Op die Fanie Botha-roete wissel die omgewing dramaties: Soms stap jy op die kaal platorand en op ander plekke deur inheemse bos of klowe.
Die Fanie Botha-staproete tussen Sabie en Graskop is 35 jaar gelede in 1973 geopen as Suid-Afrika se eerste amptelike roete vir voetslaners. Anim van Wyk en Lawrette McFarlane het gaan kyk hoe dit deesdae met dié oupa gaan.
Ons sit soos ’n spul dassies op die rotse by Maritzboshut, die eerste oornagplek op die Fanie Botha-staproete in Mpumalanga. Voor ons voete kabbel ’n stroompie. Dis agtermiddag, die einde van die eerste dag.
Vanoggend het ons laat uit Johannesburg hierheen begin ry omdat ek my wekker verkeerd gestel en verslaap het. Op pad het die gewone bekommernisse gekarring: Gaan die weer hou? Waar gaan ons die karre los? Sal die groep van ses met mekaar oor die weg kom? Het ek die Voltaren onthou?
Ek druk my voet in die water en voel hoe Johannesburg, die kantoor, die pad en die kwellinge uit my vloei.
Dis wat ’n staproete aan jou doen...
Eenkant bestudeer Lawrette, ons fotograaf, die eerste blaas op haar voet. Madré en Jaco, wat eersdaags trou, waag dit om te swem. Die rivier is ’n lafenis nadat ons vanmiddag omtrent 8 km in die son en stof oor bosboupaaie hierheen aangestryk. Die eerste dag se roete moes in sy geheel verlê word nadat ’n brand twee maande gelede meer as 170 km2 se plantasies verswelg het. Plek-plek smeul die berg nog en die meeste van die bome het tot houtskool verbrand.
Die Fanie Botha-roete was een van die eerste groot voetslaanroetes in Suid-Afrika en ek wil vasstel of dit steeds op elke stapper se moetdoenlysie hoort. Tot dusver was die enigste ligpunt die Lone Creek-waterval, wat lyk of dit uit ’n ander toneel geknip en hier geplak is.
Vir aandete eet ons braaivleis, boontjieslaai, pasta alfredo, Smash en braaibroodjies. Selfs die opsigter eet saam. ’n Paar rugsakke gaan beslis môre ligter wees. Ook maar goed so, dink ek toe ek die geverfde voetjies sien wat reguit wys na die berg wat bo die hut uittoring.
13,3 kmDag 2Van waterval tot waterval
Heerlike koelte, voetpaadjies en strome...vandag is net mooi die teenpool van gister se verbrande bome, son en bosboupaaie.
Ons kronkel in ’n kloof met inheemse woud op. Kort-kort lei ’n bruggie – dit lyk soos ’n leer wat plat neergesit is – ’n mens oor die stroompie. “Dís nou hoe dit moet wees op ’n staproete,” sê iemand.
By die bordjie wat die eerste waterval langs ’n afdraaipaadjie aankondig, gooi ons ons rugsakke neer en stap met die afdraaipaadjie langs om te gaan kyk. Die straal water druis die donker poel binne en blare dwarrel soos confetti uit die lug.
Ons begin met die hoofpaadjie verder die steilte uit klim. Ons skuifel vlak bo die volgende waterval verby en waag dit om oor die rand te loer. Die water stort 10 m ondertoe. Ek tree gou terug. Gladde mos, swaartekrag en ’n gelaaide rugsak is nie goeie maats nie.
Hoër op word ons met nog twee watervalle beloon. By die Cathedral-waterval tuimel die stroom water seker 30 m af na ’n poel so reg uit die Timotei-sjampoe-advertensie. By die kleiner Chockstone wil ’n mens nie te lank vertoef wanneer jy die rotsblok sien wat in ’n skeur bo jou kop vasgehaak het nie. Dis so groot soos ’n minibustaxi.
Treetjie vir treetjie en asemteug vir asemteug hys ons onsself aan stapstokke in die kloof op. Wanneer ek uiteindelik twee uur later bo uitkom en my oë in die sonlig knip-knip, groet ’n verbrande maanlandskap my. Maar om die volgende draai stap ons skielik die Hoëveld met sy wye grasvlaktes binne.
Die veld is tjoepstil, maar een van die ouens wat op ’n plaas grootgeword het, wys vir ons kort-kort sebra- en uilmis in die paadjie. “Kyk, die huisie!” roep hy. Doer onder steek Maritzbos se dak uit waar ons drie uur gelede begin stap het. Die hut lyk skaars so groot soos my duimnael.
By ’n uitsigpunt waar stappers deur die jare ’n stapeltjie klippe gebou het, kyk ’n mens op die bruin, groen, oranje en swart landskap neer, en doer voor blink Sabie se huise.
Ons wandel ’n entjie langs ’n tweespoorpad, dankbaar vir die gelykte. By ’n bordjie wat sê “Stables 6,3 km” draai ’n mens gelukkig weer af op ’n voetpaadjie verby rotssuile en waboomproteas. Ons plons in ’n waterpoel. Al geselskap is ’n paar platannas en waterhondjies.
“Ek is klaar ontspanne,” sê Madré toe sy later foto’s neem van die vallei vol blou berge. “Dit voel of ek al ’n week weg is.”
Maak toe
16,3 kmDag 3Na die hoogste, verste berg
Geen twee mense – en geen twee groepe – stap op dieselfde manier nie.
Vat byvoorbeeld Teboho Mohajane van Bloemfontein en sy twee vriende, met wie ons die Stables-hut deel. Dis sesuur die oggend. Waar ek in my slaapsak lê, kan ek sien hulle drie se beddens is reeds opgeruim. Teboho-hulle het stilletjies voor sonop reeds by die hut uitgeglip. Hulle is doelgerigte stappers wat nie draal of drentel om van punt A na punt B te kom nie.
Dan is daar die klomp Potch-studente wat die res van die hut volmaak. Hulle is ook reeds op die been, maar vir elke ekstra stapper in die groep vat hulle tien minute langer om weg te kom. Dié een soek sonskerm en daardie een moet net gou gaan tande borsel...
Ons laatslapers sal hulle by die eerste rusplek inhaal.
Vanoggend styg ’n mens sommer met die intrapslag nóg 300 m. Van die Stables-hut af slinger ’n bosboupad na ’n uitsigpunt 2 100 m bo seespieël. Voor ons maak die Sabievallei golwe en agter ons dein nog ’n klomp heuwels tot op die einder.
“Ek hou daarvan om op plekke te kom wat jy net met jou voete kan bereik,” sê Jaco toe ons ’n halfuur later onder die enigste boom op die kruin neersak. Sy woorde is skaars koud of drie ouens op quads knor so ’n entjie laer af tot stilstand in die veld.
Van hier af sak jy af na ’n rif wat soos ’n ruggraat voor ons lê en waar die wind ons tussen die “werwels” looi soos op ’n slegte dag by die see. Ons kry darem ’n skuiling in ’n skeurtjie vol inheemse bos en klouter dan na die weggesteekte swempoel in die koelte langs die paadjie. Die ysige bergwater slaan jou asem weg.
Terwyl die span studente – ons het hulle inderdaad weer ingehaal – nog swem, eet en rondlê, trek ons ons stewels aan en saal op. Die kaart se hoogteprofiel wys dis van hier af al die pad afdraande.
Maar ons klim en klim en klim.
Ons bereik hygend Mount Moodie se voet, een van die hoogste berge in dié geweste. Dan gewaar ons ’n hewige bol rook wat kilometers na regs, langs Graskop, soos ’n paddastoel op die rand van die Blyderiviercanyon borrel. Terwyl ons kyk, ontplof iets daar onder wat ’n swart straal langs die wolk opstuur. Maar dis soos ’n stilprent: geen klank bring ons nader aan die drama wat hom in die verte afspeel nie.
Ons swaai ondertoe, na Moodie se uitlopers. Ons sak, kronkel en draai deur die voue. My waterbottel is amper leeg, maar in die stukkie bos wat onder in die klofies wegkruip, kry ons g’n water nie. Net die klippe van ’n droë rivierlopie.
Ek sak op ’n rots neer. Volgens die kaart lê die hut nog ver.[italics] Ek wens ek kan tee maak, maar my water is te min.
“Daar’s die hut!” roep een om die volgende draai. Ons is net ’n paar honderd meter van die oornagplek af! Óf ons is vrot kaartlesers óf die kaart is misleidend.
“Hierdie laaste stukkie het nogal met my kop gesmokkel,” beaam Teboho, wat plat op sy rug op die bed deur ’n ou Weg lê en blaai. Hulle hang al van twaalfuur af by die hut rond. ’n Uur of wat later begin die Potch-studente opdaag.
Maak toe
13,6 kmDag 4Verbrands...
Vroegoggend is dit só mistig dat ’n mens skaars die toilette agter die hut kan sien. Maar dis meer as mis – daar’s ook rook van ’n bosbrand êrens.
Ek maak koffie langs ’n knetterende vuur terwyl die ander een vir een slaperig kom sit. Dan kraak die opsigter se tweerigtingradio.
“Sigbaarheid in die Mac-Mac-gebied... na 20 m verswak...aanbeveel hulle sluit die roete...” Met gisteraand se wind het die brand vermoedelik weer opgevlam. Gaan hulle ons toelaat om die roete klaar te stap?
Drie van ons groep draai af by die kortpad na die Pres. Burgers-hut, want hulle moet môre werk. Ek, Lawrette en Louis-Pieter begin op ’n bosboupad deur die denneplantasies te sak.
Dis steeds deinserig van die rook. Jy kan jouself nie plaas nie. Die rantjies verdwyn en verskyn in die misrook. Iewers fluit ’n trein drie keer. Weerskante van ons lyk die groen grasvelde met hulle Barbertonse madeliefies asof iemand ’n stuk waspapier daaroor neergesit het.
Ons steek die teerpad oor naby die afdraai na Pelgrimsrus, waar twee mans sit en neushoringvoels uit hout kerf. Die laaste 5 km Graskop toe is op ’n bosboupad. Ook hier is die plantasie half verbrand.
Die roete-ontwerpers het destyds gedink voetslaners hou daarvan om deur plantasies te stap. En hoewel die roete deur die jare verlê is, kon hulle nie heeltemal van plantasiese ontslae raak nie.
Net voor twaalfuur is ons by die hut en vat ’n lekker lang middagslapie. Ek grawe die R40 uit wat nou al ná ’n paar staptoere in my rugsak agtergebly het en stap die kilometer of wat Graskop toe om vir ons elkeen ’n bier te gaan koop. ’n Helikopter wat ’n watersak sleep, woep-woep-woep op pad oor my kop. Iewers is die brand nog nie geblus nie...
Die hut se opsigter kom sê die roete is wel oop. Terwyl ons ná aandete koffie drink, begin ’n paar fyn druppels val. Dis seker net die brandslaners wat meer in hulle noppies is as ons. Ons kan klaarmaak!
Maak toe
23,1 kmDag 5Gly-gly deur Mac-Mac
Nog voor ons uit die hut tree gooi elkeen ’n reënjas oor die kop. Die brand is besig om behoorlik geblus te word.
Vandag se moeilikheidsgraad is ’n volle 10 (volgens die amptelike graderingstelsel – stappers kan nogal forensies wees) en daarby het Lawrette, wat al voorheen die Fanie gestap, ons banggepraat oor die stuk waar jy 400 m in die Mac-Mac-vallei sak, net om aan die ander kant weer 300 m te klim.
In die reën blink die plantasies soos die Grimm-broers se towerwoud. Die dennenaalde glinster koperrooi, met die boomstamme wat gitswart afsteek teen die heldergroen toppe.
Dit voel of ek snorkelduik, want die jas se kappie beperk jou visie, amper soos ’n duikbril. Ons dryf in ’n wolk wit mis in.
“Is julle reg?” vra Lawrette voordat ons die eerste trappies vat wat na die Mac-Mac-vallei daal. Maar dis nie so erg nie, dalk omdat ons nie kan sien wat onder of bo ons aangaan nie. Gly-gly bereik ons die Mac-Mac-rivier aan die onderpunt. Op die voetbruggie loop Louis-Pieter die een oomblik nog ewe lekker en die volgende oomblik glip sy voete onder hom uit asof hy op die spreekwoordelike piesangskil getrap het.
’n Entjie ná die knikkie kom ons ses bittereinder-Pukke teë. Om hulle voete is plastiekwinkelsakke om die water uit hulle skoene te hou.
By die Mac-Mac-poele maak ons tee onder ’n afdak. Dis die eerste keer in vyf uur dat die reën nie aanhoudend op ons neerstuif nie. Arme Louis-Pieter se potte is skoon ingeduik van sy valslag. (En hy gly wraggies ’n derde[italics] keer toe ons begin aanstap.)
Die handjie vol toeriste by die Mac-Mac-waterval skud net hulle kop toe hulle ons druipnat drietjies sien verby waggel.
Is die Fanie Botha steeds die moeite werd? Al reën dit en het dit gebrand, stap ’n mens steeds deur ’n besonderse landskap – berg, bos, plato en vallei – en beleef jy van die Laeveld se hoogtepunte te voet.
Ons kom by die eindpunt aan. Dit sou lekker gewees het om warm te stort voor ons ry, maar die Pres. Burgers-hut is gesluit. Ek gooi my nat goed in die bagasiebak en besluit hoe ek my vuil, honger, nat lyf in die kar gaan kry sonder om alles te besmeer.
Toe ek omdraai, staan daar ’n pou langs die kar. Hy sprei sy turkoois vere in ’n lieflike, wye waaier uit.
’n Mooier medalje vir ’n voetvoos stapper sal jy moeilik kry.
Maak toe
Wat sê die stappers?
JACO LOOTS Bedryfswiskundige
Stok en hoed... “As ek aan die begin van die roete R15 gehad het, sou ek by een van die boswerkers vir my ’n stapstok gekoop het. Dit sou beter gewerk het teen die opdraandes as die stuk bamboes wat ek opgetel het.”
MADRÉ LOOTS Onderwyser
Slaap soos tuis
“Bring ’n paslaken om oor die matras in die oornaghutte te trek.”
TEBOHO MOHAJANE Opleidingsbeampte
Long Johns vir die koue
“Gebruik polipropeleen-onderklere om die koue nagte en oggende draagliker te maak. My K-way-stapstok met ’n skokabsorbeerder (ongeveer R170 by Cape Union Mart) werk goed! Pak ’n anti-inflammatoriese jel en tablette in as jy swak knieë soos ek het.”
RUPERT RICHTER Ingenieur
Vroeg uit die vere
“Begin so vroeg as moontlik soggens stap. Die laatmiddagson en windstiltes in die klowe van die Laeveld kan uitputtend wees. Pak ook jou stapstok; die oppervlak wissel van harde pad tot dennenaalde en rivierklei, en lang dele van die roete is ongelyk. Daar is ook heelwat slange in die gebied – dus kan die stapstok dalk net handig te pas kom!”
SELEMELA KHOELE Bourekenaar
Kyk diep in die bottel
“My Natural Instincts-waterbottel (ongeveer R75 by Cape Union Mart) is ’n wenner, want die groot opening sorg dat jy maklik by ’n stroom kan water skep of aanmaakpoeier ingooi. Niks word gemors nie, en omdat dit deurskynend is, kan ek sien of ek genoeg water drink.”
ELANÉ DU PREEZ Grafiese ontwerper
Munte kry punte
“Elke oornaghut het goeie braaigeriewe en genoeg hout; pak dus gerus vakuumverpakte vleis in. Vat ook ekstra geld, want by die Pres. Burgers-hut kan jy vleis koop. Daar’s ook yskoue drankies wat jy langs die vuur kan geniet.”
ARTHUR VAN JAARSVELD Ingenieur
Sout is goud
“Dit sou lekker gewees het om ’n boom- of insekgids hier te hê, asook ’n lanterntjie. Daarby sal ek ook nie weer vergeet om braaisout in te pak nie!”
LOUIS-PIETER VAN JAARSVELD Meestersgraadstudent
Maak kospakkies
“ ’n Mens dra gewoonlik te min water saam, maar die waterblaas wat ek
saamgevat het, kon genoeg vloeistof hou. Ek sal die kos beter rantsoeneer, want ek het amper al my kos in die eerste paar dae opgeëet!”
LAWRETTE MCFARLANE Fotograaf
Wees steeks
“Bring maar altyd ’n naald en gare, want al is jou skoene hóé goed ingeloop, kan jy steeds blase kry wanneer dit baie warm of nat is. Swartpeper laat amper enige stappersmaaltyd beter smaak; ek wens ek het dit ingepak.”
Maak toe
Van waar al dié name?
Berge
Op die Fanie Botha-roete stap jy verby twee prominente bergspitse. Berg Anderson. Met ’n hoogte van 2 284 m is Mount Anderson lank as die hoogste punt in die ou Transvaal beskou, totdat ’n nuwe opmeting gewys het De Berg (2 331 m) in die Steenkampsberg is effens hoër. William Alfred Blackburn Anderson, ’n Ierse opmeter vir die ou ZAR-regering, het in 1883 die plaas Hartebeesvlakte 163JT kom opmeet en sy van aan die berg op die plaas gegee. Berg Moodie. George Piggott Moodie was van 1881 tot 1884 landmetergeneraal van die ou Transvaal en het onder meer opmetingswerk in die Sabie-omgewing gedoen, waar dié bergsprits na hom genoem is. Hy het ’n spoorlynroete tussen Pretoria en Delagoabaai (nou Maputo) oor Breyten en Barberton gekarteer, maar dis nooit gebou nie.
Watervalle Op dag vyf stap jy verby die Mac-Mac-waterval, sekerlik die indrukwekkenste een op die roete. Mac-Mac. Pres. T.F. Burgers het tydens sy besoek in 1873 die goudveld tussen Sabie en Graskop amptelik die New Caledonian-goudveld gedoop, maar dit grappenderwys Mac Mac genoem omdat hier so baie Skotte was. Toe steek dié naam vas.
Hutte
Daar is vier hutte op die staproete. By die Stables-hut kyk jy oor deinende heuwels tot in die niet. Ceylonhut. Dis nie duidelik waar die naam vandaan kom nie, maar Ceylon was een van die eerste plantasies in die ou Transvaal. Maritzboshut. Dit is genoem na die Maritz-familie, aan wie dié stuk grond behoort het. Hier het hulle bome vir mynstutte gekap. Die eerste Maritz, Naas, is in 1903 op Sabieshoek gebore en van sy nasate woon steeds op Sabie. Stables-hut. Dit was voorheen ’n muilstal. Muile is (en word steeds) gebruik om hout uit die plantasies te sleep. Pres. Burgers-hut. Dit is genoem na die president van die Zuid-Africaansche Republiek tussen 1872 en 1877.
Inligting: Willie Jacobs van www.sabie.co.za
Maak toe
Klink soos 'n kenner
Wie was Fanie Botha?
Ene Paul Van Zyl het in die jare sestig ’n meestersgraad gedoen oor die Appalachiese roete in Amerika – ’n staproete wat oor 3 500 km strek in die ooste van die VSA. By sy terugkeer het hy Fanie Botha, toe minister van waterwese en bosbou, oortuig staproetes is ’n manier om plantasies beter te benut.
Botha se plan was om een lang roete te maak van die Soutpansberg af, al langs die platorand, tot in die Kaapse Sederberg, maar dié droom is nooit bewaarheid nie.
Omtrent dertig stappers het op 11 en 12 Mei 1973 die 45 km van die Lone Creek-waterval af oor berg Anderson na die Mac-Mac-waterval gestap, waar die eerste amptelike staproete in die land toe deur Botha geopen is.
Botha het wetgewing laat deurvoer vir die nasionale voetslaanpadstelsel en ook in 1975 gesorg dat die Nasionale Voetslaanpadraad gestig word. Hy kan dus beskou word as die “vader van voetslaan” in Suid-Afrika.
Inligting:Leon Hugo, emiritusprofessor aan die Universiteit van Pretoria
Maak toe
In ’n neutedop
Ek het net ’n naweek. Kan ek ’n deel van die roete gaan stap? Ja, bespreek die Hartbeesvlakteroete. Stap Vrydagmiddag van Ceylon na Maritzboshut (8,7 km) waar jy slaap. Die volgende dag klim jy die berg uit tot by die Stables-hut (13,3 km, moelikheidsgraad: 9) en vat dan Sondag die kortpad (8,5 km, moelikheidsgraad: 3) terug Ceylon – en huis – toe. Daar is twee ander tweenagroetes, sowel as ’n drienag- en ’n viernagroete. Die mooiste hutte is Maritzbos, Stables en Mac-Mac – probeer om een van hulle in te sluit.
Hoe lyk die geriewe?
Jy slaap op ’n stapelbed in oop vertrekke. Net die Pres. Burgers- en Ceylon-hut het warm water, maar almal buiten Mac-Mac het spoeltoilette. Mac-Mac het geen stort nie – jy was uit ’n emmer.
Wat van die onlangse brande?
Die hele roete is in Junie oorgemerk en skoongekap. Die Graskophut is uitgeverf. Die deel tussen Ceylon en Maritzbos loop nou weer deur die bos.
Watter tyd van die jaar is die beste?
Enige seisoen behoort vir ’n lekker stapervaring te sorg.
Moet ek alles saamdra?
Jy kan vanaf die Graskophut (dag 4) dorp toe stap vir koeldrank of ander benodighede.
Is dit geskik vir kinders?
Die tweede en derde dag is rof; dink dus mooi.
Waar bespreek ek?
Komatiland-ekotoerisme 013 754 2724; ecotour@klf.co.za.
Hoeveel kos dit?
R75 p.p.p.n. ’n Maksimum van 24 mense kan by elke hut oorbly, dus sal jy met ander groepe moet deel.
Inligting?
www.komatiecotourism.co.za
Hoe kom ek daar?
Ry van Gauteng af met N4 in Nelspruit se rigting. Neem die R539 na Sabie (verby die Sudwalagrotte). Parkeer by die Ceylon- of Pres. Burgers-hut of los jou kar by die polisiekantoor op Graskop.
Kommentaar