Herman het ’n paar sykouse in sy rugsak. Gert-Jan, weer, het verseëlde sakkies maalvleis wat hy self in die oond gedroog het. En Theodor en Carel is tans midde-in ’n druk bespreking oor hoe om te keer dat jou klere en ander goed in jou rugsak nat word.
Hy pak sy goed in ’n swart vullissak in sy rugsak, sê Theodor.
Carel glo weer aan ’n doodgewone kunsmissak in syne.
Ek lê op my bed in Hikers Haven op Nature’s Valley naby Plettenbergbaai en luister effe besorgd na hulle, want ek het nie sykouse, gedroogde maalvleis, vullissakke of kunsmissakke nie.
Ek moet bieg, ek is nogal skrikkerig. Môre begin stap ons die Otter-voetslaanpad, Suid-Afrika se bekendste en gewildste staproete – meer as 40 km, vyf dae lank, berg op en berg af, deur sewe riviere, sonder ’n Spur of Wimpy tussen-in. En ek het nie noemenswaardige stapondervinding nie.
Ek het ook pas opgemerk Carel sit ’n bottel room wat jy aan baba’s se seer boude smeer in sy rugsak. Weet hy iets wat ek nie weet nie?
Herman, Gert-Jan, Theodor en die ander wat saamstap – net twaalf mense word per dag op die roete toegelaat – is almal ervare stappers. Ons het vroeër vanmiddag hier aangekom en slaap almal in ’n groot vertrek op die solder van die gastehuis.
Môre-oggend los ons die motors hier by die Tsitsikamma- nasionale park se De Vasselot-kampeerterrein en dan neem ’n bussie ons na Stormsriviermond waar die roete begin.
Ek slaap lig.
4,8 kmDag 1Stormsriviermond na Scott se hut
Nou is dit net jy, jou rugsak (met of sonder ’n kunsmissak) en jou ouerige Nike-tekkies, waarmee jy darem al ’n paar keer die 3 km-roete langs die Moreletaspruit in Pretoria gestap het.
Die Otter is dr. Robbie Robinson, ’n voormalige hoof van die Nasionale Parkeraad, se breinkind. Toe hy hier by Tsitsikamma gestasioneer was het hy en ’n paar veldwagters die roete uitgelê, makgemaak, en in 1968 is dit geopen. Jy moet deesdae minstens 14 maande voor die tyd jou plek bespreek as jy die Otter wil stap, só gewild is die roete.
Die kuspaadjie loop deur van die mooiste, mees ongerepte inheemse woude in die land: Stinkhout, geelhout, swarthout, kershout, wit-els. Hier is meer as 200 voëlspesies, onder meer die Knysnaloerie, wat ek nog net op ’n Koffiehuisblik gesien het, jarre gelede.
Maar in die begin is jy meer bewus van jou rugsak as al dié mooi dinge om jou. Dra jy nie te swaar nie? Was dit werklik nodig om Helmke Hennig se dikke boek, Voetslaan in Suid-Afrika, ook in te pak?
Maar als wat jy van stap wil weet, is in Hennig se boek. Hy het selfs bereken dat ’n voetslaner 3 m toiletpapier per dag gebruik. (Hy sê nie hoe hy sy som gedoen het nie, maar volgens alle aanduidings is hy ’n man met baie vesel in sy dieet.)
Die eerste ent moet jy nogal baie oor klippe en rotse klouter, wat dit redelik moeilik maak om die ideale, regop stappostuur te handhaaf wat op die skets op bladsy 16 in Hennig se boek aangedui word.
Ná so 2 km raak die paadjie darem meer gelyk. Jy stap verby ’n groot grot, die die Ghwanogrot, waar die ou Khoi-mense, van die gebied se vroegste inwoners, waarskynlik soms geskuil het.
Skaars ’n kilometer verder is ’n lekker plek vir middagete, waar ’n waterval van ’n hoë krans feitlik tot in die see stort.
Dit vat jou altesame minstens twee ure se taamlik gemaklike stap tot by die eerste oornagplek, Ngubu-hut. Dit is vernoem na Petrus Ngubu, een van die veldwagters wat gehelp het om die roete mak te maak. Ngubu is ’n paar jaar gelede dood aan brandwonde wat hy opgedoen het toe ’n motor waaraan hy gewerk het aan die brand geslaan het.
Ironies, baie mense stap hierdie roete sonder om ooit ’n otter te sien. Ons is gelukkig, want by die hut kom een van dié diertjies uit ’n poel en meld hom as’t ware by ons aan.
Nou is die druk darem effens verlig. As ek binne die volgende vier dae een van die verskeie kort “ontsnaproetes” terug beskawing toe neem, kan ek darem ter versagting sê ek het wel ’n otter op die Otterpad teëgekom.
By die hut is genoeg vuurmaakhout, ’n koue bosstort – en net voor sononder sien jy ’n klein wonderwerk voor jou oë gebeur: ’n Pakkie met sulke jellierige vloeistof in verander in ’n heel skaflike hoenderbredie as jy dit vir vyf minute in warm water dompel!
Dit is een van verskeie spesiale stapdisse wat jy deesdae by buitelewewinkels kan koop.
Maak toe
7,9 kmDag 2Ngubu se hut na Scott se hut
Party mense het glo al selfs hul tandeborsels op staproetes middeldeur gebreek om hulle rugsak ligter te maak.
Jy kan dit nogal verstaan, veral wanneer jy die Otter se eerste steil opdraand vat. Jou stappostuur, wat gister kortstondig regop was, is nou krom.
Hierdie is volgens baie mense die taaiste dag van die roete. Daar is elf opdraandes wat uitgestap moet word. En die afdraandes, verneem ek, is ook nie speletjies nie.
Dit is net ná halfagt en ek het besluit om vanoggend, as voorsorgmaatreël, eerste die pad te vat. In ons groep is die reël dat elkeen sy eie pas stap, behalwe wanneer daar ’n vol rivier of gevaar is. Dan wag almal vir almal.
Al nadeel om soggens heel voor te stap, is jy moet al die spinnerakke breek wat die spinnekoppe sedert die vorige dag met groot moeite oor die paadjie gespin het. Hierdie is waarskynlik Suid-Afrika se die mees oorwerkte spinnekoppe – die vlieër- en reënsspinnekop kom baie hier voor – want elke dag kom hier ’n vars troppie stappers verby.
Jy begin jou later verbeel jy hoor ’n spinnkekop uit sy web roep: “Hei! Hei! Oppas, my spinnerak! Ek sê, oppaaasss!”
Dit is vreemd dat een of ander voetslaner nog nie ’n oplossing hiervoor gekry het nie, want stappers is praktiese mense. Dit sien ek al hoe meer. Gisteraand, byvoorbeeld, het Jan my geleer wat om te doen as jy ’n kussing vergeet het: Sit net ’n klomp klere in die sakkie waarin jou slaapsak is, en siedaar, jy het ’n kussing.
Jy ontdek ook jy kan afgesnyde sykouse dra om te keer dat jy blase op jou voete kry. Kyk maar, elke stapper het sy eie tegnieke en rituele: Jaco eet ’n Snicker- én ’n Snacker-sjokolade per skof; Carel bring ’n spesiale stukkie tou saam om sy hande besig te hou terwyl hy stap.
Ek, weer, het gisteraand besluit op my volgende staptog bring ek ’n donkerbril saam – nie vir bedags nie, vir saans. Almal het deesdae mos van hierdie flitsies wat jy op jou voorkop dra en waarmee hulle jou verblind as hulle na jou kyk. Om die kampvuur voel dit asof jy deur ’n spannetjie veiligheidspolisiemanne ondervra word.
Hier is heelwat water op die roete. Die drinkbare stroompies word aangedui op die kaart wat jy kry. Tog is dit ’n goeie plan om jou waterbottel vol te maak waar jy kan, want jy is sommer vroegoggend nat van die sweet.
Dan, ná so 5 km, sien jy die mooiste baaitjie doer onder lê: Bloubaai. Dit is ’n goeie plek om te swem. Sorg dat iemand ’n duikbril inpak wanneer jy die Otter stap. Die water is baie helder en op party plekke kan jy selfs seekatte sien. (Boonop kan jy die duikbril saans opsit as die vuur te rokerig is wanneer jy braai.)
Scott se hut is vernoem na Popo Scott, ’n ander veldwagter wat gehelp het met die uitlê van die roete.
Dit was ’n strawwe dag. Jy wikkel jou rugsak van jou skouers en laat val dit op die vloer. Later lees jy in Hennig se boek dat jy dit eintlik nie moes doen nie: “Moet nooit, hoe moeg jy ookal is, die rugsak op die vloer laat val om jou toestand te dramatiseer nie.”
Maak toe
7,7 kmDag 3Scott se hut na Oakhurst-hut
Gideon is vanoggend die spinnerakbreker.
Ongeveer 2 km van die hut loop die Elandsbosrivier in die see. Dit is die eerste rivier wat werklik ’n probleem kan wees oor te steek, veral wanneer dit hoogwater is en die see in die rivier opstoot. Daarom is dit belangrik om altyd ’n getykaart by jou te hê wanneer jy die Otter stap.
Ons is gelukkig. Dit is besig om laagwater te word, tog is die water te diep om ons rugsakke op ons rûe te hou. Ons haal die rugsakke af en sit dit in wat die stappers ’n survival bag noem.
Eintlik behoort ’n mens sommer van ’n dryfsak te praat: Dit is van plastiek en is heelwat groter as daardie swart sakke wat jy in jou asdrom sit. Jy sit jou rugsak in hom, bind die bek met ’n tou toe – en siedaar jou rugsak dryf op die water.
Hou sommer jou tekkies aan, want daar is klippe op die rivier se bodem wat jou voete kan seermaak. En anderkant die rivier hoef jy nie weer skoene aan te trek nie, jy stap hulle sommer droog.
Watter filosoof het nou weer gesê: “When I rest my feet my mind also ceases to function”? Wel, die omgekeerde is ook waar. Op die mooi stuk platorand anderkant die Elandsbosrivier kom jy agter staptyd is eintlik dinktyd. Hoe meer jy hier in stilte aanstap, hoe meer begin tob jy oor dinge – klein en groot – waarvoor jy in ’n gewone dag nie kans kry nie.
Jy stap allerhande herinneringe in jou los. Hoe jy en Stoffel Venter altyd Tarzan se kreet in die wildevyboom in jul erf probeer namaak het: “Hoe-a-hoe-a-hoooeeee.” Jy dink ook hoe het jy jou ma se kondensmelk gesteel deur ’n gaatjie in die blikkie te maak, dit leeg te suig, en die blikkie dan terug agterin die koskas te sit.
Maar laasgenoemde is meer ’n onderdrukte begeerte na soetigheid as ’n herinnering. Dit is belangrik om genoeg soetigheid saam te bring wanneer jy die Otter stap.
Die Oakhurst-hut is miskien die mooiste hut van die roete. Doer onder langs die Lotteringrivier lê dit. Maar om daar te kom, moet jy by ’n baie steil afdraand af en deur die rivier stap, wat tans darem net heupdiepte is.
Die hut is vernoem na die ou opstal reg bokant dit op die platorand. Dit het eers behoort aan oorle’ oubaas Peter Whitcher, een van hierdie wêreld se pioniers.
Jaco is omgekrap. ’n Kraai het sy Snicker én Snacker gesteel. Hy sit sy rugsak met die nodige dramatiese gebaar op die hut se stoepie neer.
Dis waar. Terwyl Jaco en Jan ’n bietjie in die Lottering geswem het, het ’n withals-kraai in die kos in sy rugsak ingevaar. Dieselfde het een van die ander stappers oorgekom. Hy beweer selfs die kraai het sy rugsak se ritssluiter oopgetrek.
’n Rukkie later kom daar ’n skool dolfyne verbygeswem, amper asof dit die natuur is wat vrede wil maak.
Maak toe
13,8 kmDag 4Oakhurst-hut na André se hut
Jy hoef nie ’n Kaptein Caprivi of Zola Budd te wees om die Otter te stap nie, maar as jy laasjaar in Julie jou laaste oefening gekry het op daardie health walker wat nou in jou motorhuis staan, gaan jy sukkel.
Sharon Cittenden, ’n Zimbabwese burger, moes onlangs per helikopter van ’n rots gehaal word nadat sy naby die Bloukransriviermond ’n angsaanval gekry het terwyl sy en haar man die roete gestap het.
Mense het ook al in die Bloukransrivier, wat sowat 10 km van die Oakhurst-hut in die see loop, verdrink. Maar ons is weer eens gelukkig. Dit is byna laagwater en ons hoef slegs ’n klein entjie te swem met ons rugsakke agterna, toegebind in die dryfsakke.
Die laaste 4 km is miskien eintlik die heel taaiste gedeelte van die hele Otter. Jy moet oor rotse klouter en as jy op party plekke nie mooi na die geel aanwysers kyk nie, kan jy verdwaal.
En dan is daar ’n laaste opdraand tot op die platorand. Moordheuwel. Of só het ons hom gedoop.
Hoe lank is hy? Wel, hy is ’n halwe blikkie kondensmelk lank, want dis wat ek nodig gehad het om bo te kom. (Ek het die vorige dag R40 vir Louis Campher, ’n veldwagter, gegee om vir my twee blikkies kondensmelk te koop toe hy met sy trapfiets sy kind by die skool gaan haal het.)
André se hut, wat vernoem is na André Kok wat hom help bou het, lê in ’n klein baaitjie.
Ons stap nou al vir vier dae en op die oomblik sit en gesels ons oor waarom ’n mens dit doen. Die opdraandes. Die koue storte. Die tweeminuutnoedels wat jy moet eet.
Jy kom hiernatoe om weg te kom uit die stadsgedruis, ja. Dit gaan ook oor die natuurskoon en die kameraadskap. Maar Bruce Chatwin, die bekende Britse skrywer en begeesterde stapper, het ook ’n ander teorie oor stap. (Lees gerus sy boek The Songlines.)
Chatwin glo die mens is ’n nomadiese wese. Die meeste van ons het wel opgehou om soos ons oergrootjies ’n nomadiese bestaan te voer, sê hy, tog het ons steeds die behoefte om elke dan en wan ver ente te stap om só ’n primitiewe drang in ons te bevredig.
Dit is laatmiddag. Party van ons drink ’n laaste Cup-a-soup terwyl die son besig is om met sy rooi kwas op die horison te kere te gaan.
Nie een sê juis iets nie. Ons sit net hier op die strandjie en kyk die verte in, asof dit is hoe die lewe eintlik behoort te wees.
Maak toe
6,8 kmDag 5André se hut na Nature’s Valley
Party mense probeer om van staproetes soos die Otter ’n soort Comrades-marathon of Argus-fietstoer te maak, iets wat jy moet dóén om jouself fisiek te bewys.
En dis waarvoor ek daardie eerste aand bang was.
Maar nou weet ek van beter. Dit hoef nie só te wees nie. Jy kan die Otter sweet-sweet geniet, al stem jou stappostuur nie altyd ooreen met daardie skets op bladsy 16 in Hennig se boek nie.
Kap net teen jou eie pas aan, verby al mooi sloepe, koppe en baaie met hulle pragtige name – Goudgate, Toorbaai, Jors se Bank, Skilderkrans, Jan Swarts, Kraaibek, Bloubaai, Kaalkop, Helpmekaarbank.
Hierdie laaste skof is ook die lekkerste een. Die grootste gedeelte stap jy al op die platorand langs, met die see links van jou. Dan, in die laaste stuk inheemse bos voor jy die roete verlaat, sien jy sommer jou eerste lewende Knysnaloerie ook.
“Pooop-poooop,” groet hy jou. “Pooooop.”
Naby die strand lê een of ander voël se veer in die paadjie.
Dit, besluit jy, is ’n soort teken dat jy meer gereeld sulke dinge moet doen. Jy tel die veer op en druk dit in jou natgeswete kêps.
Jy het nie die Otter gedoen nie. Hy’t jou gedoen.
Maak toe
Vat saam
Poncho. Die gemiddelde jaarlikse reënval hier is 1 200 mm, genoeg om ’n Karooboer lighoofdig te maak. Dit kan enige tyd van die jaar reën. Verpak jou klere waterdig in jou rugsak en vat sommer ’n poncho ook saam. As dit nie reën nie, dra die poncho vir daardie Clint Eastwood-gevoel.
Kaart. Kry ’n roetekaart wanneer jy aanmeld by ontvangs. Die huidige kaart is veel swakker as die vorige weergawe (dit gee omtrent omtrent geen plekname nie). Soek ’n oue by ’n gesoute stapper en maak ’n kleurfotostaat.
Getytafel. Kry een by die park se ontvangstoonbank wanneer jy aanmeld. Sorg dat jy met laagwater by die groter riviermondings is.
Dryfsak. Kry ’n Karrimor-dryfsak (R25) sodat jy jou rugsak daarin kan sit wanneer jy die riviere oorsteek.
Gasstofie. Daar is nie altyd brandhout by die oornaghutte nie. Een gasstofie tussen twee mense is genoeg.
Duikbril en snorkel. Die afstande tussen die hutte is redelik kort. As jy vroeg soggens begin stap is daar baie tyd om die getypoele – deel van ’n mariene reservaat – te verken.
Maak toe
Weg se Otter-wenke
Doen ’n proeflopie. Enigiemand wat toegang tot die park het, kan die eerste 4 km van die roete tot by die waterval as ’n dagstap doen. Kyk of die rotse en steiltes met jou akkordeer en besluit dan of jy die Ware Jakob wil pak.
Begin rustig. Die eerste dag se skof is kort (4,7 km). Eet dus ’n lekker ontbyt by die ruskamp se restaurant voor jy in die pad val.
Wees versigtig. Die riviere in hierdie gebied is onvoorspelbaar en kan lewensgevaarlik wees. Moenie kanse vat nie. As jy nie ’n rivier kan oorsteek nie, stap met een van die “ontsnaproetes” terug binneland toe (jy is selde meer as 5 km van die N2 af).
Bedaar, Manus, bedaar! Die roete se amptelike eindpunt is op die platorand bokant Nature’s Valley, maar dan is dit nóg 3 km tot by die kampeerterrein waar jou motor geparkeer is. Moenie te vroeg begin feesvier nie.
Maak toe
Waar? Wat? Hoeveel?
Hoeveel kos dit?
R475 p.p. (van November is dit R500), plus R80 p.p. wat jy moet betaal wanneer jy aanmeld.
Waar bespreek ek? Sanparke by tel. 012 426 5111; faks 012 343 0905; web: www.sanparks.org/parks/tsitsikamma/tourism/otter.php; e-pos BridgetB@sanparks.org
Waar bly ek?
Voor jy begin stap, by Hikers Haven op Nature’s Valley, R50 p.p. Tel. 044 531 6805. (Bussie na Stormsrivier: R70 p.p.). Terwyl jy stap, in een van twee hutte met beddens (6 mense per hut).
Kan kinders gaan?
Ja, as hulle ouer as 12 is.
Maak toe
Haal uit en wys!
Dana Snyman het sy mede-stappers gevra wat dra hulle saam op die Otter.
Jaco de Villiers
Jaco pak vir hom “dagsakkies” met kos. Met groot dissipline eet hy dan elke dag een van sy dagsakkies. “Dit beteken ek het altyd kos,” sê hy. “Soms raak jy in die versoeking om sommer enigiets te eet as jy jou kos los saamdra en hier teen dag drie is amper alles opgeëet.” In sy dagsakkie is onder meer Snicker- en Snacker-sjokolades, wat tydens hierdie staptog deur ’n ooplettende kraai gesteel is. (Dis die Otter se weergawe van ’n transitoroof – Red.)
Herman en Marian Engelbrecht
“As jy ’n komkommer goed toedraai, bly hy lank vars,” sê Herman. “Dit beteken jy het elke dag iets vars en gesond te ete tussen al jou ander kos.” Hulle dra ook afgesnyde sykouse onder hulle stapsokkies om te keer dat hulle voete skaaf. Moet ook nie wasgoedpennetjies vergeet nie, sê hulle. Op die Otter het een stapper se broek, wat buite gehang het, een nag weggewaai, só ver die bos in dat hy hom nie kon opspoor nie.
Dawie Verwey
Dawie sal nie weer sonder sy nuwe ultra-absorberende handdoekie gaan stap nie. Dis amper soos daardie seemsleerlappies waarmee jy jou kar was. “’n Gewone handdoek werk nie goed op ’n lang staptog nie. Dit word nie behoorlik droog nie en hier teen dag twee begin gesels hy in jou rugsak.” Hy dra ook ’n salami saam, want dit bly lank vars.
Theodor Smit
“Ek gaan stap nooit sonder genoeg tou nie. Jy kan tou vir baie dinge gebruik.” Hy het tydens die staptog selfs sy skoen se sool, wat by die hak losgekom het, met tou vasgebind en die roete só voltooi.
Carel van Dyk
Carel dra altyd ’n knipmes saam. “Dis kompak en omdat die lem opvou, sny dit nie jou rugsak nie.” Hy pak ’n flessie Prep in vir sonbrand en ’n buisie Fissan Baby Paste, die room waarmee jy uitslag op ’n baba se boude in bedwang bring. “Dit maak skaafplekke ongelooflik gou gesond.”
Jan Hofmeyr “Ek stap nie sonder ’n kussing nie, anders kan ek nie slaap nie”. As hy nie ’n kussing het nie, prakseer hy een. Selfs ’n papsak – ja, daardie een waarin jy wyn koop – maak ook ’n lekker kussing, maar jy moet verkieslik die wyn eers opdrink en die sak dan opblaas. (Ná ’n papsak slaap ek ook gewoonlik heerlik, sommer sonder ’n kussing – Red.)
Gert-Jan van Rooyen “Genoeg swaardiens-vullissakke. ’n Mens kry dit altyd langs die pad nodig. En moet nooit ’n reënjas vergeet nie.”
Johan du Preez
’n Koffiesak – ’n slopie soos die oumense dit genoem het – vir lekker moerkoffie.
Ons het verlede week klaar gemaak met die Otter, dit is AMAZING!!! Maak seker jy vat 'n kamera saam en dra 'n paar enkel sykousies onder jou stapsokkies, nie een van ons het blase gekry nie.
Die staproete is nogals taai op jou kniee, maar oor die algemeen beter as wat ek verwag het. Die roete is duidelik en die hutte pragtig en skoon.
Dit was 'n wonderlike ervaring, behalwe die 4de aand. Iemand het by albei die hutte ingekom (hulle kan nie sluit nie) en in van die sakke gegrawe en van ons besittings gevat. Maak net seker julle sit julle sakke die 4de aand onder die beddens of ver van die deur af.
Verder was dit die beste ooit! Ek sal dit definitief weer gaan doen.
P.s Bloukrans is nie so erg nie, sorg net dat jy laagwater daar is. Maak ook seker dat julle Elandsbos en veral Lottering om en by laagwater oorsteek, ons het lekker nat geword en is heup-diepte deur die twee!
Gelewer op 22 November 2010 | 23:32:50
ons gaan die otter volgende jaar gaan stap in aug! hu is dir weer daai tyd van die jaar? en slaap mens elke aand in n huisie?
baie dankie! sien al kla baie uit da na!!!
Kommentaar