Die Strandloperroete
Deur Anim van Wyk
Die Strandloperroete aan die Wildekus is ideaal vir beginners en mense wat nie lief is vir swaardra nie. Jy kan die 59 km rustig in vyf dae aflê.
’n Mens gaan nou nie juis die bloedsweet-brigade beïndruk as jy spog jy’t die Strandloperroete aan die Wildekus voltooi nie. Maar dis die ideale staproete vir beginners en mense wat moeg is om swaar te kry.
Gladgeskuurde klippe rammel soos applous terug see toe. Millennia al maal Keimond se branders die knewels, so groot soos volstruiseiers, heen en weer en op en af: Lank voordat Europese skepe op strepe langs die “Wildekus” gesink het, lank voor die Xhosa-tiener Nongqawuse in 1856 ná ’n “visioen” hier naby haar mense oorreed het om al hulle beeste te slag.
Die klippe het reeds lankal hier gemaal toe die eerste Strandlopers – Boesman- en Khoi-mense – tussen die blinkswart rotsballe gesoek het na mossels en oesters en alikreukels en perlemoen.
Ek verloor my balans op een van die klippe en kom vinnig weer regop. Ons is maar tien spikkeltjies wat versigtig strandlangs trek.
7 km Dag 1 ‘Hit the road, Jack’
Die weermense was reg, dink ek deur die slaap toe reëndruppels teen eerste lig op die dak van die Kaap Morgan-ekosentrum begin neerdruis. Die weervoorspelling vir die res van die week hou nie goeie nuus in nie: reën elke dag en twéé koue fronte.
Ons het uitgesien na swemweer vir die volgende vyf dae wat ons 59 km van Keimond na Gonubie aan die Wildekus naby Oos-Londen gaan stap. Hierdie is nie jou gebruiklike Toppers-en-Game-staproete nie – op die Strandloper volg ’n mens die kus van stranddorpie tot stranddorpie en winkel tot winkel. Jy dra ’n rugsak, maar net met jou klere, ’n slaapsak en die nodigste kos.
Toe ons opstaan, breek die son gelukkig deur die wolke. “Ons” is tien stappers – vier wat op die Otter ontmoet het, twee nuwelinge, die ma van ’n kleuter wat drie jaar laas gestap het, twee fikse fietsryers van Kaapstad, plus Dawie Verwey, die fotograaf.
“Julle moenie dat die hond julle volg nie,” maan Bryan Church, die Strandloper se roetebestuurder, toe hy die grys Weimaraner met bleek oë en ’n lam agterbeen sien wat agter ’n klompie van ons van die winkels af aangeloop het. “Verwilder hom – hy mag nie in die Kaap Morgan-natuurreservaat ingaan nie.”
Brian laai die hond agterin sy bakkie om hom terug dorp toe te vat. Teen eenuur val ons in die pad Keimond toe. Die eerste hut is soos die kraai vlieg, net ’n kilometer of wat van die ekosentrum af, maar ’n mens stap met ’n ompad daarheen. As ’n mens vroeg genoeg wegspring, kan jy van dié stranddorpie af met ’n pont oor die Keirivier na die ou Transkei vaar.
As jy minder tyd het, kan jy soos ons by die skulpiesmuseum, ’n vertrek met rye kaste, toegegooi onder turkoois lap, inloer. Hier is selfs ’n skulp uit Japan.
By die eerste waterpunt verskyn die hond stilletjies weer. Ons skree en mik-mik met stokke tot Dawie en Nelius dit regkry om hom te verjaag.
Dan begin die staptog in alle erns. Strelitziapalms strek dig oor die duine waar ons op ’n kronkelvoetpaadjie vlak langs die see stap. Ons mik onder die vuurtoring verby, tot by die gebou wat gebruik is om water na Keimond se eertydse titaniummyn te pomp. Dit was tot onlangs die eerste oornaghut, maar ’n storm het dele van die dak afgeruk. Ek sak neer en kyk hoe die branders reg voor die pomphuis se deur breek.
Wat ’n fantasties ligging, dink ek toe ’n nat hou my teen die rug tref. Dis die hond se lam been. Hy vreet ’n bloublasie en hink agter ons aan toe ons soos ware strandlopers op die sand begin aanstryk.
Reg langs die Morganbaai-strandmeer, aan die oorkant van die kampeerterrein, saal ons af by die tydelike oornaghut. Almal suiker na die hotel om ’n sundowner te drink; die Weimaraner op ons hakke. Party bly agter om te eet; ander braai onder ’n spreilig by die hut.
“Ons sukkel nog om gewoond te raak aan die staptoer,” sê Michael toe hy, Margerét en Guido terugkom van die hotel-ete, reg vir ’n warm stort. Mariëtte knik. “Op watter ander roete kan jy sê ek was vandag by die winkel, museum en drankwinkel?”
Terwyl ons braai, kry die hond ’n naam: Jack. “Soos in ‘Hit the road, Jack’,” verduidelik Karin.
5 km Dag 2 Krans-uit
Dis skuins ná middagete en ons is steeds op Morganbaai. Die son skyn asof ’n Indiese beroepswedder hom betaal het, maar intussen het die wind deur die loop van oggend opgesteek.
Vandag se skof is nie lank nie. Ons het dus baie tyd. Ons het reeds vanoggend voor sewe in die see gespring, daarna vir ’n hotelontbyt gaan aansit en vir vanaand by die Morganbaai Top Shop braaipakkies gekoop. Ek en Mariëtte het selfs die strandmeer in ’n kano aangedurf en twee visarende stroomop gewaar.
Nou staan ons uiteindelik van die hotelstoep af op om in die pad te val. Ek, Terry, Mariëtte en Karin kruie by die kranse langs die dorpie uit. Minus Jack – vir hom het ons in ’n pakkamer van die woonwapark gelok en daar toegemaak. Sy eienaars gaan hom kom oplaai nadat die vrou van die hotel ’n kwaai oproep gemaak het. (Dit blyk dis nie die eerste keer dat hy hom vir ’n stappie saam met vreemdes aangemeld het nie.)
“Dit moet lyk soos toe die eerste skepe hier ingevaar het,” sê Terry toe ons bo kom en oor die kuslyn tuur. Onder my is die strand heeltemal weggekalwe en teen die 50 m hoë kranse ontplof wit branders in derduisende spatsels. ’n Troppie beeste wei op die groen gras.
My asem jaag effens en ek soek onrustig na die res van die opdraande. Op die Otter sou hierdie net die eerste ruskans teen ’n ellelange bult gewees het, maar dis gelukkig die laaste wat ons op die Strandloper moet klim.
Die wind blaas nou verwoed van die see se kant af en ons skuifel versigtig ondertoe. Teen seevlak klim ons in ’n skeur vir koffie. Langs die gladde wande het ’n boomwortel seker 20 m afgekrul op soek na water. “Dít lyk meer soos ’n regte staptoer,” sê Mariëtte toe ons in die sakke begin krap vir stofies en melkpoeier.
Van hier af klouter ons deur ’n fyn hekkie wat lyk of dit in ’n voorstedelike tuin hoort, en teen halfvier sak ons by die lang afdraande na die Dubbelmond-woonwapark af. Die naam kom van die Quka-rivier wat vlak voor die see verdeel en lyk asof dit twee monde het. Die stappershuisie staan aan die kant van die baaitjie; skaars 20 m van die golwe af.
Die aand rondom die braaivleisvuur voel dit half leeg sonder Jack. Elke avontuur het mos eintlik ’n hond nodig.
15,5 km Dag 3 ‘Haak aan’
Die Dubbelmond-hut se stoep kyk reg op die see uit en van hier af hou die vier stappers wat buite geslaap het, die son se strale dop wat oor die baaitjie nader gly. Skuins ná ses is almal op pad Haga-Haga toe. Dit lê 8 km verder, min of meer halfpad op vandag se skof.
Eers loop ’n mens verby Bead Beach, waar ’n skerfie strand tussen die rotse en gras ingedruk is. In 1608 het die Santo Espirito, ’n Portugese karaak, volgelaai met Chinese porselein en krale uit Indië, hier gesink. Die oorlewendes het dit reggekry om ’n boot te bou en Mosambiek toe te seil. Drie van ons soek-soek tussen die skulpies vir ’n bietjie blou, maar vind net perlemoenskulpe.
Teen halftien tref ons die wye boog van Haga-Haga se strand. Is daar nou vir jou ’n stryery oor waar die naam vandaan kom. Ek het meer as genoeg tyd om die dokumente te lees wat in die hotel opgeplak is terwyl ons twee uur wag dat die restaurant oopmaak.
“Ek was ietwat geïrriteer deur die verduideliking dat die naam Haga-Haga afgelei is van die Xhosa-woord vir bosvark, ‘I hagu’,” skryf ’n oudinwoner, J.T. Butler van Eshowe. Hy vertel dan hoe boere honderd jaar gelede in die somer sak en pak met ossewaens na die kus getrek het. Drywers moes mekaar help om die sanderige stuk strand by die riviermond oor te steek.
“Die drywer van nommer een sou dan vir nommer twee sê ‘haka haka’, wat die Xhosa-woord is vir ‘haak aan, haak aan’,” verduidelik Butler. Die reisskrywer T.V. Bulpin meen weer die naam kom van die “nimmereindigende gemurmel en beweging van die golwe teen die kus”.
Later maak die kroeg darem oop en ons daag mekaar vir ’n potjie pool. Ek voer die jukebox met ’n R2-munt. “... laladida, my brown-eyed girl,” sing Van Morrison.
“We did the Moo at Ninky Noo!” roep Mariëtte, Terry en Karin uitbundig toe hulle twaalfuur by die hotel instap. Hulle dra identiese wit T-hemde wat effens te groot is vir hulle.
Hulle was by die Ninky Noo-kroeg in die Haga-Haga-natuur-en-wildreservaat. Die T-hemde het hulle gekry omdat dit gewaag het om in die beesdip buite die kroegie te swem.
Ek en drie ander is nuuskierig oor Ninky Noo’s en stap ná ’n bord vis-en-tjips die bult uit om te gaan kyk. ’n Mens kan sien stories lê dik gestapel in hierdie plattelandse kroeg. Teen die muur is die gholfbaanpryse opgeplak: “Lede 50c, besoekers 80c.” Buite kloek ’n kalkoen.
Ons vat kortpad deur die veld na Pulleybaai. Dis nou al drieuur en daar is nog 7 km oor. Eers loop ons kantel-kantel oor rotsbolle en om inhammetjies voordat ons spoed optel oor die lang strand tot by die Kaap Henderson-hut.
Die hut is weggesteek in die bos langs die Nyarha-strandmeer. Hier is nie ’n stort nie en almal streep na die strandmeer om in die soutwater te was.
Daar moet ten minste een uitsonderlike sonsondergang op elke staptoer wees en vanaand haal die hemel sy heel rykste kleure uit: goud en brons en rooi en koper. Ons klink blikbekers op die helfte van die toer; tone in die sand.
13 km Dag 4 Olifant-avontuur
“Wat ’n pragtige dag!” sê Terry.
“Vandag is beslis ’n stop-en-swemdag,” laat Mariëtte hoor. Net ’n effense luggie trek toe ons teen sewe-uur op die harde sand begin stap. Tussen hier en Chintsa-Oos, 10 km verder, hou die strand aan en aan en aan. Agter die branders oefen twee walvisse rugslag.
Ná ’n stop vir pap, sien ek ’n blou-en-wit skerfie op die sand. Dis ’n stukkie porselein! Dalk deel van die Santo Espirito se vrag?
Op Chintsa-Oos hou Margarét-hulle al piekniek onder die bome langs die strand wanneer ons daar aankom.
Kyk, ons eet vir die eerstespan op die Strandloper. Vandag is middagete by Michaela’s hoog teen die duin bo Chintsa se strand. Boonop hoef ons nie die honderde trappies uit te klim nie, want hier is ’n klein tandrat-hyser wat jou langs die skuinste ophys. ’n Mens sien slegs hier en daar ’n dak tussen die digte bos uitsteek.
Ná roerbraai, Griekse slaai, Oosterse rolletjies en ’n bord seekos, stap ons die katspoegie Chintsa-Wes toe. Dit het skielik kouer geword en dit lyk of die weer ons uiteindelik ingehaal het.
Onder grou wolke kies ons deur die kusbos koers na die Beacon Valley-hut wat lyk of dit voorheen ’n woonhuis was. Dis lekker om ’n bietjie afwisseling te hê van al die strandtonele, al is dit net vir ’n halfuur.
Later, wanneer ons aandete maak, lyk dit amper nes ’n Ready Steady Cook-program soos die verskillende groepies wedywer om die lekkerste kos met bestanddele uit Chintsa-Oos se winkel te maak. “Op watter ander staptoer eet jy op die laaste aand slaai?” sê Karin toe sy aan hulle gerookte hoenderslaai begin smul. Nelius en Madelyne het sappige hamburgers gemaak en Guido het dit reggekry om uit soja ’n Thaise treffer op te tower.
“Dis ’n Vrydagaand. Ons kan nie net hier sit nie,” sê Madelyne by die vuur, net toe ek begin dink aan inkruip. Sy oortuig amper die hele span om terug Chintsa-Wes toe te stap vir ’n night cap by die kroeg.
Ek en Karin hou sommer ons pajamabroeke aan toe die groep soos Sneeuwitjie se sewe dwergies elkeen agter ’n kopliggie begin aanstap. Ons vat ’n verkeerde afdraai, maar gelukkig ry Graham Stanton van die Inkwenkwezi-wildreservaat toevallig verby en laai ons almal in sy Mercedes.
Maar die kroeg is toe...
“Julle kan nie net teruggaan hut toe nie,” sê Graham. Hy gaan sluit die restaurant by Inkwenkwezi oop.
“Nooit in my wildste drome sou ek kon dink ek sal in my pajamabroek uitgaan en dan ’n rukkie later só in ’n vyfster-lodge staan nie,” sê Karin.
Maar Graham is nog nie tevrede nie. “Kom ek gaan wys julle my olifante,” sê hy en bondel ons agterop sy bakkie. Ons kry elkeen ’n kans om Mopani, Maroela, Moketsi en Ramadiba, Inkwenkwezi se vier olifante, met kospilletjies deur die houtpale van hulle slaaphokke te voer. In die kampie oorkant hulle is drie jagluiperds, wat Nelius en Dawie met ’n hand deur die draad vryf.
’n Motreëntjie stuif neer. Al val die druppels koel op my vel, voel dit of ek droom.
14,5 km Dag 5 Daar wag ’n skok...
Vandag moet ons mooi beplan hoe ons gaan stap, want twee van die riviere wat ’n mens oorsteek, is selfs met laagwater glo taamlik diep. Al die vorige riviere was toegespoel en ons kon op droë sand verby die strandmere stap.
Teen sonop val ’n paar druppels, maar toe ons skuins ná ses begin stap, is daar net kol-kol nog los wolke in die blou lug. Ons marsjeer teen ’n vandag-maak-ons-klaar-pas en stop effens uitasem voor die eerste rivieroorgang. Tyd vir pap.
“Pasop vir die palings!” skree Michael aan die oorkant van die rivier. Hy het op een van hulle, ’n sidderpaling, getrap. (’n Mens lees nie híérvan in die toerisme-brosjures nie.) In water tot bokant ons knieë beur ons deur die Kwelerharivier, rugsakke op die kop.
“Eina jou bliksem, jou elektriese skokding!” gil Karin. Sy verloor haar balans, val met haar arms bo-op die paling en word wéér geskok.
Dis naweek en agter die wit skuim van die baaitjie klim vyf surfers op die agterste branders. ’n Visserman trek ’n haaitjie uit, en voor in ’n motor sit ’n poedel alles en dophou.
Brian het ons gewaarsku dat die laaste twee uur van die staptog die ergste op die roete is. “ ’n Nimmereindigende rotstuin,” noem Mariëtte die strand wat tussen ons en Gonubie lê. Dit kos fyn trap om nie neer te slaan nie.
Selfs nie die Gonubierivier, wat reg by die eindpunt sterk vloei, kan ons verligting blus toe ons uiteindelik daar aangestrompel kom nie. Gelukkig is die menseredders gaaf genoeg om ’n paar van ons sakke met ’n roeiski oor te karwei terwyl ons deur die water beur. My broek is sopnat, maar dit maak nie saak nie, want ons is klaar!
Amper outomaties gly ons weer heeltemal terug in die lewe van ’n moderne Strandloper: Jy klets oor jou selfoon en druk jou vinger op die spyskaart waar dit “seebaars” sê. Terwyl jy oor die branders tuur, is die lugreëling koel en lig in jou nek.
Maar êrens het iets agtergebly: Die geluid van klippe wat maal in die branders... En die wete dat jou daaglikse behoeftes nie veel verskil van dié van die ou Strandlopers nie: ’n Stukkie lekker seekos nou en dan en ’n sagte plekkie om jou kop neer te lê.
Wat sê vandag se Strandlopers?
Margerét Grobler
Grafiese ontwerper
“Onthou ’n hoed met ’n stywe rand, want die wind waai die heeltyd! My slaprandhoedjie het gedurig teen my voorkop platgewaai. Ek sal ook volgende keer my iPod los. Dit voel net nie reg om langs die see te stap en musiek te luister nie.”
Terry Niemack
Konsultant
“Ek wens ek het meer opgelees oor die gebied. Daar’s baie plekkies wat ’n mens kan verken, en jy het meer as genoeg tyd om die hut te bereik. ’n Goeie plan is ’n langbroek waarvan die pype kan afrits – om jou bene teen die son te beskerm.”
Mariëtte Steyn
Ingenieur
“Ek sal nóg minder kos saamdra. My ‘spork’ (iets tussen ’n vurk en lepel, R15 by Cape Union Mart) was ’n wenner. Dit gaan ’n permanente plek in my rugsak kry. ’n Mens moet beslis ’n draai maak by die Ninky Noo-kroeg buite Haga-Haga!”
Karin Coetzee
Boekhouer
“Dit werk goed as twee of drie mense saam inpak, want dan kan jy heerlike etes saam kook. Stap in jou swemklere, maar sorg dat dit gemaklik is en vinnig droog word. Ek het van Mariëtte se keteltjie (R99 by Cape Union Mart) gehou.”
Michael Gaylord
Programmeerder
“ ’n Mini-driepoot is ’n goeie plan vir ’n groepfoto en tye wanneer jy ’n stadige sluiterspoed wil gebruik. En pak ’n skroewedraaier in as jy beplan om mossels uit te haal – sorg dat jy met laagwater by die rotsbanke is.”
Guide del Guidice
Afgetrede ontwikkelaar
“Twee stapstokke sal goed werk vir die dele waar jy op die strand stap. Bring ’n omvousonbril om jou oë teen die fel lig te beskerm. Ek is bly ek het ’n opblaaskussing gekoop, want om klere in ’n kussingsloop te stop werk net nie.”
Nelius Pretorius
Ingenieur
“Probeer’n tienvoet-visstok bring wat jy uitmekaar kan haal en aan jou rugsak vasbind. Mediumgewig-visgerei sal jou help om dieper in te gooi. Pak papierborde in, want skottelgoed kan nogal ’n probleem wees.”
Madelyne du Plessis
Boer
“ ’n Mens moet skoene dra wat jou enkels ondersteun, anders gaan jy swaarkry, veral op klipperige deel van die laaste dag. Ek sal nooit weer met ’n kinder-slaapsak gaan stap nie!”
Leen-bedel-of-steel-brood
Op die Strandloper hoef jy nie elke dag net tweeminuutnoedels te eet nie; Mariëtte het op die laaste aand ’n heerlike olyfbrood gebak:
“Ek het Sportsman’s Warehouse se roosterkoekmengsel gebruik wat in gerieflike 300 g-pakkies verkoop word,” vertel Mariëtte.”
Jy benodig
* 1 klein pakkie roosterkoekmengsel
* ingemaakte olywe (ons het ’n paar oorskietolywe gehad nadat ons op Chintsa-Oos by Michaela’s Griekse slaai geëet het, en Dawie het vir ons ’n paar van syne “geleen”)
* songedroogde olywe (dit het ons saamgedra)
* knoffelvlokkies
* olyfolie
Só maak jy
Gladdejan. Maak die deeg volgens die instruksies op die pakkie aan, maar gebruik minder water en meer olyfolie. (Hou’n bietjie van die meelmengsel, ingeval die deeg te slap is. Dit moet heelwat taaier wees as roosterkoekdeeg.)
Mooi Griekeland! Gooi die ingemaakte olywe en die meeste van die droë olywe by en knie die deeg goed, sommer in ’n plastieksak. Laat dit vir omtrent ’n uur rys, knie dit weer en druk dan die deeg plat.
Eisj, daai geur... Druk met jou vinger gate in die brood vir die laaste paar olywe en stukkies knoffel.
Maak die wêreld vir hom warm. Sit die deeg in ’n pannetjie wat jy sommer van foelie maak en bak dit vir 30 tot 45 minute oor ’n paar kole. Sit ook ’n paar kole bo-op, sodat dit egalig bak en nie onder aanbrand nie.
Dink prakties
Beplan jou pendel. Kry by die Strandloper-kantoor besonderhede oor pendeldienste waarmee jy aan die einde van die staptog weer by jou motor kan kom. Jy kan voertuie by die Kaap Morgan-ekosentrum of die Gonubie-hotel los.
Vul jou rugsak. Pak vir vier seisoene. (Bring ’n oorlewingsak en 30 m nylontou as die riviere vol is.) Oorweeg dit om ’n snorkel en duikbril te bring vir die poele tussen Haga-Haga en Kaap Henderson en by Chintsa-Wes.
Pak ’n permit. Onthou jou permit om seekos uit te haal – dis meestal by die poskantoor op Keimond beskikbaar, maar partykeer is daar nie vorms nie.
Kry koers. Elke groep kry ’n gratis kaart met GPS-punte. (’n Ekstra kaart kos R15.) Volledige GPS-data van die roete is by die Strandloper-kantoor te kry.
Trommeldik. Bespreek op besige tye liefs plek by restaurante langs die pad:
Morganbaai-hotel 043 841 1062. Haga-Haga-hotel 043 841 1670. Michaela’s 043 738 5139. Die Pub & Grub op Chintsa-Wes is oop van 9 vm. tot 9 nm. en die winkel op Chintsa-Oos van 6 vm. tot 6 nm.
Klap ’n braaitang. Jy kan vooraf braaipakkies (’n tjop, stukkie steak en wors) vir die eerste en tweede aand by die Morganbaai Top Shop (043 841 1062) bestel. Op die derde aand, by Kaap Henderson, mag ’n mens nie braai nie.
Ons kom in vrede. Ons groep en van die mense wat in die besoekersboeke geskryf het, het die Wildekus se mense nie besonder hartlik gevind nie. Graham Stanton van Inkwenkwezi en Neil Arnold, wat die Ninky Noo-pub bo Haga-Haga besit, was uitsonderings. Neil (083 394 8864) bied ’n basiese spyskaart en sal jou op die dorp kom haal as jy te lui is om die bult uit te stap. By Graham (043 734 3234) kan jy voor of na die stap teen ’n spesiale Strandloper-tarief oorbly.
Haal uit en wys. Daar is ’n mini-OTM by Keimond, Morganbaai en Chintsa, maar sorg eerder dat jy genoeg kontant het.
Was dit af. As jy die roete klaarmaak, kan jy in die munisipale storte op Gonubie-strand of in die Gonubie-woonapark lekker skoonkom.
Maak toeGepubliseer op 12 Maart 2009
Gelewer op 4 Augustus 2011 | 01:15:16
I'm not wohtry to be in the same forum. ROTFL





















Kommentaar