Die Visriviercanyon


Iewers op die Canyon sal jy die Visrivier moet oorsteek. (In "n nat jaar sowat 20 keer). En die grootste uitdaging? Om die roete met droë stewels en rugsak klaar te maak.
zoommore

Iewers op die Canyon sal jy die Visrivier moet oorsteek. (In 'n nat jaar sowat 20 keer). En die grootste uitdaging? Om die roete met droë stewels en rugsak klaar te maak.

Esma le Roux het die Visrivier-roete in die suide van Namibië gaan stap en ná vyf dae met vuil stewels en `n skoon kop anderkant uitgekom.

Die Visriviercanyon is naas die Grand Canyon die grootste in die wêreld.
Plek-plek lê die canyonvloer 550 m onder jou en strek dit tot 27 km wyd. 
    Ons val stuk-stuk in agter Andrew. Die growwe rotswande omsingel ’n mens. Jy hoor water wat kabbel en ruik sonbrandolie. Wit klippe lê gestrooi langs die rivier, asof ’n string reusepêrels lank gelede hier gebreek het.
    “Ons red nie eintlik die mense nie,” sê hy en klik met sy tong. “Die chopper kom haal hulle.”
Halfpad ondertoe stop ons vir ’n oomblik en kyk om ons rond. Honderde rotse van verskillende kleure en teksture lê hier rondgestrooi.
    Ons is in ’n amfiteater van klip.
    Dis nie so moeilik om die rivier oor te steek nie, maar jy moet fokus, want as jy val is álles nat – jou stewels, jou sak, jou kos, jou klere, jou slaapsak en matras.
    Die dae vloei ineen. Jy loop in die waaie en draaie van die canyon. Oor sand, klip en water.          Dieselfde mense. Dieselfde kleure en klanke. Dieselfde kos – oats en pasta, pasta en oats. Elke aand se saamgesels om die vuur. Die eenvoud is helend.
    Hoog teen die blou lug hang ’n visarend in die bries. Hy draai oor die wye vlaktes van suidelike Namibië.
    Ver onder hom sak die aarde skielik weg in ’n diep skeur, wat miljoene jare gelede deur plaatverskuiwings in die aardkors gevorm is. Dit is die Visrivier-canyon: ’n Keep wat 160 km suidwaarts deur die plato sny op pad na die Oranjerivier.
    Doer onder oor die canyonvloer kronkel die Visrivier soos ’n groen lint. ’n Klomp helder spikkels hop oor klippe en koek dan saam in ’n skadukolletjie langs die rivier: Dis die 20 van ons wat drie dae gelede begin stap het aan die Visrivier-roete van vyf dae.
    Ons rus en wag vir die energie om terug te vloei in ons moeë bene.
Keelan sit op ’n rots, trek sy skoene uit en wikkel sy tone. Andrew en Janette het die kaart voor hulle oopgevou. Roelof neem ’n foto. Chris soek ’n plek waar mens teen die kranse kan rotsklim. Dineke eet ’n pakkie suurwurms. 

Die res drink water. Dis net adamsappels wat hop. 
“Kyk ouens,” roep Louw en wys boontoe, “ ’n visarend”.
    Dié plek betower jou. Ons praat reeds van terugkom. Baie mense stap die roete drie, vier keer. Ander sommer 20 keer...
    Louw Rabie, ’n ouditklerk, het dié groep pelle van Stellenbosch en Upington bymekaargekry om die Vis te stap. Jy moet mooi verstaan, vir die Vis kan jy nie sommer ’n paar goedjies in jou rugsak gooi en daar gaat jy nie. Dit verg hope reëlings. Louw sê sy selfoonrekening het behoorlik die hoogte ingeskiet om alles gereël te kry.
    Jy moet ’n paspoort kry, jou fiksheid deur ’n dokter laat sertifiseer, ’n ZA-plakker vir jou motor koop, polio-druppels drink, allerhande vorms invul...
    En die stappery is ook nie ’n wandeling deur ’n bloekomlaning nie. Die Vis het nie oornaghutte nie en jy moet alle benodigdhede self dra: ’n Matrassie, grondseil, slaapsak, kos, bio-afbreekbare seep en sjampoe, plus jou eie grafie om toilet mee te bou. Jy hoef darem nie ’n tent ook saam te piekel nie, want jy slaap sommer so op die sand onder die sterre.
    Kortom: Die Vis is nie ’n gewone staproete nie, maar op ’n manier ’n ekspedisie. Dít hoor jy dikwels by mense wat dié roete al gestap het.
    “Vir my bly dit ’n persoonlik uitdaging om te sien of ek oor die hele roete droogvoets kan bly,” het Leon Erwee, wat die Vis al 30 keer gestap het, vooraf vir ons vertel. “Daar’s ’n grootse stilte. ’n Mens word gestroop van al die plastiekerigheid van die samelewing.”
    Die meeste mense sê die moeilikste deel van die roete is die eerste stuk tot onder in die canyon. Jy daal die helfte van Tafelberg se hoogte – sowat 550 m. Daarna is dit heelpad min of meer gelyk, maar jy stap oor klippe en sandbanke en deur water. En dis warm – deksels warm. Oor die middaguur styg die kwik soms tot 40ºC.
    Die rivier is jou gids en jy kom sowat 75 km verder – afhangende van hoeveel kortpaaie jy neem om rivierkronkels uit te skakel – by die oord Ai-Ais aan. Die meeste mense stap vyf of ses dae. Dan’s daar ouens soos Johan Bakkes, skrywer en Vis-veteraan (19 keer), wat dit al in twee dae kafgedraf het.
    Kry jy teëspoed, het jy twee keuses: Óf jy moet voortsukkel tot by een van slegs twee ontsnaproetes uit die canyon, beide naby aan die roete se begin óf jy bel jou mediese fonds se ambulanshelikopter om jou op te pik
    Uiteindelik, ná weke se voorbereiding, is ons reg om te probeer deel word van die elite-groepie stappers wat al die Vis voltooi het.

Terug na stap | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 10 Maart 2010 | 19:59:19

zero bears

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Walksarchive

Staptoerusting

Nuttig as jy gaan visvang en nie ’n lastige muskiet kan wegwaai of nóg Tabard...

Lees meer



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek