur te respekteer. Kry al die vorms by die Namibia Wildlife Resorts (NWR) en sorg dat jou paspoort vir ses maande geldig is.
Wat van my voertuig? Plak ’n ZA-plakker agterop jou voertuig. Onthou die motor se registrasiepapiere en as jy met jou pa se bakkie ry, bring ’n magtigingsbrief saam.
Hoe bespreek ek? Kontak die NWR by 021 422 3761 of ct.bookings@nwr.com.na.
Wat kos dit? Die roete kos R150 per persoon. Minimum drie mense of maksimum 30 mense per groep word toegelaat.
Waar kamp ek? Kampplek by Hobas 10 km van die beginpunt af, kos R170 vir maksimum 8 persone per staanplek. As julle nie so ver wil ry in een dag nie, kamp net anderkant Noordoewer by die Abiqua-kamp langs die Oranjerivier. Dit kos R50 per persoon. Bel hulle by 0926 63 297 255. Los motors vooraf by Ai-Ais en slaap daar die laaste aand. Kampplek kos R150 vir maksimum 8 mense (as jy nie bereid is om heelaand in die warmbron te lê nie). Bespreek by die NWR.
Wat moet ek nog weet? Hoe fiks moet ek wees? Die roete is meestal gelyk, behalwe vir die eerste dag se stap tot onder in die canyon. Nogtans is dit nie ’n maklike staproete nie: Bedags is dit warm, jy stap met ’n swaar rugsak deur dik sand en oor groot klippe. Jy moet stapfiks wees en darem ’n paar stelle stywe trappe sonder bystand kan uitklim.
Saam met wie stap ek? Verkieslik saam met vriende wat almal min of meer ewe fiks is. En nie ’n te groot groep nie. Julle moet bymekaar bly.
Met of sonder herder? ’n Gids is nie verpligtend op die roete nie. Solank jy langs die rivier hou en ’n kaart saamvat, sal jy uiteindelik op Ai-Ais aankom. Jy kan ’n volledige brosjure by Hobas koop vir R50 of die NWR kan vooraf die kaart vir jou e-pos.
Vir gemoedsrus kan jy egter sorg dat iemand wat darem al die roete gestap het en ten minste ’n biblioteekprefek was, in beheer is van die staptog en ’n ogie hou oor almal se welstand.
Lewende water. Vind uit by die NWR hoeveel water in die canyon is, voor jy besluit hoeveel waterbottels jy saamvat.
Waterdigte sakkie. As jy nie jou balans op ’n nat klip vertrou nie, kry ’n waterdigte sakkie vir jou kamera. Pak al jou goeters eers in ’n swartsak en dan in jou rugsak. Neem ook ’n oorlewingsak (survival bag) saam vir as die rivier te diep is en jy jou sak moet deursleep.
Geen Zibi-blikke. Alles wat jy in die canyon inneem, wat nie kan verbrand nie, moet saam met jou uitkom. Neem ’n ekstra plastieksak vir rommel saam.
Kommentaar